DIE HEERLIKHEID VAN CHRISTUS

David Wilkerson

Die afgelope weke het ek die Here gesoek vir ‘n woord wat my vrede sou gee tussen al die ontstellende, slegte nuus.

Ek hoor die Heilige Gees fluister, “David, sien die heerlikheid van Christus. Dit sal jou geanker hou in vrede.”

“Dankie, Here,” het ek gebid. “Maar, wat is regtig die heerlikheid van Christus?”

Vir my, bestaan sy heerlikheid uit iets wat ek nodig het en verstaan: goedertierenheid. Dit is meer as net Christus se goedheid. Dit is sy liefdevolle goedheid – dan is dit sy teer, liefdevolle goedheid.

Dit mag een faset van sy heerlikheid wees. Maar dit is hoe ons nodig het om Christus te sien – die presiese gestalte van die hemelse Vader, wat omgee, teer, liefdevol en goed is vir sy kinders.

Paulus het Christus se heerlikheid elke oggend gesien. Hierdie erg geteisterde dienaar van God het baie dae wakker geword met diepe ontsteltenis. Daar was talle kere wat hy neerslagtig en verleë was. Maar Paulus het sy siel in beroering gebring om op te kyk, sodat hy die heerlikheid van Christus kon sien – wat beteken, die genade en goedertierenheid van die persoon van Christus. Toe Paulus dit gedoen het, het die Heilige Gees hom met krag vernuwe om elke dag te trotseer.

Jeremia het die volgende profesie geskryf: “Maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:24).

Let op die eerste ding in hierdie lys van dinge waarin die Here ‘n behae het: goedertierenheid. Sy boodskap aan ons is duidelik: Ons is geroep om ons in sy goedertierenheid te verbly.

Dawid het in die Psalms getuig, “Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ‘n gebed tot die God van my lewe” (Psalm 42:8-9, kursief myne).