Bewaar van die Groot Afvalligheid

David Wilkerson (1931-2011)

In ‘n brief aan die Christene in Thessalonika, praat Paulus van ‘n toekomstige gebeurtenis wat hy “die dag van die Here” noem. Hy skryf, “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereninging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie – deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees – asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (2 Thessalonicense 2:1-3).

Sommige teoloë glo dat die “dag van die Here” waarna Paulus hier verwys, die laaste oordeel is. Ek glo egter saam met die meeste kundiges dat Paulus hier van Christus se tweede koms praat. En Paulus sê dat Jesus se wederkoms nie sal plaasvind totdat twee dinge gebeur nie:

  1. Baie wat God eens geken het, sal afvallig word van die waarheid van die evangelie wat hulle ken.

  2. Die Antichris, of mens van sonde, sal “geopenbaar” word.

Dit moet vir alle liefhebbers van Jesus duidelik wees dat ‘n “afvalligheid” reeds plaasvind. Talle gelowiges vandag, sowel as Christene dwarsdeur die laaste paar dekades, het koud geword in hulle liefde vir God. In ‘n bose plan om die evangelie van Christus te verdraai, oortuig Satan massa’s gelowiges dat hulle aan hulle sondes kan toegee sonder om enige straf te ontvang. Dit verander Christus se evangelie in ‘n boodskap van wetteloosheid! Dit is tragies dat talle louwarm Christene toegee aan hierdie gees van wetteloosheid en hulle gereed maak om die mens van sonde (die Antichris) te aanvaar wanneer hy op die toneel verskyn en wonderwerke verrig en probleme oplos.

Jy mag dalk dink, “Ek sal nooit om die bos gelei word deur die Antichris nie.” Maar Paulus waarsku dat mense verblind en mislei sal word deur hulle eie sonde (2:9-10). Satan sal die wêreld oortuig, net soos hy vir Eva oortuig het dat God sonde nie straf nie (2:11).

Geliefde, dit hoef nie so te wees vir enigeen van ons nie. God het ‘n verbondsbelofte gemaak om alle misleiding van ons te verwyder en vir ons oorwinning oor sonde te gee deur die krag van Christus se kruis. Al wat Hy vra is dat ons oorlog verklaar teen ons sonde en sê, “Ek sal nie vrede maak met hierdie gewoonte nie. Ek weier om daarin te bly. Verlos my, Vader, deur u Gees!” Wanneer Hy hierdie gebed hoor, sal Hy so ‘n Heilige Gees krag en heerlikheid uit die hemel stuur dat die duiwel nie ‘n kans sal staan nie!

Bid nou dadelik dat God ‘n groot ontsag vir sy Woord in jou sal plant. Vra Hom om jou te help om gedissiplineerd te wees om die Skrif te lees. En vra die Heilige Gees om jou te help om alles wat jy lees ter harte te neem – om te glo dat God bedoel wat Hy sê!