God Se Aanraking

David Wilkerson

Daniël het getuig, “En kyk, ‘n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms waggelend laat opstaan” (Daniël 10:10). Die woord die “aanraak” beteken hier “met geweld oorval.” Daniël het eintlik bedoel, “Wanneer God sy hand op my plaas, het dit my op my aangesig gebring. Sy aanraking het my ‘n dringendheid gegee om te bid en om Hom te soek met alles wat binne-in my is.”

Dit gebeur elke keer wanneer God iemand se lewe aanraak. Daardie persoon val op sy knieë omdat hy gedring word om God te soek. Ek het dikwels gewonder hoekom Hy net sekere mense aanraak met hierdie dringendheid. God-aangeraakte dienaars wat ‘n intieme verhouding met die Here het, het openbarings vanuit die hemel en geniet ‘n wandel met die Here wat min ander het. Hoekom word sommige honger soekers terwyl ander hulle eie pad volg?

Ek dink aan Daniël. Hierdie toegewyde dienaar was deur God op ‘n bonatuurlike manier aangeraak. Daar was baie ander goeie, vroom mense wat die Here gesoek het in Daniël se dae: Sadrag, Mesag en Abednégo, sowel as Barug, ‘n skrywer van Jerusalem. Baie ander Israeliete het ook hulle geloof behou terwyl hulle in Babel in ballingskap was.

So, waarom het God sy hand op Daniël gelê en hom aangeraak soos wat hy gedoen het? Hoekom was hierdie een man in staat om dinge te sien en te hoor wat niemand anders kon nie? Hy het verklaar, “En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam my was, het die gesig nie gesien nie” (Daniël 10:7).

Hier is die ongelooflike gesig wat Daniël gesien het: “En op die vier-en-twintigste dag van die eerste maand, tewyl ek op die wal van die groot rivier was.... het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud... sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper” (Daniël 10:4-6).

Hierdie gesig was van Christus self, duidelik en aanskoulik. In werklikheid was dit dieselfde gesig wat aan Johannes op die Eiland Patmos gegee is (sien Openbaring 1:13-15). Onmiskenbaar het God nou met Daniël gepraat, “soos die gedruis van ‘n menigte” (Daniël 10:6). Dit was nie ‘n gepiep of ‘n gefluister nie, maar die donderende geluid van ‘n brullende rumoer.

Die Here het Homself op hierdie manier aan Daniël geopenbaar om ‘n spesifieke rede: Hy wou die lang hongersnood van sy Woord beëindig. Hy het besluit dat die tyd gekom het om ‘n boodskap aan die verlore mensdom te bring. En Hy wou hê dat sy diensknegte weet wat hy op die punt was om te doen en hoekom: “Om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val” (Daniël 10:14).

Maar God het ‘n stem nodig gehad om sy boodskap te spreek. Hy wou ‘n biddende dienskneg hê, iemand wat getrou aan sy roeping sou reageer. Daniël was daardie man. Hy het getrou  gebid drie keer per dag. Op daardie tydstip, terwyl hy langs die rivier geloop het, het Christus Homself aan hom geopenbaar - en Daniël was geruk deur die ervaring.  Hy het gesê, “’n groot skrik het hulle oorval, sodat hulle gevlug het om hulle te verberg. Toe het ek alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in my oorgebly nie... En ek het die geluig van sy woorde gehoor” (Daniël 10:7-9).

Die Skrif identifiseer nie die manne wat saam met Daniël was nie. Hulle kom moontlik Babelse wagte of regeringsbeamptes gewees het. Na alles het Daniël ‘n hoë pos in die koninkryk beklee. In my opinie, was hierdie manne egter Israelite en spesifiek Daniël se vroom vriende and genote. Tog, as dit so is, waarom het hulle gevlug? Daniël sê hulle het niks gehoor of gesien nie. Waarom was hulle gedring om weg te kruip.

Hier is die rede: God was in die proses om Daniël voor te berei. Hy was besig om sy dienaar voor te berei in liggaam en siel om ‘n woord vanuit die hemel te ontvang. En dit is altyd ‘n wonderlike gesig. Wanneer God een van sy biddende dienaars aanraak, manifesteer Hy Homself in daardie menslike werktuig. Eerstens, stroop hy hom van alle self en eie-ek en dan neem Hy totaal besit van hom.

Die aanskoue van hierdie proses kan vrees in elke vlees-gebonde Christen inboesem. Dit kan veroorsaak dat of hulle verborge sondes wegsmelt, of dit kan hulle dring om die van die toneel af weg te vlug. Ek onthou so ‘n aanraking in my eie lewe verskeie jare gelede, voor ons bediening na New York verskuif het. My vrou, Gwen, en ek het op ons stoep in Texas gesit saam met ander Christen pare. Skielik het God se Gees my gegryp en ek het op my aangesig geval.

Die Here het in my hart begin praat oor verlore siele. Kort daarna het ek gehuil en geprofeteer. Ek het gevoel asof ek in God se teenwoordigheid was, ver verwyderd van hierdie wêreld. Sy Gees het in my beweeg, my geroep, my ‘n visie vir my bediening gegee. Ek het nie geweet hoe lank ek in daardie toestand was nie. Al wat ek weet is dat gedurende hierdie tyd het ons gaste hulleself verskoon en hulle uit die voete gemaak. Iets omtrent die toneel het hulle weggeskrik.

Ek het dikwels gewonder: Is so ‘n bonatuurlike aanraking van God eenvoudig net ‘n saak van uitverkiesing? Is hulle wat sy aanraking ontvang het, uitverkies voor hulle gebore is? Is dit net vir hulle bestem om toegewyd in gebed te wees, gevul te word met die Heilige Gees en woorde van God se troon te ontvang?

Ek het hierdie vrae gevra as gevolg van ‘n onverklaarbare, God-gegewe honger in my siel. My innerlike mens het gesmag na ‘n openbaring van Christus. Iets in my wou doodeenvoudig net nie tevrede wees met ‘n ander persoon se opbenbaring nie. Hoekom? Ek is oortuig daarvan dat God ‘n spesifieke woord het wat hy aan hierdie generasie wil meedeel. En op hierdie oomblik, soek Hy die aarde deur op soek na dienaars wat Hy kan invul. Hy wil manne en vroue hê wat sal dien as sy spreekbuis in ‘n verlore wêreld. Slegs sy kragtige, geseënde Woord kan die toenemende gees van Islam en valse evangelies stuit. En net sy waarheid kan die doodskoot gee and eiebelang, materialisme en lis in God kerk.

‘n Suiwer woord is op die punt om weereens uit die hemel te kom. Oortuigende waarheid sal gepreek word uit die monde van ‘n nuwe generasie God-soekers, mense wat hulle harte volkome op Christus gerig het. Selfs op hierdie oomblik is God besig om manne en vroue op te rig wat deur God aangeraak is en deur sy Gees beheer word. Hy gaan hierdie dienaars aan die brand steek met die vuur van sy waarheid. En sy aanraking op hulle lewens gaan die hele wêreld notisie laat neem.

1. God het Daniël sy spreekbuis gemaak omdat hy nooit opgehou het om te bid nie.

Die Here raak elke diensneg aan wat getrou in gebed is. Hy soek hulle uit wat gewillig is om hulleself te dissiplineer om sy woord te hoor. Die Bybel noem hierdie gesindheid “die hart gerig.” Daniël het geskryf, “En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy” (Daniël 9:3).

Dan sê Daniël vir ons, “Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die Here my God neerwerp... het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer’ (Daniël 9:20-21). Kortliks sê Daniël hier, “God het my aangeraak terwyl ek Hom in intense gebed gesoek het.”

Daniël het dit duidelik gemaak: Hy het nie sy begrip van God se Woord gekry deur onder geleerde manne te studeer nie. Hy het nie sy kennis van toekomstige dinge van Babelse institute gekry nie. Niemand kon hom leer hoe om drome wat bonatuurlik gegee is, te interpreteer nie. Daniël het verklaar, “Terwyl ek nog spreek in gebed... en hy het my onderrig en met my gespreek en gesê, Daniël, nou het ek heengegaan en jou insig gegee” (Daniël 9:21-22).

Eenvoudig gestel, Daniël se gebede het ‘n Woord van God se troon af voortgebring. “Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom... Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val” (Daniël 10:12,14).

Watter tipe gebed het Daniël gebid om aanleiding te gee tot so ‘n besoek? Die Skrif vertel ons dat hy drie weke in totale gebrokenheid deurgebring het: “In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was” (Daniël 10:2-3).

Daniël het een-en-twintig dae gespandeer deur homself te verneder, hy het op sy knieë getreur, sy vlees gekasty en sy hart daarop geplaas om goddelike insig te verkry. Hy het nie sy gebedstye met ‘n horlosie dopgehou nie. Hy het oorlog verklaar: “Here, ek sal nie U teenwoordigheid verlaat totdat ek kan onderskei en weet wat U doen nie. Ek gee nie om wat die koste is wat ek moet betaal nie.”

Iets anders het met Daniël gebeur terwyl hy gebid het. Hy is tot aan die einde van sy menslike spreekvermoëns gebring. Die Here het nou Daniël se mond aangeraak sodat hy as sy spreekbuis kon optree. Hy het aan sy dienskneg gesê, “Ek het jou tong geheilig. Nou gaan ek deur jou spreek.”

Enigiemand wat namens God praat, moet sy tong skoonmaak en reinig. Dit het met Jesaja en Jeremia gebeur. En nou het Daniël getuig, “En kyk, een wat soos ’n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan gesê... Toe het die een wat soos ‘n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk” (Daniël 10:16,18).

Hierdie manne se ervarings is voorbeelde vir ons almal: God soek sulke mense wat tyd sal maak om saam met Hom opgesluit te wees. Jy mag sê, “Ek kan nie ure per dag bid nie. Ek het verpligtinge net soos elke ander mens.” Daniël self was ‘n baie besige man. As ‘n prominente regeringsbeampte het hy ongelooflike eise ten opsigte van sy tyd gehad. Tog het Daniël sy hart daarop gerig om die Here te soek. En hy het daagliks kwaliteit tyd gemaak – in werklikheid, drie keer per dag – om te bid. God het hom geantwoord met ‘n verstommende visioen: “En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gdoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie” (Daniël 8:2). Selfs in siekte of tydens sy daaglikse doenigheid, het Daniël die Here gesoek.

2. Daniël het getreur oor die geestelike agteruitgang in sy gemeenskap en in die kerk.

Daar is ‘n hartsgesindheid in selfs die mees vreugdevolle gelowige wat hom laat treur oor die louwarm toestand van die kerk en die morele agteruitgang van die nasie. Ons sien dit in Daniël se lewe.

Op hierdie tydstip, het Daniël visioene in die middel van die nag gekry. Hy was wonderbaarlik uit die leeukuil gered. Die Here het hom geweldig geseën en voorspoedig gemaak. Tog het Daniël die hele tyd nooit die swaar dinge wat God hom oor Israel gewys het, uit sy gedagtes laat gaan nie: “Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik” (Daniël 7:15). Oor en oor het Daniël getuig, “Hierdie goddelike woorde, hierdie visioene van die toekoms, het my gepla. Dit het my siel aangeraak en het veroorsaak dat ek treur en rou bedryf.”

Nou het God aan Daniël openbaar dat Hy van plan was om elke bose ding uit te ruk en neer te werp. Hy sou bose nasies vertrap en vernietig. Die Oordeelsdag was naby en die tyd was besig om uit te loop – tog is dit verstommend dat God se mense totaal en al onbewus daarvan was. Dus het Daniël begin treur oor die doodsheid en verdorwenheid in God se huis.

Ek sien ‘n soortgelyke toneel in God se huis vandag. Predikers en kerke het hulle ore toegesluit daarvoor om enige profetiese waarskuwings te hoor. Hulle weier om enige negatiewe woorde te hoor of te preek. In hulle gedagtes, is dit tyd om net die lewe te geniet. Tog het baie van hierdie mense eens wonderwerke ervaar. Hulle het hulle verlore geliefdes in die koninkryk in gebid. Hulle het getreur oor die morele verval in die samelewing, en het uitgekyk vir Christus se koms. Maar nou het hulle hulle eie agenda. Hulle sal nie ‘n greintjie energie spandeer om saam met God te treur oor ‘n sterwende nasie en ‘n louwarm kerk nie. Soos die Skrif sê, “Hulle (het hulle) nie oor die verbreking van Josef bekommer nie” (Amos 6:6).

Ek sê vir jou, Daniël het God se aanraking ontvang omdat hy gewillig was om saam met God te treur. Hy het vurig gebid, “Here, wat gaan aan? Ek moet hierdie tye verstaan. Wys my, sodat ek u mense kan waarsku.” Hy het nie omgegee dat hy gespot is nie. Hy was vervul met ‘n ywer om God se hart te ken en sy las te dra.”

3. God openbaar sy woord aan die wat weier om sonde te verberg of te herberg.

“En ek het tot die Here my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk“ (Daniël 9:4-5).

Hier is nog ‘n kenmerk van iemand na God se hart: Hy identifiseer homself met die kerk se sondes. Hierdie dienaar het uitgeroep vir heiligheid, in beide homself en in God se mense. ‘n Kerk kan ‘n oproep doen vir gereelde gebedsbyeenkomste, maar sonder reinheid, is gebed heeltemal kragteloos. Die boodskap wat God aan sy mense wil oordra, moet kom van mense wie se lippe gereinig is.

I daag elke predikant of pastoor, elke onderwyser, elke leek uit: word desperaat vir God se aanraking. Bly in gemeenskap met Hom en laat die Heilige Gees jou hart deursoek. Hy sal elke bose, rebelse, sondige ding binne-in jou uitwys en Hy sal met jou deel oor elke area van ongehoorsaamheid.

Gou sal jy geen meer geveinsdheid of kompromie in jouself toelaat nie. Jou gebede sal verander in gebede om heiligheid. Dan, wanneer jy ookal sonde in God se huis sien, sal jy roep, “O, Here, ons het teen U gesondig.” Dit is hoe jy sal weet dat God jou aangeraak het. Hy het begin om sy goddelike werk in jou te doen deur jou te verander, deur jou opnuut te salf en  jou vir groter werk voor te berei.

Laat my ‘n profetiese woord wat God aan my gegee het met jou deel.

Terwyl ek in gebed was, het die Heilige Gees ‘n buitengewone visioen aan my meegedeel: God is besig met ‘n geheime operasie in die hemele. Hy is besig om ‘n weermag-binne-in-‘n-weermag op te rig, en hy soek sy gewone troepe om ‘n elite eenheid van vrywilligers te vorm. Hierdie spesiale magte bestaan uit krygsmanne wat Hy kan aanraak en oprig op teen die vyand te veg. Ons sien ’n voorbeeld daarvan in die Skrif met Saul se spesiale burgermag. Die Bybel vertel ons, “en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan” (1 Samuel 10:26).

Vandag sluit God se spesiale magte jong, middeljarige en ou mense in. Hulle het opleiding ontvang in hulle geheime gebedskamers. Baie het soveel pyn en lyding verduur dat dit amper meer is as wat ‘n mens kan verdra en hulle het skoon en rein daaruit gekom. Hulle intimiteit met Jesus deur dit alles het hulle geleer hoe om te veg. Nou weet hulle hoe om op enige geestelike terrein oorlog te maak, of dit nou op die berge of in die dale is.

Hierdie spesiale magte het baie gevegte met gebed gewen -  en nou word hulle in die hel gevrees. Een biddende, gehoorsame lid van hierdie eenheid kan ‘n duisend vyandige soldate laat weghardloop. Soos God belowe het aan Josua se klein, uitgesoekte leërmag, “niemand het tot vandag toe voor julle stand gehou nie. Een man uit julle het duisend agtervolg; want die Here julle God, Hy het vir julle gestry soos Hy julle beloof het” (Josua 23:9-10).

Ek het die preke van baie soldate in hierdie spesiale magte gehoor. Hulle is leeus in gebed, tog soos lammers in hulle nederigheid – en hulle is vreesloos om alles in wat van die vlees is te ontbloot. Die woord wat hulle preek is geweldig in waarheid, reinheid en integriteit. Sommige is jonk, en het Christus gou leer ken. Hulle preek sy woord onverskrokke, beide in die kerk en aan die ongereddes. Ander soldate is  middeljare predikers wat moeg geraak het vir die kerk se louwarmheid. Nou is hulle gereed om aan ‘n nuwe generasie te wys hoe om te veg.

Vir jare nou het Satan God se mense geterroriseer. Maar die hele tyd was God besig om sy spesiale magte op te lei en Hy is op die punt om hulle in sy kerk te ontplooi. Sy weermag-binne-in-‘n-weermag is in plek in elke nasie. Hulle aktiwiteite mag vir die oomblik geheim wees, maar gou sal ons sien hoe hulle groot werk in die naam en in die krag van Christus doen. Want agter die deure van die geheime gebedskamer, raak Hy sy biddende dienaars aan, net soos dit met Daniël was. God se Woord sal vanuit daardie aanraking kom en die geestelike hongersnood sal ophou. Jehova God sal oorwin. Sy Woord sal alles oorwin!