Oë Gevestig op Jesus

David Wilkerson (1931-2011)

“En Jesus het dadelik sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en voor Hom uit te vaar na die oorkant, terwyl Hy die skare wegstuur. En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen. En die skuit was al in die middel van die see, geteister deur die golwe; want die wind was teen hulle” (Matthéüs 14:22-24).

Ná die wonderwerk van die vyfduisend voed, het Jesus die mense weggestuur en die dissipels beveel om ook weg te gaan. Dit was ‘n uitputtende dag en die Meester het ‘n bietjie rus gesoek. Maar die dissipels se boot was deur ‘n storm oorval, en hoewel hulle gesoute matrose was, het die geweld van die storm ontsteltenis veroorsaak. Hulle mag dalk ‘n bietjie troos gevind het in die feit dat Jesus naby was, maar hulle het nie verwag wat volgende sou gebeur nie.

“Jesus [het] na hulle gekom, al wandelende op die see. En toe die dissipels Hom op die see sien loop, word hulle ontsteld en sê: Dit is ’n spook!” (Matthéüs 14:25-26). Eintlik was die dissipels vreesbevange, maar Petrus het ‘n dapper stap van geloof geneem en die boot verlaat. Een kyk na sy Redder was genoeg vir hom! “En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit u is, beveel my om op die water na U te kom” (Matthéüs 14:28). So, met sy oë vas op Jesus gevestig, het Petrus daardie stap uit die boot geneem. Hy het nie met sy geloof gepronk of iemand probeer verkleineer nie, hy wou bloot nader aan sy Here wees.

Hoewel dit waar is dat Petrus gesink het toe hy sy oë van die Here afgehaal het, het hy ‘n plek in Christus ontdek bo die stormagtige, bruisende see. Hy het bo-oor dit, wat hom bedreig het, geloop om by Jesus uit te kom. Die geloof wat hom bo dit alles kon hou vir ‘n rukkie, kon hom onbepaald hou. Maar hy het sy oë van Christus afgehaal en toegelaat dat die onrus rondom hom, hom sy vertroue laat verloor het.

Die storie van Petrus herinner ons dat hoe erger die krisis is, hoe yweriger moet ‘n Christen Christus najaag. Mag jy in sy aangesig kyk te midde van jou krisis en bid, “Trek my nader aan U, Here. Laat alles in my lewe my na U toe dryf!”