Jy word getoets

David Wilkerson

As jy begeer om regverdig voor die Here te  wandel, dan kan jy verseker wees dat jy getoets en beproef sal word. In werklikheid, hoe dieper jou pad met Christus is, hoe intenser sal die toets wees. Die Bybel maak dit baie duidelik: “Maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree...En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word... En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reininging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde — want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Daniël 11:32-35).

‘n Groot tyd van beproewing kom vir die “verstandiges” in bogenoemde gedeelte. Wie is hierdie mense wat getoets gaan word? Hulle is die regverdiges, wat vir die Here optree en werk, wat met God wandel en die wysheid van Christus het! Miskien het jy die afgelope tyd gewonder, “Hoekom word ek getoets? Waarom gebeur hierdie dinge met my?” Dink terug aan jou skooldae. Wanneer daar ‘n toets gegee is, het dit gewys hoeveel jy eintlik geleer het van wat jy geleer is. Paulus praat egter van ‘n ander skool - een waar ons “Christus... leer ken” en waar ons “in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus” (Efésiërs 4:20-21). As u aan Jesus behoort, dan is jy in sy skool. As jy Hom vir ‘n aantal jare reeds dien, dan mag jy dink dat jy jou graad het. Maar nie een van ons gradueer werklik totdat ons in heerlikheid saam met Hom sal wees nie.

Dawid het gereeld daarvan gepraat dat hy getoets word: “En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid” (1 Kronieke 29:17). Ek wil met jou praat oor drie algemene toetse waarvoor elke Christen te staan kom.

1. Ons word getoets deur beproewinge en lyding, beide deur ons eie en deur dié van ander gelowiges.

Een van die moeilikste dinge vir Christene om te hanteer, is die lyding van die regverdiges. Tot en met die tyd van Christus, het die Jode voorspoed en goeie gesondheid met goddelikheid geassosieër. Hulle het geglo as jy ryk, geseënd of in goeie gesondheid is, is God met jou. Dit is hoekom Jesus se dissipels dit so moeilik gevind het om sy stelling, “dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Matthéüs 19:24), te verstaan. Die dissipels het gevra, “Wie kan dan gered word?”

Daar is selfs vandag nog ‘n verkeerde leerstelling wat sê dat hulle wat in verbond met God lewe, nie sal ly nie! Die helde van geloof wat genoem word in Hebreërs, het gely, in stenigings, martelings en baie het geweldadig gesterf (sien Hebreërs 11:37). Petrus verduidelik, “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolginge onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13). Petrus voeg die volgende by, “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word  tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6-7).

Ons moet verstaan dat Jesus ons Leermeester is. En terwyl ons gedissiplineer word, kan ons Hom aanroep net soveel soos wat ons wil, maar Hy sal nie optree voor ons geleer het wat Hy ons wil leer nie. Daar is ewige waarhede wat net Hý in ons harte kan plant en net op sý manier.

Jy sien, wanneer Jesus lyding en beproewings in ons lewens toelaat, is daar een doel wat Hy daarmee wil bereik. Dit is dieselfde ding wat Hy wou bereik toe Hy vir Abraham gevra het om sy geliefde seun Isak te offer. God het Abraham toegelaat om Isak teen die berg op te lei en die mes bokant hom op te lig. Dit was toe eers wat die Here hom gekeer het en “Nee!” gesê het. Wat wou die Here daarmee bereik? Eenvoudig dit: “Abraham, beteken Ek vir jou meer as die voorwerp van jou grootste aardse liefdes?" Abraham was gewillig om alles wat naby en kosbaar aan hom was, neer te lê — sy enigste seun, die presiese voorwerp van God se belofte aan hom — en om sy toekoms in die hande van God te plaas. Hy het alles aan God gegee.

Ons kan ook getoets word deur die lyding  van ander, veral van regverdige, heilige diensknegte van God. Hierdie toetse is moontlik die moeilikste om te verstaan. Die Bybel leer ons, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20). Ons sien egter so baie wat nie gered word nie. Ons sien soveel toegewyde Christene voor ons oë sterf. Sommiges ly ontsettende pyn. Ek is egter steeds oortuig dat ons nie die soort wonderbaarlike bevryding, wat die Here vir ons in die vooruitsig het, verstaan nie! Sy weë is ver bo ons eie. Ek was in die teenwoordigheid van lydende Christene in hospitale wat meer geloof en hoop gehad het as diegene wat vir hulle genesing gebid het. Wanneer jy daardie soort hoop in jou het, dan leef jy nie vir hierdie wêreld nie — dan leef jy vir die ewigheid! In der waarheid, hulle wat gely het en in geloof gesterwe het, het hulle volkome genesing ontvang! Vir hulle beteken dit Christus se teenwoordigheid in sy volheid! Petrus sê hierdie heiliges het “gemeenskap... aan die lyde van Christus... sodat [hulle] ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:13). Die geloof wat hulle op aarde gedemonstreer het, sal groot eer en heerlikheid aan God bring!

God wil deur al ons toetse heen iets in ons harte plant. Hy wil hê dat ons kan sê, “Here Jesus, U is my beskermer en ek glo U heers  oor al die gebeure in my lewe. As enige iets met my gebeur, dan is dit omdat U die skans laat sak en omdat U ‘n rede daarvoor het. As ek weet dat ek in geregtigheid wandel en u vreugde in my hart het, dan sal my lewe en my dood eer aan U bring. U mag ‘n soort voorbereide heerlikheid hê, ‘n soort ewige doel wat my beperkte verstand nie verstaan nie. Hoe dit ook al sy, ek sal sê, 'Jesus, lewe of dood, ek behoort aan U!’”

2. Ons word getoets deur uitgestelde antwoorde op ons gebede.

Die meeste van ons bid soos Dawid: “Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my tog gou” (Psalm 102:3). “Ek is benoud. Verhoor my dan gou!” (Psalm 69:18). Die Hebreeuse woord hier vir “gou” beteken “Nou dadelik, maak gou — doen dit in dieselfde uur wat ek tot U roep!” Dawid het gesê, “Here, ek stel my vertroue in U, — maar asseblief, maak gou en antwoord my!” Geliefdes God is egter in geen haas nie. Hy spring nie as ons bevel gee nie. Om die waarheid te sê, jy mag by tye wonder of Hy ooit sal antwoord! Jy roep uit, huil, vas, hoop — maar dae gaan verby, weke, maande, selfs jare en jy kry nie die geringste aanduiding dat jou God gebed hoor nie.

Hoekom vertraag God antwoorde op opregte gebede? Dit is verseker nie omdat Hy nie die krag het nie. Hy hoef slegs ‘n oog te knip of ‘n gedagte te dink en die werk sal klaar gedoen wees! En Hy is baie gewillig, baie meer as wat ons is, dat ons iets van Hom moet ontvang. Die antwoord word in hierdie vers gevind: “En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie” (Lukas 18:1). Die Griekse woord vir "moedeloos" beteken, "ontspan, swak of moeg in geloof word, flou, die stryd gewonne gee, nie langer wag vir voltooing nie."

Paulus sê vir ons, “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Galasiërs 6:9). Die Here soek biddende mense wat nie sal verslap of moeg word om na Hom toe te kom nie. Hierdie mense sal op Hom wag en sal nie moed verloor totdat die werk voltooi is nie. En hulle sal wagtend gevind word wanneer Hy die antwoord bring.

Een keer, gedurende ‘n seisoen waarin ek lank in gebed gewag het, het die Here aan my gefluister, “Ek bou nie jou geloof op My beantwoording nie. Ek bou jou geloof op My vertragings!”

Enige een kan glo wanneer die antwoorde op gebede inrol! Maar wie gaan na ‘n jaar of twee of drie steeds glo? Soos wat die tyd aanstap, laat ons ons gebede agter en ook die geloof dat Hy dit sal beantwoord en ons beweeg aan na iets anders. Ons sê aan God, "Ek sal getrou bly aan U. Maar moenie langer verwag dat ek geloof sal hê om vir antwoorde op gebede te wag nie."

Jesus het vir ons ‘n gelykenis gegee wat bewys dat Hy op ons wag, dat ons moet vasbyt en vasbeslote moet wees om nie moed te verloor nie. Dit is die gelykenis van die behoeftige weduwee wat aanhoudend na die regter toe gegaan het en geregtigheid gevra het (lees Lukas 18: 2-8).

Die regter het uiteindelik haar versoek vir geregtigheid toegestaan omdat hy nie deur haar aanhoudende gesmeek uitgeput wou word nie. “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen” (Lukas 18:7-8).

Vir die meeste van ons is die moeilikste pad van geloof die laaste halfuur, wanneer dit lyk of God nie gaan antwoord nie. Ons kom in die versoeking om moed te verloor, alles agter ons te plaas en aan te gaan met iets anders. Ons dink ons onderwerp ons aan God se voorsienigheid en vertrou op sy soewereine wil. Ons sê, "Here, doen wat U dink is die beste," of "God, U wou dit seker nie gehad het nie."

Nee! Dit is nie wat God bedoel het nie! Wanneer jy bid vir dit wat vanselfsprekend die wil van God is — byvoorbeeld die redding van familielede — het jy alle reg om daaraan vas te hou en nooit moed te verloor totdat Jesus antwoord nie. Jy het alle rede om nie na die duiwel te luister nie en om God te vra om die saadjie van geloof van Jesus Christus in jou te plant en nie te ontspan totdat jy dit in vervulling gesien het nie.

Dit het ten minste al ‘n dosyn kere met my gebeur. Ek het moed verloor en gesê, “Ag wat, dit was seker nie God se wil nie. Dit is eenvoudig ‘n onmoontlike situasie.” En somtyds het die antwoord binne ‘n uur na my woorde gekom.

Dit mag presies wees wat met jou gebeur. Jy het moed verloor en volhard nie meer in gebed nie. Maar God is alreeds aan die werk — en jou antwoord is op die punt om sy opwagting te maak.

3. Ons word getoets deur ons struikeling en mislukkings.

Ek bedoel nie dat Christene wat terugval in hulle ou sondes en terugdraai na die wêreld, getoets word nie. Nee hierdie gelowiges se geloof het skipbreuk gely. Petrus het gewaarsku, “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op julle hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastigheid nie” (2 Petrus 3:17). Petrus waarsku gelowiges wat in heiligheid groei en wat daarop ingestel is om die Here te volg.

Miskien het jy na jare wat jy Hom gedien het op die een of ander manier gestruikel en die knie gebuig voor woede, wellus of ongeloof. Jy het vir ‘n oomblik ingegee ten spyte van al die vooruitgang wat jy in die Here gemaak het. As jy op hierdie gebied getoets word, mag jy dink, “Ek is so onwaardig. Hoeveel grond het ek nie verloor nie? Het God my steeds lief?”

Liewe heilige, as jy werklik berou het, dan het jy geen grond hoegenaamd verloor nie. God sit sy liefdevolle arms om jou en sê, "Ek het dit toegelaat om te gebeur sodat jy kan sien wat in jou hart is. Maar jy maak vordering. Jy het gesê dat jy die pad saam met My wil loop en Ek leer jou. Ek wil jou hele hart hê en Ek sal toelaat dat jy getoets word totdat Ek jou hele hart het.”

Word jy getoets? Indien wel, bid dan hierdie gebed: "Here, U het U vinger op sommige areas in my lewe gelê. Ruk dit uit my lewe uit. Ek wil nie agteruit gaan nie. Ek wil vorentoe met U gaan!"