Oorwinning Oor Jou Boesemsonde

David Wilkerson

Sonde veroorsaak dat Christene lafaards word wat in vernederende nederlaag leef. Hulle kan nie met vrymoedigheid opstaan teen sonde nie weens die boesemsonde in hulle eie lewens. Hulle verskoon die sondes van ander weens ongehoorsaamheid in hulle eie harte en hulle kan oorwinning nie verkondig nie omdat hulle in nederlaag leef. Sommige van hulle het eens geweet hoe dit was om oorwinnend te leef, wraak te neem teen sonde, nadat hulle Christus se geregtigheid in hulle eie lewens volbring het. Hulle het die krag, die moed, die seëninge beleef wat kom na diegene wat gehoorsaam is aan die Here. Vandag is hulle maar net ‘n skaduwee van hulle ou self. Nou hang hulle hul hoofde in skaamte, nie in staat om die wêreld in die oë te kyk nie, geviktimiseerd deur ‘n sonde wat hulle lewens beheer. ‘n Boesemsonde het hulle beroof van hullle geestelike krag en een vyand na ‘n ander staan teen hulle op.

‘n Eens magtig gebruikte evangelis verkoop nou motors in ‘n klein dorpie in Texas. Hy het eens op die kansel gestaan as ‘n magtige verkondiger van die Evangelie en duisende het tot bekering gekom deur sy bediening. Hy het ‘n owerspeler geword, sy vrou verlaat en weggeloop met sy minnares. Binne net ‘n paar weke, het hy alles verloor. Daardie bedienaar is nou maar net ‘n skaduwee van sy ou self. Om hom te sien rondslof, afgetrokke met hartseer oë, is ‘n jammerte! Hy leef heeltyd in vrees en het slapelose nagte as hy dink aan wat kon gewees het. Sy angs het hom fisies siek gemaak, hy het hartpyne, maagsere en hipertensie. Hy het sy sonde bely, maar hy kan nie die verlede ongedaan maak nie. God vergewe, maar nie mense nie!

‘n Sestien jaar oue jeudige het teenoor my bely, “Ek het seks met my meisie. Ek het gelees wat die Bybel sê oor hoerery en owerspel en nou is ek bang. Ek is bang God my sal moet oordeel as die Bybel waar is. Ek hou aan om dit te doen en ek is vol vrees, skuldgevoelens en bekommernis. Dit lyk of daar twee mense binne-in my is – ‘n goeie een en ‘n slegte een. Ek is bang die slegte persoon binne-in my sal die goeie persoon oorweldig en God sal moed verloor met my. Hoe kan ek seker maak die goeie persoon in my kry die oorhand?”

Beide die bedienaar en die seun was oorweldig deur hulle vyande van skuldgevoelens, vrees en depressie. Hulle is slagoffers, verslaan en verneder deur onsigbare vyande wat dreig om hulle te vernietig. Sonde lok altyd die vyande. Sonde verswak alle weerstand; dit verander krygers in swakkelinge. Wellus word swanger, dan baar dit sonde, en sonde wek die vyand op om te verwoes.

Ons moet leer uit voorbeelde in die Ou Testament

Dawid het vyande gehad. Hulle was die Filistyne, die Amoriete, die Siriërs en ander wat Israel beleër het. Toe Dawid reg was met die Here en in goeie gemeenskap, kon nie een van sy vyande teen hom staande bly nie. Hy het hulle by die tienduisende verslaan en sy naam was gevrees in elke vyandige laer. Maar toe Dawid gesondig en vervreemd geraak het van die Here, het sy vyande dapper geword en oor hom getriomfeer. Sonde het veroorsaak dat hy sy moed en vertroue verloor het en hom swak gemaak het voor al sy vyande.

Dawid se sonde van owerspel het onmiddelik op een van sy grootste oorwinnings gevolg. Die Ammonitiese-Siriese oorlog was een van Israel se grootste oorloë. Dawid het die hele Israel byeengeroep, met hulle oor die Jordaanrivier getrek en geveg by Helam. Die Siriërs het voor Israel uitgevlug – sewehonderd waens was vernietig, veertigduisend ruiters doodgemaak en al die konings wat met die Ammoniete en Siriërs verenig was, het gevlug. Die hoofstuk oor hierdie groot oorlog sluit af deur te sê, toe “het hulle met Israel vrede gesluit en hulle gedien” (2 Samuel 10). Hierdie vername man van God, wat hom verlustig het in die glorie van sy grootste oorwinning, begin om Batséba te begeer, maak haar man, Uría, dood en pleeg owerspel met haar. “Maar die ding wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die HERE” (2 Samuel 11:27).

Toe het die Here die profeet Natan na Dawid gestuur. Die profeet het nie gekom om Dawid raad te gee oor hoe om sy skuldgevoelens en veroordeling te hanteer nie. Hy het nie die koning ‘n salf vir ‘n skuldige gewete aangebied nie. Liewer, Natan het reguit by die hart van die saak uitgekom. “Jy is die man! Jy het die woord van die HERE verag. Jy het verkeerd gedoen in die oë van die HERE. Jy is skuldig aan ‘n boesemsonde.”

Sonde bring sy eie oordeel

Vir ‘n man na Sy eie hart, het God gesê, “Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek...” (2 Samuel 12:11). Kort hierna, het sy geliefde seun Absalom teen hom gedraai en Dawid het vir sy lewe gevlug na die woestyn. Wat ‘n jammerlike gesig!

“En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween” (2 Samuel 15:30).

Is hierdie huilende, kaalvoet, gebroke man dieselfde groot koning, wie net maande tevore, twee wêreldmagte oorwin het? Wat het hom verander in ‘n swak, magtelose en lafhartige man wat voor die vyand gevlug het? Dit was sonde – niks anders nie! Soos Simson, was Dawid uit sy dapperheid en mag geskeur omdat hy toegegee het aan die swakheid van sy vlees.

Salomo, was ook gevrees deur sy vyande. Farao se leërs was weggehou deur sy magtige reputasie. Die Edomiete het nie durf waag om so ‘n magtige koning aan te val nie. Hy het ‘n glorieryke heerskappy gehad en sy roem was ongeëwenaard. Hy was geseënd, voorspoedig en geëerd in alles wat hy gedoen het. Maar Salomo het teen die Here gesondig en toegelaat dat sy liefde vir God koud geraak het. Hy het sy voeling met die hemel verloor. En kyk wat het gebeur, God het vir hom gesê, “Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koninskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee...” (1 Konings 11:11).

Skielik het die vyande van Salomo hom aangeval. “En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet...” (1 Konings 11:14). Nie net een vyand nie, maar twee: “God het ook as teëstander vir hom verwek Reson ... En hy was ’n teëstander van Israel...” (1 Konings 11:23-25). Sonde en kompromie het hierdie magtige koning so verswak, dat selfs sy dienaar ‘n vyand geword het. “Ook Jeróbeam ... ‘n dienaar van Salomo, het sy hand opgehef teen die koning” (1 Konings 11:26).

Nie een vyand van Israel kon voor hulle staande bly toe daardie volk reg gedoen het voor God nie. Hulle vyande het in vrees gevlug met die noem van hulle naam. Die vyande se harte het “soos was gesmelt” toe die seëvierende leërs van Israel met wapperende vlae gaan oorlog maak het. Maar toe Israel gesondig het, het selfs hulle swakste vyande hulle oorwin. Agan het ‘n vervloekte sonde gepleeg en die piepklein leër van Ai het Israel die aftog laat blaas in vernedering en verslaenheid.

Luister na die gebed van Salomo by die inwyding van die tempel en jy sal gou ontdek dat die hele Israel bewus was van wat hulle seëvierend gemaak het en wat nederlaag oor hulle gebring het.

“As u volk Israel verslaan word voor ’n vyand, omdat hulle teen U gesondig het ... As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee...” (1 Konings 8:33,46).

Om die vele seëninge van die Here te handhaaf, moes Israel net “goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.” God het seëninge belowe ver bo enigiets wat hulle kon dink. God het hulle belowe, “Niemand sal teen julle standhou nie; die HERE julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het” (Deuteronómium 11:25).

Israel was gesê, “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor - die seën as julle luister ... en die vloek as julle ... afwyk van die weg...” (Deuteronómium 11:26-28).

Bring hierdie geslag ‘n vloek oor homself?

So ‘n baie duidelike manifestasie van God aan die werk, moenie verlore raak vir ons vandag nie. Is dit waarom ons slagoffers word van ons hedendaagse vyande? Ons veg nie teen vlees en bloed vyande nie – ons s’n is baie magtiger! Ons vyande is vrees, depressie, skuldgevoelens, veroordeling, bekommernis, angs, eensaamheid, leegheid, wanhoop.

Het God in Sy karakter verander of “wek Hy steeds vyande op” teen ‘n sondige, kompromitterende geslag? Kan dit wees dat hierdie hedendaagse vyande baie van God se kinders oorweldig weens verborge sondes en afvalligheid? Dit was nie ‘n swaar juk wat God op sy volk gelê het nie. Dit was so eenvoudig en maklik soos: “Gehoorsaam en wees geseënd of wees ongerhoorsaam en ly.” Dieselfde boodskap weerklink in die Nuwe Testament:

“Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede” (Romeine 8:6).

Ons het genoeg lering gehad oor hoe om ons probleme en vrese te hanteer. Ons het nie genoeg lering oor hoe om met sonde in ons lewens af te reken nie. Jy kan nie kanker genees deur pleisters daarop te plak nie. Dit moet verwyder word. Ons sal voortgaan om ‘n neuroties-gebonde volk wees solank as wat ons die sonde in ons verskoon. Geen wonder ons is so depressief, bekommerd, belas met skuldgevoelens en veroordeling nie – ons leef voort in ons ongehoorsaamheid en kompromie.

Die meeste van ons is ten volle bewus dat sonde aan die wortel van al ons probleme is. Ons weet dat sonde vrees, skuldgevoelens en depressie veroorsaak. Ons weet dit beroof ons van alle geestelike moed en krag. Maar wat ons nie weet nie, is hoe om die sonde wat ons so maklik verstrik te oorwin.

Die meeste van die boeke wat ek lees oor hoe om Christus se geregtigheid te bereik – en hoe om ‘n heilige lewe te leef – sê nooit vir mens hoe om die oorwinning oor sonde te verkry en te behou nie. Ons hoor dit heeltyd verkondig word, “Sonde is jou vyand. God haat jou sonde. Wandel in die Gees. Laat staan jou goddelose weë. Los die sonde waaraan jy aanhou toegee. Moenie gebind word deur die bande van jou eie ongeregtigheid nie.” Dit is alles goed en wel.

Jy kan nie net wegloop van jou boesemsonde nie

Hoe oorwin jy ‘n sonde wat ‘n gewoonte geword het? Waar is die oorwinning oor ‘n boesemsonde wat amper ‘n deel van jou lewe geword het? Jy kan daardie sonde haat; jy kan aanhou sweer jy sal dit nooit weer doen nie; jy kan huil en ween daaroor en in berou leef oor wat dit aan jou doen – maar hoe loop jy weg daarvan? Hoe bereik jy die punt waar daardie sonde jou nie langer in slawerny hou nie?

Onlangs, het ek meer as 300 soekers ‘n baie direkte vraag gevra: “Hoeveel van julle veg ‘n verlorende stryd teen ‘n boesemsonde? Hoeveel het een geheime sonde wat aanhou om jou neer te trek?” Ek was geskok oor die vinnige reaksie. Amper almal van hulle het erken hulle was slagoffers, en het desperaat gesoek om verlos te word van ‘n sonde wat hulle in slawerny gehou het.

Ek hoor sulke verskriklike erkentenisse van nederlaag en mislukking oral waar ek gaan oor hierdie saak van oorwinning oor ‘n boesemsonde. Die meeste is toegewyde Christene wat die Here innig liefhet. Hulle is nie goddelose of vulgêre mense nie; dit is net dat hulle moet erken, “Ek het hierdie een probleem wat my weerhou om volkome vry te wees.”

Die belydenisse is eerlik en hartverskeurend

“Ek kan niemand vertel wat my geheime stryd is nie; dit is tussen my en die Here. Ek bid nou al vir drie jaar vir verlossing. Ek het ‘n duisende beloftes gemaak om op te hou. Ek leef in foltering. Die vrees van God spook by my. Ek weet dit is verkeerd. Maar probeer soos ek wil, ek hou aan om dit te doen. Ek dink soms ek is vir altyd verslaaf.”

“Jy sê vir my om my sonde te laat staan – mooi! Ek het dit honderde kere tevore gedoen. Maar my sonde wil mý nie laat staan nie. Net wanneer ek dink ek het die oorwinning behaal – WHAM – dan kom dit terug. Ek het ‘n rivier van trane gehuil oor my sondigheid en ek is moeg om God te belowe om dit nooit weer te doen nie. Al wat ek wil hê, is om vry te wees, maar ek weet nie hoe nie. Ek weet ek sal nooit wees wat God wil hê ek moet wees nie totdat ek die oorwinning kry.”

“Ek preek nou al vir meer as vyftien jaar, maar onlangs het ek in Satan se strik getrap. Ek was geestelik verlam en soveel as wat ek my boesemsonde haat, kan ek skynbaar nie vry raak van hierdie slawerny nie. Nie een van die formules en oplossings wat ek aan ander verkondig het, lyk of dit vir my werk nie. Eerlikwaar, ek wonder hoe lank God my sal verdra voor ek geopenbaar word.”

Is daar oorwinning oor gewoonte sondes?

Ek het geen formules nie, geen eenvoudige oplossings nie. Ek weet daar is baie troos in die Bybel vir diegene wat die stryd stry tussen die vlees en die Gees. Paulus het dieselfde soort stryd gestry teen dieselfde soort vyand. Hy het bely, “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Romeine 7:19).

Paulus het uitgeroep, soos die hele mensdom, “Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Hy gaan verder en sê, “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here...”

Ja, ons weet – oorwinning oor ons vyande is deur Jesus Christus die Here. Maar hoe kry ons die krag uit Sy wynstok in ons nietige, klein takkie in? Hoe werk dit? Ek het Jesus lief, ek het nog altyd; ek weet Hy het al die mag. Ek weet Hy belowe my oorwinning, maar presies wat beteken dit? Hoe kom die oorwinning? Dit is nie genoeg om vergewe te wees nie; jy moet vry wees van terugkeer na jou sonde.

Ek begin net die klein liggie van hierdie groot geheimenis van goddelikheid te sien. God vra my om die volgende drie dinge te doen in my eie soeke na algehele oorwinning oor al my boesemsondes.

1.Ek moet leer om te smag na heiligheid en om my boesemsonde te haat!

Elke oomblik wat ek wakker is, moet ek myself herinner dat God my sonde haat. Meestal as gevolg van wat dit aan my doen. God haat dit omdat dit my swak en ‘n lafaard maak. Daarom kan ek nie ‘n werktuig van eer wees om Sy werk op aarde te doen nie. As ek my sonde verskoon as ‘n swakheid – as ek myself laat glo ek is ‘n uitsondering en dat God agteroor sal buig om aan my behoeftes te voldoen – as ek gedagtes van goddelike vergelding uit my verstand haal – dan is ek op die pad om my sonde te aanvaar en myself oop te maak vir onbetroubare gedagtes. God wil hê ek moet my sonde verag, om dit te haat met alles wat binne-in my is. Daar kan geen oorwinning of verlossing van sonde wees nie totdat ek oortuig is dat God dit nie sal toelaat nie!

Die vrees van God teen sonde is die basis van alle vryheid. God kan nie na sonde kyk nie. Hy kan dit nie goedkeur nie; Hy kan nie ‘n enkele uitsondering maak nie – so wees eerlik! Dit is verkeerd! Moenie verwag om verskoon te word of spesiale voorregte gegee te word nie. God moet teen alle sonde optree wat dreig om een van Sy kinders te vernietig. Dit is verkeerd en niks sal dit ooit reg maak nie. Sonde besoedel die suiwer stroom van heiligheid wat deur my vloei. Dit moet bely en laat staan word. Ek moet oortuig wees daarvan.

2.Ek moet oortuig wees God het my lief ten spyte van my sonde!

God haat my sonde met ‘n volmaakte haat terwyl Hy my terselftertyd liefhet met ‘n oneindige deernis. Sy liefde sal nooit ‘n kompromie maak met sonde nie, maar Hy hou vas aan Sy kind wat sonde doen met een doel in gedagte en dit is om hom hom weer op te eis.

Sy toorn teen my sonde word gebalanseer met Sy groot jammerte vir my as Sy kind. Sy jammerte oorwin Sy haat teen my sonde die oomlik wanneer Hy sien ek haat dit net soos Hy. My motief moet nooit vrees vir God se toorn teen my sonde wees nie, maar ‘n gewilligheid om Sy liefde wat daarna smag om my te red te aanvaar. As Sy liefde vir my, my nie kan red nie, sal Sy toorn nog minder. Dit behoort meer as my sonde te wees wat my skaam maak en verneder; dit behoort die wete te wees dat Hy my steeds liefhet ten spyte van alles wat ek gedoen het om Hom te bedroef.

Dink daaraan! God kry my jammer! Hy ken die lyding van my stryd. Hy is nooit ver nie, Hy is altyd daar by my, terwyl Hy my verseker dat niks my ooit kan skei van Sy liefde nie. Hy weet my stryd is ‘n groot genoeg las sonder om my te dwing om verder te gaan met die vrees vir toorn en oordeel daarby. Ek weet Sy liefde vir my sal sorg dat Hy die roede sal weerhou terwyl die stryd gestry word. God sal my nooit seermaak, slaan of verlaat terwyl ek in die proses is om my sonde te haat en hulp en verlossing te soek nie. Terwyl ek teen die gety swem, is Hy altyd op die wal, gereed om vir my ‘n lewenslyn te gooi.

3.Ek moet die liefdevolle hulp van my Vader aanvaar om te weerstaan en te oorwin

Sonde is soos ‘n seekat met baie tentakels wat probeer om my lewe te verwoes. Dit is selde dat al die tentakels hulle houvas op my op een slag laat los. Dit is een tentakel op ‘n slag. In hierdie stryd teen sonde, is oorwinning – een dooie soldaat op ‘n slag. Dit is selde dat die hele leër op een slag dood neerslaan. Dit is hand-tot-hand veg. Dit is een klein oorwinning op ‘n slag. Maar God stuur my nie uit om te veg sonder ‘n oorlogsplan nie. Hy is my Aanvoerder; ek sal duim vir duim veg, uur vir uur – onder Sy leiding.

Hy ontplooi die Heilige Gees om my duidelike leiding te gee oor hoe om te veg, wanneer om te vlug, waar om volgende toe te slaan. Die stryd teen owerhede en magte is Sy oorlog teen die duiwel – nie myne nie. Ek is net ‘n soldaat, wat in Sy oorlog veg. Ek mag dalk moeg, gewond en moedeloos word, maar ek kan aanhou veg wanneer ek weet Hy moet my die bevele gee. Ek is ‘n vrywilliger in Sy oorlog. Ek is gereed om Sy wil te doen ten alle koste. Ek sal wag vir Sy bevele oor hoe om te wen. Daardie leiding kom soms stadig. Die stryd lyk of dit voortgaan teen my, maar op die ou end, weet ek ons wen. God wil hê ek moet net in Hom glo. Soos Abraham, word my geloof geag as geregtigheid. Die enigste rol wat ek kan speel in hierdie stryd, is om te glo dat God my triomferend uit die stryd sal laat tree.

Laastens – wanneer die sonde in my oorwin word, moet al my ander vyande vlug.

Wat ek doen insake die sonde in my lewe, bepaal hoe my vyande sal reageer. Oorwinning oor boesemsondes veroorsaak dat al my ander vyande vlug. Bekommernis, vrees, skuldgevoelens, angs, depressie, rusteloosheid, eensaamheid – alles is my vyande. Maar hulle kan my net skade doen wanneer sonde my verander in ‘n onbeskermde teiken. Die regverdige is so dapper soos ‘n leeu. Hulle het ‘n helder verstand en skoon gewete en dit is ‘n fort wat hierdie vyande nie kan oorwin nie.

Wil jy oorwinning oor al jou vyande hê? Doen dit dan op die regte manier deur ernstig met jou boesemsonde af te reken. Verwyder die vervloekte ding in jou lewe en jy sal kragtig word in God.

“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).