Wie Glo Ons?

David Wilkerson

‘n Opregte Christen man het onlangs in ‘n brief vir my die volgende vraag gevra” “Wie glo ons? Oor die jare het ek die werke van baie bedienaars, wat oortuig was dat die einde naby was, gelees. Oor en oor het hulle dit egter verkeerd gehad. Ek besef nou dat sommige net probeer het om ‘n boek te verkoop. Maar ander het waarlik gedink dat God vir hulle gesê het dat die einde op ons is.

“So, wie glo ons? Ek het in 1980 gevoel ons mag moontlik naby die einde wees. Maar as ek ons familie se beleggings op daardie stadium onttrek het, sou ons groot geleenthede misgeloop het. Dink jy Amerika staan op dieselfde kruispad as wat ek gedink het in 1980? Of sal ons voortgaan soos ons reeds vir baie jare en moontlik vir dekades gedoen het?

“Ek voel dat jy een van die goddelike stemme in hierdie land is. Dit is waarom ek met belangstelling al jou nuusbriewe lees. Ek het ook jou onlangse boek, America’s Last Call gelees. Ek skryf nou om te vra, hoe weet ons of dit die einde is?

“Tans baseer baie mense groot lewensbesluite op hulle geloof in jou verhouding met God. Ek ook. Ek gee hierdie onderwerp van ‘n komende krisis meer oorweging as ooit tevore, weens wat ek glo oor jou wandel met die Here.

“Ek glo die aanduidings wat God vir sy kinders gee, behoort baie eenders te wees. Met ander woorde, as ons op die punt staan om ‘n tyd van groot chaos te beleef met ‘n mark wat ineenstort en voedsel en mediese tekorte, sal God sekerlik wil hê dat al sy kinders dieselfde kennis daarvan moet dra. Hy mag ons individueel lei om verskillende aksies te neem, maar op hierdie belangrike onderwerpe behoort ons almal ten minste dieselfde ding te weet. So, waarom nie? En hoe sal ons weet wanneer God met sy mense praat?

“Ek besef ek vra vir ‘n groter verduideliking as wat nodig mag wees. Ek bid vir elkeen van ons gedurende hierdie tyd, dat ons in God se wil mag wees.”

Ek het nog nooit geglo dat ek ‘n profeet is nie. Trouens, ek sidder voor die Here wanneer ek hoor dat talle wonderlike gelowiges soos hierdie man, soveel waarde heg aan dit wat ek skryf en preek. In my latere jare van bediening (ek is nou ses-en-sewentig jaar oud), streef ek daarna om alles wat ek in ‘n profetiese trant sê, te baseer op Skrif en nie op ‘n visioen of stem nie.

Ek is steeds soms heeltemal gebroke voor God oor hierdie dinge en roep uit na Hom op die toppunt van my stem: “O, Here, ek preek nou al vir vyf-en-twintig jaar dat oordeel voor die deur staan. Ek het boeke geskryf en waarskuwings gelewer oor ‘n komende ekonomiese krisis vir jare lank. Ek sien egter slegs die teenoorgestelde gebeur. Ek sien Amerika floreer en gelukkig voortgaan op sy pad. Ons nasie maak meer as vyfduisend baba’s dood per week. Ons gly af in putte van ongelooflike onreinheid en verwyder U uit elke instelling. Hoe lank, Here?”

Ek voel ek uiter dieselfde uitroep van frustrasie wat Jeremia voor God geuiter het. Hy het ook jarelank getrou geprofeteer van gebeure wat nog nie vervul was nie. Hy het uitgeroep, “HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my. Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! – omdat die woord van die HERE vir my ‘n smaad en spot geword het die hele dag” (Jeremia 20:7-8).

Maar Jeremia kon nie ophou om God se mense te waarsku nie. Selfs al het dit gelyk of sy profesië ongegrond was, het hy aangehou profeteer. Hy het geskryf, “En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9).

Geliefde, ek bring ure in afsondering met die Here deur en die Heilige Gees verseker my gedurig dat ek nie mislei word oor die waarskuwings wat ek gee nie. Oordeel het uiteindelik oor Israel neergedaal in elke besonderheid wat Jeremia beskryf het. Die profeet het egter nie daaroor gespog of gesê dat God se oordeel ‘n bekragtiging van sy bediening was nie. In teendeel, Jeremia was gevul met droefheid toe hy gesien het hoe sy profetiese woorde waar word.

Ek voel dieselfde vuur, wat Jeremia gevoel het, in my siel brand. En ek is meer as ooit oortuig dat ons nasie op die punt is om in ‘n vernietigende depressie te verval. Dit maak nie saak hoe hoog die aandelebeurs mag swaai nie, maak nie saak hoe ongelooflik dit mag herstel nie, Amerika is steeds op die randjie van ‘n magtige ineenstorting. God het, “sy aangesig gerig” teen hierdie nasie se bloedvergieting en arrogansie teen sy Naam en sy oordeel is op hande!

Ek dank God egter vir die baie beloftes wat Hy vir ons in sy woord gegee het om sy mense te beskerm en te seën in en deur al die storms. Daardie beloftes is die hart van my laaste boek, God's Plan to Protect His People in the Coming Depression.

God se biddende mense hoef nie te vrees nie. Ons hoef ook nie bekommerd en angstig te wees nie. Ons hemelse Vader het alles onder beheer. Hoewel ek sy oordele op ons nasie sien kom, verheug ek my, omdat ek weet wat ons Here in sy woord beloof het.

Prys God!

Ek sluit ‘n paar van die beloftes van beskerming in wat ook in my boek ingesluit is.

Psalm 9:9-11
Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel. En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg. So is die HERE dan ’n rotsvesting vir die verdrukte, ’n rotsvesting in tye van benoudheid. En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!

Psalm 12:6-8
Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag. Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal. U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.

Psalm 16:7-9
Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my. Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon.

Psalm 17:7-8
Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders! Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels.

Psalm 18:20
En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.

Psalm 20:7-10
Nou weet ek dat die HERE sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand. Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God. Húlle het inmekaargesak en geval, maar óns het opgestaan en ons weer opgerig. HERE, verlos die koning! Mag Hy ons verhoor op die dag as ons roep.

Psalm 22:5-6
Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.

Psalm 27:5
Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots.