God Gaan Jou Deur Die Moeilike Tye Dra

A Message from the 1990s
David Wilkerson

Terwyl ek hierdie boodskap skryf, is die hele wêreld vreesbevange, verslae en deurmekaar. Self die mees toegewyde Christene wonder oor al die vinnige gebeure wat ontvou. Is hierdie dinge profeties?

Ek hoor oral by gelowiges die vraag waaroor ek self wonder: “Is ons in die laaste jare van die menslike geskiedenis? Ek weet nie — enige gedagte oor daardie onderwerp is net bespiegelinge. Maar een ding is seker: Ons sien ‘n versnelling van wêreld gebeure soos nooit te vore nie.

Die Groot Depressie van die 1930’s word geag as die slegste ekonomiese tydperk ooit. Vandag glo baie ekonome dat ons op die rand van ‘n depressie is wat selfs erger sal wees as ons moeilikste tye. Daar is ‘n gevoel van gevaar in die lug. Baie voel die wêreld is op ‘n pad van geen omkeer nie. Daar is sprake van oorloë, ras gedrewe oorloë en heilige oorloë. Is dit die dag wat Jesus voorspel het waar mense se harte sal swak word van vrees terwyl hulle die skrikwekkende dinge wat oor die aarde aan die kom is, sien?

Kan dit wees dat ons die geslag is wat Jesus sal sien kom? Het ons by die punt in die geskiedenis gekom waar daar gesê is, “Hierdie geslag sal nie verbygaan totdat alles gebeur het” nie?

Ek glo ons het by daardie tyd gekom — die vreeslike dag van die Here. Ek is oortuig in my gees dat ons op die punt is om vreeslike groot lyding en vervolging te sien.

Die wêreld sal omgekeer word en sy fondamente sal geskud word. “Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan die wankel, die aarde word geheel en al geskud...Die aarde waggel geheel en al soos ‘n dronkaard en swaai heen en weer soos ‘n naghut...en hy sal val en nie weer opstaan nie” (Jesaja 24:19–20).

Volgens Jesaja is die aarde nie oppad na hernuwing nie, maar na totale vernietiging. Die profeet het niks vergeestelik nie. Hy het bedoel dat gelag letterlik sal ophou, verwarring sal heers en huise sal toegesluit word: “Al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban...en die fondamente van die aarde bewe” (Jesaja 24:11, 18).

Wanneer sulke tye kom, wat sal met die ware volgelinge van Jesus gebeur? As die wêreld toenemend slegter word totdat Jesaja se profesie vervul word — as ons deur sommige of al hierdie rampe moet gaan — hoe gaan God vir ons sorg?

Net soos die Here ons in tot in die fynste besonderhede oor die moeilikheid wat voorlê, gewaarsku het, sal Hy ook aan ons openbaar hoe Hy ons sal beskerm.

Ons God het ‘n bepaalde plan. Dit is eenvoudig, maar so seker soos die heelal self. Sy plan kan in een sin opgesom word: Hy sal ons beskerm deur die krag van sy vooruitbepaalde woord.

Ons gaan bewaar word deur die gesproke woord van God. Dit is ‘n woord van verlossing wat van die grondlegging van die wêreld aangekondig is. Hierdie plan is inderdaad iets wat God bepaal het voor die wêreld was.

Ons God word nooit onverhoeds betrap nie – niks verras Hom nie. Hy het ‘n plan gehad om ons te bewaar lank voor daar nasies, weermagte, oorloë, depressies, plae en geweld was: “Terwyl Hy voorafbepaalde tye... vasgestel het” (Handelinge 17:26). God het al hierdie dinge voorsien en Hy het ‘n woord van bewaring, wat so ewig en onwrikbaar soos sy eie karakter is, gespreek.

Laat my dit op hierdie manier stel: Uur na uur, dag vir dag, gaan God ons bewaar op dieselfde manier wat Hy nou die son, maan, sterre en melkwegte en die kragte van die natuur bewaar. Hy sal dit doen deur sy voorafbepaalde, gesproke woord. Sy beskermende woord is dieselfde een wat lig, duisternis, die getye, die seisoene en die lug wat ons inasem beheer.

In die begin, was God se voorafbepaalde woorde gespreek: “Laat daar lig wees! En daar was lig” (Génesis 1:3). Van daardie oomblik af, en deur die tyd en ewigheid, was en is en sal daar altyd lig wees: “Die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag” (Génesis 1:16).

Skielik, deur die krag van God se voorafbepaalde woord, het ‘n bal van intense vuur in die uitspansel verskyn. Dit was so majestieus dat net ‘n ewige, alwetende God dit kon skep. En net so skielik het ‘n klein planeet in die uitspansel verskyn wat om die aarde gewentel het en die lig van die son gereflekteer het; dit was die maan.

Die son, die maan en die biljoene sterre en die menige melkweë bly almal in hulle voorgeskryfde wentelbane in gehoorsaamheid aan die woord van ons Here. Sy eens-gesproke woord hou alles in plek. Job sê dat God deur sy woord “bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter ‘n seil wegsluit” (Job 9:7).

Die Here het nie nodig om die planete te herinner om in hulle wentelbane te bly nie. Hy het nie nodig om aan die seisoene te sê om te verander of aan die getye te sê hulle mag nie die land oorstroom nie. Hy het die woord een keer gespreek — en dit was en sal altyd wees totdat Hy weer spreek en ‘n nuwe hemel en aarde skep. “Dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde... deur die woord van God...maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van oordeel” (2 Petrus 3:5, 7).

Tot daardie tyd, hou Jesus Christus alle dinge in stand deur die krag van sy woord. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3). “Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kolossense 1:17).

Jy sien, Jesus het ‘n onderhoudende woord vir alle geskape dinge gespreek. Toe Hy na die aarde gekom het as ‘n man van drie-en-dertig jaar oud, was alle skepsels onderhou deur die ewige woord wat Hy eens aan die begin gespreek het. Slegs op Sy bevel het hierdie kragte verander en ‘n nuwe orde gehoorsaam. Toe Jesus se dissipels gesien het hoe Hy die see laat bedaar, het hulle gesê, “Wat vir ‘n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?” (Matthéüs 8:27).

So seker as wat Hy alle dinge deur die krag van Sy woord geskep het, het die Here ‘n ewige woord gespreek om al Sy kinders te bewaar.

Van die begin af, het God belowe om almal wat Hom vertrou, te bewaar. Hy het hierdie ewige woord aan Abraham gespreek: “Ek is vir jou ‘n skild!” (Génesis 15:1). Daardie woord was vir alle ewigheid. En God verleng dit alles tot by Abraham se saad wat ons, wat geloof in Christus het, insluit. Hy sal ons skild deur alle ewigheid wees. God het ‘n woord in die begin gespreek en van toe af het elke geslag bewys — deur alles wat Satan teen hulle kon bring — dat die Here ons skild is.

Vir jare het ek gewonder oor die volle betekenis van die Here se woorde, “Dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan” (Deuteronómium 8:3). Nou weet ek.

Moses het hierdie woorde tot die Israeliete gespreek om hulle aan God se getrouheid te herinner. Die betekenis daarvan is: “Die Here laat toe dat jy honger ervaar. Hy verneder jou deur jou by ‘n plek te bring waar alle menslike briljantheid nutteloos is. As God nie bonatuurlik vir jou gesorg het nie, sou jy doodgegaan het. Die kwessie was nie voedsel nie, maar eerder vertroue in Hom. Die Here, wat die wêreld in wording gespreek het, het ‘n woord van bewaring vir jou. Al Sy woorde is joune deur geloof.”

Toe Israel in die woestyn was, het God ‘n nuwe ding vir hulle gedoen. Hy het die woorde gespreek, “Laat daar manna wees. Laat hulle wonder wat dit is.” Hy het iets nuuts gemaak.

Israel kon sy prinse en leiers saamgeroep het om strategië en planne uit te dink oor hoe God hulle sou voed en vir hulle sorg. Maar niemand sou ooit kon dink dat God die grond met klein, wit, ronde saadjies sou bedek nie — dit was ‘n nuwe soort voedsel wat die mensdom nog nooit gesien of geproe het nie. Dit was engele voedsel!

Wil jy weet hoe God jou in moeilike tye gaan bewaar? Hy sal dit doen deur ‘n nuwe woord te spreek, indien nodig — deur alles wat jy nodig het te skep deur die krag van Sy woord. Al wat God nodig gehad het om te doen, was om die woord “manna” te spreek en ‘n hele geslag Israeliete is bewaar.

Jesus het dieselfde woord gebruik toe Satan hom versoek het om ‘n klip in brood te verander om Sy hongerpyne te stil. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4).

Jesus het geweet dat Hy die saad van Abraham was. En hy het geweet dat God se ewige woord van bewaring tot Hom gespreek was: “Ek is vir jou ‘n skild!” (Génesis 15:1). Christus kon ‘n situasie trotseer wat hopeloos in menslike standaarde was en tog kon Hy in God se woord rus: “Ek is jou Beskermer.”

En terwyl Hy honger en dors in die woestyn getrotseer het, was Sy hart rustig, want Hy het geweet dat die Vader ‘n woord gespreek het dat Hy veilig was. Sy sending was van die grondlegging van die wêreld af gespreek en geen wapen teen daardie sending sou iets kon uitrig nie. Hy het die Vader vertrou om Hom op God se eie manier te bewaar: deur die krag van Sy woord.

Aan die einde van veertig dae, het Jesus ook engele voedsel geëet. Hy het kos gehad waarvan geen mens iets van geweet het nie: “En daar het engele gekom en Hom gedien” (Matthéüs 4:11).

Vandag probeer baie Christene agterkom hoe God vir sy mense sal sorg wanneer die wêreld se vernietiging in volle sterkte kom.

Sommige beplan om hulleself in die berge of in die woestyn af te sonder. Maar Jesus het vir ons gesê, “Daarom moet julle jul nie kwel en sê wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?” (Matthéüs 6:31).

Ons hemelse Vader weet wat ons nodig het, en Hy het sy ewige woord gespreek: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Hoor jy Jesus se belofte hier? Alles wat jy nodig het! Christus se voorafbepaalde woord oor ons is lank voor ons geboorte in die hemel bepaal. Ons Skepper het hierdie woord van finaliteit gespreek: “In elke geslag sal Ek elkeen wat my eerste soek beskerm, bewaar, voed en onderhou.” Daardie woord is so vas soos die woord wat die planete in posisie hou.

Ek glo dat God ‘n sekere begeerte vir sy volk het in hierdie moeilike tye. Dit is om ons ‘n onwrikbare oortuiging te gee dat Hy ons van die mag van die bose sal bewaar. God probeer desperaat om ons te vul met troos en vrede. Hy het gesweer dat Sy woord blywend en ewig vir ons is.

“Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van Sy raad wou  toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Hebreërs 6:17–19).

Is jou siel in hoop geanker? Geniet jy ‘n sterk vertroosting gegrond op die wete dat God nie kan lieg nie en dat sy Woord vooruitgaan om jou in bose tye te bewaar?  Neem tyd om die hele Psalm 91 te lees en te begryp. Jy sal vind dat die ewige woord van God eens en vir altyd verlos het. Dit is deur ‘n God gegee wat nie kan lieg nie. Hoewel dit deur Dawid gespreek was, is dit waar vir elke geslag toe — en veral vir ons vandag.

As die liggaam van Christus, het ons ‘n sterker, beter hoop as Job, Dawid, of enige ander Ou Testamentiese gelowige.

Ons is been van God se been vlees van sy vlees. “Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efésiërs 5:30). Ons is inderdaad sy huishouding. En God se woord sê, “Maar iemand wat vir sy eie huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige” (1 Timótheüs 5:8).

Dink aan wat Paulus hier sê. Dink jy aan die gedagte dat die Hoof van ons huis nie vir ons sal voorsien nie? Om dit te doen is om Hom te beskuldig dat Hy Homself verloën en Homself ‘n ongelowige te noem. Dit is onmoontlik vir Christus om sy eie liggaam af te skeep! “Want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente” (Efésiërs 5:29). Die Here sou sy eie vlees moes haat om vir my of jou af te skeep in ‘n tyd van swaarkry.

Moenie probeer vasstel hoe Hy jou gaan bewaar nie. Net soos jy nie sou kon raai hoe Hy die Rooi See oopgemaak het nie...hoe Hy die Hebreeuse kinders in ‘n vuuroond lewendig kon hou nie...hoe Hy die bekke van honger leeus die hele nag kon toestop terwyl Daniël tussen hulle gesit het nie... hoe Hy water uit ‘n rots kon bring en brood uit die lug... hoe Hy 5,000 mense met net ‘n paar broodjies en vissies kon voed nie.

Ons kon nooit enige hiervan vasstel nie. Hy alleen het die woorde van die ewigheid – en Hy alleen gaan ons onderhou deur die ewigheid heen. In die hemel het ons geen ander middel van ondersteuning nodig as die Seun van God nie. Ons sal deur sy teenwoordigheid onderhou word. Dieselfde woord wat ons dán sal onderhou, is die woord wat ons nóú onderhou. Dit sal voortgaan om ons te bewaar maak nie saak hoe verlate of verwoes hierdie wêreld word nie.

‘n Dogmatiese argument is al jare aan die gang: Sal ware gelowiges deur die Groot Verdrukking gaan? Sal ons vir wie Jesus lief is daardie aaklige dinge sien? Sommige sê dat Jesus sal terugkom om sy bruid weg te neem voor lyding kom. Ander sê Hy sal in die middel van die verdrukking kom en ander sê ons sal deur dit alles moet gaan.

Laat my jou vertwyfeling opklaar met hierdie gedeelte: “Ná hierdie dinge het ek gesien...’n groot menigte wat niemand kon tel nie...het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het julle gekom?... En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom” (Openbaring 7:9, 13–14).

Hierdie gelowiges het uitgekom — en hulle was ‘n groot menigte. Geliefde, dit is my rede: Hulle het ingegaan, maar hulle het uitgekom. Nie net het hulle groot lyding verduur nie, maar hulle het daar uitgekom terwyl hulle ‘n baie spesiale getuienis uitgeroep het: “Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid!” (Openbaring 7:12).

Hierdie mense het nie “net oorleef” nie. Hulle het lofsange gesing tot die Een wat hulle uitgebring het. God het Homself aan hulle op elke manier bewys. Hulle het geleer om Hom dag en nag te dien” — wat beteken deur hulle donkerste tye sowel as deur hulle mees geseënde tye.

God is nie geïnteresseerd om ons net fisies met voedsel, water en skuiling te bewaar nie. Dit is nie ‘n groot oorwinning in Sy oë nie. Die oorwinnaars wat in Openbaring 7 beskryf word, het in die slegte tye oorwin omdat die volle Woord van God vir hulle lewend geword het. Hulle het Sy sterk arm en Sy heerlikheid en wysheid tot die einde gehad. Elke woord uit Sy mond het waar geword — en hulle het Hom daarvoor geprys met danksegging.

Verbeel jou geen wanhoop nie, nie meer in vrees wegkruip nie en geen onderwerping aan sataniese dreigemente nie. Hierdie oorwinnaars het gewas, in wit geklee en triomferend uitgekom. Wees daarom bemoedig — sy voorafbepaalde Woord sê dit maak nie saak waardeur ons gaan nie, ons kom daaruit. Halleluja!