Die Waarheid Oor Geloof

David Wilkerson

Is  jou geloof swak? Is jy verleë omdat jou geloof nie lyk asof dit resultate lewer nie? Het jy pligsgetrou gebid oor ‘n versoek en daarvoor geglo met jou hele hart en dit het nie gebeur nie? Nog erger, die teenoorgestelde het gebeur? ‘n Geliefde is nie genees nie. Die begeerte van jou hart was nie toegestaan nie – ten minste nie tot jou tevredenheid nie. Die wonderwerk wat jy nodig het, het nog nie gebeur nie. Die tyd gaan verby en die probleme is steeds daar.

Die ergste deel daarvan is dat die Woord van God jou in sulke tye beproef. Jy lees al die glorieryke beloftes: “Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” “Vra, sonder om te twyfel en dit sal gebeur.” “Alle dinge wat jy in geloof vra, glo dat jy sal ontvang, en jy sal dit verkry.” Jy het uitgegaan om daardie beloftes op te eis. Jy weet God is nie ‘n leuenaar nie en Hy sou jou nie terg met onbereikbare doelwitte nie. Maar, so hard as wat jy probeer om te glo – regtig, waarlik glo – word jy dikwels verward gelaat, omdat die verhoring, òf uitgestel word, òf glad nie in sig is nie.

Volgens die teologie van sommige mense, is daar slegs twee redes waarom jy nog nie gekry het waarvoor jy gevra het nie. Òf daar is fout met jou geloof, òf daar is sonde in jou lewe.

Jy word gedwing om te glo dat God verhoring weerhou totdat jou geloof genoeg verbeter het om Hom tevrede te stel. Of die kwaliteit of kwantiteit van jou geloof het nie God se kriteria vir verhoorde gebed bereik nie. Jy word gedwing om te glo dat God deur Sy Woord verplig word om elke versoek te verhoor – die oomblik waarop jy die regte toppunt van geloof bereik. Dit sluit in om enige negatiewe gedagtes, woorde of belydenisse uit jou woordeskat te verwyder. Jy sien, jy durf nie God aanstoot gee nie. Hy is dalk amper gereed om vir jou jou begeerte toe te staan – maar, oeps! Jy het ‘n negatiewe belydenis gemaak. Jy het die verkeerde woorde gesê, daarom trek God dit alles terug! Nou het jy dit – nou het jy dit nie!

My vriende, daardie soort teologie is dwaas en dit is ‘n klap in die gesig van ‘n intelligente, liefdevolle Hemelse Vader. Oral waarheen ek vandag gaan, ontmoet ek Christene wat bang is om die verkeerde dinge te sê en sodoende die vloei van seëninge te weerhou – asof God aan elke woord hang wat Sy kinders sê, oral saggies op Sy tone rondsluip en gereed is om elkeen wat verkeerd praat te straf.

Ek ontmoet Christene oral in ons land wie se geloof skipbreuk gely het omdat hulle ontnugter was en seergekry het. Hulle het op ‘n “gelooflering” afgekom wat hulle laat glo het dat om elke begeerte van die hart te kry, bloot daarvan afhang om die formules korrek te kry. Hulle was uitgedaag om na God uit te reik vir voorspoed, volmaakte gesondheid en waaraan hulle ook al kon dink. “Bedink, glo dan,” was vir hulle gesê. Hulle was aangemoedig om alle gedagtes van lyding, pyn, armoede – of enigiets negatief – uit hulle gedagtes te sluit. Hulle was in vervoering oor die getuienisse van diegene rondom hulle wat nuwe karre, huise, werke, pelsjasse, diamand ringe – wat ook al hulle harte begeer het – gekry het – alles deur positiewe geloof.

Maar toe niks van hierdie dinge vir hulle gebeur het nie – toe daar in plaas van voorspoed, rekeninge wat ophoop gekom het – toe daar in plaas van genesing, ‘n tyd van beproewing, trane, smart en so aan gekom het – het hulle verward geword! Wat het gebeur? Dit het vir die leraar gewerk. Dit het vir die evangelis gewerk. Hy is voorspoedig. Hy kry wat hy ook al wil hê – net wanneer hy dit wil hê. Dan kom die vrae, “Dit werk vir ander; waarom nie vir my nie?” “Wat doen ek verkeerd? Dit moet binne-in my wees, my geloof moet swak wees, onvolmaak. Daar moet ‘n boesemsonde wees wat die verhoring blokkeer.”

Laat my aan jou ‘n paar baie genesende gedagtes oor geloof en liefde meedeel. Ek glo dat God wonderwerke verrig in antwoord op die gebed van geloof. Ek glo elke belofte in God se Woord soos dit daar staan! Maar, deur baie lyding en trane, het ek iets wonderliks ontdek oor die manier waarop God werk. Dit wat jy op die punt is om te lees, behoort jou te help om jou vrymoedigheid in die Here te vernuwe en jou vry te maak van die slawerny daarvan om te probeer om geloof uit te pluis.

Les Een: God word nie gemotiveer om vir ons op te tree as gevolg van ons geloof alleen nie. God is liefde en dit is wat Hom motiveer om op te tree.

Veronderstel my seun Greg was gevang in ‘n beerstrik in die woud naby ons huis. Ek hoor hom om hulp roep. Hy het seergekry, bloei en roep my met al sy krag.

As sy pa, stop ek eers om die kwaliteit van sy geloof te analiseer? Vra ek myself die vraag, “Ek wonder of Greg glo ek sal hom antwoord? Het hy genoeg geloof in my en vertrou hy ek sal hom kon red?”

Nee! ‘n Duisend keer nee! Ek hardloop my seun te hulp – sonder vrae – geen geloof betrokke – omdat ek aangespoor word deur ‘n vader se liefde vir ‘n kind wat ly. Sy geloof motiveer my nie. Dit is glad niks wat hy doen nie. Dit is bloot my liefde vir hom.

Watter soort aardse vader sou ‘n kind bloeiend en beseer in een of ander verlate woud los bloot omdat die kind nie een of ander geloof in hom uiter nie? En God sal nooit een van Sy kinders alleen laat nie. Hy sal nooit Sy ore toesluit vir hulle geroep – net omdat hulle geloof in Hom swak is nie.

“As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Timótheüs 2:13). (Selfs wanneer ons te swak is om enige geloof oor te hê, bly Hy getrou aan ons en sal ons help, want Hy kan ons  wat deel is van Homself nie verloën nie, en Hy sal altyd sy beloftes aan ons nakom...)

My geloof, jou geloof, alle geloof – moet rus in die liefdevolle goedheid en besorgdheid van ons Hemelse Vader. Ons word beveel om ons te verlustig in die liefde en ewigdurende goedheid van ons Vader.

“Maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae...” (Jeremia 9:24).

God het Sy kinders so lief, dat Hy hoor voor hulle roep, soos ‘n moeder haar baba se gehuil antisipeer. Dit is waarom Dawid gebid het, “Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge” (Psalm 119:149).

Hy het my lief en snel my te hulp wanneer my geloof swak is en ek nie ‘n antwoord van Hom verdien nie, bloot weens Sy teerheid en goedheid.

“Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie...” (Psalm 103:8,9).

Die grootste vrede het my lewe binnegestroom sedert ek myself oortuig het dat God my liefhet. Soveel so, dat Hy my tot redding sal kom en doen wat reg is in elke situasie van my lewe. Swak geloof of nie, Hy het my steeds lief en niks kan daardie liefde keer nie.

Les Twee: ‘n Regte belydenis is geen waarborg vir verhoring nie – ‘n verkeerde belydenis alleen verhinder nie verhoring nie!

Job se vrou het die wêreld se ergste belydenis bely. Sy het vir Job gesê, “Vloek God en sterf!” Maar, ten spyte daarvan, het sy deel gehad in dieselfde seëninge van haar getroue man.

Een teoloog het gevra, “Waarom het God nie sy vrou weggeneem nie, aangesien Hy alles van Job weggeneem het? Lees amper enige kommentaar en jy bespeur dieselfde soort disrespek vir Job se vrou. Maar onlangs het ek ‘n nuwe waardering gekry vir daardie lydende vrou. Ek dink ons was te hard op haar. Al tien daardie kinders wat gesterf het, was immers ook hare.

Dit is geen wonder dat hierdie vrou gestruikel het in haar geloof nie. Die duiwel was nie agter haar aan nie; maar tog het sy net soveel, of selfs meer gely as Job. ‘n Vrou ly gewoonlik meer oor die dood van kinders. Sy het die bykomstige smart gehad van toekyk hoe haar man stadig doodgaan van elefantiase, ‘n terminale siekte.

Job se vrou het gestaan en ween voor tien kiste – almal in ‘n ry. Geen graduering meer nie. Geen vakansies saam met die gesin meer nie. Die enigste familie wat sy nou oorgehad het, was Job, en hy was ook sterwend. Elefantiase word beskryf as ‘n siekte wat intense hitte veroorsaak; ‘n brandende swelsel van swere, en kankeragtige sere; die vel is bedek met ‘n knoppiesagtige tekstuur, soos die vel van ‘n olifant. Die siekte word progressief erger en affekteer die genitale organe. Dit het beteken dat Job nie meer kinders sou kon hê nie. Sy vrou kon nie eens daarna uitsien om ‘n nuwe gesin groot te maak nie. Watter ellende moes oor haar gekom het. Ek is seker sy het alle hoop verloor. Sy moes kwaad gewees het vir God. Ek verskoon nie wat sy gesê het nie, en ek dink dit is tragies dat sy haar nie onderwerp het aan God se liefde en vasgehou het aan haar geloof nie. Maar ek kan die soort droefheid en pyn verstaan wat haar so laat struikel het. Ek kan nou verstaan dat sy in haar menslike smart, nie agterkom wat besig was om te gebeur nie. Alles wat sy geken het, was verlore. Sy het gedink daar was niks oor om voor te lewe nie. En dit is waarom sy aan Job die voorstel gemaak het om selfmoord te pleeg en sy geloof in God te laat vaar.

Het God ‘n wrok teen haar gehou? Nadat die swaarkry verby was en Job genees was, het God haar verkeerde belydenis teen haar gehou? Het Hy enige seën van haar weerhou weens haar heel menslike uitbarsting van vrees? Nee! God het daardie vrou geseën! Ek glo God het haar verstaan. Hy het geweet sy het nie bedoel wat sy gesê het nie! Hy het verby haar kwesbaarheid gekyk en die roepstem van haar hart raakgesien en Hy het haar geseën ten spyte van haarself.

“As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word” (Psalm 130:3,4).

“Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie... Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees...” (Psalm 103:10,13).

“Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is...” (Jakobus 5:11).

“Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red...” (Psalm 72:13).

Moet nooit veroordeel voel oor die dinge wat jy oorhaastig of in vrees gesê het nie. Ons dien ‘n Vader wat elke twyfelende, vreesbevange woord, wat in wanhoop gesê is, vergeet en vergewe. Wees eerlik met God. Job se vrou was. Moenie dit namaak nie. As jy nie kan verstaan waarom jou gebede nie verhoor word nie, of waarom jy moet ly, of jou hart vol vrae, vrese en verwarring is nie, vertel dit vir God! Uiter jou diepste gevoelens, negatief of nie. Ons Vader sal jou dit alles laat uithuil, geduldig na jou klagtes en vrese luister en nie een keer sal Hy jou daarvoor veroordeel nie.

Al wat jy nodig het, is om jou met liefde tot Hom te bekeer en uit te roep, “Here, genees nou my ongeloof. Neem weg my vrese en verwarring. Wys my U liefde, nou dat ek dit so nodig het. Help my om onderdanig te wees.”

Die God wat ek dien dra geen wrokke nie.

Les Drie: As jy jou sondes bely en laat staan het, kan dit op geen manier God se werk in jou lewe keer nie.

Ek het gehoor dat dit gesê word, “Jy het sonde in jou lewe; daarom verberg God Hom vir jou.” Wat ‘n slim sataniese stuk gereedskap om God se kinders in vrees en slawerny te hou! En dit is verrassend dat menigtes van God se dierbare kinders hulleself oortuig dat God òf kwaad is vir hulle, òf Homself vir hulle verberg, òf ten minste verhoring van gebede terughou – weens sonde.

Sê die Bybel nie, “Jou sondes het jou van God geskei en veroorsaak dat Hy Sy aangesig van jou verberg” nie? Ja, dit sê so! In die Ou Testament, voor die Kruis, voor die stort van Christus se bloed vir die vrye vergifnis van al die sondes van die wêreld.

Hoe kan God Homself verberg van sondes waarvoor reeds betaal is deur die bloed van Sy eie Seun? En, as enige mens sondig, sal Christus die Middelaar al daardie sondes vergewe en reinig van alle ongeregtigheid.

As jy werklik die sondes van gister bely het, is dit vergewe, onder die bloed en tel dit nie langer teen jou nie!

Vir die Christen wie se sondes uitgewis is, is uitgestelde antwoorde, lyding, toetse en beproewinge gewoonlik die gevolg van liefdevolle tugtiging en nie sonde nie. Die Bybel sê,

“Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging...” (Spreuke 13:24).

“En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as kinders spreek: Hy sê, ‘My seun, moenie kwaad wees wanneer die Here jou tugtig nie. Moenie moedeloos word wanneer Hy vir jou wys waar jy verkeerd is nie. Want as Hy jou tugtig, is dit ‘n bewys dat Hy jou liefhet. Wanneer hy jou pakslae gee, is dit ‘n bewys dat jy regtig sy kind is.’

Laat God jou oplei, want Hy doen wat enige liefdevolle vader vir sy kinders doen. Wie het al gehoor van ‘n seun wat nooit tereggewys is nie? As God nie jou nie straf soos ander vaders hulle seuns straf wanneer hulle dit nodig het nie, dan beteken dit dat jy nie regtig God se seun is nie – dat jy nie regtig aan Sy familie behoort nie. Aangesien ons vaders hier op aarde respekteer al straf hulle ons, sou ons nie onsself nog meer aan God se opleiding onderwerp sodat ons regtig kan begin lewe nie?

Ons aardse vaders het ons getugtig vir ‘n paar kort jare en die beste vir ons gedoen volgens dit wat hulle geweet het, maar God se tugtiging is altyd reg en vir ons beswil, sodat ons kan deel kan hê aan sy heiligheid. Om getugtig te word, is nie lekker wanneer dit plaasvind nie – dit is seer! Maar ná die tyd kan ons die resultaat sien, ‘n stille toename in genade en karakter.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op...” (Hebreërs 12:5-12).

Ek hoor mense vandag sê, “Ja, die Here tugtig en wys tereg. Maar nie met lyding of pyn nie. God sal nie dit doen nie. Regte geloof sal dit nie toelaat nie.”

Eintlik, my vriend – het goddelike mense regdeur die geskiedenis tot op hierdie dag, gely en ly nog steeds. Om dit te ontken is om die waarheid te ontken. Paulus vertel van die lyding van die vroeë Christene. Sal ons hulle beskuldig van nie geloof hê nie?

Eintlik is dit party van die heiligste mense wat vandag ly aan kanker, maagsere, rumatiek, hartprobleme, ens. ens. Ek krimp ineen wanneer ek mense hoor sê, “Hulle hoef nie siek te wees nie. Hulle geloof is swak.”

Geen van hierdie heiliges wat ly sal plekke ruil het met diegene wat nie ly nie. O, die groei, die dieptes van God se liefde wat ontdek is, die ware waardes en herrangskikte prioriteite wat die gevolg van lyding is. Diegene wat nie saam met Christus gely het nie, is oppervlakkig en selfgesentreerd en hulle besit nie die deernis wat kom van saam met die Here wees te midde van ‘n vuuroond van ‘n beproewing nie. Daar is ook ‘n ongeduldige soort arrogansie by mense wat nog nooit gely het nie.

Ek het eenkeer geweier om die term, “uitverkore om te ly” te aanvaar. Ek was gebelg deur die idee dat God toelaat dat sommige meer as ander ly, om te help om hulle tot ‘n dieper kennis van Homself te bring. Maar toe het ek gekyk na diegene wat ly – en dikwels is hulle die mees getroue, vertrouende, liefdevolle van al God se kinders. Hulle is waarlik uitverkore werktuie.

Ek weet sommige sal aanstoot neem oor wat ek pas gesê het. En dit is omdat ons so ver van die realiteite van Christus se Evangelie afgedwaal het. Ons is so bederf, so selfvertroetelend, dat ons die roeping van Christus tot afsondering, toetse, beproewings en ja – selfs lyding – vergeet. Bewyse? Ja! Baie bewyse!

“Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies...Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly...” (Handelinge 9:15,16).

“Moses... [het] verkies...om liewer sleg behandel te word...as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê...en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte...” (Hebreërs 11:25-26).

“Omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly...” (Filippense 1:29).

Hier is my gevolgtrekkings:

  1. As jy God nie volmaakte geloof kan gee nie, gee Hom volmaakte liefde. “Volmaakte liefde dryf die vrees uit.”

Nie volmaakte geloof nie – maar volmaakte liefde. Volmaakte liefde is die rus wat God vir Sy kinders het. Hy wil hê ons moet rus in sy liefde, en Hom vertrou dat Hy ons altyd te hulp sal snel soos ‘n vader vir ‘n beseerde kind sal doen, ten spyte van ontoereikende geloof.

Hou op om jou geloof te evalueer of te gradeer. Hou op om geloof te probeer uitpluis. Die Bybel sê,

“En nou bly geloof, hoop, liefde — hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde... JAAG die liefde na...” (1 Korinthiërs 13:13; 14:1).

As jy gaan “spesialiseer” in iets – maak dit liefde. Die Bybel sê, “Geloof werk deur die liefde.” Sonder liefde, is alle geloof tevergeefs.

  1. As God nie sekere van ons gebede verhoor nie, kan jy seker wees Hy het een of ander groot ewige rede hoekom nie.

Dit kom neer op die volgende: God het alle mag en kan enigiets doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Hy het belowe om elke gebed in Christus se Naam te verhoor. Daarom moet ons in volle geloofversekering vra – en ‘n antwoord verwag. Maar sou God daardie antwoord vertraag of kies om ‘n ander pad vir ons te volg – moet Hy ‘n baie goeie rede vir dit alles hê. En ons moet glo dat wat ook al God toelaat in ons lewens – dit sal eendag alles ten goede vir ons meewerk.

“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28).

Ons Hemelse Vader weet presies waarheen ons oppad is, wat ons nodig het, en Hy sal vir ons gee wat die beste is – in die regte Heilige Gees tyd.

“As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matthéüs 7:11).

As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: “Die almagtige God sal jou bewaar. Jy kan vir die Here sê: ‘U beskerm en bewaar my. U is my God op wie ek vertrou.’ Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou. Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig. Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip. Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af. Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie. Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie. Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie

“Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan.

In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys. Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef. Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.” (Psalm 91:1-6, 14-16 DB).