Binnekort Hier – ‘n Herlewing van Heiligheid

David Wilkerson

‘n Herlewing kom na hierdie land. Die vonke is reeds aangesteek deur die Heilige Gees en oral waarheen ek nou reis, is daar tekens van ‘n glorieryke ontwaking, met menigtes van God se kinders wat honger en dors na geregtigheid. Die Bybel voorspel dat wanneer die vyand inkom soos ‘n stroom, sal die Gees van die Here ‘n standaard teen hom oprig. Heiligheid, die ware geregtigheid van Christus, is die standaard. Daardie bloedbevlekte banier van heiligheid word gehys oor die slagvelde van sonde en verdorwenheid en binnekort, baie gou, sal daar ‘n crescendo van stemme tot die Here uitroep: “Reinig ons. Verteer ons. Lig ons op uit die modder en vuilheid van hierdie eeu. Bring ons terug na heilig leef en hemelse gedagtes. Reinig ons en hou ons onbevlek van die wêreld.”

Die jong Christene en veral jong bedienaars, is siek en sat om te hoor van al die godsdienstige speletjies. Hulle is moeg vir al die interdenominasionele getwis en leerstellige rompslomp. Hulle is honger vir ‘n geloof wat hulle skoon en rein sal hou te midde van ‘n goddelose en verdraaide geslag. Hulle begin die Here aanroep vir ‘n ontwaking in ons land en vir ‘n visioen van God se heiligheid.

Ek hoor hulle roepstem van kus tot kus – hulle sê vir my in wese, “Ons wil nie een of ander teologiese stelsel hê nie. Ons is moeg van materialistiese lering en prediking wat ons so leeg en droog laat. Ons wil nie vertel word hoe om suksesvol of voorspoedig te wees nie. Ons is jonk, so ons vind nie aanklank by gesondheidsboodskappe nie. Ons moet oortuig word van sonde – om te weet hoe om te treur oor ons afvallighede en plesiersoekende weë. Ons wil weet hoe om ons liggame aan Christus te gee met volkome oorgawe – en om te weet wat dit beteken om heilig te wees. Ons het ‘n evangelie nodig wat ons wys hoe om rein te bly in hierdie goddelose eeu.

‘n Profetiese Boodskap

Ek glo dat my pen op hierdie oomblik gesalf is deur die Gees van God as ek vir jou sê dat Hy soewerein gaan optree in Sy kerk en dit opnuut gaan opwek tot Bybelse heiligheid. Die uitverkorenes van God gaan opgewek word in hulle innerlike mens; die Gees gaan oortuig van sonde en nader trek en bearbei – totdat gelowiges weereens smag na geestelike reiniging en verlossing van die krag van sonde.

Afvallige, kilhartige kerkgangers gaan geskok en oortuig word met kragtige ondersoeke van die Heilige Gees. Oordeel sal begin by die huis van God, en die Here se heiligheid sal geopenbaar word in die innerlike mens. Boesemsondes gaan oral geopenbaar word en baie, baie Christene sal oortuig word van sonde en gewaarsku word deur God om hulle sonde neer te lê, dit te laat staan, of openlik ernstig geoordeel te word.”

Louwarm, afvallige bedienaars sal die standaard van heiligheid sien styg in die land en hulle sal óf, terugkeer na die Here met vas en gebed, met trane en goddelike berou en bekering – óf, hulle sal weerstaan en versterk word in hulle doodsheid en onbesorgdheid. Maar ek glo dat elke ware bedienaar van Christus wat verlang na herstel van Reinheid in die kerk, ‘n nuwe oproep sal beleef tot ywerige gebed en ‘n hernude haat vir persoonlike en nasionale sondes.

Ons gaan outydse Heilige Gees oortuiging van sonde beleef van sondaars en Christene in kerke oral in die land. Ek glo dit is ‘n Heilige Gees feit. Dit begin reeds gebeur. Binne ‘n paar maande het ons briewe en foonoproepe ontvang van verskeie bedienaars dwarsdeur die land wat ons vertel van die soewereine beweging van God se Gees in hulle kerke, met hele gemeentes wat heeltemal geskok word deur kragtige oortuiging van die Heilige Gees. Bedienaars berig oor ‘n hernude klem in hulle prediking teen sonde en kompromie in hulle kerke. Hulle vertel van mense wat na altare hardloop en hulle bekeer, tot God uitroep vir ‘n nuwe doop van liefde en reiniging in hulle siele. Hebsug, bitterheid en wêreldgesindheid word bely en laat staan. Hulle mense begin om hulle te bekeer van hulle goddelose weë, en daar is nou ‘n terugkeer na die ou paaie van geregtigheid, deur geloof. Sonder om gedwing te word, begin hulle om te vas en bid vir ‘n nuwe visioen van barmhartigheid en genade.

God het my geskud

In my eie bediening, kan ek vir jou sê dat God my omgekeer het! Ek lees boeke geskryf deur heilige Puriteinse skrywers. Goddelike manne soos John Owen, Sibbes, Goodwin, Baxter en ander. Ek was geskok oor hoe ver ons afgedwaal het van die weë van die Here. Die primitiewe kerk het gewandel in die vrees van God en het heilige, toegewyde lewens geleef. Ons Puriteinse vaders was vroom en goddelike manne wat sonde gehaat het. Luther, voor hy gesterf het, het gesê, “Ek vrees dat wanneer ek weg is, hierdie boodskap vergeet sal word. Dit het presies net so gebeur soos Luther gevrees het. Ons het ver weg afgedwaal van Reformasie teologie. Die goddelike hervormers sou nie eens die selfgesentreerde, goedkoop evangelie, wat deesdae verkondig word op soveel kansels, herken nie.

Net soos die jongmense van vandag, is ek ook moeg om geestelike speletjies te speel. Ek is moeg vir die lui, selfkoesterende, materialistiese prediking en lering wat ons so ver laat afdwaal het van die evangelie van bekering, heiligheid en algehele oorgawe.

Die volgende is dit wat ek nou op my knieë hoor in die binnekamer van gebed: David – ondersoek jouself; kyk in die spieël van God se heiligheid. Raak ontslae van al die sonde en verdorwenheid – trots, self en ambisie. Begin die aangesig van die Here soek met vuur en opregtheid. Speen jouself van dinge, van materialisme – honger, dors na die ware geregtigheid – die gawe van God deur geloof in Christus. Roep God vanuit ‘n bedroefde hart aan en bid vir ‘n vars salwing. Gaan dikwels na die binnekamer en soek Hom met jou hele hart en siel. Delf dieper in God se Woord in – soek ‘n nuwe openbaring van God se asemrowende heiligheid. Wees nie lief vir die wêreld nie en laat staan al sy plesiere. Gee alles oor – verneder jouself en preek teen sonde en kompromie met ‘n heilige ywer. Maak God se kinders wakker! Preek teen sonde in die Here se huis. Doen ‘n beroep om Christene om hulle te bekeer! Preek vreesloos totdat daar ‘n goddelike droefheid oor sonde is! Doen ‘n beroep op die mense om hulleself te verneder en te bid!

‘n Byl en ‘n skop!

Toe Johannes die Doper geprofeteer het aangaande die verskyning van Christus, het hy Hom sien kom met ‘n byl in die een hand en ‘n skop in die ander hand.

“Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi....

“Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand...” (Matthéüs 3:10-12).

Johannes het Christus nie sien kom met ‘n sak vol gunste op Sy rug, soos een of ander goddelike Kersvader nie. Hy het nie gekom om die mensdom voorspoedig en suksesvol te maak nie. Hy het gekom met ‘n byl en ‘n skop! Christus sou verskyn in Sy huis om dit te skoon te maak! Om te skoon te maak beteken “om te reinig, om ontslae te raak van, om weg te dra, dit wat onrein is.” Die skop is die Heilige Gees wie se magtige wind op die punt is om al die kaf van louwarmheid en sonde weg te waai uit God se heilige tempel.

Die byl is die oortuigende krag van God se Woord wat uitgaan onder die salwing van die Heilige Gees. Luister na die taal van Johannes se profesie – “Christus sal skoonmaak, uitkap, saambring, brand, skei! Al die kompromie sal nou veroordeel word. Al die strewes van self en plesiermalheid sal as minagtig van Sy hof beskou word. Al die meng met goddelose Christus-verwerpers sal nie oorgesien word nie. Hy sal nie terughou om beide die byl en die skop te gebruik nie. Hy het lank genoeg gewag vir Sy wingerd om vrug te dra. Die skynheiligheid, die kaf, moet alles skoongemaak word. Ons Here gaan die geestelike wortels van alle valse professors en skynheiliges afsny. Slegs diegene met skoon hande en rein harte sal na Sy heilige berg kom. Hy sal Sy eie altare verwerp en baie kerke verlaat – as daar nie ‘n herlewing van bekering is nie.

As jy nie daardie soort prediking van jou kansels af hoor nie, vrees ek dat, of die bedienaar, of leraar het die salwing verloor, of anders is hulle leraars wat daarvan hou om die gehoor te paai. Die prediking en lering wat God die meeste behaag in hierdie laaste dae, is dit wat die byl op die wortel van sonde in ons lewens plaas. Ons het prediking nodig wat ons in die dieptes van ons harte skok en die kaf van boesemsonde en wêreldsgesindheid openbaar. Ons het meer predikers en leraars nodig, en sal hulle binnekort kry, met ‘n swaard in hulle hande om die die murg van die been te skei en ware bekering en die laat staan van sonde na vore te bring.

Jy sal ook die reiniging voel

As ek, as ‘n bedienaar van die Evangelie, in voltydse diens aan die Here – met ‘n biblioteek van godsdienstige boeke – en ‘n roeping van God – onder die rooiwarm veroordeling van die Heilige Gees gekom het – kan jy ook net so! Ek het nie besef hoe koud my hart geword het nie. Ek het nie sonde gehaat met ‘n goddelike haat soos ek behoort nie. Ek het nie geweet die wêreld het stadig in my siel ingesluip en my geestelik swak en droog gemaak nie. Ek het nie meer gevas of neergeval voor Sy heilige teenwoordigheid totdat Sy goddelike heiligheid my gesmelt en gebreek het nie. Ek het gedink die enigste vas wat nodig was vandag, was Jesaja se “afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes,” Maar ek het dit as ‘n verskoning gebruik sodat ek nie nodig gehad het om van selfs een maaltyd af weg te bly om plek te maak vir gebed nie.

Ek was een van die bedienaars wat so maklik geroem het, “Ek weier om in my hart in te kyk – ek weet dit is sondig – so ek sal net dat Jesus dit alles vergewe en ek sal vergeet.” Dit klink soos Nuwe Testament teologie – maar dit is ‘n slegs halwe waarheid. Ons gee nooit ons aantrekking vir sonde oor; ons kom nooit by die wortels uit – totdat ons sien hoe ontsaglik sondig ons is nie en hoe desperaat ons die genade en barmhartigheid van Christus nodig het nie. Ons kap die boom af en laat die wortels toe om weer uit te spruit.

O, ja – ek het gebid en my Bybel gelees; en ek het gepreek en ek het vir die behoeftiges gegee; en ek het my vrou en kinders liefgehad; en ek het gedink ek was ‘n baie eerlike, nederige en opregte bedienaar. Maar dit was voor die Heilige Gees my ‘n eerlike kyk in die spieël van Sy geregtigheid gegee het. Ek het dinge gesien wat my geskok het. Ek was nie totaal oorgegee nie. Ek was steeds in die kloue van subtiele vorme van hoogmoed. Ek was stadig vergiftig met die liefde vir gemak, gerief en erkenning. Dit was meestal in die onderbewussyn, maar steeds baie werklik. Maar God het in sy genade my wakker gemaak! Hy het my in Sy deernisvolle arms geneem en my teruggeplaas op heilige grond. Dit is net ‘n begin en ek het nog ver om te gaan, maar ek sal nie omdraai nie.

Daar was ander tye wanneer God my geroep het om “die hele pad” te gaan na ‘n dieper en lewensveranderende oorgawe, maar ek het te besig geraak om deur te druk. Maar nie hierdie keer nie – ek gaan al die pad, totdat Hy my verneder, reinig en my Sy kleed van ware geregtigheid gee.

My bediening verander! Die Heilige Gees reinig!

Veranderinge het binne-in my plaasgevind en nou ook in my kanselbediening. Deel van daardie reiniging is die musiek wat in al my veldtogte verander. Saam met my, word ons musiekgroep gelei deur die Gees om slegs lofprysing en aanbiddingsmusiek wat Christus verhef te sing en te speel. Daar sal geen musiek in ons byeenkomste wees wat die klanke van die goddelose rock of disco-groepe namaak nie. Geen vermaak nie! Ons gaan musiek speel wat die wilde geeste kalmeer, wat die Naam van Jesus verhoog, wat jongmense ‘n nugter kyk na hulleself sal gee en hulle sal begin smag na die dinge van God.

Ek weet baie musikante sal my glo, wanneer ek hier en nou profeteer dat God uit Sy kerk sal blaas al die musiek wat die hemel aanstoot gee. Die skop is in Sy hand op hierdie oomblik – baie van die hedendaagse musiek is kaf en sal gereinig word. Die dag is aan die kom wanneer sangers en groepe wat voortgaan om onheilige “godsdienstige” musiek te maak, binnekort nie meer ‘n gehoor sal hê nie. Jongmense wat vernuwe is, gelei deur die Gees van God, gaan gespeen word van alle musiek wat klink soos ‘n eggo van die rebelse verlede, insluitend enige musiek wat goddeloosheid verhef. Jongmense wat terugkeer na heiligheid en reinheid sal ‘n oor vir musiek ontwikkel wat genesend en aanbiddend is.

God gaan ‘n nuwe ding doen in musiek! Ek sien dit al lankal kom. ‘n Totale reiniging! Dit begin reeds gebeur. Net die afgelope week, het twee ander groepe vir my gesê hulle volgende album sal meer aanbidding en lofprysing op hê. Een welbekende musikant het vir my gesê, “God het my hart onlangs aangeraak. Ek gaan al my liedere nou op my knieë skryf. Geen dom lawwighede meer nie. Ek gee nie meer om oor albumverkope nie – ek wil net mense bedien.”

God het my belowe dat die jongmense die geheiligde klanke van die Gees sal geniet en eendag binnekort, dit sal verkies. Die herlewing van heiligheid wat kom, gaan die pragtige, opbouende musiek wat Christus begeer, terugbring. Alle herlewings van heiligheid, in al die vorige eeue, is vergesel met ‘n reiniging van musiek in die kerk. Hierdie profesie sal opreg getuig teenoor alle biddende lesers van hierdie brief. Voel jy nie ook die getuienis in jou hart dat verandering aan die kom is nie – reinigende, skoonmakende veranderinge?

Geen maklike geloof!

In hierdie herlewing van heiligheid wat kom, gaan God vra vir afsondering en toewyding. Geen pleisters meer plak op sonde nie. Sonde moenie net bely word nie, maar laat staan word. Mense wat daarop aanspraak maak om gered te wees, maar wat rondspeel met owerspel en hoerery, sal aan die kaak gestel word! Diegene wat met die paadjie in die kerk sal afstap om “gered” te word, sal nie meer wegkom met ‘n “eenvoudige gebed bid” nie. Nee! Hulle moet so oortuig word van hulle sondes dat hulle dit sal haat. Hulle sal nie van een van my veldtogte af weggaan met ‘n valse versekering, net omdat hulle ‘n paar trane gestort het en ‘n gebedjie opgesê het nie. Ek wil sien dat die Heilige Gees mense tref met soveel oortuiging van sonde dat hulle die “uiterste sondigheid van sonde” sal sien. Dan, wil ek hê dat die Gees meer as ‘n emosionele, oppervlakkige werk in hulle sal doen. Ek wil hê hulle moet sien hoe sondig, hoe volkome hulpeloos hulle is! Dan, wil ek hê hulle moet ‘n openbaring kry van die liefdevolle genade van Jesus Chrsitus – en ek wil hê hulle moet deur geloof die gawe van Sy heiligheid en geregtigheid ontvang! Ek wil hê hulle moet die koste bereken – die wêreld, sy plesiere en alle goddelose vriende prysgee – en volkome omdraai om met God te wandel.

Hierdie herlewing van heiligheid sal verwerp word deur baie. Hulle sal sê dit is ‘n terugkeer na wettiesheid; hulle sal sê dit is die “Wet verkondig”; hulle sal sê dit lei na slawerny! Maar hulle is verkeerd. Ek verag ook wettiese heiligheid. Maar die herlewing wat ek sien kom, is een van ware, Bybelse heiligheid. Dit sal fokus op innerlike waarheid en reinheid. Christus kom terug na ‘n kerk sonder vlek of rimpel, nie na ‘n kerk wat uitgestrek lê op ivoorbeddens van gemak, hebsug en selfsug nie. Wêreldsgesindheid is besig om God se kinders oor te neem – ‘n werk van God moet dit binnekort teëstaan.

Christus het nie net geween oor Egipte, Rome, of Griekeland nie – Hy het oor Jerusalem geween, Sy eie stad waarin Sy eie volk gewoon het. Die Woord sê:

“En my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees...” (2 Kronieke 7:14).

Is jy deel van Sy volk? Ervaar jy werklik die diep innerlike ontwaking waarvan ek praat? Beleef jy ‘n hernude honger na geregtigheid? Het jy siek en sat geword vir die leegheid en dwaasheid van die wêreld? Voel jy die nabyheid van Sy wederkoms? Roep jou geseënde Here jou terug na die binnekamer en terug na ‘n lewe van oorgawe en reinheid?

Maak gereed, heiliges! Terwyl die liberale kerk kouer en meer goddeloos word – terwyl die louwarm predikers voortgaan om valse hoop te bied – terwyl hierdie ou wêreld begin om te disintegreer, terwyl misdaad, geweld, werkloosheid en boosheid oral is – roep die Heilige Gees – “My kinders! Bely julle sondes! Verneder julleself, nou! Bekeer julle, nou! Roep die Here aan, nou!”

Heiliges van God – as jy dieselfde innerlike beroering beleef – vra God om jou siek te maak vir sonde, wêreldsheid en materialisme. Bid vir ‘n nuwe honger en dors na God se volheid. Keer terug na die binnekamer van gebed! Moenie hierdie volgende groot beweging van God se Gees in die land misloop nie!

Alles wat geskud kan word, sal geskud word. Musiek, sedes, families, kerke, kweekskole, kolleges en selfs die regering!

“En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly...” (Hebreërs 12:27).

Neem hierdie boodskap saam met jou na jou stil plek van gebed – lees dit biddend, en laat die Gees van God toe om jou te vermurwe en te breek, en jou te salf met vars olie! Heilig! Heilig! is ons God!

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebreërs 12:14).