Hierdie Is Jou Jaar Van Verlossing!

Oorweeg die voortreflike getuienis van Koning Dawid: “Die Here is my rots, my skuilplek, en my redder; my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos” (2 Samuel 22:2-3). Hy het van die goddelike gesȇ, “Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here” (Psalm 112:7).

Ongelukkig maak die Bybel dit duidelik dat net `n klein persentasie van God se kinders Hom deur die eeue werklik vertrou het as hulle verlosser. As jy vandag om jou kyk na die gelowiges, hoeveel mense sien jy wat optree met so `n vreedsame geloof?

God verlos Israel keer op keer tydens hulle reise deur die aaklige wildernis. En tog ten spyte van al die kere wat Hy hulle verlos het, het Israel nooit ‘n vaste geloof in God verkry nie. Moses het hulle tereg gewys, “Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra” (Deuteronómium 1:31). Hy het Israel daaraan herinner, “God het julle bewaar deur al die plae, Hy het julle deur die warm woestyn gebring het, die see geopen sodat julle kan deurloop. Hy het julle met vuur en `n pilaar van rook gelei en het julle kos gegee uit die hemelruim en water uit `n klip. Tot en met hierdie oomblik het God julle nie eers een keer in die steek gelaat nie. Waarom wil julle Hom nie vertrou om julle te bevry nie? Hoeveel wonderwerke moet Hy nog doen?”

Jy mag in die versoeking kom om daardie Israeliete te oordeel. Maar in werklikheid reageer baie van ons op presies dieselfde wyse wanneer ons ‘n krisis beleef. Ons wonder hoe God dit kon toegelaat het en hoe ons dit ooit gaan oorleef. Wanneer dít gebeur, is ons sonde erger as die van die Israeliete, want ons het eeue gehad van die getuienis rakende God se getrouheid. Moses kon vandag voor die kerk staan en sȇ, “Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie” (Deuteronómium 1:32-33).

God neem ons onwilligheid om hom te vertrou as ons verlosser nie ligtelik op nie. Jy mag beswaar maak, “God weet dat ek swak is. Hy verstaan waarom ek by tye kla.” Tog het God ‘n spesifieke reaksie gehad teenoor hulle wat Hom nie geglo het nie: “Toe die Here hoor wat julle sê, het sy toorn ontvlam en Hy het ‘n eed afgelê: Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie. … Net Kaleb … (en) Joshua” (Deuteronómium 1:34-36, 38).

Slegs Joshua en Kaleb was bereid om in die beloofde land in te gaan en het geglo dat God aan hulle die oorwinning sal gee. God het die res van die volk gewaarsku, “Moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie” (Deuteronómium 1:42). Kortliks: “As julle my nie vertrou nie, moet dan nie eers probeer om die vyand aan te durf nie. Julle sal deur hulle oorweldig word.”

Hierdie een versie verduidelik waarom so baie Christene van een nederlaag na ‘n ander gaan. God het hulle verlossing na verlossing getoon maar die vyand het die opperhand in hulle lewens verkry. Hoe?  Hulle vertrou nog steeds nie werklik op God nie. As ‘n gevolg daarvan gooi die duiwel hulle steeds geestelik en emosioneel rond want hulle harte is nie gevestig op hulle Redder se getrouheid nie.

Miskien beskryf dit jou. Straks lȇ jy ook snags wakker en bekommer jou oor die probleme van die lewe. Soos die Israeliete vertel jy ook vir jouself, “Ek het die reg om ontmoedig te voel. Die toekoms lyk so  hopeloos!” Maar sulke ongeloof open die deur vir die vyand om ‘n vastrap plek te verkry. “Toe [het] al daardie weerbare manne onder die volk uitgesterf” (Deuteronómium 2:16).

Jy mag dink, “Wat se soort God praat jy van? Dit is so Ou Testamenties. God is nie streng met twyfelaars wat onder sy genade is nie.” Verkeerd. In die Nuwe Testament waarsku die outeur van Hebrieërs ons: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, … soos in die woestyn … Ek 'n afkeer van hierdie geslag gekry … Met hulle hart is hulle gedurig op 'n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie. Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle 'n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie (Hebreërs 3:7-8,10,12).

Die Bybel is baie duidelik en sȇ aan die Nuwe Verbond gelowiges, “Ongeloof bring verwydering van God.” Hier is die kern versie van die selfde gedeelte: “Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie. Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie” (Hebreërs 3:19, 4:1). Wanneer jy God ignoreer as jou redder dan grou jy net jouself dieper in jou probleme in.

Wonder jy hoe sommige gelowiges in tye van beproewing vreugdevol kan wees?

Sommige gelowiges blyk nooit bekommerd te wees nie. Hulle kla nooit nie. Inteendeel, hulle is gelukkig selfs wanneer hulle groot lyding beleef. So, is hulle dan naïef? Is hulle maar net goedaardig of optimisties? Nee, glad nie. Hulle het vrede want in hulle harte aanbid hulle God. Hulle het alles aan die Vader opgedra en vertrou geheel en al op Hom.

Dawid vertel ons, “In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God..… Hy luister na my. Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet” (2 Samuel 22:7,20). Terwyl ek hierdie woorde lees, tref dit my hard. Dit betekenis hier is, “God verheug homself daarin om my te red. Dit gee Hom groot plesier wanneer ek hom vertrou om my uit die modder te trek.”

Jy mag glo dat as jy baie ure op ‘n dag bid of ‘n klomp bladsye van die Bybel lees, God dan tevrede met jou sal wees. Daardie standaarde is nie eens skriftuurlik nie. As jy jou hart aan Jesus gegee het, dan verbly Hy homself alreeds in jou. “En Jesus antwoord hulle: Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het” (Johannes 6:29). Daar is inderdaad ‘n seën van geluk vir hulle wat hulle bekommernisse op God werp: “Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed” (Spreuke 16:20). Hierdie tipe vreugde koms slegs van ‘n gevestigde kennis wat jou geloof in al God se verlossende krag in beweging sit.

Sommige Christene moet nog verlossing vind van daardie een sonde wat hulle bind. “Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop” (Hebreërs 12:1). Wat kom jaar na jaar telkens weer vir jou op? Jy is lief vir God, maar iets staan in die weg van jou groei en volwassenheid in die Here. Is dit ‘n onbeheerbare temperament? Draai jy om in woede op jou gade of kinders?

Ek sê jou, dit is nie net jou vlees wat jou dryf om onbeheerbaar te kere te gaan nie. Dit is ‘n drang, ‘n oorweldigende vloed wat uit die put van die hel kom: “Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is 'n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie” (Spreuke 27:4). Jy mag goed doen vir `n maand of twee. Jou familie mag jou vergewe en dink alles gaan goed. Dan skielik word jy weer oorweldig.

Miskien is jou worsteling nie met woede nie maar met jaloesie. Dag en nag word jy lastig geval deur afguns op ander. Jaloesie in die lewe van ‘n gelowige is een van die mees bedrieglike en destruktiewe implemente van die vyand. God noem jaloesie ‘n “gloeiende vuur” (Spreuke 6:34). Dit stel `n “siekte van waansinnigheid” voor, ‘n onbeheerbare innerlike storm. Jaloesie se verwoestende vlamme vernietig verhoudings. Strydig met wat ons mag dink, is jaloesie nie “liefde op die verdediging” nie, of “ware liefde wat beledig is” nie. Die Skrif sȇ die teenoorgestelde, dat die liefde “is nie afgunstig nie” (1 Korinthiërs 13:4).

Wat is jaloesie dan? Dit is die teenoorgestelde van vertroue. Jaloesie doen die werk van die hel, nie die hemel nie. “Want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade” (Jakobus 3:16). “'n Kalm gemoed hou die liggaam gesond; hartstog [jaloesie] vreet 'n mens op” (Spreuke 14:30). Jaloesie is die versteekte vrot van passie in die diepste van ons wese. Dit lei ons daartoe om ander te beskuldig van dinge waartoe ons weet ons self in staat is. Jaloesie openbaar `n gesindheid van, “Ek vertrou nie myself nie en daarom vertrou ek ander ook nie.”

As daar nie met jaloesie gedeel word nie, dan lei dit tot allerhande demoniese aktiwiteite. Paulus sê hulle wat oorgegee is aan ‘n slegte gesindheid, was “vol jaloesie” (Romeine 1:29). Inderdaad, jaloesie gee geboorte aan die einste ding wat dit vrees: hoerery, owerspel, wellus.

Ons kan nie van jaloesie bevry word totdat ons dit vir die aaklige sonde sien, wat dit is nie. Ons moet gewillig wees om te bieg, “Ja ek is jaloers op so en so.” Terselfdertyd moet ons glo, “My God is ‘n verlosser. Hy het al die mag om my vry te maak en my van jaloesie te weerhou.”

Hoe begin ons die proses om van jaloesie en toorn bevry te word? Die eerste stap is om te erken dat ons vertroue nie in ander mense is nie. In plaas daarvan moet ons Christus in mekaar vertrou; daarom is ons welstand nie afhanklik van ons gade nie. Dit is in Jesus. Christus sȇ vir ons, “Ek is verantwoordelik daarvoor om jou gade te bewaar. As Ek hom of haar nie kan bewaar nie, wat is die kanse dat jy kan? Dra hom of haar aan My op.”

Vandag is daar een dominante vrees, waarvan God se kinders gered moet word: Finansiële vrees.

As daar ‘n vrees is wat jou uitmergel dan is hierdie een, die een wat die meeste marteling teweeg bring in vandag se wȇreld. Ons almal staar soveel, “wat asse” in die gesig: Wat as ek my werk verloor? My huis? Wat as ek nie die rekeninge kan betaal nie? Waar sal ons bly en wat sal ons eet? Of, hoe gaan my kinders dit maak?”

Jesus sȇ, “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Mattéüs 6:31-33).

Oorweeg die scenario waarmee ek begin het: die kinders van Israel in die woestyn. Ongeveer een miljoen manne saam met twee miljoen vroue, kinders en oues van dae is in die droë woestyn gelos.

Daar was nie ‘n supermark binne een honderd myl nie. Babas was honger, kinders het gehuil, grootouers het al swakker geword. Daar was niks behalwe die son, sand en wind rondom hulle nie en geen lewensmiddele nie.

So, was Moses mal toe hy hulle hierdie woestyn ingelei het? Dit is waarvan die mense hom beskuldig het. En dit is wat Egipte se Farao moes gedink het. Maar het God Israel in die woestyn gefaal? Nee, hy het hulle wonderbaarlik daarvan verlos. Hy het wonderbaarlike engele voedsel gebring, wonderbaarlike water uit ‘n rots, wonderbaarlike leiding, wonderbaarlike beskerming.

Nou vra ek jou: hoe sal God jou versorg as die bodem uitval? Onthou, God is nie beperk tot dit wat op Wall Street, of in Indië of in Sjina gebeur nie. Hy kyk slegs na ons harte en vra, glo jy dat ek jou redder is? Sal jy my vertrou om jou te bevry en jou deur te sien?

Dit maak nie saak as die ekonomie totaal platval nie.  God belowe, jy sal nie vir brood bedel nie. Al moet Hy veroorsaak dat ‘n trok wat aartappels vervoer voor jou deur onklaar raak, sal Hy vir jou sorg. Hy het dit wonderbaarlik vir die antieke Israel gedoen en Hy sal dit verseker ook vandag vir sy mense doen.

Is daar iets waarvan jy bevry moet word? Bid dan hierdie gebed: Here, ek wy myself aan U toe as my enigste redder. Ek weet U voorsien alles. Maak nie saak op watter manier dit kom nie, U is my enigste bron. Ek wil staan by hierdie geloofsoortuiging, nie net as ‘n doktrine nie maar met my hele hart.

Hierdie is jou jaar van verlossing deur jou hele toekoms in God se hande te plaas. Vertrou Hom om jou gebed te verhoor en alles wat jy in jou moeilike tye nodig het, te voorsien. Hy sal jou verlos!