Die Openbaring van God se Heerlikheid

Die Bybel sê dit is moontlik vir elke gelowige om die Here se heerlikheid te sien. In werklikheid sê God dat Hy sy heerlikheid sal openbaar aan almal wat Hom daarvoor soek. Hoekom is dit belangrik om God se heerlikheid te sien en te verstaan? Dit is omdat die openbaring van sy heerlikheid bedoel is om ons toe te rus vir die storms van die lewe. Volgens Paulus, is hierdie openbaring “magtig om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes” (Handelinge 20:32).

Wat presies is God se heerlikheid? Dit is nie een of ander fisiese manifestasie nie, hoewel sommige Christene glo dat dit is. Dit is nie ‘n ekstatiese gevoel wat jou oorval of ‘n bonatuurlike lig wat uitstraal nie. In eenvoudige terme is God se heerlikheid ‘n openbaring van sy natuur en sy eienskappe. Wanneer die Here kies om aan ons sy heelikheid te wys, is dit ‘n openbaring van hoe Hy wil hê ons Hom moet ken.

Toe die Here vir Moses gestuur het om Israel te verlos, het Hy aan hom gesê, “Gaan en sê EK IS stuur jou.” Maar hy het geen verduideliking gegee van wie “EK IS” was nie. Daarom het Moses uitgeroep, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18). Moses het ‘n knaende honger gehad om te weet wie die groot EK IS was en wat die kern van sy natuur en karakter is.

God het Moses se gebed beantwoord. Hy het Moses beveel om homself in ‘n skeur van ‘n rots te verberg en te wag dat die Here verbygaan. Terwyl Moses gewag het, het hy geen donderweer, weerligte of aardbewing gesien nie. In plaas daarvan, het God se heerlikheid na hom gekom in ‘n eenvoudige openbaring, “En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:6-7).

Jy sien, wanneer God sy heerlikheid aan sy volk openbaar, het Hy ‘n doel daarmee. En Hy het toegelaat dat Moses sy heerlikheid sien, sodat hy deur sy begrip daarvan, verander kan word. Dieselfde is vir ons waar vandag. God openbaar sy heerlikheid aan ons sodat ons gerusgestel kan word in ons daaglikse wandel.

Jesus Christus is die uitdruklike beeld van God. Die Vader het sy hele karakter in die Seun opgesom. Toe ons Here vlees geword het, was dit die volle openbaring van God se natuur — sy genade, goedheid en gereedheid om te vergewe. “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik’ (Kolossense 2:9). “Hy wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:3).

Dieselfde is waar vir ons vandag vir enigiemand wat die openbaring van God se heerlikheid ontvang. Ons wat in Christus is, is bedoel om verander te word in die uitdrukking van God se liefdevolle, vergewende, genadige natuur. Paulus sê dat wanneer ons God se heerlikheid sien, dit het krag om die een wat Hom sien, te verander: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korinthiërs 3:18).

Paulus voeg by dat ons die openbaring van God se heerlikheid aanhoudend moet soek totdat ons daarin gewortel is: “Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efésiërs 3:17-19). Hy sê eintlik hiermee, “Hou aan om God se heerlikheid te soek totdat die openbaring daarvan in jou oopbars!”

Die eerste effek van God se heerlikheid is ‘n verandering in ons verhouding met Hom.

Toe Moses die openbaring van God se heerlikheid gesien het — sy wonderlike natuur en karakter — het hy op sy knieë geval en Hom aanbid. “Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval” (Exodus 34:8). Moses was so aangeraak deur dit wat hy gesien het — hoe genadig, geduldig en liefdevol God is met sy kinders, selfs hulle wat Hom bedroef het — dat hy net in verwondering Hom aanbid het.

Moses het die Here aanbid selfs al was hy nie hier vol hoop vir Israel nie. Hy het geweet dat die mense geneig is om terug te val. Op dieselfde oomblik, het hulle die goue afgodjies wat hulle uit Egipte gebring het, in hulle tente versteek. Moses moes gedink het, “Hoe gaan ek ooit in staat wees om hierdie volk agtermekaar te kry? Wanneer sal God se geduld met hulle opraak?”

Die Here was egter nie van plan om sy volk te vernietig nie. Dit was alles ‘n “genade” toets vir Moses. Die Here het hom eintlik gevra, “Hoe sal jy My voor die mense verteenwoordig? As ‘n wraakgierige God wat net vol oordeel is? Of as ‘n genadige en lankmoedige God wat gereed is om te vergewe?”

Dit was die openbaring van God se heerlikheid! En dit het Moses se hart tot ruste laat kom. Hy het dadelik gebid. “Here, U het gesê dat U die sondes van duisendes sal vergewe. Wel, hier is daardie duisende voor U. Ons is almal hardnekking en het genade nodig. Gee ons u genade. Vergewe ons baie sondes!” (Sien Exodus 34:9).

Die openbaring van God se heerlikheid is veronderstel om die oorsprong van al ons aanbidding te wees. Ons moet gereeld sy heerlikheid opeis en getuig, “Here, ek weet dat U heilig en regverdig is en dat U nie sonde verdra nie. Maar ek het ook u heerlikheid gesien en dit laat my weet dat U nie daarop uit is om my te vernietig nie.

“U veroordeel my nie in my stryd nie. Ek het U so dikwels gefaal dat ek teen hierdie tyd al eenkant toe gestoot moes word. Maar U het aangehou om my te wys hoe liefdevol en lankmoedig U teenoor my is.”

Gedurende my jare van bediening, het ek verskeie kere die Here se dissipline soos ‘n stok op my rug gevoel. Eenkeer was ek vreeslik gelaster. Na ‘n ruk was ek fisies uitgeput van die aanhoudende stryd.

Eendag het God my na Jeremia se gebed gelei: “Tugtig my, Here, maar met mate; nie in toorn nie, dat U my nie te klein maak nie” (Jeremia 10:4). Jeremia se woorde het my daaglikse gebed geword deur daardie tyd van beproewing. Ek het gebid, “Here, tugtig my as U moet. Maar, asseblief, moet dit nie in woede doen nie. As ek nog een driftige woord moet hoor, sal dit my vernietig.”

Wanneer ek ookal hierdie gebed gebid het, het ek die Here se stem hoor fluister: “Dawid, as ek kies om jou te tugtig, is dit omdat Ek jou liefhet. Hierdie beproewing gaan glad nie oor my oordeel nie. Ek is genadig, liefdevol en geduldig teenoor jou. Staan nou stil en sien my heerlikheid.”

Die kennis van die heerlikheid — sy natuur en karakter — dra my na ‘n plek van totale rus. Inderdaad, wanneer ons eers hierdie openbaring van God se heerlikheid het, het ons nooit weer nodig om te vrees dat Hy ons in sy woede sal tugtig nie. Die Here dra sy stok in ‘n liefdevolle hand en as hy ons tugtig, is dit net met diepe deernis. Geliefde, almal wat God waarlik aanbid, eis die seëninge van sy beloftes op. Hulle sien sy heerlikheid in sy liefde teenoor hulle en hulle gryp daardie heerlikheid vas om hulle besorgde siele te laat bedaar.

‘n Tweede effek daarvan om God se heerlikheid te sien, is ‘n verandering in ons aangesig.

Toe “sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink” (Exodus 34:35). ‘n Persoon se aangesig is die uiterlike uitdrukking van sy of haar hart. In hierdie vers, het Moses se gesig eenvoudig net die heerlikheid weerspieël van God in sy siel.

Jy kan in God se teenwoordigheid bly so lank as wat jy wil. Maar dit is heeltemal ‘n ander ding om sy teenwoordigheid in jou te openbaar. Paulus het getuig, “Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het,  om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig” (Galásiërs 1:15-16).

Die openbaring wat Moses ontvang het, was heerlik, maar dit was iets wat verbygaande was. Die uitstraling van sy gesig en hart was die gevolg van die kykie in God se natuur. Selfs toe die Israeliete hom gesien het, het hulle geweet dat hy ‘n bonatuurlike ervaring gehad het.

Vandag het ons iets baie meer heerlik as wat Moses gehad het. Ons het God se heerlikheid aangeraak en gehanteer. “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe” (1 Johannes 1:1). Johannes sê eintlik, “God het die volheid van sy heerlikheid in Christus aan ons geopenbaar. Ons het sy heerlikheid vergestalt gesien in ‘n persoon. En ons het met Hom gepraat en aan Hom geraak.”

Vandag sien ons nie net die volheid van die heerlikheid van God in Christus nie; dit woon ook in ons — en dit skyn uit ons harte uit: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6).

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn” (Titus 2:11). Wie is die genade? Dit is Jesus Christus, vol van genade, goedheid en liefde. “En leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:12). In der waarheid sê Paulus, “Hierdie genade wat in ons woon is die openbaring van Christus se goedheid. As jy in Hom bly, sal sy openbaring jou lei om heilig te lewe. Dit sal jou genade, sagtheid en vergifnis leer.”

‘n Derde effek daarvan om God se heerlikheid te sien, is ‘n verandering in ons verhouding met ander.

Wanneer ons hierdie openbaring van God se heerlikheid ontvang, kan ons nie voortgaan op ons ou maniere van hoe ons ander behandel nie. Dit moet alles verander. Paulus waarsku, “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:31-32).

God sê deur Paulus, “Julle het my heerlikheid gesien en julle ken my natuur — dat Ek genadig, geduldig en gereed is om te vergewe. Ek wil hê julle moet aan ander weerspieël wie EK IS.”

Wanneer Jesus sê, “Wees genadig met ander, net soos God genadig was met jou,” is die woord “genadig’ van die Griekse woord vir “ellende” (misericordia). Die volle betekenis is “om die ellende van andere ter harte neem met die doelwit om hom troos en verligting te gee.” Om genadig te wees beteken om ‘n ander persoon se ellende op te neem en te dra. Dit sluit hulle in wat ons seergemaak het.

Dit is presies wat ons Here vir ons doen. Hoeveel keer het Jesus jou ellende wat veroorsaak was deur sonde op Hom geneem en jou troos en vergifnis in ruil daarvoor gegee? Hoe dikwels het Hy jou trane afgedroog en mooi met jou gepraat deur sy Woord? Hy doen dit keer op keer vir ons.

Ek vra vir jou: Hoe kan ons dit nie in ons harte vind om die ellende en pyn van iemand anders van wie ons weet op ons te neem en te dra nie? Die woord “meegevoel” beteken “om geaffekteer en aangeraak te word deur die ellende van ander en te besluit om iets daar omtrent te doen.”

As jy ‘n openbaring van God se heerlikheid gehad het, sou jy weet wat dit beteken om deur sy liefde, genade en vergifnis aangeraak te word. En jy word verander deur daardie heerlikheid. Nou sê Jesus, “Neem daardie heerlikheid en straal dit uit na die wêreld rondom jou. Dit is tyd om in liefde te reageer, net soos jou Here dit die hele tyd vir jou doen. Amen!