Wie Sal Sy Dae Verleng?

‘n Boodskap oor die reiniging van die mond, die ore en die oë.
David Wilkerson

Toe herlewing in Jerusalem uitgebreek het, het ‘n engel met die apostel Filippus gepraat. Hy het hom beveel om na die Gasa woestyn te gaan en daar het Filippus ‘n Ethiópiese diplomaat, wat in ‘n wa gereis het, ontmoet. Die man het hardop uit die boek Jesaja gelees. Toe het Filippus die beampte gevra, “Verstaan u wat u lees?” (Handelinge 8:30).

Die diplomaat was vasgenael op ‘n gedeelte wat hom verbyster het. Hierdie gedeelte was Jesaja 53:9-11: “En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie. Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand bespoedig wees. Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word.”

Tot op daardie gedeelte, moes die diplomaat verheug gewees het om Jesaja se profesie te gelees het. Dit beskryf ‘n man wat sou kom wat die dood sou vernietig, al die trane afdroog en die skande van sy mense wegneem. Hy sou die duisternis van die blindes wegneem, gevangenes uit hull tronke uitbring en sy mense van putte en kerkers verlos. Uiteindelik sou hierdie man ‘n volk vir Homself verlos en hulle lei op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. En Hy sou ‘n verbond vir daardie volk wees en hulle lei na fonteine van lewende water.

Volgens Jesaja, sou hierdie man die heerskappy op sy skouers neem. En Hy sou ‘n ewige koninkryk vestig, een wat nooit sou verbygaan nie. Konings sou Hom respekteer en prinse sou opstaan om Hom te aanbid. Hy sou ‘n lig vir die heidene wees en verlossing na alle uithoeke van die wêreld bring. En Hy sou ‘n ewige Verlosser wees.

Probeer jou die Ethiopiër se opgewondenheid voorstel terwyl hy hierdie wonderlike dinge gelees het. Hierdie diplomaat was duidelik honger vir God, of hy sou nie die Skrif gelees het nie. En nou het Jesaja se profesie die koms van ‘n ewige koning geopenbaar. Met elke openbaring, het die diplomaat se gedagtes vermenigvuldig: “Wie was hierdie wonderlike man?”

Hy was egter besig om van die man wat aan die kom was se heerlikheid en grootheid te lees, toe hy Jesaja se verwarrende woorde teëgekom het: “Wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes?” (Jesaja 53:8). “In sy vernedering in sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem het” (Handelinge 8:33). Uiteindelik het die diplomaat ‘n vers, wat gelyk het of dit in teenstelling is met hierdie dinge was, gelees, “Hy [sal] ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees” (Jesaja 53:10).

Dit was alles so verbysterend. Die Ethiopiër het na Filippus gedraai en gevra, “Hoe kan ek tog [verstaan] as niemand my die weg wys nie?” (Handeling 8:31). Dit wat hom ontstel het was: “Hoe kan ‘n dooie man sy kinders sien? En hoe kan hy sy dae op die aarde verleng? Jesaja sê hierdie man sal afgesny word, doodgemaak en begrawe word. Hoe kan hy dan nog sy Vader behaag? Hoe kan sy geslag aan die wêreld beskryf word?”

Dit mag help om te vra wat bedoel word met die frase, “Wie sal sy geslag beskrywe?” (Handelinge 8:33). Die Griekse betekenis kom van ‘n stamwoord wat dui op “om ‘n aksie te kanaliseer.” Met ander woorde: “Wie sal ten volle van met hierdie man en al sy aksies kan vertel? Wie sal vir die hele wêreld wys wat Hy alles behels het? Wie sal sy herinnering lewend hou?”

Op daardie stadium het Filippus die Ethiopiër se oë begin oopmaak. Eerstens, “En Filippus het sy mond geopen en by hierdie Skrif begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig” (Handelinge 8:35). Filippus het aan die diplomaat verduidelik, “Die man waarvan jy lees, het reeds gekom, Sy naam is Jesus van Násaret en Hy is die Messias.”

Volgende het Filippus Jesaja 53:11 verduidelik: “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word.” Filippus het vir die diplomaat in wese vertel, “Christus se lyde was die Kruisiging. Dit is toe Hy afgesny en begrawe is. Maar die Vader het Hom uit die dood opgewek. En nou leef Hy in heerlikheid. Elkeen wat sy Naam bely en in Hom glo, word sy kind. Inderdaad, Christus se saad leef in elke nasie. Dit is hoe sy lewe verleng was, deur die Heilige Gees in sy kinders. Nou kan jy ook sy kind wees.”

Watter ontsaglike nuus was dit vir die Ethiopiër se ore. Dit is geen wonder hy was gretig om uit sy wa te spring en gedoop te word nie. “Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop” (Handelinge 8:37-38).

Ek moet myself afvra: “Hoe verleng ek die lewe van Christus? Is my eie lewe ‘n volkome uitdrukking van wie Hy is? Is ek waarlik ‘n kanaal waardeur Jesus se lewe uitgeleef word? Openbaar my wandel dat Hy lewend en aan die werk is vandag?” Om hierdie vraag te beantwoord, moet ek ook vra: neem ek die profesie in Jesaja 53 werklik ernstig op? Kan ek eerlikwaar sê ek is Christus se saad en dat Hy tevrede is met wat Hy in my sien?

Wanneer ons praat van die lewe van Christus verleng, verwys ons na sy lewensvloei in ons. Hoe kan ons daardie vloei behou, sodat Jesus se getuienis deur ons uitgebrei kan word?

Beskou Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe” (oorspronklike Hebreeus). Ek preek breedvoerig oor die noodsaaklikheid om te bid, te vas en die Skrifte te bestudeer. Ek pleit ook by God vir ‘n dieper honger om Hom te soek, ‘n nouer wandel met Hom en ‘n groter passie vir Jesus. Maar Spreuke vertel vir ons ons moet selfs met dieper sake as hierdie afreken. Hierdie vers praat van hartsake, verborge, heimlike dinge wat die lewensvloei, wat vanuit ons kom, bepaal.

Jy sien, selfs as ek vir langer ure bid, meer dikwels vas en die Bybel meer ywerig lees, kan ek steeds in my gedagtes besoedel wees. Daar kan padblokkades in my hart wees wat die vloei van Christus se lewe in my verhinder. En ek kan so besoedel word dat ek alles behalwe ‘n klein stroompie van daardie lewe afsluit. Dan sal ek verhinder word om sy lewe te verleng en om ten volle sy geslag te beskryf.

Jesus vertel vir ons baie duidelik wat ‘n persoon besoedel en onrein maak: “Luister en verstaan! Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein” (Matthéüs 15:10-11). Wat is die sake van die hart? Wat is die wyses waarop dit eers ons uiterlike mens en daarna ons hele wese besoedel?

Die Bybel wys ons op drie sake: onrein lippe, onrein ore en onrein oë. As dienaars van die Here, kan ons nie toelaat dat enigiets die vloei van Christus se lewe in ons verhinder nie. As ek sy saad is – uitverkies om sy geslag te verkondig, om sy opstandingslewe deur my wandel te kanaliseer – dan moet ek my hart en aksies deur sy Woord laat beheer. En as enige deel van my innerlike mens onrein is – my mond, ore of oë – sal my uiterlike lewe en getuienis verhinder word.

Weereens keer ons terug na Jesaja 53 vir ‘n beeld van wie en wat Christus is. Hierdie hoofstuk sê van Hom, “geen bedrog in sy mond gewees...nie” (Jesaja 53:9).

Hoe dra ons Jesus uit in hierdie spesifieke saak van die hart? Die vraag word in beide Testamente aangespreek. Jakobus waarsku die kerk, “Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so neem die tong ‘n plek onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek” (Jakobus 3:6).

 Ons lees ‘n soortgelyke waarskuwing in Jesaja: “Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord” (Jesaja 58:9). Die Hebreeuse betekenis van “leuenagtige woord” hier dui op onbeskoftheid, oneerbiedigheid en disrespek.

Jesaja maak ‘n verbysterende stelling. Die rede waarom ons bid, vas en God se Woord bestudeer, is om in die hemel gehoor te word. Maar die Here heg ‘n groot “as” hieraan. Hy verklaar, “As jy wil hê Ek moet jou hoor uit die hoogte, dan moet jy na die sake van jou hart kyk. Ja, Ek sal jou hoor – as jy ophou om ‘n vinger na ander te wys, as jy ophou om oneerbiedig met hulle te praat.”

In God se oë is dit ‘n groot sonde om te praat op maniere wat iemand anders se reputasie beswadder. Spreuke vertel vir ons, “’n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud” (Spreuke 22:1). ‘n Goeie reputasie is ‘n skat wat versigtig met verloop van tyd opgebou word. Ek kan egter vinnig enigiemand se skat vernietig met een lasterlike woord van my mond

Ons sal nie waag om iemand van sy goue horlosie of bankrekening te beroof nie. God verklaar egter dat om iemand se naam te belaster, rowery van die ergste graad is. En ons kan dit in die subtielste moontlike maniere doen: deur ‘n beskuldigende vinger te wys, sy karakter te bevraagteken of brokkies skindernuus te versprei. Inderdaad, drie van die mees verdoemende woorde wat ons kan spreek, is, “Het jy gehoor?...” Die blote veronderstelling van die vraag, beroof ‘n persoon van iets kosbaars. En dit besoedel ons eie mond.

Talle in God se huis het sy Woord oor hierdie saak ligtelik opgeneem. Psalm 50 lig duidelik beide die sonde van die besoedeling van die mond en die gevolge daarvan uit:

“Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy: Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie. Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet” (Psalm 50:19-23).

So, waarom doen ons dit? Ons vrees en eerbiedig nie God se Woord oor hierdie saak nie? Waarom praat ons so maklik oor ander met ydele woorde? Waarom hou ons aan om woorde roekeloos te gebruik met ‘n onbeheersde tong? Hierdie Psalm vertel ons waarom: “Jy dink Ek is net soos jy.”

Eenvoudig gestel, ons maak asof God soos onsself is. Ons buig en verander sy Woord om ons eie geneigdheid om die uiterlike persoon te oordeel, te weerspieël. En ons ignoreer God se manier om die verborge, dieper sake van iemand se hart te beskou.

Die Here vertel nou vir ons hier in Psalm 50, “Ek gaan jou vermaan, omdat Ek hierdie saak wil regstel. Jou moet jou verontreiniging sien op die manier wat ek dit sien: as boos en goddeloos en ‘n ernstige gevaar vir jou siel.”

As ‘n bedienaar van die Here, wil ek hê dat Christus se lewe uit my prediking moet vloei. En as ‘n man, pa en oupa, wil ek hê dit moet vrylik vanuit my na my familie moet vloei. Daarom mag die bron van die fontein van Christus se lewe in my nie besoedel word nie. Ek mag nie toelaat dat enige gif in die fontein is nie, of enige padblokkasies wat sy vrye vloei in my verhinder nie.

Maar ek moet dit ‘n doelbewuste besluit van my kant af maak. Ek moet voortdurend uitroep na die Heilige Gees, “Here, bring my onder sondebesef elke keer as ek myself besoedel.” Dawid het hierdie soort besluit geneem. Hy het geskryf, “Wat ek ook dink, my mond oortree nie” (Psalm 17:3). “Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalm 141:3).

Jy mag wonder, “Is dit werklik moontlik om die tong te beheer en om doelbewus nie met die mond te sondig nie?” Dawid antwoord met die volgende getuienis, “Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose voor my is” (Psalm 39:1). Hy sê in wese, “Elke keer wat ek op ‘n perd klim, moet ek ‘n toom in sy mond sit. En so seker as wat ek dit met my perd doen, so moet ek met my tong doen.”

Hoe verkondig ek Jesus se geslag met betrekking tot hierdie saak? Hoe verleng ek sy lewe wanneer dit daarby kom om my ore van besoedeling te bewaar?

Weereens, praat Jesaja van Christus se voorbeeld: “Die Here HERE het my ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde: Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge. Die Here HERE het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie” (Jesaja 50:4-5).

Let op die laaste vers: Jesus was elke oggend wakker gemaak deur die Heilige Gees. En die Gees het sy oor daarop ingestel om die Woord van sy Vader te hoor. Toe Jesus getuig het, “Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie,” sê Hy in wese, “Toe Ek op die aarde was, was ek geleer wat Ek moes sê, doen en hoor. En ek het nooit daarvan af weggedraai nie.” Volgens Paulus, het Jesus gehoorsaamheid deur sy lyding geleer. Nou sê Christus, “Wat die Vader vir my gesê het om te doen, het Ek gedoen. Ek het sy Woord ontvang, maak nie saak wat die gevolge is nie.”

Geliefde, ek het hierdie soort geestelike wekroep elke dag nodig. Ek moet herinner word deur die Heilige Gees, “David, sluit jou ore vir alle laster, skinder en vuil taal. Bewaar jouself van besoedeling.”

Jesus se eie dissipels het onrein ore gehad. Op een geleentheid, het Hy aan hulle vertel, “Bewaar hierdie woorde in julle ore: want die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense” (Lukas 9:44). Met ander woorde, Hy het gesê, “Gee noukeurig aandag, want Ek is gereed om julle ‘n belangrike openbaring gee. Ek gaan gekruisig word. Laat dit nou diep in julle ore insink. Dit is iets wat julle moet weet.”

Jesus was nog nooit so uitdruklik met sy dissipels nie. Hy het nog nooit voorheen die volgende gesê nie, “Laat hierdie woord diep in julle insink. Dit is baie belangrik wat Ek vir julle wil sê, luister nou.” So wat het hulle gedoen om hierop te reageer? Die Skrif sê, “Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie” (Lukas 9:45). Waarom kon hulle nie hoor wat hulle meester hulle vertel het nie? Hulle ore was besoedel deur eiebelang. Onmiddellik lees ons, “En daar het ‘n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die grootste was” (Lukas 9:46).

Hier is ‘n klinkklare bewys dat besoedelde ore nie die dieper openbarings van God se Woord kan ontvang nie. Hierdie manne kon nie Jesus se stem hoor nie, selfs nie toe Hy by hulle in die vlees gestaan en prontuit met hulle gepraat het nie. In plaas daarvan sê die Skrif, “En dit was vir hulle bedek, sodat hulle dit nie sou begryp nie” (Lukas 9:45). Ek moet wonder: sou die dissipels se belewenis by die Kruis anders gewees het as hulle in staat was om Jesus te hoor? Sou hulle steeds weggehardloop het soos hulle gedoen het? Of sou hulle anders gereageer het?

In der waarheid, kan iemand wat in sy eie belange vasgevang is, nie daardie feit oor homself sien nie. En as hy kon, sou hy dit nie erken nie. Dit is waarom die dissiples nie kon hoor wat Jesus hulle vertel het nie. Hulle was so self-gesentreerd, so geneig om in hulleself te roem, dat hulle nie die stem van Christus of enige ander goddelike persoon kon hoor nie.

Ek was nie bewus hoe skuldig ek aan hierdie verskriklike sonde was nie, tot my onlangse preekreis na die Britse Eilande. My seun, Gary, en ek was deur ‘n pastoor na ‘n preekgeleentheid geneem. Hy het hoflik gevra hoe dit met ons byeenkomste gegaan het. Toe ek probeer antwoord, het hy my onderbreek om oor sy eie prediking te praat. Dit het verskeie kere gebeur. Elke keer, was hy my een voor, met stories van groter skares en meer lande wat hy besoek het as ek.

Uiteindelik was ek so ontsteld, dat ek stilgebly het en hom laat praat het. Op een stadium, het ek na Gary gekyk en my oë gerol. Ek het gewonder, “Hoe grootpraterig. Hierdie prediker is ‘n aanhoudende prater.”

Toe het ek die Heilige Gees se stampie gevoel. Hy het vir my gefluister, “Dink waaroor jy ontsteld is, David. Dit is omdat hierdie man nie na jou luister nie. Jy wou al die praatwerk doen. En nou dat jy sy stories hoor, wil jy roem oor jou eie bediening. Jy mag opgehou het om te praat, maar jy het ‘n roemende gees in jou hart.”

Wat meer is, ek het my mond verontreinig. Let op dat ek niks leliks oor hierdie man gesê het nie. Trouens, ek het nie ‘n enkele woord oor hom gesê nie. Tog, deur bloot my oë te rol, het ek hom by my seun belaster.

Ek kan van heiligheid praat, ek kan die samelewing se sondes blootlê, ek kan preek oor die oorwinning van die Nuwe Testament. Maar as ek toelaat dat my ore besoedel word – as ek ‘n ander persoon uitsluit deur op my eie belange te fokus, as ek nie met respek na hom kan luister nie – dan word die lewe van Christus nie in my verleng nie. Ek lei nie meer ‘n lewe wat my Here tevrede stel nie. En ek dra nie die vrug van sy lyding nie.

Weereens keer ons terug na Jesaja se profesie van Christus. En hierdie gedeelte openbaar dat Jesus suiwer, onbesoedelde oë gehad het: “En hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie” (Jesaja 11:3). Die letterlike vertaling hier is: “Hy sal nie oordeel volgens hoe dit vir sy oë lyk nie; ook sal Hy nie teregwys volgens wat sy aan sy ore gerapporteer word nie.” Kortliks, Christus gaan nie ‘n persoon oordeel deur net na hom te kyk of deur wat Hy van hom hoor nie.

Geliefde, God kom net hier by die hart van die saak uit. Natuurlik weet ons dat pornografie die oë besoedel, net soos baie films en TV programme. Trouens, ons kan ‘n hele katalogus opnoem van dinge wat die oë verontreinig. Maar daar is ‘n dieper, verborge saak waarmee afgereken moet word. En dit is “veroordelende denke.”

Ek vra jou, waarom beskou ons veroordelende denke van ander as ‘n ernstige sonde? Soms ontmoet ons iemand en beoordeel hom onmiddellik. Na net ‘n paar kyke en ‘n kort uitruiling van woorde, dink ons ons kan daardie persoon akkuraat opsom. En onmiddellik oordeel ons hulle karakter deur die bietjie wat ons gesien en gehoor het.

Ek kan vir jou sê hoe dikwels ek dit met mense gedoen het. Ek ontmoet iemand en dink, “My gees gee my nie ‘n goeie getuienis oor hierdie persoon nie. Hy kan my nie in die oë kyk nie. Ek kan nie my vinger daarop sit nie, maar iets omtrent hom is nie reg nie.” En ek vertrou my innerlike oordele asof dit onfeilbaar is.

Erger nog, ons vinnige oordeel van mense word dikwels besoedel deur slegte berigte van ander. ‘n Oneerbiedige woord word in ons gedagtes geplant en dit kleur ons hele dunk van iemand in, wat ons nog nie eers ontmoet het nie. Dan, wanneer ons in daardie persoon se teenwoordigheid is, kom die verskriklike woord wat ons gehoor het, terug na ons gedagtes. En ons vorm ‘n opinie oor hom volgens wat ons gehoor het.

Tydens my reis na Groot Brittanje, het ‘n goed-bedoelde pastoor my eenkant geneem en gefluister, “Jy gaan ‘n baie ryk man by die volgende diens ontmoet. Ek moet jou waarsku, hy dink hy besit die kerk omdat hy soveel geld gegee het. Die gevolg is dat hy talle goeie mense weggedryf het.”

Ek het myself toegelaat om deur hierdie woord besoedel te word. En toe ek die ryk man ontmoet, het ek hom basies geïgnoreer. Ek het hom nie ‘n kans gegee nie, omdat ek hom reeds geoordeel het volgens wat ek gehoor het.

Ek het dit bely. Maar oor die jare was ek oor en oor skuldig aan dieselfde sonde. Ek het heimlik duisende mans en vroue geoordeel deur vinnige opinies in my gedagtes, wat ek onmiddellik oor hulle gevorm het. Soms het ek selfs gemeenskap geweier of gebreek met mense weens vinnige oordele.

Ek het ‘n prediker op hierdie manier geoordeel toe ek in Groot Brittaje was. Net toe die aanbidding begin het, het die pastoor uit sy sitplek gespring en met die paadjie afgehardloop en gejubel. My eerste gedagte was, “Daardie man lewer ‘n vertoning. Hy tree in die vlees op.” Toe het die bedienaar se genoot na my oorgeleun en vir my gefluister, “Pastoor David, weet jy waarom hy dit doen? Dit is omdat hy ‘n skoon gewete het. Hy is ‘n gelukkige man.”

Ek het toegelaat dat my letterlike visie my geestelike visie belemmer. En dit het my oë besoedel. Jesus waarsku teen dieselfde sonde: “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel” (Johannes 7:24).

Onlangs het ek ‘n bedienaar ontmoet wat ek vir ‘n aantal jare ken. Elke keer wat ek hom in die verlede raakgeloop het, het ek later vir my vrou gesê, “Daardie man is so vlak, so ‘n grootpraterige pronker. Ek weet nie hoe God hom ooit kan seën nie.” Toe het ek hierdie selfde man ontmoet nadat die Heilige Gees met my gedeel het oor om mense in my gedagtes te oordeel. Hierdie keer, het die Gees vir my vertel, “Wees lief vir hom. Bly stil en luister na hom. Bid dan saam met hom.”

Ek het gehoorsaam. Ek het die man liefgehad, geluister toe hy gepraat het en daarna sy hand geneem en gebid. Die oomblik toe ons uitmekaar gegaan het, het ‘n vreemde ding met my gebeur: Droefheid het oor my gekom. ‘n Vrees het oor my gevee – die vrees van wat ek aan hierdie man deur die jare gedoen het. Ek het die uitermatige sondigheid van my besoedelende sonde gesien.

David vermaan, “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser” (Psalm 19:15). Die apostel Paulus het hierdie perspektief bygevoeg: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het...

“Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Efésiërs 4:31-32, 29-30).

Liewe heilige, daar is nie ‘n enkele persoon wat hierdie boodskap lees wat te heilig is om hierna te luister en ‘n verandering te maak nie. Ek voel God se droefheid oor al die maniere waarop ek my met mense misgis het en hulle verkeerdelik beoordeel het oor die jare, of dit nou wetend of onwetend was. Ek moedig jou aan om uit te roep soos wat my hart uitroep:

“O, Here, waarom was ek nie gereed om dit vroeër te hoor nie? Waarom het ek nie lank tevore hiermee afgereken nie? Ek wil u evangelie verkondig, om u geslag te beskryf. Jesus, vergewe my asseblief. Reinig my onrein mond, my onrein ore  en my onrein oë. En vernuwe my hart. Ek wil hê niks moet my lewe verhinder om ‘n volkome manifestering van wie U is te wees nie.”

Mag die Here ons uitroep hoor en gou maak om ons te herskep. Hy sal ons krag gee om alle slegte praatjies, slegte luister en veroordelende denke te laat staan. Dan sal ons beter in staat wees om die dae van ons Here te verleng.