‘n Dissipel Genaamd...

Handelinge 1-6 beskryf een van die wonderlikste, heerlikste werke wat God in die geskiedenis gedoen het. Dit is ‘n verstommende reeks aksie-belaaide gebeurtenisse: kragtige prediking, massa bekerings, wonderbaarlike genesings en wondertekens. Alles was die vervulling van die goddelike belofte wat Jesus voorspel het.

Voor sy opstanding, het Christus die dissipels instruksies gegee om in Jerusalem te wag om die “belofte van die Vader” te ontvang. Die vervulling van daardie belofte het begin op Pinkster, Israel se fees van “eerstelinge.” Die wêreld was op die punt om die eerstelinge van Christus se arbeid vir ons aan die kruis te sien.

Die dissipels kon nie hulleself indink wat God vir hulle beplan het nie. Hulle het seker gedink, “Wonderlik! Hierdie belofte beteken seker dat God op die punt is om Israel te herstel. Hy sal ons vrymaak van die kettings van die Romeinse onderdrukking, en ons sal weer sy volk wees.”

Vandag dink ek dat die kerk dieselfde reaksie sou toon as ons dieselfde belofte van Jesus gehoor het. Ons mag dink, “Wanneer God se belofte kom, sal ons kerke uit hulle nate bars. Die Heilige Gees sal in ander stede beweeg en mense sal van oral oor reis net om ‘n smakie daarvan te kry. Ons sal meer as ooit tevore geseënd wees!”

Ons moet begeer dat die Heilige Gees ons heiligdomme vul, vreugde bring en God se volk vertroos. Maar wanneer God se heerlikheid kom, sal dit nie vir ons eie voordeel alleen wees nie. Jesus het nie gesê, “Wanneer julle krag uit die hoogte ontvang, sal julle my kerkgangers, my Bybelstudente en my gebedsbyeenkomsbywoners wees” nie. Hy het gesê, “Julle sal my getuies wees tot aan die eindes van die aarde.”

God se krag is bedoel om verder as die mure van die kerk te strek tot die verste uithoeke van die wêreld.

Dit is wat ons sien gebeur in die boek van Handelinge. Toe Petrus opgestaan het om vir die skare te preek, is 3,000 mense gered. Later, toe Petrus en Johannes in Jerusalem getuig het, het tekens en wonders, wonderbaarlike genesings en verlossings gevolg.

Dit was egter net die begin. As die werk van die Gees in Handelinge 6 opgehou het, sou al die krag van God in die hande van die twaalf dissipels gebly het. In plaas daarvan, het ‘n tektoniese skuif plaasgevind. God het gesê, “My Gees sal nie langer deur ‘n paar uitgesoektes werk nie. Ek gaan krag gee aan elke man, vrou en kind wat my naam aanroep.”

Ek dank God dat sy belofte nie in Handelinge 6 opgehou het nie. Op ‘n manier, is dit egter presies waar dit in die kerk opgehou het vandag. Ons wys God se krag toe aan predikers, leiers, uitsaaiers, outeurs en enigiemand met ‘n “platform.” Maar werk God in die kerkbanke? Werk die Gees se krag deur elke gelowige man, vrou en kind op die manier wat God bedoel het? As ons gered is, is ons veronderstel om gevul te wees met die krag van God om die werk van God te doen.

Dit is hoe dit in Handelinge gebeur het: “En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaria, behalwe die apostels” (Handelinge 8:1). Volgens hierdie vers het die apostels in Jerusalem gebly. Maar die ander gelowiges is verstrooi oor die hele gebied. “En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaria en Christus aan hulle verkondig” (Handelinge 8: 4-5). En so is die nuwe krag vir bediening ontketen.

Laat my byvoeg, die man wat hier Filippus genoem word, was nie die apostel in Jerusalem nie, maar ‘n lekeprediker. Tekens en wonders het hierdie eenvoudige man gevolg terwyl hy gepreek het. Duiwelbesete mense was verlos. Gebreklike mense was genees en het van vreugde gespring. Later, toe Petrus na Samaria gekom het om hierdie dade te sien, het hy gesien dat “daar was groot blydskap in daardie stad” (Handelinge 8:8). ‘n Hele stad was deur die vreugde van God aangeraak! Dit is nogal ‘n groot impak vir ‘n enkele lekeprediker. Die Heilige Gees het egter dieselfde krag aan ons gegee as wat Hy aan Filippus gegee het, sodat ons dieselfde geestelike dade kan doen.

Volgende sien ons vir Ananías, ‘n volgeling van Jesus wat in Damaskus gewoon het. Die Bybel sê nie baie van Ananías nie. Al wat ons weet is dat hy met die Heilige Gees vervul was — en hy het ‘n moeilike taak voor hom gehad: God het hom geroep om teenoor Saulus, die berugte Christen-jagter, te gaan getuig. Op daardie tydstip het Saul teen die kerk uitgevaar — en Ananías is geroep tot in die spervuur. Hy het geweet dat as hy nie God reg gehoor het nie, sou hy doodgemaak word.

Hoe sal sy sending vandag wees? Miskien iets soos die volgende: “Gary, ek wil hê dat jy na die heuwels van Pakistan toe gaan. Daar is ‘n man wat in ‘n grot wegkruip en hy is die hoof van Al Qaeda. Ek het hom tydelik verblind. Hy is gereed om sy Moslem geloof te verwerp en Jesus te volg. Gaan nou na hom toe en verkondig die evangelie aan hom.”

Ananías moes ‘n werklike vrees vir sy lewe oorwin. Hy het dit oorkom met die liefde van God. Skielik was Ananías gevul met meegevoel vir die man wat homself as die aartsvyand van elke Christen verklaar het. Dus het hy in geloof gegaan — en die storie van Saul se bekering is welbekend. Sy transformasie na Paulus — die bekendste volgeling van Jesus van alle tye — miskien die belangrikste bekering in die geskiedenis. Paulus het nie net tot bekering gekom nie, maar ook ‘n groot deel van wat die Nuwe Testament sou word, geskryf.

In Handelinge het God ook vrouens en jong mense gebruik, net soos Hy vir Filippus en Ananías gebruik het. Op ‘n stadium ontmoet ons vir Tabíta, wat ek die Pinkster Moeder Teresa noem. Sy was deur die hele Joppe bekend vir haar goeie werke en liefdadigheid soos sy alle mense op elke vlak van die samelewing bedien het. Timótheüs was ‘n jong man wat ‘n vakleerling van Paulus was. God het hierdie twee saam so magtig gebruik “die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeeder in getal” (Handelinge 16:5). Elke dag het talle mense na Jesus gekom onder die bediening waarby ‘n jong mens ‘n medewerker was.

Dan in Handelinge 11, lees ons van nog ‘n tektoniese skuif in die kerkgeskiedenis. Hierdie een het gekom van Gees-bemagtigde gelowiges wat die Skrif nie eers opnoem nie. Hulle was die eerste getuies aan die Heidene en hulle het die goeie nuus van Jesus buite die grense van Judaïsme geneem: “En daar was sommige van hulle...wat in Antiochië gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het” (Handelinge 11:20). Ek hou van die frase wat hier gebruik word — “sommige van hulle.” Hierdie getroue, ongenoemde gelowiges het geen idee gehad van die belangrike rol van hulle in die geskiedenis gespeel het nie.

In elke beweging van God, het eenvoudige, ongesiene leke die krag van Pinkster vasgegryp en groot dinge in sy naam gedoen.

Pinkster was nie net ‘n historiese gebeurtenis wat 2,000 jaar gelede gebeur het nie. Dit is ‘n lewende verskynsel wat steeds gebeur. Missioloë sê dat Pinkster elke 30 minute oor die wêreld gebeur. Iewers op hierdie oomblik is daar ‘n klein groepie mense wat tot God uitroep — en sy Gees val op hulle en gee hulle krag om sy getuies in ‘n ongeredde wêreld te wees.

Pinkster gebeur op hierdie oomblik in Varanasi, ‘n stad in noord Indië, wat ek onlangs besoek het. Minder as 1 persent van die bevolking was in die kerk toe ‘n jong Christen vrou daar aangekom het ‘n paar jaar gelede. Sy het mense een vir een na Jesus begin lei, en daardie bekeerlinge het ander na die Here toe gelei. Nou is daar duisende dinamiese kerke in die omgewing met ‘n kragtige getuienis vir Christus. Hierdie jong vrou het Pinkster nie vir haarself gehou nie. Daar is ander net soos sy regoor die hele wêreld — Christene wat tot die Gees uitroep om die Vader se liefde verder te neem.

Op verskeie geleenthede het my vader, Dawid Wilkerson, my vertel wat hom die meeste gepla het toe hy ‘n klein kerkie in Pennsylvania gelei het in die 1950s. Dit was ‘n Pinkster kerk en die dienste het ‘n sekere orde gehad. Sister so-en-so het die orrel gespeel en die gemeente het sekere tradisionele liedere gesing. Iemand het opgestaan en ‘n boodskap in tale gebring, gevolg deur iemand wat dit uitgelê het. Pa het gepreek. Daarna het hy gebid en mense het vorentoe gekom en geroep dat die Heilge Gees neerdaal. Dan het almal huistoe gegaan.

Die kerk het geen uitreike gehad nie. Dit het geen barmhartigheidsbediening gehad nie. Baie min mense het tot Christus gekom in die paar jaar wat my vader daar die herder was. Hierdie Christene het Pinkster vir hulleself gesoek; hulle het nooit geweet wat die Pinkster God vir hulle in gedagte gehad het nie. My pa se hartverskeurende gebed het dit alles gesê: “Here, as dit is Pinkster, ek wil dit nie hê nie. As dit week na week daaroor gaan om ‘n ‘seën my’ klub te hê, dan wil ek niks daarmee te doen hê nie.”

Dit is uit sy begeerte vir ware Pinkster dat Pa opgehou het om televisie te kyk en tyd in gebed gespandeer het. Die res is geskiedenis. Na dekades, het sy boek, “The Cross and the Switchblade” miljoene kopieë verkoop, met oor die 1,000 Teen Challenge Sentrums oor die wêreld wat werk om die verlore en gebrokenes te red. Al hierdie werke verkondig God se aktiewe krag deur die Heilige Gees vandag.

Die kerk moet nog ‘n belangrike hoofstuk van die Bybel klaar lees: Handelinge 29.

Natuurlik is daar net 28 hoofstukke in Handelinge. Maar vir eeue was God besig om deur tienduisende dissipels nog ‘n hoofstuk te skryf. Hulle name is nie net Filippus of Tabíta of Timótheüs nie. Hulle het name soos Jenny, wat ons kerk in Colorado Springs bywoon. Sy is ‘n rooikop Australianer met die lekkerste laggie wat jy al ooit gehoor het — en sy is vurig vir die evangelie. Elke dag sien sy en haar man God se krag aan die beweeg deur die mense wat hulle teëkom.

Daar is ook ‘n dissipel met die naam van Jimmy, ‘n ou saam met wie ek vir jare lank saamwerk. Min mense evangeliseer soos wat Jimmy kan. Onlangs toe hy iemand na die Here gelei het, het hy voorgestel, “Laat my ‘n Bybelstudie in jou huis lei.” Gou het meer mense in daardie buurt gekom en gered geword. Jimmy het dieselfde ding gedoen in ‘n ander woonbuurt. Toe in nog een. Bybelstudiegroepe is tans besig om reg oor die stad op te gaan as gevolg van een radikale Christen wat glo in die Gees se krag om harte bonatuurlik aan te raak.

Daar is ‘n dissipel met die naam van Chris, ‘n jong man in ons kerk wat net ‘n paar maande gelede tot bekering gekom het. Voor hy Jesus ontmoet het by een van ons straat uitreike, wou hy selfmoord pleeg. Nou is Chris betrokke by ‘n huissel en is vol van God se Gees. Hy het gevra dat sy groep vir sy ou vriende bid, sommige wat duiwelbesete is. ‘n Ouer man in die groep het aangebied om saam met Chris by sy vriende te gaan getuig, maar Chris het gelag: “Jy wil nie gaan waar ek gaan nie.” Ons mees ervare spanne het al in sommige van die stad se donkerste plekke ingegaan, maar God het gekies om ‘n dapper, jong gelowige te stuur om in een van dié donkerste plekke vir Hom te gaan bereik.

Daar is ‘n dertienjarige dissipel genaamd Jonathan in ons kerk, wat bid met die gesag van ‘n lewenslange sendeling. Sy gebede bring volwassenes tot op hulle knieë omdat sy gebrokenheid en nederigheid uit sy hart weerklink. Jonathan honger daarna om te sien dat God die verlorenes red en sy geestelike honger is aansteeklik.

Die dissipels wat ek beskryf is die 21ste eeu Christene aan wie die 1ste eeu se krag gegee is. En jy en ek is net so geroep — om deur die Gees van God toegerus te word om die werk van God te doen. Ek glo dit is tyd vir baie in die kerk om nie meer langer hoorders van sy Woord te wees nie, maar daders. Bybelstudies en gebedsgroepe is goed, maar dit is een ding om van Jesus en sy heerlikheid te weet; dit is egter ‘n ander ding om sy lewende Gees in ons te hê sodat ons kan bedien soos wat Hy gedoen het. Dit is die rede waarom die Heilige Gees gekom het: om in ons te lewe sodat Hy sy doel deur ons kan bereik.

Ek dring by jou aan om saam met my te bid: “Here, mag ek sterk wees om u Woord te leer — en mag ek net so sterk wees om u Woord te doen. Ek wil deel wees van “sommige van hulle” wat daarna verlang om u krag te sien werk in die harte van die verlorenes. Bring Pinkster vandag hiernatoe, Here! Amen.”