Welgeluksalig Is die Volk Wat die Geklank Ken

Begrip vir die Krag van die Jubeljaar
David Wilkerson

Die psalmis skryf van ‘n glorieryke geheim om ‘n vervulde, vreugdevolle lewe te geniet: “Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig” (Psalm 89:16). Die Hebreeuse betekenis van hierdie vers dui op, “Diegene wat ‘n openbaring het van die geklank sal elke dag opstaan met vrede, krag en vreugde. Hulle lewens sal gevul wees met die blydskap van die môreson.”

Kortliks, die psalmis sê vir ons, “Daar is ‘n sekere, geklank wat so ‘n kragtige betekenis het, dat dit die fondament van ‘n oorwinnende lewe is. En as jy hierdie geklank ken en verstaan, sal jy van heerlikheid tot heerlikheid verander word.

“Almal wat die betekenis van die geklank ken, word selfversekerd, vreesloos. Hulle wandel deur die lewe met ‘n toenemende gewaarwording van sekuriteit. Hulle is in staan om depressie te oorwin, selfs wanneer hulle deur Satan gesif word. Hulle harte is standvastig en gerus – omdat die Heilige Gees aan hulle die betekenis van die geklank geopenbaar het!

So, wat is hierdie geklank?

Die geklank waarna die psalmis verwys, is ‘n kragtige openbaring gebaseer op die Joodse Jubeljaar!

Die geskiedenis van die Joodse fees van die Jubeljaar word gevind in Levitikus 25.  Hierdie viering begin met die Here se gebod dat Israel die grond moes laat rus van bewerking elke sewende jaar. Die sewende jaar sou ‘n sabbatsjaar wees, waarin die grond braak sou lê. Gedurende daardie jaar, moes die mense glad nie saai, vrugte pluk of enigsins enigiets oes nie: “Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel; maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie” (Levitikus 25:3-4).

God het letterlik alle lanboubedrywighede vir ‘n hele jaar tot stilstand laat kom. En dit het beteken Israel sou vir daardie tydperk lewe sonder enige sigbare middele wat hulle kon onderhou. Hulle sou hul lewens volkome in God se hande plaas en Hom vertrou vir alle voorsiening.

Natuurlik het dit baie geloof gekos. Dink daaraan: Vir ‘n hele jaar sou daar geen insameling van gewasse vir voedsel...geen oes van graan om die beeste te voer...geen werk vir boere...geen arbeid vir wynbouers wees nie. Die meeste Christene van vandag sou paniekbevange word na net ‘n week hiervan, wat nog te sê ‘n jaar. Trouens, die Israeliete het gewonder: Wat gaan ons doen vir kos gedurende die sewende jaar? Hoe gaan ons ons families en beeste kos gee? Ons sal alles wat ons het in die sesde jaar opgebruik. Is ons veronderstel om ledig rond te sit terwyl ons kinders honger ly? Verwag God regtig van ons om te kyk hoe die druiwe verrot aan die lote? Sal Hy selfs nie eers toelaat dat die armes vat wat hulle kan kry nie?

God het egter ‘n baie duidelike doel gehad om die sabbatsjaar vir die grond te beveel. Dit was bedoel om sy getrouheid aan sy mense te openbaar! “En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie? – dan gebied Ek my seën vir julle in die sewende jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewe” (Levitikus 25:20-21)

Wat ‘n ongelooflike belofte – God het vir Israel ‘n driedubbele oes gewaarborg! Hy het in wese gesê, “As jy in geloof sal uitstap en My vertrou, sal Ek vir jou ‘n oes in die sesde jaar gee wat vir jou met oorgenoeg sal voorsien vir drie jaar.” “Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerstok nie afsny nie. Dit moet ‘n jaar van rus vir die land wees” (Levitikus 25:5).

Ek glo die Here sê iets belangriks hier. En dit is, maak nie saak wat ons omstandighede is nie, Hy sal altyd voorsien vir hulle wat Hom vertrou en gehoorsaam is.

Dink vir ‘n oomblik aan al die maniere waarop God in die behoeftes van sy mense voorsien het dwarsdeur die geskiedenis:

Toe Israel in die woestyn was, het hulle geen supermarkte of kruidenierswinkels gehad nie. Daar was nie eers ‘n grassie in sig nie. Maar God het manna uit die hemel laat reën, sodat die volk brood kon hê. En Hy het veroorsaak dat voëls in swerms uit die lug geval het, sodat hulle vleis kon hê. Hy het veroorsaak dat water uit ‘n rots gestroom het. En Hy het bonatuurlik hulle skoene en klere heel gehou, sodat hulle in veertig jaar se gebruik nie verslyt het nie.

In die Ou Testament, lees ons dat ‘n honger profeet deur ‘n kraai gevoed is. ‘n Kruik meel en ‘n kan olie het bonatuurlik hulself volgemaak. En ‘n hele leër het gevlug toe hulle vreemde geluide gehoor het – en genoeg voorrade agtergelaat om ‘n hele stad vol verhongerde Israeliete te kon voed!

In die Nuwe Testament, lees ons water wat in wyn verander het. Geld was gevind in ‘n vis se bek om belasting te betaal. En vyfduisend mense was gevoed met slegs vyf broodjies en twee vissies.

Al hierdie wonderwerke roep tot ons uit, “God is getrou. Hy kan vertrou word!” En nou, in Levitikus 25, lees ons van ‘n ander bonatuurlike verskynsel – ‘n ryp oes in die sesde jaar.

Volgende het God die mense beveel om sewe opeenvolgende siklusse van sabbatte vir die grond waar te neem: “Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou negen-en-veertig jaar is” (Levitikus 25:8). Met ander woorde: “Julle moet hierdie sabbat elke sewende jaar vier vir ‘n periode van nege-en-veertig jaar – sewe sabbatte maal sewe.”

In Bybelse terme, sou die nege-en-veertig jaar periode ‘n hele geslag insluit. Die gevolgtrekking hier is dat so ‘n tydperk genoeg tyd vir ‘n hele geslag sou verskaf om te leer om die Here te vertrou. Oor daardie tydperk, sou ouers en grootouers ‘n geskiedenis opbou van geloof, sodat hulle vir hulle kinders kan vertel:

“Ja, dit is waar! Na die eerste ses jaar, het God alles voorsien wat ons nodig gehad het. Maar toe die sewende jaar kom, was baie van ons bang. Tog het God se voorsiening ons deurgedra tot die agtste jaar en ook tot by die negende. Soms was dit angswekkend, maar daar was altyd genoeg. Niemand het van honger omgekom nie en niemand moes bedel nie. Alle behoeftes was aangespreek. God het ons geloof getoets – en Hy het getrou gebly!”

Ek is seker dat toe die sabbatte ingestel was, het sommige mense gekul. Hulle het waarskynlik gedink, “Ek kan nie daardie soort toetsing deurgaan nie. Ek het nie die geloof nie.” En daarom het hulle in die geheim uitgegaan na hulle lande in die nag en geplant. Maar hulle oeste was besmet en het min vrug gedra.

En die mense het dieper in die skuld geraak en moes van hulle bure leen.

Die punt is, wanneer God sê, “Vertrou My,” bedoel Hy dit!

Die vyftigste jaar was die “Jubeljaar” genoem – wat beteken “die blaas van basuine!”

Na ‘n “sabbat van sabatte” – dit is, sewe sewe-jaar tydperke – moes die vyftigste jaar ‘n Jubelaar wees. Wanneer hierdie tyd aangebreek het, was daar ‘n geblaas van basuine (Die woord “jubel” beteken die geklank van basuine.”):

“Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ‘n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur hulle hele land laat gaan” (Levitikus 25:9).

Die Jubeljaar het inderdaad op die dag van versoening plaasgevind – dit is, die tiende dag van die sewende maand. En, op ‘n voorafbepaalde uur – terwyl die hoëpriester die allerheiligste binnegaan het om die offerbloed te sprinkel – het basuine begin blaas oor die hele land.

Die basuine se geskal kon in elke stad, dorpie, nedersetting, berg en vallei gehoor word. En elke Israeliet het die betekenis van die geluid geken. Wat het dit alles beteken? Dit het ‘n ontsaglike seëning van vrylating en verlossing ingelui – deur die Here se dekreet.

“En julle moet die vyftigste jaar heilige en ‘n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ‘n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan” (Levitikus 25:10).

So ‘n dekreet was ongekend: Die geklank van die basuine het alle skuld gekanselleer en alle goedere aan die oorspronklike eienaars teruggegee. En dit het elke dienaar bevry van elke vorm van ballingskap en slawerny!

Nodeloos om te sê, die basuine se geskal was ‘n blye geklank vir elke dienaar, gevangene en onteiende persoon dwarsdeur die land. Dit het die einde van alle slawerny aangekondig en ‘n nuwe begin in die lewe beteken. Laat my vir jou ‘n voorbeeld hiervan gee.

Onder Joodse wet, het geen mens enige grond besit nie. Selfs al het hy sy eiendom geërf en dit so lank in sy familie gebly het as was die familie oorleef het, het God alles besit. Elke Israeliet moes erken dat God die berge, die valleie, die beeste en die rykdom van hierdie wêreld besit het – en dat sy mense slegs die lewenslange huurders was. Hulle moes ligtelik aan hulle besittings vashou.

Wanneer iemand in skuld verval het – deur wanbestuur, ongehoorsaamheid, luiheid of een of ander soort ramp – was daar geen voorsiening vir bankrotskap nie. Laat ons sê ‘n boer het ‘n groot som geld geskuld. Hy moes dalk sy eie kinders en dienaars verkoop om die skuld af te betaal.

As die boer dan verder agterstallig geraak het, moes hy sy grond oorgee en alle winste van die oes verbeur. En in ‘n uiterste geval, sou die boer selfs homself moes verkoop aan ‘n ander boer, net om ‘n lewe te maak.

Maar wanneer die Jubeljaar gekom het – in die vyftigste jaar, na ‘n sabbat van sabbatte – was elke skuldlas uitgewis. Alle huurregte en besittings het teruggegaan na die oorspronklike huurder. En dit het beteken dat die boer sy grond en sy familie sou terugkry!

Jy kan jou voorstel die gejubel wat plaasgevind het in Israel en Juda wanneer die basuine geblaas het. Op daardie oomblik – op die tiende dag van die sewende maand, terwyl die hoëpriester versoening gedoen het – het elke slaaf wat in slawerny verkoop was, vrygelaat. En elke mens wat eiendom verloor het, het alles teruggekry. Families was herenig. Huise was herstel. Dit was ‘n tyd van vrylating, vryheid en verlossing!

Ek stel my voor behoeftige boere wat langs die grenslyne van hulle ou eiendom gestaan en gewag het om oor te stap sodra die basuine geblaas het. Hulle het vir tien jaar...toe vyf...toe een...gewag en nou kon hulle die minute aftel om die blye geklank te hoor. Hulle moes gedink het, “Ek kry alles terug wat ek verloor het. Dit is weer myne – want dit is die Jubeljaar!”

Daar mag niks gesaai of gemaai gewees het tydens die Jubeljaar nie. In plaas daarvan, was dit ‘n tyd om the jubel. Dink daaraan: Die Jubeljaar was ‘n hele jaar van Kersfees elke dag – van God prys vir sy genade, voorsiening en vryheid!

Verstaan asseblief – die vrylating wat by die Jubeljaar verklaar was, was nie een of ander vae idee gegrond op geloof alleen nie. Dit was die wet van die land. En al wat ‘n skuldenaar moes doen om die wet af te dwing, was om daarop aanspraak te maak. Die Leviete het as monitors, of balju’s opgetree, sodat almal verseker was van geregtigheid.

Soms sou ‘n meester vir ‘n slaaf sê, “Jy mag nie weggaan nie – jy is steeds my dienaar! Gaan terug na jou werk toe.” Maar daardie dienaar kon lag in die gesig van sy meester en sê, “Ons albei weet wat daardie basuin se geklank beteken. Dit is die blye geklank van my vryheid! Jy het geen wettige regte meer op my nie. Ek is vry!”

Hoe het die mense gewag en uitgesien om daardie blye geklank te hoor. Dit het beteken hulle het die vryheid gehad om te sê, “Niks in my verlede kan teen my gehou word nie. Ek is bevry, verlos. En niemand kan my beroof van my erfenis nie.” Die persoon in slawerny moes egter daadwerklik optree om besit te neem van sy vryheid of sy verlore eiendom. Hy kon dans en skree in die sinagoge net soveel hy wou en uitroep, “Ek is vry! Alles is herstel!” Maar totdat hy uitgestap het en sy regte opgeëis het, kon hy niks daarvan geniet nie. Sien jy die beduidenis hier? Die meeste Christene het nie die Jubeljaar wat Jesus Christus vir hulle gegee het, opgeëis nie. Baie dink die blye “geklank” vandag is blote handeklap of dans in ‘n emosionele tyd van lofprysing. Maar dit is soveel meer! God roep ons om die vryheid, vrede en heerlikheid wat Hy vir ons voorsien het deur die vergifnis van sonde toe te eien. Ons moet in geloof uitstap en dit opeis!

Die profeet Jesaja verklaar Jesus Christus is ons Jubeljaar!

Jesaja skryf: “...Hy het My gestuur...om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here...” (Jesaja 61:1-2).

Ons is bekend met hierdie gedeelte as ‘n prokklamasie van Christus se oorwinning oor dood en sonde. Jesaja gebruik egter hier die taal van die Jubeljaar. Hy sê in wese, “Laat die basuine blaas – en die blye, Jubeljaar van vrylating wat ons Verlosser ons gegee het, aankondig!”

Hierdie gedeelte verwys ook na die toneel van Christus se opvaring na die hemel. Die hemelse Vader – nadat Hy die verskriklike lyding van sy geseënde Seun aanskou het – het vir Jesus ‘n glorieryke intrede in die hemel voorberei. Trouens, terwyl Christus opgevaar het na die hemel, was Hy vergesel deur ‘n leër van engele en menigtes van strydwaens:

“Die waens van God is tienduisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid. U het opgeklim na die hoogte...” (Psalm 68:18-19).

Ons beperkte verstand kan nie begin om hierdie glorieryke geleentheid te begryp nie. Terwyl Christus die ewige stad van God genader het en op sy wit perd gery het, was Hy vergesel deur hierdie groot optog. En terwyl Hy die poorte binnegaan het, het die basuine van God begin klink: “God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank” (Psalm 47:5).

Dit was die blye geklank – die geskal van die basuine wat die gelowige se Jubeljaar aankondig! En die geklank het vir die hele mensdom verkondig, “Ek het vir jou voorsiening gemaak – om uit die tronk uit te kom, om met jou familie herenig te word en alles te doen wat jy nodig het vir ‘n vervulde lewe. Jy is vry om te leef sonder vrees van die vyand. Gaan nou in my blydskap in!”

Paulus skryf van Christus se hemelvaart: “Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het” (Kolossense 2:15). Dit is reg – strompelend agter ons Here se triomfantlike prosessie, was die prins van duisternis self, vasgeketting! En agter die verslane duiwel – onder die wiele van die hemelse leër – was al die magte van die duisternis, vasgeketting en verslaan. Hulle was openlik in die skande gesteek voor al diegene wat voor die kruis in geloof gesterf het.

En Jesus het die poorte betree met ‘n septer van geregtigheid in sy hand – sy “ysterstaf” waarmee Hy heers oor al die nasies. Toe, na sy triomfantlike intrede, het Hy sy regverdige plek op die troon ingeneem in volle besit van alle mag, gesag en heerskappy.

Wat ‘n glorieryke toneel! Satan is nie in beheer nie. Kommunisme is nie in beheer nie. Ateïsme is nie in beheer nie. Nee, die vyande van Christus bestaan slegs deur sy toestemming. En op hierdie oomblik is hulle net besig om hulle bekers van ongeregtigheid vol te maak. Jesus is in beheer van alle dinge – en eendag, wanneer Hy gereed is, sal hy “hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot...” (Psalm 2:9).

Geliefde, ons begrip van Christus se oorwinning oor Satan en die heerskappy van sonde kan nie ‘n vae, verwarde teologie wees nie. Ons moet die blye geklank ken en verstaan. Satan is heeltemal verslaan; hy kan  ons nie meer gevange hou nie. En Christus het ons vrygemaak van elke slawerny deur sy bloed. Nou sit Hy op sy troon met alle mag en gesag – en bied ons vrede, blydskap en vryheid!

Christus het opgevaar na die hemel nie net as ons seëvierende Koning nie, maar as ons Hoëpriester – om vir ons in te tree!

Net soos die hoëpriester opgeklim het met die trappe na die allerheiligste op die dag van versoening, het ons Hoëpriester Jesus opgevaar na die hemelse tabernakel, “...die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie...” (Hebreërs 9:11). Trouens, Johannes beskryf waar hy Jesus sien in sy priesterlike kleed: “...met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel” (Openbaring 1:13).

Jesus het egter nie net opgevaar om die heerlikheid wat Hy ontvang het, te geniet nie -  maar om ons onthalwe ‘n werk te doen. Die apostel Paulus skryf: “...Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee” (Efésiërs 4:8). Paulus haal hier aan uit Psalm 68: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense...Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil!” (Psalm 68:19-20). Die psalmis sê in wese, “Ons Verlosser het vir ons elke gawe en voordeel gegee wat ons nodig het om in vryheid te leef!”

En die skrywer van Hebreërs herinner ons dat Jesus se werk in die hemel alles net vir ons is: “Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24). “...omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebreërs 7:25). Christus doen dit alles vir ons!

Wat beteken hierdie frase egter, “Hy leef om vir ons in te tree”? Ek glo Jesus tree vir ons in op drie maniere:

Sommige van ons stel ons voor dat Jesus voor die Vader staan en by Hom pleit om ons barmhartigheid te betoon wanneer ons misluk. Nee! Christus se voorspraak vir ons het te doen met Satan se beskuldigings teen ons.

Jy sien, die duiwel kom na God se troon om ons te beskuldig van elke mislukking en oortreding. Hy roep, “Ek wil geregtigheid hê! En as U ‘n regverdige God is, sal U hierdie mens vervloek en vernietig. Hy verdien dit!”

Maar net dan, tree Jesus in. Hy hoef nie die Vader van enigiets te oortuig nie. Eerder, Hy verklaar eenvoudig die oorwinning van sy kruis. Dan draai Hy na die Satan en sê, “Het jy nie die basuin gehoor nie, duiwel? Jy weet jy het geen aanspraak op hierdie kind van my nie. Hou jou hande van my eiendom af!”

Tweedens, Christus se bemiddeling vir ons beteken Hy maak seker ons verkry en geniet al die voordele wat deur die Jubeljaar voorsien word. Net soos die Leviete die wet afgedwing het wat elke mens met sy regverdige seëninge voorsien, so dwing Jesus vandag die voordele van die Jubeljaar vir ons af. Hy maak seker ons weet ons is wettig vry!

Satan mag probeer om die oorwinning aan die kruis te omseil deur vir ons te vertel, “Jy is in my houvas en jy weet dit. Jy sal ‘n slaaf van begeertes wees jou hele lewe lank! Jy sal nooit oorwinning oor jou gewoontes kry nie.”

Maar die oomblik wat dit gebeur, tree Jesus in. Hy stuur sy balju – die Heilige Gees – om sy dekreet van die Jubeljaar af te dwing en te sê, “Die basuine het geblaas, duiwel. Dit is Jubeljaar tyd! Laat staan jou aanspraak op hierdie vrygemaakte kind. Jy het nie meer reg op hom nie!”

Ons mag steeds sukkel met sonde – maar ons is wettig vry verklaar van alle slawerny. En ons moet ons vryheid en volle erfenis opeis, maak nie saak hoe veroordeeld ons mag voel nie.

Derdens, Jesus doen voorspraak in ons eie harte en versoen ons met die Vader. Hy antwoord voortdurend ons twyfel en vrese en herinner ons: 1. Ons is vergewe, 2. Ons moet God se goedheid en barmhartigheid teenoor ons onthou, en 3. Ons kan vertrou op God se getrouheid om ons te voorsien met al die krag en sterkte wat ons nodig het.

Weens Jesus se voorspraak, kan ons nou sê, “Ek het my stryd met die vlees – maar ek weet in my hart wat Jesus vir my gedoen het. Sonde kan nie meer ‘n houvas op my hê nie. Ek het die blye geklank gehoor!”

Kyk na al die seëninge wat geniet kan word as jy die blye geklank ken!

Daar is ‘n rede waarom so baie Christene in vrees en verwarring leef vandag. Dit is omdat hulle nie die blye geklank van die Jubeljaar ken nie! Ja, hulle weet Jesus het gesterf en weer opgestaan; hulle weet sy bloed het krag om te verlos. Maar hulle het nog nie die blye geklank verstaan van alles wat Hy vir ons voorsien het om in vryheid te leef nie!

“Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken...” (Psalm 89:15). Die blye geklank wat ons vandag hoor, is die basuin van God wat ons verlossing deur die bloed van Jesus Christus aankondig. Hier is nou die ander seëninge van die Jubeljaar:

  1. “...o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig” (Psalm 89:16). Die Hebreeuse betekenis hier stel voor, “Hulle sal wandel in blydskap, verseker van God se beloftes, gerus in sy teenwoordigheid.” Eenvoudig gestel, ons hoef nie langer in duisternis of verwarring te wandel nie – omdat ons die lig van sy aangesig sal aanskou!
  2. “In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef” (Psalm 89:17). Ons weet ons eie geregtigheid is soos ‘n besoedelde kleed. En daarom moet ons moed skep deur te jubel in sy geregtigheid – wat ons s’n is deur geloof alleen!
  3. “Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef” (Psalm 89:18). Ons weet dat Christus alleen die bron van al ons krag is. En ons hoef meer nie te leef onder die duiwel se duim nie. Al wat ons moet doen, is om op Satan se rug te kyk, waar ons die spoor van die hakskeen van ons Verlosser sal sien. Jesus het ons vyand verpletter!
  4. “Want aan die HERE behoort ons skild (verdediging)...” (Psalm 89:19). Ons is heeltemal hulpeloos in ons vlees. En daarom moet ons totaal vertrou in die oorwinning van Jesus se kruis. Hy verdedig ons teen elke vyand!

Geliefde, ons is op pad na een laaste groot Jubeljaar – aangekondig deur die laaste blaas van die basuin: “...Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51-52).

“Want die Here sal self van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thessalonicense 4:16-17).

Wanneer daardie basuine blaas, sal die dooies opgewek word. Daar sal geen tronke, geen slawerny, geen sonde en geen siekte meer wees nie. En op daardie oomblik, sal ons ‘n ewige Jubeljaar hê.

Halleluja!