ONS GROOTSTE STRYD

David Wilkerson

Ons Christene sukkel so hard om die wil van God in ons lewens te vind. Wanneer ons glo dat ons sy wil vir ons gevind het, werk ons hard daaraan om dit in ons lewens vervul te sien.

Ek is oortuig hierdie stryd om God se wil te vind – om daarin te lewe, te wandel en die vervulling daarvan te sien – ons grootste stryd kan word. En die stryd word erger wanneer ons omstandighede benard is.

Baie Christene kan eenvoudig nie aanvaar waar hulle op hierdie oomblik is nie. Hulle lewens word swaar gelaai met ernstige probleme. Vir sommige is die las ‘n voortslepende siekte. Vir ander is dit ‘n ongeredde geliefde. En nou vir ‘n toenemende aantal Christene, is dit ‘n finansiële krisis. Baie min Christene aanvaar dat sulke laste moontlik ‘n deel van God se volmaakte wil vir hulle lewens is.

As ‘n prediker van die evangelie, weet ek dat alle volhoubare geloof en hoop ‘n fundamentele waarheid moet hê waarop dit kan groei. Wat is hierdie fundamentele waarheid? Eenvoudig dit: Ek moet weet en glo dat ek in God se volmaakte wil is – nou, op hierdie oomblik, waar ek nou is, op hierdie tyd en plek.

Eenvoudig gestel, dit maak nie saak in watter toestand ek myself bevind nie – wanneer ek in die sonskyn wandel of ly, of ek ryk of arm is, siek of gesond, in die tronk of vry – ek moet glo dat ek in die middelpunt van God se volmaakte wil vir my lewe is. Ek omhels die feit dat my treë deur God gerig is.

Persoonlik kan ek met Paulus identifiseer: “In watter toestand ek my ookal bevind, ek is tevrede” (sien Filippense 4:11).

Ek dank God vir die voorbeeld van Paulus. Hierdie getroue apostel het geweet hoe om in oorvloedige seën te lewe, maar ook om hom te verbly in tye van teëspoed. Dit maak nie saak wat sy uiterlike toestand was nie, of hoe neerdrukkend sy omstandighede was nie, Paulus het altyd geweet dat hy in die middelpunt van God se volmaakte wil was.