Is Jou Wêreld Te Klein?

David Wilkerson

Phillips Brooks, ‘n groot prediker van die 19de eeu, het gesê, “Sondaars het geen reg om Christendom te verwerp nie – omdat hulle dit nog nie probeer het nie...”

Ek stem saam! Ek dink nie enige mens op aarde het reeds die krag en heerlikheid ontdek wat hier en nou in Christus beskikbaar is nie!

In Johannes 12:35, vind ons ‘n direkte uitdaging vir ons kleinheid. In een enkele vers, roep Jesus ons om ons eng klein kringetjie te verlaat en oorgebring te word in die heerlike koninkryk van vryheid en bruikbaarheid in. Oor en oor roep Jesus ons, “Jou wêreld is te klein; vra vir ‘n groter, meer betekenisvolle lewe.” Hier is dit:

“Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe” (Johannes 12:25).

  1. Wat ‘n teenstelling – haat die lewe om dit te vind! Verag dit om dit te ontdek! Dit klink nie redelik nie.

Maar, die sleutel tot oorvloedige lewe is reg hier in hierdie skynbare nietige en onbelangrike stelling. Dit is Sy uitdaging aan ons klein wêreldjie. Om te verstaan wat Hy hier bedoel, is die deur na ‘n lewegewende openbaring. Jesus het ook gesê:

“As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie” (Lukas 14:26).

Christus bedoel sekerlik nie haat in terme van ‘n klassieke woordeboek interpretasie nie: Om te verag of verafsku; om nie van te hou nie of te verwerp. God se Woord sê,

“Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar” (1 Johannes 3:15).

“Mans, julle moet julle vroue liefhê en nie verbitter word teen hulle nie.”

“Eer jou vader en moeder.”

Dit is nie die lewe wat gehaat moet word nie, omdat die lewe ‘n gawe van God is. Dit is nie mense wat ons moet haat nie; dit is onskriftuurlik.

Ons moet leer om die manier waarop ons lewe te haat. Ons moet haat wat ons beheptheid met families en geliefdes aan ons gedoen het. Draai jou lewe net om jou kinders, man, vrou, of ouers? Is al jou vreugdes en probleme beperk tot hierdie kringetjie?

God roep ons bloot om ons lewenskring te verbreed. Die lewe moet meer wees as bloot gordyne, rekeninge, kinders se skoling, ouers se welstand en familieverhoudinge. Martha was verslaaf aan ‘n lewe van nietighede; Maria wou groei! Maria wou haar horisonne verbreed. Jesus het Maria se houding teenoor die lewe goedgekeur.

Jy kan nie groei totdat jy jou huidige onvolwassenheid haat nie. Jy hoef nie jou verpligtinge en pligte teenoor familie en vriende te laat vaar nie; maar jy kan so gebind word deur plig, dat dit jou groei kan keer. Eendag moet jy wakker word. ‘n Heilige woede, ‘n heilige haat, moet in jou siel opstyg, en jy moet uitroep, “O, God! Ek haat dit wat ek geword het. Ek haat my woedebuie. Ek haat hoe geïrriteerd ek soms is. Ek haat my humeurigheid. Ek haat hoe kleinlik ek geword het. Ek haat dit! Ek haat dit! Ek haat dit!”

Dink aan die mees geestelike persoon wat jy ken – daardie geestelike reus wat nooit paniekerig word nie, wat lyk asof hy altyd so vriendelik en versekerd is, so toegewyd aan God, so rein en heilig. Hy sal jou vertel van ‘n tyd wat hy by hierdie krisis uitgekom het, van hoe hy sy wêreld met sy kleinlikhede, sy jaloesie, sy slawerny gehaat het. Hy het geleer om te haat wat hy geword het, soveel so, dat hy vasbeslote was om te verander. Hy het honger geword – desperaat honger!

Jy sal nooit verander wat jy is totdat jy haat wat jy aan jouself gedoen het nie. Jy kan nie méér uit die lewe wil hê totdat jy verveeld en siek word van wat jy nou het nie. Jy moet so siek, so gewalg word met jou lewe soos dit nou is, dat jy vir jou self sê, “Ek wil meer uit die lewe hê. Ek wil nie langer met onbenullighede, soveel swakheid en soveel slawerny lewe nie! Ek wil vrygemaak wees.” Haat jou huidige lewe soveel so dat jy na God sal uitroep, “Here, bring my oor in U heerlike koninkryk van krag en oorwinning in! Gee vir my die lewe van blydskap wat so baie ander ontvang.”

“Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13).

  1. Dit is wanneer jy leer om te haat wat jy geword het dat jy begin om te honger en te dors na wat Hy bied.

Ek wat is dit wat ons Here bied? Hy bied die dood as ‘n weg om die lewe te vind.

“Laat hy sy kruis opneem en My volg...”

As die weg van die kruis die weg na ‘n beter lewe is, moet ons dit baie goed verstaan. As ons oorvloedige lewe daarvan afhang, beter ons dit begryp.

Eerstens, laat ons die wanbegrip van die kruis behandel. So baie is geskryf – meeste van die tyd ingewikkeld. Ons dink blykbaar die weg van die kruis is een of ander soort nou, skandelike lewe met die skares wat verwerp en spot, spoeg en uitjou. Ons voel ons boots die lewe van Christus na as ons ook geslaan en verwerp word deur sondige mense. Ons dink vervolging is die weg van die kruis.

Sy weg is sekerlik smal. Ons sal vervolg word om Sy onthalwe en ons moet onsself afskei van goddelose mense. Maar dit is nie die getrouste betekenis van die kruis nie. Ons fokus slegs op die lyding van Christus. Ons verhef en bewonder ons Here omdat Hy so goedgemanierd was teenoor diegene wat Hom gevloek en op Hom gespoeg het. Ons praat van Sy dapperheid in ‘n donker uur. Ons praat van die druppels bloed wat Hy gesweet het. Ons praat van die spykers, die dorings, die pyn. Maar ander het selfs onder nog wreder toestande gesterf vir die saak van Christus.

As jy daar was daardie dag toe Jesus deur die skare gestoot en gestamp is in die rigting van Gólgota, sou jy in ‘n fluisterstem die ware betekenis van die kruis gehoor het. Jy sou Jesus oor en oor hoor sê het, “U wil, Vader; nie myne nie! Ek leef en sterf slegs om U wil te doen.” Dit, my vriend, is die betekenis van die kruis – om die wil van God te doen!

Daar is net een kruis – met een betekenis – vir Hom en vir ons! Jou kruis is nie een of ander fisieke krankheid of doring in die vlees nie. Dit is nie ‘n slegte situasie by die huis nie. Dit is nie ‘n siekte of pes nie. Dit is nie een of ander toets vir jou uithouvermoë nie. Dit is nie een of ander las nie – fisiek, geestelik of iets anders nie. Jy hoor mense sê, “Dit is my kruis. Ek sal dit dra.” Dít noem ek “martelaarskruise.”

Jou kruis en myne is een. Dit is dieselfde kruis wat Hy gedra het – met dieselfde betekenis. Die kruis is om die volmaakte wil van God te doen. Jesus het gesê,

“Laat hy homself verloën en sy kruis opneem...”

Dit het niks te doen gehad met selfverloëning, lyding of swaarkry nie. Sy juk is sag; Sy las is lig. Hy het die prys betaal. Die betekenis is so eenvoudig dat ons dit mis. Dit is die volgende: As jy my dissipel is, moet jy jou eiewil prysgee en myne opneem. Die kruis opneem is bloot om die absolute wil van God op te neem. Dit is om volkome oorgegee te wees om dinge op God se manier te doen.

Kan die kruis so eenvoudig wees en sy uitvoering so ingewikkeld? Glad nie! Slegs twee vereistes word gestel by die kruis:

  1. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matthéüs 22:37).
  2. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matthéüs 22:40).

“Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matthéüs 22:40).

Met ander woorde, al wat Ek ooit van jou sal vra, stam van hierdie twee dinge doen af!

As absolute liefde vir God so belangrik is, moet Hy ons wys hoe. Dit is die uitroep van alle ware heiliges:

“Ek weet regtig nie hoe om Hom lief te hê nie.” Ons dink ons liefde vir God is iets wat ons vir Hom doen, soos om Hom te loof en te aanbid of na die binnekamer te gaan om met Hom te praat. Ons dink dat Hom lief te hê, is om heilig en goedhartig te wees en teenoor die ongereddes te getuig. Dit is nie waar nie! God is liefde, en om werklik God te wees, moet Hy dit uitgee.

Om Hom lief te hê, is om Hom God in ons en deur ons te laat wees! Liefde is iets wat Hy vir ons doen! Ons deins weg van hierdie konsep af asof dit selfsugtig is, maar dit is nie! Ons het Hom die meeste en beste lief wanneer ons toelaat dat Hy deur ons vloei en alles wat Hy sê Hy is, te doen en te wees.

Sien jy daardie Christen op sy knieë, besig om te huil, te vas en te bid? Sien jy die baie trane? Hoor jy hom God smeek om Sy lof en aanbidding te aanvaar? Luister hoe hy oor en oor sê, “Here, Ek het U lief! Ek het U lief!” Is dit liefde? Nie as dit wat Hy doen by praat bly nie! Nie as Hy God aanspreek asof Hy een of ander afgesonderde, onaantasbare Wese is wat niks anders nodig het as lofprysing nie. Wat as my vrou my een keer op ‘n dag ontmoet om my te bewonder, al die praatwerk doen en dan haar eie lewe gaan leef?

Ons God moet liefhê! Hy het mense nodig wat Hom toe-eien, van Sy krag put, Sy hulpbronne gebruik. Laat my vir jou die een wys wat God liefhet met alles wat binne-in hom is. Hy is die een wat met eenvoudige kinderlike geloof, die kosbare beloftes in besit neem en laat werk in sy alledaagse lewe. Dit is nie liefde om alles te ignoreer wat Hy belowe het om deur ons te wees en te doen nie. Dit is nie liefde om deur die lewe gejaagd, eensaam, bekommerd, depressief, ons eie laste dra, te gaan nie. Liefde is om in God in te kom en Sy heerlike krag te gebruik.

Ek ken baie mense wat dink hulle is groot liefhebbers van God. Hulle vas en bid die helfte van die nag. Hulle weier om na enigiets sondigs te kyk. Hulle is behep met selfverloëning. Hulle is opreg. Hulle bestudeer God se Woord pligsgetrou. Hulle is deernisvol en eerlik. Maar hulle betree nooit God se lewe van seëvierende, oorwinnende rus nie. Hulle is so besig om teen die duiwel te veg, dat hulle die werklikheid uit die oog verloor dat die duiwel reeds aan die kruis verslaan is.

Sommige Christene het slegs ‘n “binnekamer” verhouding met God. Hulle weet regtig hoe om God aan te raak in gebed. Maar hulle weet nie hoe om God te lewe nie. Hulle het nie wesenlike geloof nie. Hulle het geen krisisvertroue nie!

En wat van jou naaste liefhê soos jouself? Hier is waar ons wêreld so klein word. God vra ons om Sy volmaakte wil te doen, nie om ‘n wet op ons af te dwing nie, maar om ‘n nuwe lewenstroom in ons vry te stel. Maar ons weet nooit regtig wat om te doen met al hierdie beloofde bronne nie.

Hier is die eenvoud van wat Christus probeer om by ons tuis te bring: (1) Haat wat jy is, kom dan en vind My nuwe lewe vir jou. (2) Verwerp jou ou leefstyl; neem My volmaakte wil op. (3) Dit stel al My hulpbronne in jou vry, as jy dit net as ‘n werklikheid sal aanvaar. (4) Gaan dan uit en help die verlore mensdom met wat Ek vir jou gegee het.

Die storie van die barmhartige Samaritaan is God se manier om vir ons te wys hoe om ons naaste lief te hê. Het jy al ooit daaraan gedink dat die Barmhartige Samaritaan ‘n tipe is van die Christen wat in die oorvloedige lewe leef? Hy was die enigste een met die hulpbronne om die beseerde man, wat bloeiend en sterwend agtergelaat is deur rowers wat hom beroof en geslaan het, te help.

Die priester was sekerlik deernisvol. Miskien het hy oor hierdie beseerde man geween. Maar hy moes verbygaan want hy was so arm, so sonder ‘n sent; hy het niks gehad om iets mee te doen nie.

Die Leviet het waarskynlik ‘n besluit geneem om met die pad af te hardloop om iemand anders te kry om te help. Hy sou iemand wat die teenoorgestelde rigting gaan kry en sê, “Asseblief, omtrent twee myl aan jou linkerkant is ‘n bloeiende man, ‘n slagoffer van ‘n gewapende roof. Kyk wat jy vir hom kan doen.”

Maar die Barmhartige Samaritaan het gehad wat nodig was! Die priester en Leviet het verbygeloop, terwyl hy op ‘n perd gery het. Hy het wyn by hom gehad; hy het olie gehad; hy het verbande gehad. Hy het geweet waar die naaste herberg was. Hy het die middele gehad! Genesende olie. Verbande. ‘n Perd. ‘n Onbeperkte bankrekening. “Wat jy ook al gebruik, sal ek betaal.” Luister na die Barmhartige Samaritaan by die herberg. “Sien goed om na hom; vergeet die koste; ek sal die rekening betaal.”

Dit is wat God vir ons probeer wys – dat ons al die hulpbronne het wat ons nodig het om ten volle te leef en volmaak lief te hê. Ons kyk die wêreld in die oë, nie as geestelike armes nie, maar as seuns van ‘n Koning, wat met heerlikheid ry en toegerus is om enige lydende naaste te help.

Om jou naaste lief te hê, is om te hê wat nodig is om hom te help. Dit het niks te doen net met simpatie, advies, goedhartigheid en vriendelikheid nie. Jy help nie ‘n mens wat honger ly deur vir hom te sê hoe jammer jy vir hom voel of dat jy vir hom sal vas en bid nie. Maar jy help hom deur vir hom kos te gee!

Wil jy regtig die Here se gebod gehoorsaam om jou naaste soos jouself lief te hê? Kry dan iets om vir hom te gee. Jy kan nie jou naaste liefhê totdat jy dit het wat nodig is om vir hom te gee nie.

  1. Ons probeer om die Heilige Gees gevange te hou in ons klein wêreld.

“Ek sal van my Gees uitstort op alle vlees” (sien Handelinge 2:17).

Ons het die uitstorting van die Heilige Gees te eksklusief verkondig. Hy het gesê op ALLE vlees – nie net op gelowiges nie, maar op ongelowiges ook. Jesus het met sondaars geassosieer. Hy het hulle bedien. Hy het gesê dat Hy hulle Geneesheer was. Waarom kan die Heilige Gees nie met sondaars geassosieer wees nie? Waarom kan die Heilige Gees nie sondaars aanraak soos Christus het nie?

Die Heilige Gees was nie gegee net aan die gereinigde, geheiligde gelowiges nie. Hy was uitgestort vir die hele wêreld. Hy mag van niemand weerhou word nie. Hy kom om van sonde te oortuig. Dit beteken Hy moet aan die werk wees in die sondaars se gedagtes. Hy wil sondaars in die hele waarheid lei, om diegene wat dit die meeste nodig het, te vertroos.

Hy was nie net uitgestort op die 120 in die bovertrek nie. Daardie magtige rukwind het oor die hele aarde gewaai, oor die hele mensdom. Dit het nie net daardie kamer geskud nie; dit het die aarde geskud! Die hele Israel, Afrika, Europa – die hele bekende wêreld.

“Ek sal ook al die nasies laat bewe” (Haggai 2:7).

“Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Hebreërs 12:26).

God het nooit bedoel dat die uitgestorte Heilige Gees die ekslusiewe eiendom van die gelowige word nie. Ons het Hom in ‘n hoekie ingedruk en Hom in ‘n rein, heilige klein erdekruikie gesit. Ons leef en bedien asof die Heilige Gees geskok is oor sonde en nie daar naby sal gaan nie, so asof Hy net gekom het om die heiliges rein te hou en hulle te bewaar totdat Christus terugkeer.

Ons wat glo, het nie die Heilige Gees as besitting nie! Ons lei Hom nie. Ons kan Hom nie op enige manier beperk nie.

“Die wind waai waar hy wil...” (Johannes 3:8).

Die Heilige Gees is Christus se leier-evangelis. Hy is reeds aan die werk oral waarheen Christus ons stuur. Moet nooit verras wees as jy in die ergste helagtige plekke op hierdie wêreld ingaan om die Heilige Gees reeds uitgestort te vind en mense reeds onder oortuiging van sonde te ontdek nie – honger en dors oral, voor jy nog jou Bybel oopgemaak het.

Daar is geen goddelose veilgheidsones immuun teen Sy krag en teenwoordigheid nie – nie Rusland, China, Pole – nêrens op aardie nie. Hy gaan by homoseksuele plekke in. Hy is daar by elke verslaafde hool. Hy is daar in elke hoerhuis. Hy sweef oor elke masseersalon. Hy skram nie weg by die aanskoue van enigiets boos of goddeloos nie. Hy het gekom, nie om die goddeloosheid uit te stamp nie, maar om die mensdom te help om daaruit gelig te word.

Hy kom ongenooid. Hy breek los op die mees onverwagse tye. Die sondaar neem sy plesiertjie, vee sy mond af, geniet die talmende smaak – en dan skielik beweeg die Heilige Gees in, onaangekondig, ongevraagd, onverwags. Maar Hy word nie gekeer deur tralies of deure nie; Hy kan nie uitgesluit word nie. Geen mag in die hel of op aarde kan Hom ooit afskakel nie.

Die Heilige Gees is nooit geskok oor wat Hy sien nie. Hy weet wat die mens in staat is om te doen. Hy sien moord, verkragting, hoerery, owerspel, dronkenskap, dwelmverslawing, maar dit jaag Hom nooit weg nie – nie eens met afsku nie. Geen mens is te boos, of te ver heen, of te moeilik om aan te raak nie. Hy is nie bang vir die vullis, gemors en onooglikheid nie.

Hy was nie uitgestort om net die geseëndes te seën nie; Hy het gekom om lewe te bring aan diegene wat dood in hulle sonde is. Hy het kom werk in die Christen; Hy het kom werk aan die sondaar! Hy is op hierdie oomblik besig om te werk aan mense op wie reeds moed verloor is deur die samelewing en die kerk.

Hy kan nie afgeskud word nie. Sy teenwoordigheid maak die sondaar onverklaarbaar ellendig. Selfs wanneer die sondaar sy eie ding doen en totaal behep is met sy plesiere, hou die Heilige Gees aan om hom, diep binne-in sy onderbewuste verstand, terug te roep na God toe. Hy word die sondaar se skaduwee en volg hom oral waarheen hy gaan. Hy is die snuffelhond van die hemel; Hy gee die sondaar geen vrede nie. Hy prikkel voortdurend die mens se gewete. Hy bring tot sy gedagtenis elke vorige woord van waarheid wat hy ooit gehoor het; Hy is ‘n geheueverfrisser.

Die Heilige Gees is die Doper, maar Hy is meer as dit. As ‘n belewenis van ekstase al is wat Hy vir my is, as Hy net ‘n uitlaatklep is, as Hy net my tong beheer, as Hy my net gelukkig maak – misluk die ware doel van Sy koms. Hy het gekom om die hele wêreld met Christus te versoen. Hy het gekom om elke dissipel te lei in die volkome volheid van die lewe in Christus. Hy het gekom om die onbeperkte hulpbronne tot ons beskikking aan ons te kom openbaar. Hy wys vir ons die Vader, Sy krag en Sy leiding. Ons moet nou verkondig dat Hy oral is en aan almal werk. Hy is geen aannemer van persoon nie. Hy reageer nie net op honger nie; Hy kom na diegene wie God se Naam nog nie eens aangeroep het nie.

“Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie...” (Jesaja 65:1).

Die Heilige Gees is die asem van God en blaas in die nekke van die sondaars. Hy kom nie na die sondaar om te veroordeel, te bestraf of sedelik te maak nie; Hy kom om te oortuig. Die Heilige Gees kan net so teenwoordig wees in ‘n kroegsaal as wat Hy in ‘n kerk is. Daar is waarskynlik meer van Sy Gees aan die werk in ‘n sondaar se skuilplek as in ‘n kweekskool. Waarom? Omdat daar waar sonde toeneem, God se genade soveel meer toeneem.

Die sondaar kan net so maklik oortuig word deur die Heilige Gees in ‘n gay kroeg of ‘n X-gegradeerde filmsaal of ‘n dwelmhool as in ‘n kerk. Hy is presies daar waar die sondaar te alle tye is. Hy neem geen ruskanse nie. Hy slaap nooit. Wanneer hulle opstaan, is Hy steeds daar en wag geduldig vir hulle om heeltemal raadop te raak sodat hulle kan uitreik en genees kan word.

Die Heilige Gees sal die sondaar se drome binnegaan; Hy sal hulle visioene gee. Moenie dink dat alle drome en visioene net aan Christene gegee word nie. Sondaars het waarskynlik meer as ander.

“Hulle sal drome droom en gesigte sien...”

Hy sal hulle drome manipuleer, boodskappe in die onderbewuste verstand plaas. Sommige van die drome is werklik en dit hou aan herhaal. Die visioen is soos ‘n bonatuurlike altaaroproep. Die Gees wys vir hulle wat hulle kan wees, hoe die lewe kan wees as hulle dit vir Christus gee. Beelde hou aan in hulle gedages inflits en gaan nie weg nie, visioene van wat die lewe vir hulle kan en behoort te wees.

“Julle seuns en dogters sal profeteer...”

Dit sê nie dat hierdie profete opgeleide bedienaars of ervare Christene is wat in die dieper dinge van God betrokke is nie. Enige seuns en enige dogters sal profeteer.

Dit verduidelik baie duidelik die sending van die Heilige Gees op aarde: om op mense te kom en hulle in profete te verander. ‘n Profeet is een wat ‘n bonatuurlike storie vertel, omdat hy ‘n bonatuurlike verlossing beleef het. Die Heilige Gees doen hierdie wonderwerke oral in die wêreld op hierdie oomblik. Hy genees en verander homoseksuele in profete van Christus. Verslaafdes profeteer oor hulle wonderwerk van genesing. Prostitute, alkoholiste en haweloses loop weg van die slawerny van Satan, bekeer hulle tot Christus en hulle profeteer. Watter bonatuurlike stories! Hy verander sondaars in profete!

Die Ou Testamentiese profete het nie die wonderwerk beleef wat hierdie nuwe profete beleef het nie. Jesaja, Jeremia, Eségiël en Joël het almal gepraat van die wonderwerke van verlossing wat sou kom, maar hulle het dit nie ontvang nie. Hulle moet hulle sitplekke inneem en nederig luister terwyl hierdie nuwe profete vertel hoe Christus die Here hulle vrygemaak het.

As jy saam met die Gees gaan vloei, moet jy jou klein wêreldjie verbreed. Neem al die beperkings weg. Beweeg nou in die bonatuurlike in en gaan agter jou vryheid aan!