GOD SE GOEIE GAWE VERWAARLOOS

David Wilkerson (1931-2011)

Ons liggame is die tempel van die Heilige Gees en vanuit hierdie heiligdom in ons hart, asem Hy Sy invloed uit oor al ons emosies – bearbei, pleit, bemoedig, vertroos, oortuig van sonde, lei, leer, vermaan en openbaar die werklikheid van Christus. Wat ‘n wonderlike gawe!

Ongelukkig, verwaarloos talle egter hierdie wonderlike gawe binne-in ons. En sommige ignoreer God se Gees heeltemal en gaan voort met hulle daaglikse sake asof Hy nie in hulle woon nie.

Geliefde, die gawe van die Heilige Gees binne-in ons voorsien ons met al die krag, hulpbronne, hoop, genade en vrede wat ons ooit nodig sal hê. En tog onderwerp ons Hom aan die verskriklike mishandeling van verwaarlosing. Ja, dit is mishandeling teen die Gees vir ons om onnodige laste te dra – om bekommerd op te tree voor ‘n goddelose wêreld asof ons God dood is.

Ons moet ‘n getuienis wees vir diegene rondom ons en as jy nie na die Here gaan met jou vrae en laste nie, dan het die wêreld die volste reg om vir jou te vra, “Waar is jou God? Waar is die Christus waaroor jy so baie praat?”

Ons behoort almal ‘n sigbare getuienis te wees van die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens. Hierdie verlore, gebroke, verwarde geslag moet sien en hoor hoe ons verkondig, “My siel is gerus, my gedagtes vol vrede, want ek het die Gees van God self wat in my woon! Hy lei my en vertroos my bekommerde siel. Ek vrees geen onheil nie, want ek slaap en word dan wakker in die reddende krag van die Heilige Gees – wat in my leef!”

“Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir jou” (1 Petrus 5:7). Dit is een ding om hierdie vers aan te haal en ‘n ander om dit te glo. Laat die Heilige Gees binne-in jou ‘n openbaring van die waarheid van sy Woord bring. Hy openbaar aan jou die geheim van sy teenwoordigheid en jy sal wandel in glorieryke vryheid.