Maar God Het Dit Ten Goede Gedink

Naby die begin van Jesus se bediening, het ‘n groep godsdienstige mense so kwaad vir Hom geword dat hulle probeer het om Hom dood te maak. Terwyl Hy in die sinagoge in Násaret, die dorp waarin Hy grootgeword, gepreek het, het Jesus iets gesê wat so aanstootlik vir sy luisteraars was, dat hulle in ‘n lynch-bende verander het.

‘n Paar minute vroeër, het dieselfde mense Hom geloof. Hy het die bekende gedeelte uit Jesaja aangehaal en verkondig dat Hy sou kom “om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig” (Lukas 4:18-19). Toe hulle dit hoor, het “almal ... vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom” (4:22).

Dit was Jesus se volgende woorde wat hulle woedend gemaak het: “Daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ’n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ’n weduwee. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër” (4:25-27).

Die gemeente het gereageer deur met woede uit te bars. “En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan” (4:28-30).

Waarom het dit die mense so ontstel? Dit was omdat hulle hul identitiet gebou het rondom die feit dat hulle God se uitverkorenes was, en Jesus het hier twee gedeeltes uitgewys waar God sy eie mense se lyding geïgnoreer het om vreemdelinge te genees en te verlos. Vir hulle, was dit kettery om te sê dat ‘n Siriese man en ‘n Libanese vrou net soveel van God se seën op hulle lewens gehad het as die Israeliete. Hulle het geregverdig gevoel om Jesus aan te val. Hulle woede was in werklikheid Satan se manier om Christus se bediening te stop voor dit kon begin.

Het jy al ooit gevoel jy word deur die duiwel na die krans se rand geneem omdat jy Jesus probeer volg?

Satan sal al die middele gebruik wat hy kan om jou geloof na ‘n krans te neem en dit oor te stoot. Hy wil meer doen as om jou huwelik minder vrugbaar te maak; hy wil dit oor die krans se rand stoot sodat dit nie langer bestaan nie. Hy wil jou so bekommerd oor jou geloof hê dat jou vertroue in Jesus in duie sal stort.

Miskien voel jy asof jy reeds in ‘n vryval is. Jou senuwee’s is gedaan en jou angsvlakke is ontsettend hoog. Jou omstandighede is so desperaat en sonder enige sigbare hoop, dat jy voel asof jy enige oomblik die bodem gaan tref. Diep binne huil jy en wonder, “Here, hoe kan U my ooit hieruit verlos?”

Ek bring vir jou goeie nuus: Jy gaan nie oor ‘n krans val nie. Dit is nie God se bestemming vir enige van sy kinders nie. Dit is onmoontlik vir ons om deur Satan veroordeel te word.  Ons voetstappe hang van die Here alleen af, en hierdie toneel demonstreer dit. Die bloeddorstige bende was gereed om Jesus dood te maak, “maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan” (4:28-30). Ek glo die Vader het wonderbaarlik ingegryp en gesê, “Ek het planne vir my Gesalfde. Jy sal nie aan Hom raak nie, Satan.”

Dieselfde Gees wat Jesus beskerm het, kan dieselfde vir ons doen omdat “die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon” (Romeine 8:11). Ons word bemoedig dat as ons deur vure gaan, sal ons nie skade ly nie, dat ons trouens op hoër grond sal uitkom: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:2).

Almal van ons wat Jesus volg, beleef probleme en druk, dinge wat ons na die rand van ‘n krans neem. God laat hierdie beproewings toe om ons na hoër grond te lei. Dit kan egter so intens wees, dat jy moontlik kan dink, “Daar is geen hoop meer nie. Nederlaag staar my in die gesig.” God wil hê jy moet weet dat Hy nie sal toelaat dat jy oorgestoot word nie. Dieselfde Gees wat Jesus tussen die wrede bende laat deurloop het, kan jou veilig daardeur dra. Hy wil nie hê jy moet gemanipuleer word deur die vyand se stem nie.

So, hoe loop ons deur daardie bende? Die Skrif antwoord, “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE” (Sagaría 4:6). Jesus verander ons verhaal deur sy krag, nie ons s’n nie. Paulus sê dit so: “Want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in [God se] krag” (1 Korinthiërs 4:20, my beklemtoning).

Jesus het ingetree om met die vyand se aanvalle teen ons in te meng.

Let op wat volgende in Christus se bediening gebeur: “En Hy het afgekom na Kapérnaüm, ’n stad van Galiléa, en hulle op die sabbat geleer. En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag. En in die sinagoge was daar ’n man met die gees van ’n onreine duiwel, en hy het met ’n groot stem uitgeskreeu en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!” (Lukas 4:31-34).

Wanneer duisternis en dood heers, gryp Jesus in. Ons mag dalk dink dat ons lewens die krans se rand nader, maar Jesus het getrou ingegryp en gesê, “Nie tydens my waak nie, duiwel.” Hy onderbreek die planne wat Satan teen ons opgestel het en verhoed dat sy bose intensies uitgevoer word.

Die tweede ding wat Jesus doen, is dat Hy die duiwel se werk kortknip. Volgens Markus se evangelie, het Jesus toe die duiwel gepraat het “hom bestraf” (Markus 1:25). Die Here sou nie die duiwel nog ‘n duim gegee het om daardie man se lewe te folter nie. Dit beteken baie vir ‘n bedienaar soos ek wat hoor hoe mense jaar na jaar verhale van slawerny bely. Mense beskryf vir my dekades van ‘n bitter huwelik, lang vervreemding van kinders, die greep van ‘n verslawing hulle hele volwasse lewens lank.

As jy onder daardie soort slawerny leef, maak dit nie saak hoe lank die vyand sy weg gehad het nie. Jesus wil dit kortknip, deur in te gryp en aan te kondig, “Genoeg is genoeg.” Die duiwel wat die besete man gepynig het, was nie opgewasse teen Jesus se krag nie. “En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak. Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir ’n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!” (Lukas 4:35-36).

‘n Derde ding wat Jesus doen, is om die duiwel se werk in jou lewe heeltemal te vernietig. Die demoon wat hom gemartel het, het vir Jesus geskreeu, “Het U gekom om ons te verdelg?” (4:34). Die verdelging waarna hy hier verwys het, beteken uitwissing. Jesus skeur nie net die duiwel se boek van leuens op nie; hy gooi al die stukke in sy heilige, verterende vuur sodat daar niks meer oor is om jou skade te doen nie. En die duiwel het ... uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak” (4:35).

Miskien het jy en jou huweliksmaat huwelikseminare bygewoon met die hoop om julle gespanne verhouding te herstel. Julle het geïnspireerd geraak; julle het goeie praktyke ingestel, en dit het goed gedoen om mekaar lief te hê, vir ‘n rukkie. ‘n Paar maande later het julle teruggeval in veragting, argumente en spanning.

Miskien is julle antwoord nie net om te bid en te probeer beter doen nie. Miskien moet Jesus iets verwoes wat julle voortdurend oor die krans se rand stuur. Moenie mislei word nie; Satan wil elke heilige band vernietig, insluitende die pragtige gawe van die huwelik. Die verstommende, goeie nuus is dat Jesus as jou Middelaar kom om elke bose mag wat teen jou opgestel is, te vernietig: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie” (Jesaja 54:17). Die Satan mag pyle na jou toe skiet, maar hulle sal nie hulle teiken bereik nie. Geen plan wat die duiwel teen jou smee, kan werk teen die bestemming wat God vir jou het nie.

Dit maak nie saak hoe jou beproewing lyk nie, jy is in Jesus se hande, nie die vyand s’n nie. Josef se boodskap aan sy sondige broers bevat ‘n magtige waarheid vir ons vandag: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou” (Génesis 50:20).

God laat jou beproewings toe vir sy koninkryksdoelwitte. Jou getroue volharding mag selfs ander red. So, moenie dink jy is op die punt om oor ‘n krans te val nie, want die teenoorgestelde is besig om te gebeur. Die Here is getrou, en Hy weet wanneer om in te gryp, Satan se planne te dwarsboom en die bose dade wat teen jou beplan word, kort te knip. Hy sal elke spoor daarvan in jou lewe verwoes. Niks kan die bestemming wat Hy vir jou beplan het, ontspoor nie. Hy wandel met jou deur elke vuur om jou by hoër grond uit te bring!