Harte Gevange tot God

David Wilkerson (1931-2011)

Paulus verwys dikwels na homself as “die gevangene van Christus Jesus” (Efésiërs 3:1). Paulus het ook geskryf: “Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of my, sy gevangene nie” (2 Timoteus 1:8). Tot op sy oudag, was Paulus verheug dat hy deur die Here aangekeer is en gevange geneem is om sy wil te doen (sien Filémon 9). Paulus kon jou die presiese uur sê toe die Here hom gevange geneem het. Hy was op pad na Damaskus met amptelike briewe van die hoëpriester wat hom gemagtig het om Christene in hegtenis te neem en terug te bring na Jerusalem. Die Skrif sê dat hy “dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here” (Handelinge 9:1). Met ander woorde, hy was vol haat, bitterheid en woede in sy misleide ywer vir God.

Maar toe Paulus naby Damaskus kom, “omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af” (Handelinge 9:3). Hy is heeltemal verblind deur daardie lig, wat Christus se heerlikheid was. Paulus getuig oor en oor hoe hy aan die hand geneem en na Damaskus gelei moes word. Kortom, hy was ‘n hulpelose gevangene. Hy het drie dae alleen in ‘n kamer deurgebring, sonder sig en het kos geweier. Hy was ‘n gevangene in gees, siel en liggaam.

Wat het toe in daardie kamer gebeur? Die Heilige Gees het Saul verander in Paulus, ‘n gevangene van Jesus Christus. Terwyl ons Handelinge 9 lees, kan ons Paulus se pynlike gebed amper hoor: “Here, ek het gedink ek doen u wil – hoe kon ek so blind wees? U het my vleeslike sig weggeneem en my geestelike oë gegee om te sien! Die hele tyd het ek my eie ding gedoen en uitgevoer wat ek gedink reg was. Maar ek kan my eie gedagtes nie vertrou nie.”

 Op die oomblik, werk die Heilige Gees dwarsdeur die wêreld en roep alle genooide gaste op om hulleself gereed te maak en te kom: “Alles is nou gereed” (Lukas 14:17). Baie maak verskonings om hulleself nie aan die Here te verbind nie. “En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig” (Lukas 14:18).

Jesus waarsku ons teen die laaste uur se versoeking om op hierdie wêreld verlief te wees en ek doen ‘n beroep op jou om aan sy stem gehoor te gee. Onderwerp jouself aan Hom en bid hierdie gebed: “Here, ek is siek en sat vir my onafhanklike gees en ek strek my arms na U toe uit. Sit u liefdevolle arm om my en bind my aan U vas.”