Spontane Aanbidding

David Wilkerson (1931-2011)

“Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval [aanbid]” (Exodus 34:8). Die openbaring van God se natuur het Moses oorweldig toe hy gesien het hoe genadig, lydsaam en geduldig ons Vader met sy kinders is – selfs die hardnekkiges wat Hom bedroef.

Dit is belangrik om op te let dat dit die eerste keer is wat genoem word dat Moses aanbid het. Voor hierdie openbaring van God se heerlikheid, het Moses met trane vir Israel gebid en voorbidding gedoen en selfs van aangesig tot aangesig met God gepraat. Maar dit is die eerste keer wat ons lees dat Moses God aanbid het.

Dit sê vir ons baie van die kerk vandag. Christene kan vurig bid sonder om God ooit  werklik te aanbid; trouens, dit is moontlik om ‘n gebedskryger en voorbidder te wees en steeds nie ‘n aanbidder nie. Aanbidding kan nie geleer word nie, dit is ‘n spontane uitbarsting – die werk van ‘n hart wat oorweldig word met ‘n openbaring van God se heerlikheid en sy ontsaglike liefde vir ons.

Aanbidding is ‘n reaksie van dankbaarheid wat erken dat ons lank gelede deur ons sonde vernietig moes wees en die volle toorn van God vir al ons mislukking op die hals moes haal. Maar, in plaas daarvan, het God na ons toe gekom met die kragtige openbaring, “Ek het jou steeds lief!”

Op hierdie punt in die Skrif, het Moses nie langer vir sondige Israel gepleit nie en hy het nie die Here vir leiding gevra nie. Hy het selfs nie eens gesmeek vir ‘n wonderwerk van verlossing of vir krag of wysheid nie. Hy was verwonder oor die openbaring van die heerlikheid van God!

Die openbaring van God se heerlikheid moet die fontein van al ons aanbidding wees. Ons moet gereeld aanspraak maak op sy heerlikheid; dit is ons bepaalde reg en dit is bedoel om opgeëis te word. As Paulus sê, “Ek verwerp die genade van God nie” (Galasiërs 2:21), bedoel hy, “Ek sal nie God se aanbod van genade verydel deur dit te verwerp nie.” Diegene wat God werklik aanbid, eis die seën van sy beloftes op en beleef die heerlikheid van sy liefde in Christus.

Neem vandag God se heerlikheid in besit en laat Hom toe om jou te lei tot ‘n nuwe openbaring van aanbidding.