Jeremia of Jesus

David Wilkerson

Jeremia was ‘n bulderende profeet van die Ou Testament. Elke woord wat hy verkondig het, was soos ‘n swaard wat in die vlees ingesny het. Hy het politici en kerkleiers so kwaad gemaak dat hulle hom in die tronk gestop het.

Ek wonder wat Jeremia sou verkondig het as hy vandag gelewe het! Waarskynlik dieselfde boodskap wat hy aan ‘n afvallige Israel verkondig het. Hy sou vandag in ons kerke staan en uitroep: “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi...Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge...Want profeet sowel as priester is goddeloos...Daarom sal hulle....neergestoot word en daarin val....Ek het dit teen die profete...Ek sal ‘n ewige smaad oplê...” (Jeremia 23).

Teen die kompromiemakende, louwarm Christene, kon Jeremia uitroep: “Want die land is vol owerspelers...waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle krag in soek, onreg...selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind...hulle...gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van kwaaddoeners...leuens profeteer...bedrieëry...en my volk verlei met hulle leuens en grootpratery...julle verdraai die woorde van die lewende God...

“Daarom,kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle...van my aangesig af wegwerp; en Ek sal julle ‘n ewige smaad oplê en ‘n ewige skande wat nie vergeet sal word nie...” (Jeremia 23).

Dit was die woorde van Jeremia aan God se volk, Israel, en ten spyte van hierdie soort prediking, het God se kinders afvallig geraak. Hulle het hul na afgode gewend. Hulle het sonde getart. Hulle het die altaar van offerhande verwerp. Hulle het heidense afgode nagejaag, afgodery, hoerey – en allerhande goddelooshede. Hulle het vuil en sondig geword, God het die Babiloniërs toegelaat om hulle in ballingskap te neem vir 70 jaar.

Maar die heeltyd, het hierdie wenende profeet uitgesien na die dag wanneer God Sy volk sou besoek en hulle harte verander. Jeremia het geweet dat God Sy volk jammer gekry en hulle liefgehad het met ‘n ewigdurende liefde. Hy het geprofeteer: “En Ek sal my oog op hulle slaan ten goede en hulle terugbring in hierdie land; en Ek sal hulle bou en nie afbreek nie...En Ek sal hulle ’n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My ’n volk wees, en Ek sal vir hulle ’n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart...” (Jeremia 24:6,7).

Jeremia was reg! God het Israel wel teruggebring. En vir ‘n kort rukkie het hulle Hom gedien met hulle hele hart. Maar weereens het hulle hul rûe op God gekeer. Hulle het teruggegaan na afgode toe! Terug na hulle heidense weë! God se volk het ewige afvalliges geword, hardkoppig, ingestel op kwaad doen.

God het besef Israel kon nie die wet onderhou nie. Hulle het die verbond wat Hy met Abraham en Moses gemaak het, herhaaldelik verbreek. Hulle ongeloof het hulle vernietig. God het gesê: “Want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam” (Hebreërs 8:9).

Van daardie dag af, het God begin soek na ‘n nuwe volk. Hy sou ‘n nuwe Huis van Israel oprig, ‘n geestelike volk. Hy sou ‘n Nuwe Verbond maak met ‘n nuwe Israel.

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel...’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.... Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit...Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees...Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie...” (Jeremia 31).

“En Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit...om aan hulle goed te doen...en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie... Want so sê die HERE: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek” (Jeremia 32:40-42)

‘n Verbond is ‘n ooreenkoms! God het ooreengekom om ‘n nuwe ding te doen, vir ‘n nuwe volk. God het Israel nie langer as die Joodse nasie geag nie. Nou het Hy Hom gewend na die heidene – en na almal wat Hom deur geloof sou aanvaar.

Paulus verduidelik, “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie...ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie... Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag...” (Romeine 9:6-8).

Ook, “Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie...maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is...dié van die hart...” (Romeine 2:28,29).

Alle ware gelowiges is nou die geestelike saad van Abraham! Ons wat uit geloof is, besit nou die erfenis. Ons is aangeneem as die nuwe Israel en nou behoort al die verbonde en beloftes aan ons. Die Nuwe verbond was bedoel vir gelowiges – kinders van Christus deur geloof allleen.

Ons leef in die dag waarvan Jeremia gedroom het – die dispensasie van die Nuwe Verbond. Hoe sou hy tog daarvan gehou het om vandag te leef en sy profesie vervul te sien!

Soos voorspel, was Christus gestuur deur die Vader om die Nuwe Verbond te vervul. Hy het die ooreenkoms met Sy eie bloed verseël. Hy het dit in werking gestel die dag toe Hy gesterf het. Dit beteken dat God ons geslag nie soos Jeremia s’n hanteer nie. Ons het ‘n nuwe ooreenkoms gebaseer op beter beloftes. Jeremia se boodskap van die Wet is nou vervul in die voltooide werk van Jesus Christus. En wat ‘n verskil tussen die gebulder van Jeremia en die genade van Jesus.

Jeremia het veroordeel – Jesus het nie!

“Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word...” (Johannes 3:17).

Vandag word die kerk so anders as Jesus. En baie bedienaars word meer soos Jeremia. Ek sien ook die kompromie in die kerk vandag en ek wil daarteen uitbulder net soos Jeremia.

Ek sien Christene loop en pronk, spog met hulle liggame in bikini’s. Ek sien hulle geestelike luiheid, deurdronge met sport, pret en partytjies. Geen las vir verlore siele nie. Baie min gebed; baie min Bybelstudie. Ek sien die jongmense hulle gees bederf met rock musiek, rondlê en aan hulleself aan seks oorgee, rondry in mooi karre, Pac-man speel en ontspan. Hulle dink nie veel aan die koms van Jesus nie. Sommige van hulle verneuk die Here. Hulle sê hulle is Christene, maar hulle drink egter steeds, hulle rook dagga, hulle heul met die wêreld. Duisende Christene is heeltemal roekeloos, halfhartig. Geen geween! Geen gevas! Dit maak my lus om te huil!

Ek sonder my af saam met Jesus en die Bybel en ek bid: “O, God, gee vir my ‘n rooiwarm preek! Laat my hulle wegblaas! Laat my hulle so wakker skud dat hulle op hulle knieë sal val en hulle bekeer. Here, Ek is kwaad! Ek is bedroef! Dit ontstel my...ek wil ‘n Jeremia-boodskap soek...plaas ‘n profeet se gebulder in my mond...”

Ek glo ‘n kind van God behoort uit te vaar teen sonde waar hulle dit ook al sien. Ek sal nie ‘n kompromie maak om sonde nie by sy regte naam te noem nie. Maar terselftertyd, moet dit nie veroordelend wees nie. Ons moet in gedagte hou dat God Sy kinders liefhet en dat Hy ‘n verbond gesluit het om hierdie geslag te genees en te red. ‘n Mens wat teen sonde uitvaar soos ‘n profeet behoort ook baie van God se genade te weet.

Die 17de Hoofstuk van Johannes is ‘n pragtige beeld van die boodskap van die Nuwe Verbond – die boodskap van Jesus. Dit was ons Here se laaste uur. Hy was in die Tuin, biddend tot Sy hemelse Vader rakende Sy dissipels. Onthou asseblief, Petrus sou Hom verloën binne ure. Thomas sou in Hom twyfel. Al die dissipels sou Hom verlaat en terugkeer na hulle huise. Al 120 wat later sou kom na die bovertrek, sou Hom ook verlaat.

Maar Jesus het hulle nie veroordeel nie. Luister na hierdie fantastiese gebed!

“U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar... Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang.... en Ek is in hulle verheerlik... Hulle is nie van die wêreld nie... En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het... en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het...” (Johannes 17).

Ons sê, “Maar Jesus, sien U nie wat in Petrus se hart is nie? Hy is ‘n lafaard! Hy gaan U verloën! Hoe kan U sê dat daar aan twyfelende Thomas U heerlikheid gegee is? Daardie dissipels is vol vrees en bewing! Hoe kan U aan hulle dink dat hulle u woorde aanvaar het? Hoe kan U bid dat hulle liefgehê word, wanneer hulle so swak is?

O, ja! Hulle sonde sou Hom bedroef! Maar die Nuwe Verbond was ingebring – dit sou vergifnis, barmhartigheid en genade as tema hê. “want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe...aan hulle sonde nie meer dink nie!”

Onder die ou verbond, het Jeremia verkondig: “Jou sondes het Hom van jou afgesny. God sal jou verlaat en jou tot skande maak!”

Maar Jesus het gesê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en sondig nie meer nie...Kom almal wat vermoeid en belas is en vind rus vir julle siele...”

Dinge het nou verander. Sonde is steeds haatlik vir God, maar ons weet dat ons ‘n lewende Saligmaker het, wat aan die regterhand van die Vader sit en vir ons bid. Hy bid: “Vader, bewaar hulle van die bose. Wees lief vir hulle met dieselfde liefde wat U vir My het. Vergewe hulle afvalligheid...bewaar hulle deur die krag van u Naam...”

Kyk na die verskil tussen die boodskap van die Ou Verbond en die Nuwe Verbond

Toe Jeremia verwerp was deur die volk, het hy gebid: “Doen geen versoening oor hulle ongeregtigheid en delg hulle sonde nie uit voor u aangesig nie...laat hulle tot ‘n val kom...tree teen hulle op in die tyd van u toorn...” Met ander woorde, “God, neem wraak teen daardie kompromiemakers! Stuur oordeel en verdoemenis! Wys u toorn teen hulle, O Here!”

Luister nou na Paulus, onder die Nuwe Verbond. Hy het geskryf aan die Korinthiese kerk wat vleeslik, vol twis, selfsugtig, wêreldsgesind en swak in sedelike standaarde was. Tog het Paulus hierdie brief as volg aan hulle geadresseer: “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges... Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus. Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is... soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle... wat julle ook sal bevestig tot die einde toe...” (1 Korinthiërs 1:1-8). In net die volgende asem, het Paulus gesê, “Want dit is aan my...bekend gemaak... dat daar twiste onder julle is...” (vers 11).

Heiliges in Christus! Hulle het meer soos ‘n klomp rebelle opgetree? Hulle was steeds “kindertjies in Christus.” Paulus het nie geskryf aan slegs ‘n paar van hulle grootste heiliges nie, hy het vir die hele kerk geskryf. Maar hy het hulle steeds liefgehad. Paulus het hulle nie veroordeel of die wet aan hulle verkondig nie. Sonder om ‘n kompromie te maak met hulle sonde, het hy hulle in die genade van God in opgevoed.

Jesus nie moed op met ons omdat ons steeds vleeslik, of onvolwasse, of swak is nie. En vandag het God se kinders minder pak slae en meer van Sy genade en liefde nodig – alhoewel daar steeds baie vleeslikheid is. Ek interpreteer dit as volg – noudat ons in Christus Jesus is, versekering het in Syne, laat ons saamwerk met die onvolwassenheid en vleeslikheid wat steeds in ons agterbly.

Jeremia het gehoorsaamheid aan die Wet verkondig – Jesus het gehoorsaamheid aan liefde verkondig!

Die boodskap van Jeremia en die ou verbond was, “Vrees God, gehoorsaam Sy gebooie en word geseën – of wees ongehoorsaam en word verwerp.”

Die boodskap van Jesus en die Nuwe Verbond is: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar...Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie...” (Johannes 14:23,24).

Jy kan al die preke oor waarom God se kinders ongehoorsaam is, bêre. Waarom hulle met hulle sondes aanhou. Dit is bloot weens ‘n gebrek aan gebed of Bybelstudie. Dit is nie die “gees van hierdie eeu” nie. Dit is nie oorweldigende versoekings nie. Dit is nie ‘n gebrek aan getuig of vas nie. Dit is hoofsaaklik wees ‘n gebrek aan liefde vir Jesus. Paulus het gewaarsku, “Omdat sonde sal toeneem, sal die liefde van die meeste verkoel.”

Jesus probeer vir ons sê, “Jy het nie ‘n bulderende Jeremia nodig om jou van sonde en die wêreld te bewaar nie. Jy moet net wakker word en tot My nader. Geen veroordeling. Geen skuldgevoelens. Geen vrees. Wees net volkome lief vir My, en jy sal jou sondes laat staan.”

Paulus het vir die Korinthiërs gevra, “Wat wil julle hê? Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die gees van sagmoedigheid?” (1 Korinthiërs 4:21).

Dit is so moeilik om te leer dat Christus onder die Nuwe Testament ons liefhet ten spyte van wat ons is en wat ons doen. Dink daaraan! Hy het sondaars lief, terwyl hulle steeds sonde doen. Maar jy kan Sy liefde tart, dit verwerp, en verlore wees – selfs al het Hy jou lief!

Die profesieë is almal vervul in Jesus!

Onthou asseblief die mees glorieryke belofte rakende die Nuwe Verbond: “Hulle [sal] van My nie afwyk nie...” (Jeremia 32:40).

Die ou verbond het geen soortgelyke belofte nie. Dit was ‘n ooreenkoms tussen God en mens. Van die mens was vereis om sy deel na te kom, of die verbond was verbreek. God het gesê, “Hulle het my verbond nie gehou nie, so Ek sal ‘n nuwe een maak...” Maar hierdie Nuwe Verbond is nie tussen God en mens nie! God het geweet ons kon nie ons deel nakom nie. Hy moet nou nie slegs Sy deel doen nie, maar ons s’n ook. Hy het ‘n eensydige ooreenkoms gesluit om Sy eie onthalwe. Ons doen niks behalwe glo en gehoorsaam deur liefde nie. Hy belowe om alle gelowiges daarvan te bewaar om van Hom af weg te dwaal.

God het in wese gesê, “Jy kan aan My nie getrou bly nie. Jou beloftes is leeg. Jou menslike pogings sal faal. Van nou af gaan Ek jou bonatuurlik bewaar. Ek sal jou deel doen. Jy sal nie langer van My af wegdwaal nie – Ek sal daarvoor sorg!”

Maar – Dit is waar! Lees dit! “Hulle [sal] van My nie afwyk nie...”

Jy sê – “O, maar al die goddeloosheid. Daar is ‘n epidemie van dwelms...dronkenskap...buite-egtelike seks...” God sê – “Ek sal jou bewaar van die uur van versoeking wat kom om die aarde te beproef.”

Jy sê – “Maar televisie raak so vulgêr! Films word in die hel gemaak. Die versoekings kom na ons van oral af...” God sê – “Jy sal My nie verlaat nie....Ek sal jou bewaar van mislukking en jou vlekkeloos voor die troon van God stel met gejuig.”

Jy sê – “Maar ek is bang! Mense raak afvallig. Satan probeer my moedeloos maak! Ek is alleen en verward! Die toekoms lyk so donker! Daar is egskeiding oral. Huisgesinne breek op. Ek weet nie wat met hierdie wêreld aan die gebeur is nie...” God sê – “Jy sal My nie laat staan nie...Ek sal jou in die palm van my hand hou – vrees nie. Ek sal jou vergoed vir al die jare wat die sprinkaan gevreet het. Jy sal versoen en verkwik wees.”

Jy sê – “Wat as ek op die ou end misluk? Wat as struikel en terugval in sonde? Wat as die gees van hierdie eeu my verlei en ek val en word ‘n verstoteling?” God sê – “Jy sal nie van my af weggaan nie. Ek het nie vir jou die gees van vreesagtigheid gegee nie. Wanneer die vyand inkom soos ‘n stroom, sal Ek hom met my asem verdrywe! Ek sal jou vir Myself bring.”

Nou kom ons by die profetiese deel van hierdie boodskap!

Die profete het voorspel dat God ‘n eindtyd leër van heilige, afgesonder volk sou oprig. Chrisus kom nie terug vir ‘n siek, kranklike bruid nie. Hy kom nie terug na ‘n kerk wat verslaan, gebroke en verlam is deur sonde nie. Hy kon nie terug na ‘n volk met vuil klere, wat bevlek is met die verdorwenheid van hierdie goddelose eeu nie. Nee! Christus kom terug vir ‘n heilige volk – oorwinnaars – gelowiges wat oorwinning oor al die krag van die duiwel gekry het!

Hoe gaan God so ‘n heilige, rein, kragtige leër oprig?

1.Hy gaan ‘n ontwaking onder die bedienaars stuur. “Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud...sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring...” (Maleági 3:3).

2.Hy gaan huwelike herstel, families genees en bitterheid wegneem – deur soewereine dade van genade. “Kyk, Ek stuur vir julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek...En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders...sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Maleági 4:5,6).

3.Hy gaan veroorsaak dat die Heilige Gees op ons ‘n groot ommekeer stuur! “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid...” (Joël 2:12,13).

‘n Lui, roekelose, sportmal geslag wat omdraai? Ween? Vas? Hulle harte skeur? Hulle tot die Here bekeer met alles wat in hulle is?

Ja! ‘n Genadige God het beloof om dit te doen. Die enigste ding wat God kan verhinder, is ongeloof. As jy met geloof sal uitreik, is die beloftes van herstel joune en myne. Ons moenie vasgevang raak in een of ander droë wildernis soos Israel nie. Ons moet verder gaan na die Beloofde Land! Jy kan ervaar hoe God Sy kinders bearbei terug na Hom toe oral in die wêreld.

Die Gees doen Sy soewereine werk en roep mense uit hulle koudheid, sondigheid en geestelike slawerny uit.

As ons onsself nie wil oorgee nie, as ons God nie wil liefhê nie – sal die Gees uitgaan in die strate en ‘n nuwe volk opwek, oornag! Dwelmverslaafdes, hoere, alkoholiste, bendelede – hulle sal die plek inneem van almal wat geweier het om oor te gee aan die Gees se werking.

Ons verwerp nie Jeremia of sy boodskap nie. Hy het God se woord verkondig aan sy geslag. Maar nou, sien ons hoe Jesus dit moontlik maak om al God se vereistes te vervul deur geloof in die bloedoffer van die Kruis. Vandag is die dag van genade, nie toorn nie.

Dank God vir die nuwe verbond van barmhartigheid, liefde en genade. Mag God diegene help wat so ‘n offer verwerp! Hulle sal in hulle sondes sterf.