SLEGS DIE LIEFDE VAN GOD

Jim Cymbala

Die meeste van ons weet dat Christus die volmaakte model van liefde is. Ons ken die boodskap in 1 Korinthiërs 13 oor die voortreflikheid van liefde en ons weet dat God liefde is. Maar dan probeer ons dwaaslik in ons eie krag méér liefhê. Ons maak goedbedoelde, doelbewuste pogings om selfsugtige gewoontes en ons natuurlike afkeur vir knorrige, onaangename mense te oorwin. Maar as ons onvriendelik optree en mislukking beleef, gaan ons bloot terug na die tekenbord, oortuig dat as ons net harder probeer, of meer Skrifte lees, ons op een of ander manier beter sal word met ander liefhê.

Paulus het gepraat van “liefde in die Gees,” wat iets heeltemal anders is as menslike vermoë. Onthou sy leerstelling aan die Galásiërs? “Die vrug van die Gees is liefde” (Galásiërs 5:22). Liefde is ‘n vrug wat binne-in ons groei vanuit ‘n bonatuurlike bron. Dit is nie jou liefde nie, en tog is dit, omdat die Gees in jou werk om jou beide gewillig en bekwaam te maak om liefdevolle dinge te doen wat in sy gedagtes is. Hy is ons lewe en dra die vrug – nie ons nie. Dit is waarom hy gestuur is om in ons te lewe.

Hoe anders kon Stefánus, terwyl hy gestenig was, sê, “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie” (Handelinge 7:60)? Slegs die liefde van God sou hom só kon laat liefhê.

Sonder die wonderwerk van God se liefde, het die lewe ‘n manier om ons te verhard. Ons word siniese, hardgebakte senior burgers sonder die gloed van die “eerste liefde” wat ons aan die begin van ons lewe met Christus beleef het. Dit is nie net sleg vir óns nie, maar ook vir die saak van Christus teenoor ‘n wêreld wat ons dophou. Maar dit hoef nie so te wees nie. “In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees” (Psalm 92:14).

Laat ons vra vir ‘n nuwe doping van God se liefde. Laat ons dan wandel in daardie liefde sodat almal wat ons raakloop, ‘n kykie kan kry in die hart van God.

Jim Cymbala het die Brooklyn Tabernacle begin met minder as twintig lede in ‘n klein bouvallige gebou in ‘n ongure deel van die stad. Hy is oorspronklik van Brooklyn en is ‘n jarelange vriend van beide David en Gary Wilkerson.