Wees Heilig

David Wilkerson

Drie maande nadat Israel Egipte verlaat het, het hulle by die voet van die berg Sinai aangekom en laer opgeslaan. Moses het met daardie klipperige berg opgeklim om met die Here te praat. God het hom geroep en gesê:

“Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóu kan glo....Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre...en hulle gereed hou...

“En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg...En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het...en die hele berg het vreeslik gebewe...

“Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord...” (Exodus 19:9-19).

Wat het God gebulder vir Moses en Sy uitverkore volk? Hierdie woorde:

“En julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees...” (Exodus 19:6).

Daar is ‘n aardskuddende profesie in Hebreërs wat op die punt is om geopenbaar te word op hierdie tydstip. God het beloof om nog een keer te spreek – net soos Hy by berg Sinai gedoen het.

“Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemele bewe...” (Hebreërs 12:26).

“Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek...” (Hebreërs 12:25).

God gaan weereens uit die hemel praat. Die boodskap is dieselfde as wat dit was in Moses se tyd was. Ons God gaan nou hierdie ontsagwekkende bevel uitbulder.

“Wees heilig, want Ek is heilig!” (1 Petrus 1:16).

God vereis volmaakte heiligheid!

Ons kan nie wegkom van die taal van die Skrif nie! Ons durf dit nie waag om weg te deins van God se beskrywing van wie geroep is nie:

* Heilig en sonder blaam

* Glorieryk, sonder smet of rimpel

* Heilig, onberispelik, onbestraflik

* Regverdig, rein, skoon

* Gereinig van alle vuilheid van die vlees

Die hele wêreld weet uit jammerlike ervaring dat hierdie bevel om heilig soos God te wees, absoluut onmoontlik is! Die Skrif sê vir ons:

“Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie...Daar is niemand wat goed doen nie...” (Romeine 3:10-12).

Ons het almal gesondig en dit ontbreek ons aan God se heiligheid. Die hele mensdom het klaaglik misluk om die gebod te gehoorsaam om heilig soos God te wees. God het nie gesê, “Wees heilig!” nie. Hy het gesê, “Wees heilig, soos Ek heilig is!” Soos hierdie eeu meer en meer verdorwe en vuil word, sal die donderende oproep om heilig te wees harder en harder in die harte van mense word.

Daar is slegs drie maniere om te reageer op God se opdrag om heilig te wees. Op hierdie spesifieke uur is jy in die greep van een van hierdie reaksies.

I.Die eerste reaksie is om net moed te verloor en op te hou om die onmoontlike te probeer doen.

Ek het in ‘n tronk in Mexico City gepreek vir meer as 150 verkragters en moordenaars. Ek het al sommige van die sondigste mense op aarde bedien, insluitend prostitute, bendelede, dwelmslawe en hawelose alkoholiste. Een vraag kom altyd na vore – “Hoe het hy, of sy, so geword? Hoe het ‘n eens brose kind uitgedraai om so goddeloos en onheilig te word? Hoe het die duiwel so ‘n houvas op hulle gekry?”

Dieselfde vraag kan gevra word van die Jode wat God hoorbaar hoor praat het by die berg Sinai: “Hoe kan mense ooit die gedonder, die weerlig, die basuingeskal, die bonatuurlike rook, die geweldige aardbewing – en die kosmiese stem van die Almagtige God vergeet? Hoe kon hulle uitdraai om so ‘n goddelose, vulgêre, owerspelige en onheilige volk te word?” Vir ses dae het hierdie mense God se heerlikheid gesien – “En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg...” (Exodus 24:17). Toe, veertig dae later, het dieselfde mense – wat uitgestrek op die grond neergeval het weens God se heilige teenwoordigheid – nakend gedans rondom ‘n goue kalf – ‘n dooie afgod aanbid – gespeel, gehoereer, gefuif – totaal verdorwe! Binne net 40 dae van die hemel tot die hel!

God was woedend! Hy het Moses beveel – “Gaan heen, klim af, want jou volk...het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het [om ‘n heilige volk te wees]” (Exodus 32:7,8; my hakies).

Daar was niks soos hierdie in die geskiedenis van die wêreld nie. In net 40 dae, het ‘n heilige volk – en ‘n heilige priesterskap – hulleself verderflik gemaak. Aäron, die hoëpriester, was bo-op die berg Sinai saam met Moses.  “En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self...” (Exodus 24:10). Hoe kon ‘n man wat werklik die heerlikheid van God gesien het, so vinnig afdwaal, ‘n goue kalf maak, ‘n altaar daarvoor bou, en die hele Israel uitnooi om daarvoor neer te val en te aanbid?

Die rede vir hierdie skielike rebellie gaan terug na die berg Sinai – terug na daardie bulderende stem – terug na God se opdrag – “Wees heilig!”

Agter alle rebellie is ‘n woede teenoor God omdat daar geglo word dat Hy onmoontlike eise stel!

Dae lank het die Israeliete gebroei in hulle tente – vol vrees vir ‘n heilige God wat heiligheid van hulle vereis het. Hulle het gou agtergekom hoe onmoontlik dit was. Ek sien hoe hulle van tent tot tent gaan, in klein groepies saamkom en hulle woede uiter: “Hoe kan ons ooit so ‘n onmoontlike eis nakom? Hoe kan ons soos God wees? Sommige het die ondenkbare gesê – “Wel, ek weet wat ek gaan doen – ek weier om in vrees te leef! Ek sal nie ‘n God van vrees – ‘n God wat sulke onmoontlike eise stel – dien nie!”

Gou het die rebellie soos ‘n veldbrand versprei. Mense het begin sê, “Waarom sou daardie God van Moses ons na die woestyn bring, wetend hoe swak en broos ons is, en ons toelaat om versoek te word – en boonop die onmoontlike van ons vereis?”

Selfs Aäron, die hoëpriester, moes toegee aan hierdie woede – hierdie gevoel van hulpeloosheid. Hy het die heiligheid van God gesien en dit het so hoog en onbereikbaar gelyk. Hy het van die berg Sinai afgekom na die realiteit van sy eie sondigheid! Uiteindelik, het hy ook gesê, “Wat is die nut – ek sal dit nooit maak nie – ek is te swak en sondig.”

Die wêreld is kwaad vir God! Kwaad omdat Hy hulle in ‘n woestyn van versoeking en sonde ingebring het – hulle laat bewe het van vrees – en toe vereis het dat hulle rein en heilig moet wees. En, die ergste van alles – soos hulle gedink het – niemand om vir hulle te wys hoe om heilig en goed te wees nie!

II.Nog ‘n reaksie op God se eis vir heiligheid is – om die heel beste te doen, menslik gesproke, om te gehoorsaam!

Watter pyn, watter lyding, watter bonatuurlike poging wat verduur word deur ywerige mense wat probeer om God se gebod om heilig te wees te gehoorsaam! Paulus het van hulle gesê:

“Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie...” (Romeine 10:2,3).

Hulle het God se bulderende stem gehoor, “Wees heilig!” Daarom antwoord hulle, “Ek sal heilig wees – al maak dit my dood!” Hulle leef onder ‘n verskriklike las omdat hulle die Skrifte nie ken nie! Hulle wil heilig wees en daarom probeer hulle God gehoorsaam met pure wilskrag.

 Sê die Bybel nie immers die volgende nie:

* Vermy die verskyning van boosheid

* Weerstaan die duiwel en hy sal van jou af wegvlug

* Lê die sonde wat jou so maklik verstrik af

* Lê die ou mens af saam met al sy bose begeertes

* Moenie jou liggaam oorgee aan versoeking nie

Dit klink of God al die verantwoordelikheid op ons geplaas het. Daarom begin ons – en probeer om heilig te wees!

Sommige hou op rook, drink, dans, kaartspeel – en selfs teater toe gaan. Ander probeer God behaag met vas, gebed en by Hom te pleit om “al my bose begeertes weg te neem.” Een belofte na ‘n ander word gemaak – net om gebreek te word! Soms, deur bonatuurlike pogings, kan hulle ‘n week, ‘n maand, of langer uithou – en nie toegee aan ‘n boesemsonde nie. Dan, net as hulle dink die oorwinning is behaal, val hulle terug! Versoek, verslaan – en wanhopig agtergelaat!

Waarom? Omdat dit alles verniet is, tensy hulle hul onderwerp aan die geregtigheid van Christus deur geloof. Hulle het hulleself voor ‘n onmoontlike taak gestel! Al ons goeie werke moet spruit uit ‘n rein hart, geheilig deur geloof in Christus se werk aan die kruis. 

God verag elke menslike poging om heilig te wees – wanneer dit gedoen word in die mens se eie krag! Hy verag elke boek, elke preek, elke leerstelling wat mense oproep tot heiligheid deur mensgemaakte reëls en tradisies. Hele heiligheidsbewegings is gebore uit die mens se begeerte om alles wat menslik moontlik is te doen om God te behaag en heilig te wees. ‘n Paar het volslae wettiste geword.

Die kerkgeskiedenis is vol belaglike idees van hoe om heilig te wees. Ek het gelees van monnikke wat op bondels dorings en hope gebreekte glas slaap. Ander bind een voet vas, hop rond op die ander voet totdat hulle die gebruik van die vasgebinde een verloor het. Simon Stylites het vir dertig jaar bo-op ‘n pilaar gestaan en toe hy te swak was om daar te bly, het hy ‘n paal opgerig en homself daaraan vasgeketting. In die Middeleeue, het lang rye selfkastyders van land tot land gereis, geween, hartseer gesange van berou gesing en hulle kaal rûe met swepe geslaan terwyl hulle gestap het. Duisende het aan hierdie optogte deelgeneem in ‘n poging om “die boosheid uit te sweepslag.”

Ons is net so skuldig. Ons het bloot hedendaagse maniere gevind om heiligheid te skep. Eers was kort hare sondig – toe lang hare. Grimering en juweliersware was deur sommige beskou as baie wêrelds. Lang moue en lang rokke vir vroue was heilig beskou. Kook op Sondag of fietsry op die Sabbat was sondig. Sommige het gedink jy moes arm wees om heilig te wees. Ander het gedink God verwag ‘n volkome onttrekking van die samelewing – en kloosters is begin.

Dink aan al die boeke geskryf deur “heilige” mense. Mense wat heiligheid so onbereikbaar laat klink het – asof dit ‘n leeftyd van selfverloëning – verdrukking – smart – lang vastye en diepe nederigheid verg. Hierdie boeke klink so deugsaam – so heilig en rein. Maar baie daarvan is gruwelik in God se oë. Omdat hierdie sogenaamde mense hulle nog nooit onderwerp het aan die geregtigheid van Christus nie – ‘n gawe gegee deur geloof alleen.

Die apostel Paulus het gesê:

“En in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof...” (Filippense 3:9).

III.Die enigste behoorlike reaksie op God se eis vir heiligheid, is volkome oorgawe aan die heiligheid van Christus!

“Maar die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet...die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie...en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is...” (Romeine 3:21-24).

God het aan ons ‘n seker manier gegee om absoluut heilig en volmaak in Sy oë te word – waardeur al Sy kinders met absolute vrede en blydskap kan lewe, met die wete dat God hulle heilig, rein en onberispelik sien. En dit is alles ‘n gratis geskenk!

Sy geskenk van heiligheid kan nooit ‘n beloning wees vir enigiets wat ons gedoen het nie. Dit is ‘n onverdiende guns! ‘n Duidelike gawe!

“Was Abraham nie deur God aanvaar vir al sy goeie dade nie? Het hy nie sy reg tot die hemel verdien deur al die goeie dinge wat hy gedoen het nie? Nee! Want geregtigheid is ‘n geskenk; as ‘n mens dit kon verdien deur goed te doen, dan sou dit nie gratis wees nie – maar dit is! Dit is gegee aan diegene wat nie daarvoor werk nie. God verklaar dat sondaars heilig is in sy oë as hulle geloof in Christus het om hulle van God se toorn te red...” (Romeine 4:1-5).

Sommige redeneer – “Ek weet dat om heilig te word, menslik onmoontlik is.” Met ander woorde – “Ek kan dit maak as God my net sal uithelp!” Ons dink blykbaar ons moet ons heel beste doen – en dan, as ons alles wat ons kan gedoen het – God dan aan te roep om ons ‘n hupstootjie te gee!

Verkeerd! Heeltemal verkeerd! Ons kan nie heilig wees nie – selfs nie met God se hulp nie – omdat God nie ‘n dief sal bystaan om op ‘n ander manier in te klim as wat Hy oopgemaak het nie.

Dit is die dilemma waarin so baie Christene hulle vandag bevind. Hulle bid – “O, God – sien U nie hoe hard ek probeer nie? Voel U nie die pyn van my hart nie? Sien U nie hoe hard ek stry om rein te bly nie? God – waarom kom U nie met spesiale krag om my te help in my stryd nie?”

Ons dink God behoort bly te wees oor ons tranerige pogings. Ons verwag dat Hy sal toekyk en applous gee vir ons harde werk – gretig om ons op te tel wanneer ons val. Ons neem aan Hy is tevrede met al die gesukkel, die stryd teen sonde, die weerstaan van versoeking! Maar God se Woord sê, “As iemand aan ‘n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie...” (2 Timótheüs 2:5).

God is glad nie daarin geïnteresseerd dat Christene die stryd voer teen sekere sondes nie. Hy is nie daarin geïnteresseerd om hulle swakplekke te verbind nie. Hy wil niks te doen hê met sekere gekose gevegte nie. Hy wil meer hê as dit – Hy wil die kleed van Christus se geregtigheid op diegene plaas wat smag na heiligheid! Hy wil ons vuil kleed van eiegeregtigheid verruil vir ‘n gees van heiligheid – ‘n lewe van heiligheid – deur geloof in Christus. Hy wil ‘n einde maak aan al ons ontmoedigende en nuttelose gesukkel om heilig te wees!

Onderwerping is die enigste pad na God se heiligheid – “...onderwerping aan die geregtigheid van Christus deur geloof...”

Onderwerp beteken “om die krag van jou wil te onderwerp.” Met God is daar nie so ‘n ding soos wilskrag nie – alle krag is Syne! Hy sal geen ander krag toelaat as Sy eie nie! God vereis absolute heiligheid vir ‘n rede – Hy wil hê ons moet nederig gemaak word deur hierdie vereiste! Hy waak oor ons stryd om heilig te wees met geduld en wag vir ons om so klaaglik te misluk dat ons na Sy troon sal hardloop, op ons knieë sal val en uitroep, “Dit is hopeloos! Ek sal nooit heilig wees nie! Ek is te swak – te sensueel – te sondig – daar is hoegenaamd geen goed in my nie!” Dit is die soort berou waarna God soek – om die swakheid van ons futiele pogings te bely – om te erken dat ons geen krag in onsself het nie.

Geliefde – hoor die volgende – jy kan nooit beklee wees met Christus se heiligheid nie, totdat jy op jou aangesig voor God se troon val – kaal, arm, ellendig, swak en totaal hulpeloos! Jy moet eens en vir altyd erken dat jy geen krag in jouself het om sonde te weerstaan nie – dat jy niks het om die Here te bied nie, behalwe ‘n stukkende, verslane en hulpelose stuk klei. Jy moet erken jy kan nie heilig wees nie – selfs nie met hulp nie. Jy moet heiligheid gegee word – as ‘n geskenk.

Die grootste geskenk wat jy vir God kan gee, is jou geloof dat Hy vir jou Sy heiligheid sal gee! Jesaja het gejuig:

“Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel...Want...so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies...” (Jesaja 61:10,11).

Alle hel is op die punt om uit te breek op hierdie veroordeelde wêreld van ons. Goddelose mense en verleiers sal selfs dapperder en meer gewelddadig word. Daar sal naaktheid wees tydens die vernaamste tye op TV – satelliet stasies sal X-gegradeerde films wys. Satan het oorlog verklaar teen die heiliges! Verdorwenheid, owerspel, drinkery – seksuele losbandigheid soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie. Oral sal daar goddeloosheid, vrees, harde harte – ‘n bespotting van alles wat goed en rein en heilig is – wees!

Hoe sal ons kan staande bly tydens so ‘n uur? Wat is ons verdediging? Hoe sal ons heilig bly in so ‘n goddelose eeu? Watter mens kan die stroom wat kom weerstaan? Wie kan homself daarvan weerhou om deur dit alles besmet en bevlek te word? Niemand nie! Nie in hulle eie krag nie.

Dit is waarom hierdie boodskap van algehele oorgawe ons siele moet aangryp! Slegs God het die mag om ons heilig te hou – om ons voor Homself te stel as ‘n heilige volk sonder vlek of rimpel!

Glo dit – Die God wat vir ons Sy heiligheid gee – het die mag om dit in ons te hou! Die veiligste plek op aarde is by die voet van die Kruis – nederig voor God se troon. Hoe boser die tye, hoe meer moet ons oorgegee lewe! Bly onderworpe! Moenie opgee nie – maar gee oor!

Jy sal dan weet wat dit werklik beteken om in die Gees te wandel – om nie die begeertes van die vlees te vervul nie. Dit beteken die volgende: om te alle tye te leef in ‘n konstante toestand van onderworpenheid en oorgawe aan God se krag! Om te leef in ‘n toestand van volkome oorgawe – en alle regte tot krag en self prys te gee. Om volkome afhanklik van God te word om alle dinge vir jou en deur jou te doen.

Wees Heilig – Soos Ek heilig is – deur geloof alleen!