Die Anderkant van die Steen

Gary Wilkerson

“En Josef het die liggaam geneem...en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy ‘n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan” (Matthéüs 27:59-60).

Toe Jesus in die graf neergelê is ná sy kruisiging, het Hy die dissipels verward en met gebroke harte agtergelaat. Toe ‘n massiewe steen teen die opening gerol was om die ingang te seël, het almal die gevoel van finaliteit gehad. Jesus het immers gesê, “Dit is volbring” (Johannes 19:30) en toe het Hy sy hoof laat hang en gesterf.

Jesus se getroue volgelinge het geglo dat hulle Meester die hoop van die wêreld was, die verlossing van Israel en die lig vir die Heidene. Hy was die groot Geneesheer wat die dooies opgewek, die gevangenes vrygelaat en die goeie nuus aan die armes verkondig het. En nou was Hy dood!

Toe Jesus gesê het, “Dit is volbring,” moes sy volgelinge gedink het dat Hy bedoel dat alles heeltemal verby was, die einde van die storie.”   Hulle reaksie op sy begrafnis het ‘n gevoel van hopeloosheid gebring – maar hulle het nie geweet wat besig was om aan die ander kant te gebeur nie.

Heel dikwels, as Christene deur die beproewings van die lewe gaan, beleef hulle ook die gevoel van wanhoop. Al wat hulle sien, is ‘n steen wat permanent in plek gerol is om hulle van alle hoop te skei. Maar net soos die volgelinge van Jesus, kyk hulle na dinge van hierdie kant van die steen af. Binne-in die graf is die opstandingslewe – ‘n wonderwerk wat wag om te gebeur!

Die duiwel kan oorwinning verklaar, maar ‘n kragtige skudding begin. Op een of ander stadium, is Jesus aan die beweeg en in sy glorieryke tydsberekeing, sal Hy deur daardie deur in jou lewe stap en jou beproewing sal binne ‘n oomblik verander. Satan sal nie die laaste sê hê nie. Die dood het nie langer ‘n angel nie. Lig het die duisternis oorwin en die liefde van Jesus het alle boosheid oorwin.

Staan daar op hierdie oomblik ‘n steen tussen jou en God se verlossing? God is teenwoordig in jou lewe op hierdie oomblik (Hy is nooit nie aan die werk nie) en die steen word weggerol. Hy het getriomfeer oor al die magte van die duisternis en deur geloof is sy oorwinning joune.