Is Jy ‘n Barmhartige Christen?

David Wilkerson

“Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is ‘n goedertieren oor die ondankbares en slegtes.

“Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is. En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word” (Lukas 6:35-37).

Jy onthou waarskynlik die storie van Sodom en Gomorra in Génesis. Twee engele, wat as mense verskyn het, het die poorte van Sodom genader. Hulle was heel waarskynlik geklee soos gewone mense.

Abraham se neef, Lot, het by die stadspoort gesit, waarskynlik in een of ander ampsposisie. (Hy kon een van die oudstes van die stad gewees het wat besoekers verwelkom het). Toe Lot die twee vreemdelinge sien, het hy hulle gegroet – miskien was hy in sy gees bewus van iets bonatuurliks in hulle voorkoms.

Toe die engele vir Lot gesê het hulle was van plan om in die straat te slaap daardie nag, was Lot ontsteld. Die Skrif sê Lot was ‘n regverdige man, wat gewoon het in ‘n bose stad vol homoseksuele bendes – begeerte-gedrewe, verkragtende, gewelddadige mans op die loer. Lot se siel was gekwel oor al hierdie onbeskryflike booshede wat hy in Sodom gesien het. Dag en nag, het die samelewing slegter geword. Uiteindelik het Sodom se sondes die hemel bereik – en nou het God die twee engele gestuur om die stad te monitor.

Lot het hulle onmiddellik na sy huis uitgenooi om daar as gaste te oornag. Hy het só ernstig by hulle aangedring dat die engele ingestem het om saam met hom huistoe te gaan. Toe het Lot hulle in sy huis ingeneem en vir hulle kos gegee.

Voor die engele egter kon gaan slaap daardie nag, het ‘n raserige, wilde bende homoseksuele mans buite die huis vergader. Hulle het Lot se huis omsingel en aan die deur gehamer en geskreeu, “Bring daardie twee mans uit! Gee hulle vir ons sodat ons met hulle gemeenskap kan hê.”

Wat ‘n ongelooflike, aaklige toneel! Hierdie wilde mans was vasbeslote dat almal in die bende die twee vreemdelinge sou verkrag. Lot was so desperaat dat hy iets ondenkbaars gedoen het: Hy het sy twee dogters vir die bende aangebied! Hy het vir hulle gesê, “Laat my my twee dogters uitstuur in plaas van hierdie mans. Julle kan met hulle doen wat julle wil.” As ‘n vader van twee dogters, kan ek Lot se optrede nie verstaan nie. Dit gaan my verstand te bowe!

Nadat Lot geweier het om die twee mans oor te lewer, het die Sodomiete hom opsy gestoot en probeer om die deur af te breek. Die engele, het sonder twyfel met bonatuurlike krag Lot teruggetrek in die huis in en die deur agter hom gesluit. Op hierdie punt, het hulle genoeg gesien; hulle het geweet hulle moes optree.

Eerstens, het hulle blindheid oor die bende laat kom. Praat van die verblindende krag van begeerte: Selfs nadat hulle verblind was, het die Sodomiete rondgeslinger, steeds op soek na die deur van Lot se huis. Hulle was onder veroordeling en het dit nie eers geweet nie!

Volgende het die engele Lot opsy geneem en vir hom gesê, “Môreoggend gaan ons hierdie plek vernietig. Die geroep van die boosheid het te hard geword in die Here se ore! Gaan en waarsku nou jou skoonseuns dat julle almal die stad moet verlaat. Teen sonsopkoms moet jy en jou familie vlug. Ons kan niks doen tot julle weg is nie!”

Vroeg die volgende oggend, het Lot sy skoonseuns probeer wakker maak. Maar die Bybel sê hulle het hom geminag. Hulle het waarskynlik vir hom gelag, omgerol en verder geslaap. Daarom het die engele vir Lot gesê, “Gaan nou! Neem jou vrou en dogters en gaan uit die stad uit. Hardloop en moenie omkyk nie!”

Maar Lot het getalm. Vir een of ander rede kon hy homself nie sover bring om te gaan nie. Ten spyte van alles wat hy gesien en gehoor het in Sodom, ten spyte van die engele se waarskuwings, het hy geaarsel. Skielik het die engele hom en sy familie aan die hande gegryp en hulle letterlik uit Sodom uitgesleep. Die engele het gewaarsku, “Oordeel is op die punt om te neer te daal Hardloop na die berge toe – nou!”

Laat my vir jou vra: Waarom het God engele gestuur om Lot en sy familie te red? Ons weet dat Lot en sy dogter uiteindelik gered is uit Sodom, maar sy twee skoonseuns en vrou was vernietig. Waarom was Lot gered? Waarom het God sy engele gestuur om hierdie man letterlik uit vernietiging uit te ruk?

Was dit oor Lot se morele waardes? Was dit omdat God iets wonderliks in hom gesien het? Nee! Die antwoord is baie eenvoudig: “...omdat die Here hom wou verskoon... hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad” (Génesis 19:16). God was barmhartig teenoor hom!

Ek sien Lot as ‘n tipe van oorblyfsel van ‘n gelowige in hierdie laaste dae, wat lewe in ‘n bose samelewing wat op die punt is om geoordeel te word. Tans is Amerika ryp vir vernietiging; trouens, ons nasie is reeds onder veroordeling. En Lot verteenwoordig die regverdige oorblyfsel van die kerk te midde daarvan, want die Bybel noem Lot ‘n regverdige man (sien 2 Petrus 2:6-8).

As God se kerk egter vandag regverdig is, is dit slegs weens die bloed van Jesus Christus en nie weens enige goedheid of moraliteit wat die Here in ons gesien het nie. Dit is slegs uit sy blote barmhartigheid dat Hy na ons gekom het en ons uit die oordeel getrek het – selfs toe ons in ons sondes getalm het!

Dink daaraan: Toe jy gered is, het die Gees van God jou aan die hand gevat, jou letterlik uit jou sondes uitgetrek en jou buite bereik van boosheid en rebellie geplaas. Hy het jou uit veroordeling uitgebring, uit Sodom uit. En miskien het jy nie gewillig gegaan nie; miskien moes Hy jou uitlei soos met Lot.

Dit is slegs deur God se barmhartigheid wat sy mense bewaar word vandag!

Ons sien dat die sondes van ons samelewing reik tot by die hemel: Sensualiteit, immoraliteit en boosheid word meer openlik. Hoe is dit dat ons nie daardeur verswelg word nie? Waarom word ons nie meegesleur deur hierdie morele grondverskuiwing nie?

Jy kan praat van die boosheid van Sodom – maar het jy onlangs die koerant gelees? Laat my net een dag se items opnoem wat ek onlangs in die New York City se Daily News gelees het:

“Michael, vier-en-twintig jaar oud, het sy twee-en-sestig jaar oue homoseksuele minnaar vermoor en sy liggaam in stukke gekap. Die ouer minnaar was met ‘n plastieksak versmoor deur Michael. Hy het die liggaam in die kattebak van die kar gegooi, na Lexington, Kentucky gery en daar die liggaam in stukke gekap en die dele in vullisblikke gegooi. Toe het Michael ‘n metaalverklikker gekoop en sy slagoffer se huis vir goud deursoek. Sy minnaar het te kenne gegee dat daar goud in die woonstel was.”

“’n Bronx vrou was geskiet en kritiek gewond nadat sy aangeval was deur haar voormalige man. Nadat hy sy voormalige vrou aangeval het, het Luis homself doodgeskiet met ‘n koeël deur die kop. In sy kar het die polisie ‘n hofbevel vir beskerming teen hom, wat sy vrou pas teen hom gekry het, gevind. Luis het haar saam met haar kêrel gekry en in ‘n woedebui, haar in haar maag geskiet met twee koeëls. Luis het twee blokke ver gehardloop en toe homself in die kop geskiet en op die straat gesterf.”

“Skole is in ‘n oproer oor ses- en sewe-jaar-oue seuns wat meisies soen en vulgêre briefies vir hulle skryf. Een sewe-jaar-oue seun het ‘n knoop van ‘n meisie se rok afgeskeur. Meer kinders word aangekla van seksuele teistering. Dit het ‘n nasionale bekommernis geword.”

“’n Paartjie van Bogota, Colombië, met agtien kinders het ‘n tweeling van ses maande oud vir $300 en ‘n klein stukkie grond verkoop. Die paartjie was tronk toe gestuur. Die tweeling was verkoop aan ‘n internasionale kindersmokkelarynetwerk.”

Op dieselfde dag, het dieselfde nuus in die New York Post verskyn:

“Vyfduisend roubeklaers het ‘n hoërskool volgemaak om totsiens te sê aan twee gewelddadig vermoorde rasieleiers. Die twee tieners was aangegee as vermis toe hulle nie by die skool opgedaag het nie. Hulle liggaamsdele was verspreid oor verskeie myle gevind. Hulle liggame was ook vergruis.”

“’n Liggaam sonder arms was uit die Harlemrivier uitgehaal. Dit word vermoed dat dit lyk van ‘n dwelmhandelaar genaamd Angel is.”

Op hierdie punt, moes ek ophou lees. Toe tref dit my: Génesis gee nie te kenne dat daar enige verdeling van liggame in Sodom en Gomorra was nie. Daar is geen rekord van baba’s wat verkoop word, of bendemoorde, of aborsies nie. Na ons wete, het hulle niks van hierdie dinge gehad nie. Ook het Sodom nie TV of films gehad om geweld te verheerlik nie. Hulle het nie ‘n teaterindustrie gehad om seks te verheerlik nie.

Sedert Sodom, het sonde egter duisende jare gehad om ryp te word en meer gewelddadig, slegter, boser en meer goddeloos te word. Trouens, die Bybel sê sonde sal toenemend erger word. En in hierdie geslag – wat baie meer gewelddadig, meer bloeddorstig en boser is as Sodom en Gomorra – is die enigste rede waarom ons in staat is om na die huis van God te kom, die ewigdurende barmhartigheid van Jesus Christus! Barmhartigheid het ons letterlik uit veroordeling uitgehaal en ons afgesonder van die goddelose lewe wat ons gelei het – selfs toe ons geaarsel en getalm het en nie ons sondes en plesiere wou laat staan nie!

Hier by Times Square Church, is daar baie mense wat God uit alkoholisme, prostitusie, dwelmverslawing en owerspel gehaal het. Hulle weet Hy het hulle nie daar uitgehaal omdat daar iets goeds in hulle was nie – maar bloot omdat Hy barmhartig was: “...omdat die Here hom wou verskoon; en...lei hom uit en bring hom buitekant die stad” (Génesis 19:16).

Stel jou voor, Lot op ‘n veilige berg en afkyk oor Sodom terwyl dit brand daar onder. Daar is geen twyfel nie dat hy bedroef was hy oor die verlies van sy vrou en skoonseuns. En nou het die hele stad voor sy oë tot as verbrand, saam met die duisende inwoners.

Wonder jy nie wat Lot moes gedink het toe hy na die smeulende kole van daardie stad gekyk het nie? Miskien het hy gevra, “Waarom het U my gered, Here? Waarom lê so baie duisende verkool en tot as verbrand, terwyl ek hier veilig en gered staan? Waarom het U my gered?”

Miskien het jy dieselfde vraag gevra: “Waarom ek, Here? Waarom lê ek nie half dood op die strate nie? Waarom is ek nie een van die miljoene verlore siele wat die Naam van Jesus vloek nie, hulle wat hopeloos fuif, wat duiwelbesete is? Waarom het U al hierdie mense in my kerk gered? Waarom is hulle nie in een of ander kroeg waar hulle smoordronk word nie, of in een of ander eensame vertrek waar hulle mal is van dwelms nie?”

Ek sê vir jou, dit is alles weens die absolute barmhartigheid van God! Die Here, in sy barmhartigheid teenoor ons, het ons voortgebring en ons uit die verdoemde samelewing uitgehaal. Ons almal verdien om verteer te word – maar Hy was ons barmhartig!

Jy kan nie die geskiedenis van God se handelinge met Israel lees sonder om verbaas te wees oor hoe barmhartig Hy teenoor hulle was nie.

In Deuteronómium 4 het Moses Israel gewaarsku dat in die “laaste dae” hulle hulself sal besoedel en gesnede beelde maak en boosheid bedryf wat God se toorn opwek. En sou hulle dit doen, sou God hulle straf, hulle verstrooi en hulle oorgee aan afgodery.

Israel het keer op keer van die Here af weggedraai en voortdurend afvallig geword. Tog het die Here nooit opgegee op hierdie mense nie. Hy het barmhartigheid op barmhartigheid aan hulle bewys, weer en weer na hulle uitgereik met liefde en deernis.

“Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al  hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronómium 4:29-31).

Wat ‘n verstommende beeld: God het by Israel gebly al het hulle Hom vertoorn. Hy het hulle gevoed, geklee en saam met hulle deur die wildernis gewandel al daardie jare. Dit is die absolute barmhartigheid van God!

Hoeveel keer het jy die Here gefaal? Hoe dikwels het jy bose gedagtes gehad, dinge wat jy nie eers gedink het jy in staat is om te dink nie? Hoeveel keer het jy verkleinerende dinge teenoor ander gesê? Hoeveel dinge het jy gedoen wat nie soos Jesus was nie en die Heilige Gees bedroef het? Hoeveel keer het jou ongehoorsaamheid allerhande verdrukkings, smart en lyding oor jou laat kom?

Tog, net op die tyd toe jy verdien het om gestraf te word – om openbaar beskaamd gemaak te word omdat jy teen God se liefde gesondig het – het God in plaas daarvan jou omhels en barmhartigheid bewys. Hy het jou nie verlaat of vernietig nie.  Hy het deernis teenoor jou gehad. En Hy het dit in jou hart geplaas om na Hom terug te keer en Hom te gehoorsaam!

Ek hoop dat wanneer jy hierdie boodskap lees, jy nie selfvoldaan sal sê, “Dit is nie vir my nie.” Ek dring by jou aan – haal enige gedagte uit jou kop uit dat jy ooit God se barmhartigheid verdien het! Niemand het barmhartigheid ontvang weens enige persoonlike goedheid nie. Nee! In plaas daarvan, roep ons saam met die psalmis uit, “Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons...” (Psalm 117:2). “Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Psalm 86:15).

Ek het ‘n vraag vir elkeen wat hierdie boodskap lees: Erken jy dat God barmhartig en goedertieren teenoor jou was? Was Hy stadig om toornig te word oor jou sondes en mislukkings?

Dit bring ‘n ander vraag na vore: Is jy op jou beurt ‘n barmhartige, goedertieren Christen teenoor ander? “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is” (Lukas 6:36). “...die regverdige ontferm hom en gee” (Psalm 37:21).

Hier by Times Square Church, het ons ‘n dertig-dae gebedsketting ingestel – vier-en-twintig uur ‘n dag, met honderde mense wat God aanroep elke uur. Ons vra die Here om ons te help om die verlorenes te bereik en om vir ons te wys hoe om die goddeloses en afvalliges te waarsku.

Te midde van hierdie gebedsketting, het die Here egter met my begin praat – en ek het gewonder of ons gebede die regte klem het. Miskien sou ons liewer vir onsself moes bid; trouens, waarom sou God nuwe bekeerlinge in ons midde stuur as ons nie reg was om sulke behoeftige mense met vriendelikheid, barmhartigheid en genade te bedien nie? Moes ons nie liewer bid vir ons gebrek aan barmhartigheid en goedheid teenoor ander Christene nie? Moes ons nie geweet het dat God nie vir ons ‘n groter liefde vir verlore siele sou gee, as ons nog nie soos Hy is nie – vol deernis, genade, geduld en oorvloedig in barmhartigheid nie?

Ek sou my kon voorstel dat nuut bekeerde Christene na die kerk kom en nie baie heilig of rein voorkom nie: jong vroue in kort rokkies, jong mans in rastalokke. Ek kon nie help om te dink nie, “Hoeveel onbarmhartige gelowiges gaan hierdie jongmense sien en sê, ‘Gaan sny jou hare voor jy weer hierheen kom,’ of ‘Gaan trek ‘n ordentlike rok aan’?”

Ek onthou toe ek as ‘n jong evangelis gepreek het by ‘n veldtog voor 5,000 mense in Los Angeles. Ten minste 2,000 van daardie mense was Christen hippies. Hulle was pas weergebore en uit die hippie-kultuur uitgebring. Talle van hierdie jongmense het uitgestrek voor my op die vloer gelê, kaalvoet, terwyl hulle lang hare en verslete klere aangehad het.

Daardie aand was ek netjies aangetrek, in ‘n blou baadjie met ‘n dun dassie, die nuutste matroosbroek en blink skoene. Toe ek op die verhoog kom, het ek begin afgaan teenoor daardie kinders. Ek het gesê, “Party van julle lyk verskriklik. Trek ordentlike klere aan en gaan sny hare voor julle terugkom môre aand!”

Agter die verhoog, na die diens, het ‘n afvaardiging van daardie langhaar, jong hippie Christene my kom spreek. Een van hulle het sy vingers oor my modieuse baadjiekraag gestreel en gesê, “Wat ‘n pragtige pak klere.” Toe het hy opgekyk na my en gesê, “Broer David, vanaand kon ons Jesus nie sien nie.” “Waarom nie?” het ek gevra. Hy het geantwoord, “Jou klere was in die pad.” Ek het hulle beskou as te swak geklee en hulle het my beskou as te goed geklee!

Daardie jongmense het nie met my gespot nie. Hulle was opreg. Hulle het gehuil toe hulle vir my gesê het, “Ons glo jy is ‘n man van God. Maar jy kort iets.” Ek weet dit was barmhartigheid wat ek kortgekom het. Ek het nooit weer oor daardie onderwerp gehamer nie. God het my ‘n harde les geleer – een wat ek bid in my hart sal bly.

Laat my toe om dit sê: Talle Christene dink dit is genoeg om rein en heilig te wees. Ons dink dit is die nommer-een kwessie – en dat al wat ons moet doen, is om weg te bly van boosheid, uit die wêreld uit te kom en rein te bly. So lank as wat ons nie rook, drink, hoereer of owerspel pleeg nie, dink ons ons is rein.

Oor die jare, het niemand het sterker boodskappe oor heiligheid en reinheid verkondig as ek nie. Maar volgens Jakobus, is reinheid slegs die eerste saak: “Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins” (Jakobus 3:17). Ja, ons moet eerstens rein wees. Maar barmhartigheid, genade en vriendelikheid moet volg!

“Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie; en die barmhartigheid roem teen die oordeel” (Jakobus 2:13).

Jy kan die reinste hart in jou kerk hê – jy kan vlekkeloos wees – en steeds gemeen, onvriendelik en sonder genadigheid wees! Dit is ‘n verskriklik skande op Christus se liggaam dat mense op die straat meer vriendelik en sag kan wees as talle in die kerk. Ek het al gehoor hoe een Christen vrou vir haar man sê, “Liefling, ek vra nie baie van jou nie. Ek vra jou net om my net so gaaf behandel as wat jy jou vriende behandel. Praat asseblief met my soos wat jy met hulle praat. Laat ek soos diegene wees met wie jy buite ons huis assosieer.” Wat ‘n skande – dat enige vrou ooit dít van haar Christen man moet vra!

Sommige van die mees skoorsoekerige, twisgierige, sarkastiese, gemene mense is diegene wat daarop aanspraak maak dat hulle Geesgevulde gelowiges is. Talle sulke mense gee getrou tiendes; hulle loop nooit ‘n diens mis nie; hulle word nie deur die wêreld besmet nie. Maar hulle is partydig en betoon slegs barmhartigheid en vriendelikheid aan diegene wat vriendelik is met hulle. Daar is geen goedheid of genadigheid in hulle nie. Hulle sou eerder ‘n broer of suster kruisig met skinder en laster as om barmhartigheid te betoon. Jy haat dit om by hulle te wees – omdat jy weet hulle gaan jou verskeur!

Laat my jou vertel wat ek glo die oorsaak is van alle onvriendelikheid en onbarmhartigheid in God se huis: Christene wat geen barmhartigheid betoon nie, wat veroordelend is, wat onvriendelik praat en optree, het nog nooit God se barmhartigheid vir hulle self verstaan of waardeer nie.

Sommige Christene is hard en onvergewensgesind, omdat hulle nog nooit verstaan het hoe naby hulle eens aan verdoem was nie. Hulle het nog nooit die uitermatige sondigheid van hulle eie sondes besef nie; hulle neem die skuld van hulle sonde ligtelik op en ook die barmhartige genade wat God aan hulle gebied het. Hulle het nie werklik besef hoe vuil en aaklig hulle sondes was nie – en hoeveel genade en barmhartigheid hulle nodig gehad het nie!

Jesus het ‘n gelykenis vertel van ‘n dienskneg wat ‘n groot skuld vergewe was. Hierdie man het genade en barmhartigheid gevind by sy meester. Maar hy het daardie genade en barmhartigheid vir vanselfspekend aanvaar! Onmiddellik nadat hy vergewe was, het hy uitgegaan en ‘n man wat hom ‘n klein, nietige bedrag geskuld het, begin wurg, terwyl hy eis, “Betaal my wat jy my skuld!” Toe die skuldenaar die man vir barmhartigheid gevra het, het hy geweier en het die skuldenaar in die tronk laat toesluit.

Waarom was hierdie man so veroordelend? Waarom het hy barmhartigheid kortgekom? Dit was omdat hy nie sy eie onwaardigheid besef het nie! Hy het nie verstaan hoe hopeloos hy was, hoe uitermatig sondig sy eie sonde was nie. Hy het nie die gevaar waarin hy was, besef nie – hoe naby aan die dood hy was – voor barmhartigheid aan hom bewys is nie. Trouens, toe die meester uitgevind het wat hierdie ondankbare man gedoen het aan die ander skuldenaar, het hy hom lewenslank in die tronk toegesluit.

Terwyl ek aan hierdie boodskap gewerk het, het die Here my laat stop en gesê, “David, vergeet nou eers van jou boodskap. Ek wil met jou praat oor jou veroordelende gees, jou gebrek aan barmhartigheid.”

Ek het gedink, “Here, ek? Ek is een van die mees barmhartige predikers in Amerika.” Maar Hy het begin om my te herinner aan al die dinge wat ek vir jong predikers gesê het – dinge wat ek skerp uitgeblaker het. Toe het Hy my herinner aan al die onsensitiewe dinge wat ek vir mense gesê het wat misluk het, mense met wie ek moed verloor het.

Daardie sessie het my diep getref. Ek het voor die Here geween. Toe ek vir God gevra het hoe dit kon wees, het Hy geantwoord, “Jy het vergeet wat Ek vir jou gedoen het, die ontsaglike barmhartigheid wat Ek aan jou moes betoon. Hoeveel keer moes Ek jou uit iets haal wat jou kon vernietig het? Jy sou nie hier gewees het sonder my barmhartigheid nie!”

Geliefde, jy moet kyk na die put wat jy vir jouself gegrawe het in jou eie lewe – die put waar jy sonder God se barmhartigheid sou gewees het – voor jy barmhartigheid aan iemand anders kan bied. Slegs dan kan jy sê. “O, God, ek weet wat U vir my gedoen het. En U kan dieselfde vir my vriend in sonde doen. Eens op ‘n tyd was ek net so goddeloos in U oë. Ek kan nie hierdie vriend veroordeel nie, omdat U barmhartig teenoor my was!”

Dit is waar jy moet begin! Is jy eerlik genoeg in jou hart om te erken, “Ek wil regtig barmhartig, liefdevol, vriendelik en genadig wees. Maar ek moet erken – ek is nie die vriendelikste Christen nie. Ek betoon nie barmhartigheid soos wat ek moet nie. Ek is kort van draad en skerp met my tong. Ek het ‘n geneigdheid om mense te vinnig te veroordeel en te vinnig moed te verloor met hulle. Ek is nie so sag as wat ek moet wees nie.”

Geliefde, hierdie boodskap is nie bedoel om jou af te kraak óf vir jou te preek nie. Ek glo liewer ek het ‘n woord van hoop vir jou. Laat my vir jou verduidelik waarom jy dalk nog nie  so ‘n plek bereik het nie – waarom jy dit so moeilik vind om die vriendelike, genadige, barmhartige Christen te wees wat jy graag wil wees.

Ons vind die sleutel in Psalm 119. Die psalmis maak hier ‘n kragtige stelling: “Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens U belofte aan u kneg” (Psalm 119:76). Die bedoeling hier is, “O Here, U woord sê vir my ek dat ek vertroos moet word deur die kennis dat u barmhartig en vol deernis teenoor my is. Laat my vertroosting vind uit daardie groot waarheid!”

As jy die woorde “barmhartig” en “genadig” in ‘n konkordansie opkyk, sal jy honderde verwysings kry. God se woord oorweldig ons met talle beloftes van sy wonderlike genade, goedertierenheid en deernis. Hy wil aan ons benadruk dat Hy barmhartig, lankmoedig en stadig is om kwaad te word oor ons mislukkings, swakhede en versoekings.

Al God se beloftes van barmhartigheid word aan ons gegee in ons beproewings. As ons God faal, dink ons Hy is kwaad vir ons en gereed om ons te veroordeel. Maar in plaas daarvan, wil Hy hê ons moet weet, “Ek sal jou deurdra. Bekeer jou eenvoudig. Ek is nie kwaad vir jou nie. Ek is barmhartig, vol genade en liefde vir jou. Kry vertroosting hieruit!” Hoe vertroostend om te weet dat sy barmhartigheid nooit van ons onttrek sal word nie. Hoe vertroostend om te weet dat wanneer ons sondig of misluk, sal sy barmhartigheid en liefde teenoor ons selfs groter word.

Tensy ons egter vertroosting kry uit die barmhartigheid wat God aan ons bewys, is ons in geen posisie om barmhartigheid, wat aan ander vertroosting bied, te bewys nie. Slegs as ons die absolute barmhartigheid van God ervaar, sal daar ‘n oorstroming wees van barmhartigheid aan almal rondom ons. Ons word barmhartige mense omdat ons self leef in die barmhartigheid van God!

Ek wil vir jou ‘n belangrike waarheid wys wat die Heilige Gees wil hê jy moet verstaan!

Elke keer wat jy barmhartigheid betoon – elke keer wat jy vriendelik en genadig teenoor ‘n ander gelowige is – gee jy vertroosting.

‘n Man van ons kerk het my ná ‘n onlangse diens voorgekeer. Hy het gesê, “Broer Wilkerson, laat my jou vertel waarom ek hierdie kerk bywoon. My moeder het onlangs gesterf. Sy was negentig. Vir die laaste vier jaar was sy bedlêend en ek het haar versorg.

“By die kerk wat ek gewoonlik bygewoon het, moes ek elke Sondagdiens vroeg gaan om haar te versorg. Na ‘n rukkie, het die pastoor moeg geword daarvoor. Voor die hele gemeente het hy vir my gesê, ‘As jy gaan gaan, gaan nou, voor ek begin preek.’

“Hier by Times Square Church, het niemand nog ooit ‘n woord vir my gesê omdat ek vroeg loop nie. Dit mag klink na ‘n klein dingetjie, maar vir my is dit ‘n groot ding. Ek hoef nie hier vir almal te verduidelik het dat ek moes teruggaan om my ma te versorg nie.”

Dit is waar barmhartigheid betoon moet word – in die gewone, dag-tot-dag dinge. Soms kan barmhartigheid net ‘n glimlag wees, of ‘n arm om iemand se skouer. Dit kan so eenvoudig wees soos ’n simpatieke voorkoms of woord vir iemand wat hartseer is.

Maar jy kan nooit barmhartigheid bied nie as jy heeltyd dink, “God moet kwaad wees vir my. Ek gaan val – ek weet dit net. Ek is bloot so ‘n soort persoon!” Jy kan nie juig in God se genade en liefde as jy altyd dink jy is net een tree buite die hel nie.

Hoe kan jy vertroosting aan ander bied as jy nog nie geleer het om self vertroosting te vind in God se barmhartigheid teenoor jou nie? “...sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word...en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding” (2 Korinthiërs 1:4,6).

Dit is die primêre rede waarom so baie Christene nie barmhartig is nie: Dit is omdat hulle nooit vertroos word in die barmhartigheid van God teenoor hulle nie. Hulle weet nie hoe om te rus in sy barmhartigheid nie. Hulle het gehoor God is barmhartig en hulle hoop Hy sal barmhartig teenoor hulle wees – maar hulle is nie seker daarvan nie. Hulle het geen vertroostende vrede nie!

Maar barmhartige Christene is die Here se vertroosters. En hulle kan barmhartigheid en goedertierenheid wys en spreek, omdat hulle die ontsaglike vertroosting van God se barmhartigheid teenoor hulle beleef het.

Wanneer ek van aangesig tot aangesig kom met iemand wat misluk het, wie se verlede boos en onrein is en my vlees hulle wil bestraf of verwerp, dan onthou ek hoe barmhartig God teenoor my was – hoe Hy my vertroos het met sy liefde en deernis toe ek dit nodig gehad het. En skielik het ek myself herinner: Jesus het gekom om te soek dié wat verlore was. Sy barmhartigheid reik uit na almal. Niks en niemand is onmoontlik by God nie.

Dan versag my hart. Ek kan na daardie sondaar kyk en vir myself sê, “Here, ek was nie beter nie. In u oë was ek net so goddeloos. U het my vergewe. Help my om hom te vergewe!” Ek kan nou optree as vertrooster en liefde en liefhebbende deernis bied – omdat ek deur die vertroosting wat ek ontvang het, ander kan vertroos wat ook vertroosting nodig het.

Christen, jy het geen preek of bestraffing nodig nie. Jy moet net God se woord deursoek en alles wat Hy gesê het, glo oor sy barmhartigheid aan jou. So, stel jou verontruste siel gerus deur dit toe te eien. Wees vertroos in God se barmhartigheid teenoor jou – en jy sal oorloop met daardie barmhartigheid teenoor ander!