Regeer deur die Woord van God

David Wilkerson

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterkte God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5).

Jesaja praat hier van ‘n Verlosser, ‘n wonderlike Vredevors wat kom om oor ‘n koninkryk te heers. Hierdie koninkryk sal bestaan uit ‘n volk wat heeltemal onderwerp is aan die Vredevors se oppergesag. En Hy sal aan hulle oor wie Hy regeer, liefdevolle raad gee en hulle lei en rig.

Natuurlik is Jesus die Vredevors wat Jesaja beskryf. Jesus se koninkryk het inderdaad gekom en dit bestaan in die harte van sy volk. Van nou af tot aan die einde van die tyd, gaan Jesus oor sy koninkryk heers met goddelike orde: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde... en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:6).

As Christus met oppergesag oor sy koninkryk heers, wat beteken dit vir sy volk om deur Hom regeer te word? Die woordeboek definieer “regeer” as “om te lei, te rig en om alle aksies en optrede van hulle wat onder die gesag staan, te beheer.” Kortliks beteken dit dat Jesus al ons dade en optrede moet beheer. Ons moet Hom toelaat om ons daagliks te lei in ons woorde, dade en in ons gedagtes.

Terselfdertyd, sê die Skrif dat Jesus oor al die nasies van die wêreld heers. “Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie” (Psalm 66:7). Moenie geflous word nie: Uiteindelik is ons land nie in beheer van Republikeine, Demokrate of Wall Street nie. God alleen is in beheer van Amerika en elke ander nasie. Hy sit as Koning van die Konings en Here van die Here en regeer oor sy hele skepping vanuit sy hemelse troon:

“Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie... All die nasies is voor Hom soos niks, as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken” (Jesaja 40:15-17). Jesaja sê, “Gaan voort en probeer om God se mag teen die wêreld te meet. Neem al die wapens, krygtoerusting en verdedigingsmagte van die mensdom en plaas hulle op die skaal. Teen die Here, weeg al daardie dinge nie meer op as ‘n hopie stof nie.”

Dink deur die geskiedenis heen aan al die onderdrukkende regimes, wat gedink het dat hulle hulleself heeltemal van God kon losmaak. Letterlik oornag het die Here die Ystergordyn, wat veelvuldige miljoene mense se lewens in die twintigste eeu oorheers het, afgebreek. Natuurlik moet ons aanhou bid en werk vir ons broers en susters wat vervolg word in al die onderdrukte nasies. Ons moet egter ook vertrou dat God steeds in beheer is van elke nasie. “Die Here het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God” (Jesaja 52:10).

In geen ander koninkryk heers God so hoog nie as in sy koninkryk, wat in die harte van sy volk gevestig is.

Jesus het gesê, “Want die koninkryk van God is in julle” (Lukas 17:21). Dit is in hierdie koninkryk – die koninkryk van ons harte — waar Christus oppermagtig heers oor sy volk en ons lei, genees en oor ons lewens en toekoms regeer.

“Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6). Hierdie vers praat nie net van Jesus se eindelose heerskappy in die ewigheid nie, maar ook oor sy huidige heerskappy in ons lewens. In eenvoudige woorde gestel, ons moet altyd toeneem in ons onderwerping aan ons Koning se heerskappy. Kan jy sê dat Jesus se heerskappy oor jou toeneem? Kom jou lewe meer en meer onder sy gesag? Of probeer jy sy gesag ontwyk wanneer dit in konflik kom met jou vleeslike begeertes?

Ek wil kyk na hoe God oor sy koninkryk van sy volk regeer. Hebreërs sê dat in die Ou Testament het God tot sy volk gespreek deur die profete, maar dat Hy gekies het om vandag deur sy Seun te spreek: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun, wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het” (Hebreërs 1:1-2).

Kortliks, Jesus is God se duidelike boodskap aan ons, die goddelike Woord wat vlees geword het. En vandag het die Vader die Heilige Gees gestuur om ons te herinner aan die woorde van Christus toe Hy op die aarde was. So heers Jesus oor ons deur die geskrewe, geopenbaarde Woord van God.

“Hy wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag” (Hebreërs 1:3). “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordeelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12).

Dawid se Psalm 119 is ‘n kragtige getuienis van iemand wat beheer was deur God se geskrewe Woord: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11). U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Psalm 119:105). “Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek” (Psalm 119:128). “Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (Psalm 119:133). “Ek is vrolik oor u belofte [woord]” (Psalm 119:162).

Ons weet van al Dawid se probleme wat hy in sy lewe ervaar het. Hoewel hy vreeslike tye van mislukking en verwarring beleef het, het Dawid toegelaat dat God se woord hom gedurig beheer het. En die Here het sy lewe altyd weer onder goddelike orde gebring.

Natuurlik, wil die samelewing niks weet van hierdie tipe heerskappy van God se Woord nie. Die Bybel het ‘n voorwerp van bespotting en beskimping geword en is uitgeban uit baie skole, howe en publieke plekke. Die gevolge daarvan is dat Amerika geen ware morele gesag meer het nie.

God se boodskap aan ons is duidelik hierdeur: “As jy My Woord verafsku, sal jou fondasies verbrokkel en uiteindelik oornag om ver gewerp word.” “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:6-8).

Ver ernstiger as ‘n nasie wat God se Woord verag, is ‘n kind van Hom wat sy woord verwaarloos.

As ek vandag na die kerk van Jesus Christus kyk, dan sien ek minder en minder Christene wat toelaat dat hulle lewens deur die Woord van God regeer word. Baie wil nie langer deur ‘n kerkdiens sit om gesonde leer te hoor nie. Hoekom? Vir die laaste paar dekades, wat nou die “kerkgroei era” genoem word, het ‘n hele generasie van gelowiges gewoond geraak aan musikale vermaak, komiese gesegdes en tien minute preke.

Ek veroordeel nie enige pastoor of gemeente vir hulle goed bedoelde pogings om “vriendelik” teenoor sondaars en soekers te wees nie. Maar soos die tyd verloop, het baie van hierdie kerke, sonder dat hulle dit weet, hulle huise op die sand gebou. ‘n Generasie is nou verby en baie groot kerke bestaan sonder enige ware fondasie in Christus. Hulle mense sit jare lank in die kerk en tog weet hulle min van God se Woord af, omdat hulle dit nie in ‘n preek gehoor het nie. Die gevolge hiervan is dat baie Christene verward en totaal verlore is wanneer beproewinge hulle oorweldig, omdat hulle nie ‘n Rots het om op te staan nie.

Daar is nog ‘n tragiese resultaat van hierdie gebrek aan prediking van die Bybel. Vir ‘n tyd lank, het ‘n groot menigte van Christene deur die land gereis op soek na “’n woord van God” deur gevierde profete, waarvan baie maar net charismatiese fortuinvertellers is. Jy mag wonder hoe enige navolger van Jesus op so ‘n punt van misleiding kon kom.

Dink aan die tipiese gelowige wat so ‘n reis aflê. Miskien het hy ‘n ambisie om een of ander groot werk te doen en wil hê dat hierdie droom van hom bevestig moet word deur ‘n woordvoerder van God. Dink aan sy blydskap wanneer ‘n “profeet” vir hom dinge vertel oor sy lewe wat niemand anders kon geweet het nie. Die ambisieuse Christen kan egter nie die profetiese woord teen God se woord toets nie, omdat hy nie weet wat die Skrif sê nie. Nou hang sy hele toekoms en die toekoms van sy familie af van die woorde van ‘n kwaksalwer!

Die Bybel ontbloot ons elke ambisie wat van vleeslike oorsprong is. En die Heilige Gees is getrou om enige verborge wellus in ons harte aan ons te wys wat ons sal mislei. Daarom, as ons weier om ons onder die heerskappy van ons liefdevolle Here se Woord te onderwerp, dan maak ons onsself oop vir grootskaalse misleiding.

Wat is die komende leuen wat so baie Christene sal aanvaar?

Paulus waarsku ons oor die laaste dae, “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:11-12). Wat is die leuen waarna Paulus hier verwys? Dit is die misleiding dat die Antichris die mensdom se verlosser sal wees.

Jy mag wonder, “Hoe kan enige Christen so mislei word deur te glo dat die Antichris die Messias is?” Paulus gee ons ‘n rede in die voorafgaande vers: Die gelowiges het “die liefde tot die waarheid nie aangeneem... om gered te word nie” (2 Thessalonicense 2:10). Deur onkundig oor God se Woord te wees, laat sulke Christene na om onder sy heerskappy te kom. Dus, word hulle deur elke wind en golf van lering meegesleep en maklik mislei en bedrieg.

Die vreeslike dinge wat ons in die wêreld sien gebeur en die verbrokkeling van Bybelse prediking moet ons na God se Woord dryf. Ons moet begeer om beheer te word deur geen ander stem as die Een wat betroubaar nie. Ons kan nie bekostig om selfs die soetste innerlike stem te vertrou nie. Paulus sê dat selfs as ‘n engel vir ons ‘n woord sou bring wat in stryd is met die Skrif, dan moet ons dit verwerp.

Die Here belowe, “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). God kies hulle wat sy Woord eerbiedig om sy gesalfde werk te doen. Die Skrif maak dit ook duidelik dat wanneer ons onsself aan sy heilige Woord onderwerp, Hy ons lewens met vreugde sal vul. “Hoor die woord van die Here, julle wat vir sy woord bewe... dat ons julle vreugde kan aanskou” (Jesaja 66:5).

Laastens, vertel Jakobus vir ons, “Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red... Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jakobus 1:21,25).

In hierdie tye van globale rampe en persoonlike beproewings, laat toe dat jou Koning Jesus jou lewe regeer deur sy Woord. Dan sal jy inderdaad geseënd wees. Dit maak nie saak watter beproewing oor jou pad kom nie, Hy sal jou hart met vreugde onderhou. Halleluja!