Hoop Wanneer Jy Voel Jy Misluk

David Wilkerson (1931-2011)

Voel jy ooit asof jy nie veel in die lewe bereik het nie en dat baie beloftes onvervul bly? Indien wel, is jy in goeie geselskap; trouens, jy staan tussen geestelike reuse.

Baie vername dienaars van God dwarsdeur die geskiedenis het op die ou end gevoel asof hulle in hulle roeping misluk het. Die profeet Elia het na sy lewe gekyk en uitgeroep, “Here, neem my huistoe! Ek is nie beter as my vaders nie en almal van hulle het U teleurgestel. Asseblief, neem my lewe! Alles was verniet” (sien 1 Konings 19:4).

David Livingstone, een van die wêreld se vrugbaarste sendelinge, het die Afrika kontinent oopgemaak vir die evangelie, baie saad gesaai en was deur God gebruik om Engeland vir sending op te wek. Maar, tydens sy drie-en-twintig jaar op die sendingveld, het Livingstone dieselfde verskriklike vertwyfelinge beleef as ander vername dienaars. Sy biograaf het hom aangehaal in sy neerslagtigheid: “Al my werk lyk of dit verniet is.”

George Bowen se boek, Love Revealed, is een van die beste boeke oor Christus ooit geskryf. As ‘n enkellopende man, het Bowen weggeloop van rykdom en roem om ‘n sendeling in Bombay, Indië, te word in die middel 1800’s. Hy het gekies om onder die heel armstes te woon en op die strate in snikhete weer te preek en evangelie literaruur te versprei en te ween oor die verlorenes.

Hierdie verstommend toegewyde man het na Indië gegaan met baie hoop vir die bediening van die evangelie. Maar in sy veertig plus jaar van bediening, het Bowen nie een bekeerling gehad nie. Dit was eers na sy dood dat sendinggenootskappe ontdek het dat hy een van die mees geliefde sendelinge in die land was.

Soos so baie voor hom, het Bowen ‘n verskriklike gevoel van mislukking beleef. Hy het geskryf, “Ek is die mees nuttelose wese in die kerk ... ek sal graag by Job wil sit en met Elia simpatiseer. My arbeid was alles verniet.”

Dit is nie ‘n sonde om sulke gedagtes te hê nie, of om terneergedruk te wees met ‘n gevoel van mislukking nie. Maar dit is gevaarlik om toe te laat dat hierdie leuens uit die hel jou siel infekteer en siek maak. Jesus het vir ons die weg uit sulke neerslagtigheid gewys met hierdie stelling: “Tevergeefs het Ek my vermoei ... Nogtans is my reg by die HERE, en my loon is by my God” (Jesaja 49:4). Christus sê in wese, “Die Vader alleen oordeel oor alles wat ons gedoen het en hoe effektief ons was.”

Die Here wil hê dat jy al daardie “gedagtes van mislukking” laat staan en weer aangaan om te werk. Niks is verniet nie! Hy gaan oorvloedig meer doen as wat jy kan dink of vra!