Jy Het Toegang tot God Vandag

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus sê dat God ons aangeneem het net omdat Hy ons liefhet: “Na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Efésiërs 1:5-6).

Jy sê miskien, “Ek weet God se Woord sê dat ek aanvaar is en ek weet dat Jesus vir my direkte toegang tot die troon van genade beskik het. Maar ek is te skaam om tot Hom te nader. Ek sukkel met kragtige versoekings en ek sondig steeds per geleentheid. Die enigste gebed wat ek kan uiter is, ‘God, help my.’”

Beantwoord hierdie eenvoudige vraag: Het jy Jesus lief? Is jy sy kind? Is Hy jou Hoëpriester wat vir jou voorbidding doen? Indien wel, sê die Skrif dat dit nie saak maak wat jy gedoen het nie. Jy het die reg om in sy teenwoordigheid te kom, om al die barmhartigheid en genade wat jy nodig het te kry. Trouens, dit is op ‘n tyd soos hierdie dat Hy as jou Hoëpriester optree.

“Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:15-16).

Christus sê vir ons, “Ek kan al jou gedagtes, goed of sleg, onderskei. Ek sien alle geheime ambisies, elke geheime begeerte en daad. Ek nooi jou egter steeds uit om met vrymoedigheid na my troon te kom. Ek wil graag vir jou al die genade en barmhartigheid gee wat jy so desperaat nodig het.”

Sommige Christene dink hulle gebede sal nie aanvaar word nie omdat hulle vir te lank nagelaat het om te bid. Vir maande, selfs jare, het God se Gees hulle gedring om tot Hom te nader, maar hulle het ‘n reservoir van skuldgevoelens opgebou wat verooraak dat hulle nalaat om te bid.

“Hulle het ... neergedaal na die dieptes ... Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ’n gesuis gemaak ... Toe was hulle bly” (Psalm 107:26-30).

Jy kan God vertrou om jou lief te hê, te vergewe en vir jou te sorg al het jy Hom verwaarloos. As jy ‘n geliefde kan vergewe wat jou seergemaak het, hoeveel te meer sal ons liefdevolle Saligmaker jou, sy geliefde kind, vergewe en seën!