Is Jy Vrygemaak?

Gary Wilkerson

Laat my toe om jou ‘n eenvoudige vraag te vra: Is jy vrygemaak? Jy dink heel waarskynlik, “Natuurlik! Ek is gewas, verlos, deur Jesus heilig gemaak, en ek leef vir Hom. Dit is elke gelowige se getuienis.”

Daar is egter ‘n opvolg vraag: Weerspieël jou alledaagse lewe die heerlike vryheid wat jy so pas beskryf het? Sou jou vriende, jou gade en jou kinders sê dat jy vrygemaak is? Of is jy soos menigte Christene wat voel dat hulle op ‘n geestelike wipplank ry? Is jou wandel met Christus die heeltyd op en af, terwyl dit die een oomblik geestelik lyk en die ander oomblik vleeslik?

Ons aanvaar deur geloof die groot teologiese waarhede oor Jesus se werk vir ons — redding, verlossing, heiligmaking en bevryding. Vir baie van ons is dit “geestelike waarhede” wat in ‘n ander wêreld bestaan. Ons sing en verbly ons by die kerk oor wat Jesus vir ons gedoen het elke week — maar is sy gawe van vryheid ‘n werklikheid in ons daaglikse lewens?

Soms sukkel ons almal om suiwer in gedagte en dade te wees. Miskien het jy hierdie week iets onvriendeliks aan jou gade gesê en nou broei jy daaroor, “Wat is fout met my? Waarom kan ek nie ‘n seën in my huwelik wees nie?” As jy ‘n jong persoon is, herhaal jy dalk ongewenste gewoontes terwyl jy wonder, “Sal ek ooit hiervan vry kom?”

Wanneer ons misluk in ons wandel met God — wat dikwels is — dan wonder ons, “Het God my regtig vrygemaak?” As jou antwoord hierop, nee, is — as jy vasgevang voel in ‘n op-en-af lewe — dan wonder jy miskien waar jy met God staan. Miskien bevraagteken jy selfs jou redding. Vriend, dit is nie vryheid nie. So, wat beteken dit dan om waarlik in Christus vrygemaak te wees?

Die eerste ding wat jy moet weet is dat God ‘n ander storie vertel oor jou lewe as wat jy vertel.

Die eerste bewyse hiervan kom van Jesus, wat gesê het, “Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg [of een uur by sy dag]?...Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:27, 33).

Die afgelope tyd was ek angstig oor iets baie werkliks: My ouderdom! Toe ek in my twintigs was, het ek na my pa in sy vyftigs gekyk en gedink, “Hy is so oud.” Noudat ek in my vyftigs is, in die tweede deel van my lewe, is ek besig om vreesbevange te word. Wat sê Jesus vir my in my angs? “Gary, kan jy een enkele uur by jou lewe voeg? Moenie angstig wees nie.”

Christus bied dieselfde woorde aan almal van ons wat bekommerd is oor ons geestelike lewe: Moenie angstig wees nie. Dit maak nie saak hoe gebroke en wankelrig jy voel oor jou wandel met Hom nie; Hy verklaar, “Jy is ‘n nuwe skepsel.” Die oomblik wat jy kies om Jesus te volg, maak Hy jou nuut — en dit verander nooit nie. Selfs wanneer jy dink dat jy te ver weggedwaal het, sê Jesus die teenoorgestelde: “Moenie angstig wees nie. Ek het alles vir jou voorsien om gemeenskap met My te hê.”

As ‘n pastoor, sien ek ‘n algemene probleem wanneer mense in my kantoor kom sit vir berading. “Ek het God se standaard gefaal,” sê hulle moeg. “My sonde het my afgesny van gemeenskap met die Here.” Hulle dink hulle sonde het veroorsaak dat die Heilige Gees weggevlieg het soos ‘n duif en in die lug hang totdat hulle hul harte regkry.

Dit is opregte gelowiges wat so dink, maar hulle kan egter nie meer verkeerd wees oor God nie. Wanneer ons sondig, is dit wanneer ons Christus se gemeenskap die meeste nodig het! Jesus verlaat ons nie in ons sonde nie. Hy tree vir ons in deur na die Vader te gaan en die Heilige Gees te stuur om ons te herinner aan sy genade — ‘n genade wat gebaseer is op sy bloed wat vir ons gevloei het en nie wat op ons prestasie gebaseer is nie.

Ja, die Bybel en die Heilige Gees oortuig ons van sonde. Maar ons is nie veronderstel om angstig te wees oor die uiteinde van ons sonde nie. God se genade is magtiger as enige demoon, kragtiger as ons sondige natuur en groter as enige berg van skuld. Daarom is die uiteinde van ons sonde dat ons in Hom moet rus! Ons het nie nodig om weer gemeenskap met Hom te bewerkstellig nie, omdat Hy alreeds aan die werk is om ons te oortuig, te was en te reinig van ons sonde. Hy verlaat ons nooit nie; God lewe werklik in ons. Sy goddelike werk in ons hou nooit op nie, selfs nie wanneer ons ophou om goddelik te wees nie.

Genade so verstommend is moeilik om te verstaan in ons frustrerende daaglikse lewens.

Die meeste van ons sou erken dat ons selde God se genade in ons voel werk. Dit is hoekom ons geneig is om te twyfel of sy teenwoordigheid in ons bly. Paulus het hierdie dilemma vir ons in Galásiërs aangespreek. Hy skryf, “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Galásiërs 5:16).

Dit klink eenvoudig genoeg. Maar ons is geneig om hierdie raad van Paulus te neem as ‘n moeilike bevel om te gehoorsaam deur daarna te streef. Ons byt op ons tande en sê, “Ek sal vandag in die Gees wandel.” Dan wanneer ons een keer struikel, dan dink ons ons is nie “geestelik” nie. Dus probeer ons nog harder om in die Gees te wandel. Skielik is ons weer onder die wet omdat ons op ons vleeslike vermoë staatmaak eerder as om te vertrou dat ons reeds in die Gees is.

Paulus sê, “Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie” (Galásiërs 5:18). Met ander woorde: Die Gees van God bly in jou en gee jou die hele tyd toegang tot sy genade, wat jou bemagtig. Wanneer Paulus sê, “Wandel in die Gees,” bedoel hy, “Wandel onder die genade, nie die wet nie.”

Paulus wys ons die gevolg van ‘n wandel in die Gees: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie” (Galásiërs 5:22-23). Neem kennis: Hierdie dinge vloei nie uit ons voort as gevolg van dit wat ons doen nie. Dit is die vrug van die geregtigheid wat God in ons geplaas het – die resultaat van sy werk in ons.

Jy mag soms dalk nie baie liefdevol voel nie, maar liefde is in jou; God het dit daar geplaas. Jy mag dalk nie vreugde en vrede voel nie, maar God het albei diep in jou geplant. Sy Gees werk in jou elke uur van elke dag tot sy groot heerlikheid en tot jou seën.

So, waarom ervaar ons dat ons in ‘n aanhoudende stryd is? Is dit soos die ou strokiesprent waar die duiwel op die een skouer en ‘n engel op die ander skouer sit met elkeen wat jou aandag soek. Ons is betrokke in ‘n stryd, maar nie van daardie soort nie. Paulus spreek ons ware dilemma aan in Romeine 7: “Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek...Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie” (Romeine 7:14-15, 18).

Paulus draai nie doekies om as hy sy toestand beskryf nie: “Ek is van die vlees. Ek doen die hele tyd kwaad. Geen goed woon in my nie.” So, is dit Paulus se basiese beskrywing van ‘n Christen? Sê hy, “Al jou dae sal vol wees met sulke konflik”? Glad nie. Paulus sê egter verder:

“As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Romeine 7:21-24).

Baie Christene hou hier op en sê, “Dit is ek — ek is gered, maar my lewe is ellendig. Daar is geen manier waarop God my ooit sal gebruik nie. Ek spandeer elke wakker oomblik net om sonde af te weer.” Die probleem is dat hierdie Christene nie weet wie hulle in Christus is nie — en dit is presies die punt wat Paulus wil maak. Hy skilder ‘n prentjie van ons dilemma en beskryf ons ellendige toestand en vra, “Is daar ‘n uitweg? Hoe sal ons ooit hiervan verlos word? In my eie krag is dit onmoontlik.”

Dan in een van die mees verstommende gedeeltes wat in die Skrif opgeteken is, gee Paulus God se reaksie tot die menslike toestand: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!...Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Chistus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood” (Romeine 7:25, 8:1-2).

Daar is ‘n nuwe wet wat in jou werk — omdat daar ‘n nuwe “sheriff” in die dorp is! Jesus, die nuwe “sheriff,” het die ou korrupte een — die “ou man” van jou vlees, uitgejaag. Jy lewe nie langer onder die wet van sonde en dood nie, want die “wet van die Gees het jou vrygemaak in Christus Jesus.”

Jy mag vra, “So wat van die stryd wat steeds binne-in my aan die gang is?”

Ek sê vir jou dat sonde nie langer in jou heers nie. Die magte wat teen jou kom, kom van buite – van Satan, die wêreld, jou menslike natuur -  nie van binne jou ou, dooie natuur nie. Ek het steeds ‘n menslike natuur, wat deur sonde aangeraak word, maar ek het nie meer ‘n ou sondige natuur nie. Christus het dit alles doodgemaak. Die ou, korrupte “sheriff” mag vanuit die stadsgrense op jou skreeu, “Jy is nie geestelik nie, want dan sal jy nie daardie verleidende gedagtes hê nie.” Maar in die tussentyd het die nuwe “sheriff” ‘n banier opgesit wat lees, “As jy hier lewe, is jy vry.”

Dit beteken nie net, “Jy is vry van die straf van sonde” nie. Paulus verklaar eintlik, “Die wet van die Gees van lewe het jou vrygemaak in Christus Jesus van die wet van sonde en dood.” Dit beteken jy is nie langer onder die wet van sonde nie, maar is vry om in genade deur die Gees te wandel. Die ou mens is weg; alle dinge het nuut geword. Jy hoef nie langer te sê, “Ek kan nie doen wat ek wil nie.” Jou leuse is nou, “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Ja, jy kan — nie in jou eie krag nie, maar deur Christus, wat jou gereinig het en jou geroep het tot geregtigheid in genade.

“Want God het – wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees” (Romeine 8:3). Ons kan nie na geregtigheid strewe nie. God het sy geregtigheid in ons deur sy Seun beskik “Sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Romeine 8:4).

So, wat is op my lysie om te doen om regverdig te wees? Niks. Ek moet my eie heil uitwerk met vrees en bewing, maar ek kan dit in vryheid doen — omdat die regverdige vereiste van die wet reeds volbring is. Ek hoef nie langer net-net aan Jesus te hang nie; Hy het my met sy eie Gees gevul. En daar is nie langer enige veroordeling vir my nie omdat Hy die regverdige vereiste van die wet volbring het. Niks meer is nodig nie; Hy het al my vereistes vir regverdigmaking nagekom, my geheilig en regverdig gemaak.

Is jy angstig? Spook jou mislukkings by jou? Wonder jy, “Is daar regtig so ‘n ding soos vryheid vir my? Is daar verlossing? Werk die Christen lewe ooit?” Jesus antwoord: “Jy is vrygemaak.” Dit is nie een of ander valse optimistiese verbeeldingsvlug nie, maar dit is ‘n werklikheid wat God oor jou verklaar het. Dit is die storie wat Hy vir die duiwel oor jou lewe vertel wanneer die aanklaer kom.

Bid hierdie gebed: “God, ek weet dat U dit vir my gedoen het, maar ek het gelewe asof U dit nie gedoen het nie. Maak nou woning in my hart. Ek kan in die Gees wandel met die wete dat U alles gedoen het om my regverdig te maak. Amen!”