Hoe om Versoeking te Oorwin

David Wilkerson

Versoeking is ‘n uitnodiging of uitlokking tot ‘n immorele daad. Op die oomblik loop Satan woedend oor die aarde rond soos ‘n brullende leeu wat probeer om Christene te verslind deur kragtige uitlokkings tot immorele dade. Niemand is immuun daarteen nie en hoe nader jy aan God kom, hoe meer sal Satan begeer om jou te sif.

Sondaars kan nie versoek word nie — net die ware kinders van God kan! Reën kan nie ‘n liggaam, wat reeds onder water is, aanraak nie. Sondaars is reeds verdrink in verdoemenis. As kinders van Satan doen hulle soos hy dikteer. Hulle hoef nie versoek of uitgelok te word nie, want hulle is reeds immoreel — reeds veroordeel. As slawe is hulle nie vry om te kies nie. Hulle gaan slegs van dood, na twee keer dood, na “by die wortels uitgepluk word.” Sondaars kan deur die duiwel geterg word, maar nie versoek word nie. Satan terg sy eie kinders dieper in die donker put van immoraliteit in. Hulle is reeds dood in hulle oortredinge en sondes en stry nie langer die stryd van die lewendes nie. Dit is waarom ons Here ons roep om te juig wanneer ons deur verskillende versoekings oorval word. Ons beleef iets unieks wat slegs deur volwasse Christene ondervind word.

Versoekings is “opleiding onder gevegstoestande.” Dit is “beperkte” oorlogvoering. God beperk die oorlogvoering tot die punt van “draaglik.” God wil geharde gevegskrygers hȇ wat kan getuig, “Ek was in die spervuur! Ek was in die geveg! Die vyand was rondom my en het na my geskiet om my te probeer doodmaak, maar God het my gewys hoe om dit te hanteer en nie bang te wees nie. Ek het nou ondervinding, so volgende keer, “sal ek nie vrees nie.”

Versoeking is nie ‘n teken van swakheid of ‘n neiging na die wȇreld toe nie. Dit is eerder ‘n graduering, ‘n teken dat God ons vertrou. Die Gees het Jesus gelei na die arena van versoekinge in die woestyn, sodat Hy die geheim van die mag oor alle versoekinge kon leer. Eintlik het God aan Jesus gesȇ, “Seun, ek het aan jou die Gees gegee sonder mate. Ek het jou voor die wȇreld bevestig. Nou gaan Ek Satan toelaat om alles wat hy het teen jou te gebruik — sodat jy kan sien hoe magteloos hy werklik is — sodat jy nooit sy oorheersing sal vrees nie — sodat jy kan voortgaan om die koninkryk te verkondig met geloof dat Satan verslaan is — en dat hy jou nie op enige manier kan aanraak nie.”

En dit is waarom Christene vandag versoek word. Nie om ons iets van onsself te leer nie. Nie om die krag van die duiwel te vertoon nie. NEE! Versoeking word in die heiligste van lewens toegelaat om ons sodoende die beperkinge van Satan te leer! Om die duiwel se slagtande te trek. Om sy swakheid bloot te stel. Om Satan as ‘n voëlverskrikker te openbaar. Ons vrees slegs dit wat ons nie verstaan nie.

Satan is soos die Wizard of Oz wat allerlei skrikmaakgoed gebruik om geestelik onverligte mense bang te maak. Wat ‘n vreesaanjaende skouspel voer hy op. ‘n Klatergoud uitstalling van krag, sterkte en heerskappy. Maar God weet dat dit alles net ‘n flou geraas en kunsmatigheid is. Agter die skerms is ‘n swak towenaar; daardie onbelangrike, magtelose, bebrilde, kaalkop wese wat knoppies druk en hefbome trek. Wie by sy volle verstand, wat die mag van God ken, sal nie anders as om vir Satan se powere byvertoning te lag nie?

Wanneer ons versoek word, is dit God se manier om vir ons te sȇ — “Satan is magteloos — hy is nie wat hy voorgee om te wees nie — hy dra vals maskers en skiet vurige pyle wat gou sis en uitdoof in die teenwoordigheid van die waarheid. Maar jy moet dit vir jouself ontdek! Gaan in sy sirkus in! Staan op teen sy goedkoop dreigemente — en oorwin dan jou vrees vir hom! Hy sal jou nie bang maak nie — hy sal nie swakheid in jou openbaar nie — hy kan jou nie dwing om enigiets te doen nie! In plaas daarvan, sal jy sy swakheid ontdek! Jy sal hom aan die kaak stel as ‘n vals towenaar! Dan sal hy van jou af wegvlug, want hy wil nie hê dat jy met enige iemand anders die geheim wat jy ontdek het, moet deel nie.”

Dit is nie genoeg om te sȇ, “Dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie.” Dit beteken absoluut niks vir diegene wat reeds aan versoeking toegegee het nie. Die probleem is nie, om te leer hoe om versoeking te aanvaar as ‘n ondervinding waardeur alle Christene gaan nie, maar eerder wat om te doen om te verhoed om daarvoor te val. Die probleem is hoe om standvastig te bly staan wanneer Satan ons in sy strik wil vang! Ons wil weet hoe om die krag en die moed te kry om nee te sȇ en daarby te bly. Hoe om krag te vind en “nie te beplan” om in te gee nie. Wanneer Satan soos ‘n riviervloed op ons afstorm, is daar nie tyd om na ons binnekamer te hardloop vir hulp nie. Daar mag dalk nie eers tyd wees om ‘n Bybel te gryp en ‘n paar kragtige beloftes op te soek om ons te bemoedig nie. Daar mag dalk nie eers ‘n sterk Christen vriend wees om ons op te hou in gebed nie. Skielik is versoeking op jou en moet jy ‘n onmiddelike besluit neem. Dit maak dit soveel belangriker dat Christene te alle tye die geheim van “sterk staan” met hulle sal dra, om enige tyd of plek en tydens alle versoekings gereed te wees.

Krag om sterk te staan en nie voor versoekings te swig nie, kom nie deur ons verstand met skrifgedeeltes te vul nie, of om beloftes te maak nie, of om ure in gebed en vas deur te bring nie, ook nie deur ons met goddelike Christen vriende en invloed te omring nie en ook nie om onsself aan ‘n groot geestelike saak oor te gee nie. Hierdie dinge is almal prysenswaardig en normaal vir Christelike groei. Maar dit is nie waar ons oorwinning lȇ nie.

Die eenvoudige geheim om sterk te staan onder alle versoeking is om die VREES VIR SATAN SE MAG TE BREEK! Vrees is die enigste mag wat Satan oor die mens het. God gee ons nie die gees van vrees nie. Dit kom alleenlik van Satan! Maar die mens is bang vir die duiwel. Bang vir demone. Bang vir mislukking. Bang dat sy begeertes en gewoontes nie kan verander nie. Bang vir innerlike begeertes wat mag losbars en sy lewe beheer. En hy is bang dat hy een van ‘n duisend is wat anders mag wees, inherent swak, vol wellus en nie meer gehelp kan word nie.

Die mensdom is bang dat hy nie sy sonde sal kan opgee nie. Hy krediteer Satan met mag wat hy nie het nie. Die mens roep uit, “Ek is verslaaf! Ek kan nie ophou nie! Ek is betower en in die duiwel se mag! Die duiwel veroorsaak dat ek dit doen!”

Vrees bring marteling! Solank jy bang is vir die duiwel, sal jy nooit die mag van enige versoeking kan breek nie. Dit is waarom Satan films soos “The Exorcist,” “The Omen,” en ‘n stortvloed van films wat mense laat opgooi en flou word van vrees, bevorder. Dit is waarom Satan so in sy noppies is met die lering wat tans in ons kerke begin kop uitsteek waarin beweer word dat demone Christene kan beset. Satan floreer op vrees! En Christene wat bang is vir die duiwel het baie beperkte of geen krag om sy verleiding te weerstaan nie.

Dis alles gebaseer op ‘n leuen! Daardie leuen is dat Satan die mag het om Christene onder druk af te breek. Dit is nie so nie! Jesus het gekom om al die mag van die duiwel oor die bloed-gewaste kinders van God te vernietig. Ek het al baie gewonder waarom God toelaat dat geestelike mense so versoek word. Hoekom verwyder God nie al die versoekinge nie, eerder as om “ook die uitkoms [te] gee, sodat julle dit kan weerstaan" (1 Korinthiërs 10:13)? Die antwoord is eenvoudig. Wanneer jy geleer het hoe magteloos Satan werklik is — wanneer jy geleer het dat hy jou nie kan dwing om iets te doen nie — wanneer jy geleer het dat God al die mag het om jou te bewaar van struikeling — dan kan jy “sterk staan” teenoor enigiets wat die Satan na jou kant toe gooi! Jy kan daardeur gaan sonder om bang te wees dat jy sal misluk!

Jy het al die volgende gehoor — Dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie! Ek sȇ — dit is nie die grootste sonde om in te gee vir versoeking nie. Die grootste van alle sonde is om nie te glo dat God die mag het om ons te verlos en ons verder te weerhou om weer toe te gee nie. Die belangrikste besluit wat jy as Christen ooit sal maak — is die besluit wat jy maak direk nadat jy misluk het!

Ons word nie verlos van versoeking nie, maar van die vrees van die duiwel, wat maak dat ons daarvoor val. Ons sal altyd versoek word, totdat ons by die plek van “rus” in ons geloof kom. Daardie rus is ‘n onwrikbare vertroue dat God Satan oorwin het, dat Satan geen reg en aanspraak op ons het nie, dat ons soos goud wat gelouter is deur die vuur sal uitkom.

‘n Dubbelhartige persoon is onvas in al sy weë. Dit is ‘n persoon wat glo dat die mag gelykop tussen God en Satan verdeel is. Dit verduidelik waarom “die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op" (Lukas 8:13). Hulle val terug in vrees. Hulle verloor God se almagtige krag uit die oog. Hulle bewe onder Satan se leuens van vrees. Jesus leer ons dat ons moet bid dat ons nie “in versoeking gelei” word nie. Ons moet dit onthou en bid “dat ons nie in die versoeking ingaan” nie. Die gees is gewillig maar die vlees is swak. Die gees van God in jou smag om jou te leer om vertroue in God se krag te hȇ, maar die vlees wil toegee aan vrees. Ek glo dit was vrees — nie moegheid nie — wat die dissipels laat slaap het terwyl Jesus in die tuin gebid het. Hulle het pas die nuus ontvang dat Hy verraai is, dat Jesus uitgelewer gaan word aan sondige mense, dat Petrus ‘n verloëner gaan word en dat hulle almal aanstoot sal neem en verstrooi gaan word. Skielik het hulle van al Sy wonderwerke vergeet, Sy magtige krag om siekes gesond te maak en om dooies op te wek. Sy krag om brood en visse te vermenigvuldig. Hulle was nou verskrik van vrees. Hulle het gevrees vir hulle vlees. Hulle het gevrees dat hulle deur die Here verlaat gaan word. Hulle het die slaap van verdoemde mense geslaap. Wanneer Jesus ons vra om te bid dat ons nie in versoeking gelei word nie, sȇ Hy eintlik — “Bid dat julle sal leer om nou op God se krag te vertrou, in plaas daarvan om gedurig terug te gaan na die arena van versoeking totdat die les geleer is!” Bid dat jy nie in versoeking hoef gelei te word nie omdat die lesse wat jy geleer gaan word, reeds geleer is!

Die Bybel sȇ God “weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red" (2 Petrus 2:9). Hoe? Deur ons deur die vuurdoop te laat gaan totdat ons singend daar uitkom. “Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is" (1 Johannes 4:4). Totdat ons leer dat ons slegs deur geloof kan oorwin! Totdat ons vir eens en vir altyd erken: “Die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak" (1 Johannes 3:8).

Jy hoef nie te swig voor versoekings nie, maar soms sal jy dalk! Selfs die heiligstes van God sal somtyds sondig. Dit is hoekom God spesiale voorsiening gemaak het vir hulle wat misluk. “En as een van ons sondig — ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader" (1 Johannes 2:1).

Ons Here is nie naastenby so hartseer oor die feit dat ons geswig het voor versoekings nie, as wat Hy is oor ons wat nie leer hoe om dit te hanteer nie. Hy is meer seergemaak oor die feit dat ons nie op sy krag vertrou het om ons te verlos nie. God is nie so seergemaak oor wat ons gedoen het, as wat Hy is oor wat ons nie gedoen het nie. Jesus het van diepe droefheid geween oor die stad Jerusalem. Nie oor die sondes in die stad nie. Nie oor die alkoholisme, prostitusie, egbreuk, lieg en bedrieg nie — maar omdat Hy vrede en verlossing aangebied het… “maar hulle wou nie!” Hulle wou nie in eenvoudige geloof kom nie. Hulle wou Hom nie op Sy woord neem nie. Hulle wou nie skuiling neem onder Sy beskermende vlerk nie. Hulle ongeloof in sy mag het Hom laat ween. ‘n Sondaar is iemand wat leef soos een wat verklaar dat die duiwel meer mag het as God. Die Christen wat oorwin, is iemand wie se lewe getuig “aan God behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen!”

Sommige mense wil nie regtig vry wees van hulle versoekings nie. Hulle flankeer en speel daarmee — ‘n tipe van geestelike waaghalsigheid. Hulle weet dat God hulle kan weghou van sonde af — maar diep binne-in verkies hulle om ‘n seisoen van pret en immorele rondtes te hȇ — ‘n smakie van die verbode. Hulle is bang om God te vertrou vir die krag om die versoekings te oorwin, omdat hulle nie regtig seker is dat hulle uit die versoekings wil kom nie. Dit is te aanloklik! Hulle wil nie die Here hartseer maak en hulle rûe op Sy liefde keer nie. Hulle wil bevry word — “na ‘n rukkie.” ‘n Halfpad bevryding “net betyds.” Te veel is bang om alles aan die Here oor te gee omdat hulle nog steeds smag na Satan se aanloklike bekoring. Satan maak toegee so geleë, so eenvoudig en maklik.

Maar God het die krag om ons die “wil” te gee om vry te wees. Hy kan in ons die wil plaas om die versoekings te oorwin en die krag om daardie wil uit te voer. As Satan die wil om te sondig in ‘n mens kan plaas, dan kan en sal God die wil in sy kinders plaas om dit te oorwin. Ons werk is slegs om te glo dat God in staat is om ons wil te heilig en ‘n oorweldigende begeerte in ons sal plaas om die duiwel se uitnodiging te weerstaan. “Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer" (Filippense 2:13).

Wil jy die krag hȇ om versoekings te verdra? ‘n Ontsnappingsroete? ‘n Groeiende krag om dit te weerstaan? Hou dan op om die duiwel te verheerlik! Hou op om te dink hy kan jou dwing om te sondig!  Hy het geen mag om jou aan enigiets te verslaaf nie! Gebruik jou skild van geloof! Kyk daardie storm van versoeking reguit in die oë en roep uit, “en die duiwel kry geen houvas op hom nie" (1 Johannes 5:18). Oorwin jou vrees vir die duiwel se mag en jy sal vir altyd enige versoekinge kan verdra wat hy na jou kant toe stuur. Dit is eenvoudig, “vertrou die bewaring van jou geloof toe aan Hom, as die getroue Skepper.”

En die belangrikste van alles, moet jou “…in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie..." (Filippense 1:28).