Wandel in die Gees

David Wilkerson

Die apostel Paulus het gesê, "Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie" (Galasiërs 5:16). Hy het ook gesê, "As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel" (Galasiërs 5:25).

As Christene, hoor ons hierdie frase dwarsdeur ons lewens: “Wandel deur die Gees.” Talle gelowiges sê vir my hulle wandel deur die Gees – maar hulle kan nie vir my sê wat dit regtig beteken nie. Laat my jou nou ‘n vraag vra: Wandel en lewe jý deur die Gees? En wat beteken dit vir jou?

Ek twyfel of daar so baie van ons is wat selfs die geringste idee het wat die Gees-wandel alles behels. Dit bly ‘n vae konsep vir baie Christene, insluitend bedienaars. Maar Paulus maak dit baie duidelik oor hoe belangrik dit is om deur die Gees te lewe en te wandel.

Ek glo “deur die Gees wandel” kan gedefinieer word met een sin:

Wandel deur die Gees is bloot om toe te laat dat die Heilige Gees in ons doen waarvoor God Hom gestuur het om te doen.

Ek glo jy kan Hom nie toelaat om daardie werk te doen, totdat jy verstaan waarom God die Heilige Gees gestuur het nie.

Jesus het van die Vader gesê, “Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: Die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees” (Johannes 14:16-17).

Die Heilige Gees is na ons gestuur van die Vader af om een (en slegs een) ewige doel te bereik. En tensy ons Sy sending met en werk in ons verstaan, sal ons een van twee foute maak:

Een, ons sal tevrede wees met ‘n klein deeltjie van Sy werk – soos vir ‘n paar van die geestelike gawes – en foutiewelik glo dit is al van Hom en die groot werk van Sy ewige doel misloop in ons lewens. Of, twee, ons sal die Gees binne-in ons blus en Hom heeltemal ignoreer en glo dat Hy geheimsinnig is en dat Sy teenwoordigheid iets is wat ons deur geloof moet aanneem en nooit verstaan nie.

Die hartseer waarheid is dat die kerk dikwels skuldig is aan beide hierdie ernstige foute! Ons is tevrede dat Sy werk in ons bloot daaruit bestaan om vir ons een of twee gawes te gee. Ons dink, “Ons moet in die Gees wandel, omdat Sy gawes in my werk.” Tog kan ons in die gawes opereer sonder om in die Gees te wandel. Paulus sê ons kan profeteer, genees en in tale praat – maar as ons nie liefde het nie, is ons niks. Ons opereer nie deur die Gees nie!

Talle Christene vandag is oortuig hulle wandel deur die Gees bloot omdat hulle in tale praat. Hulle redeneer, “Hoe kan ek in tale praat en nie deur die Gees wandel nie?” Maar om in tale te bid, is nie noodwendig bid in die Gees nie. Talle wat begeer om in die Gees te bid, bars onmiddellik uit in tale – maar hulle gedagtes is heeltemal op ‘n ander plek!

Die Bybel sê as jy in tale praat, is jou verstand onvrugbaar. As ons in tale praat, laat ons ook bid met ons verstand. Bid in die Gees kan in tale bid insluit – maar dit is soveel meer as dit!

Hoeveel gelowiges se geestelike groei word belemmer omdat hulle op een of twee spesifieke gawes van die Gees gefokus het, maar nie verder gegaan het nie? Hulle was op een of ander manier oortuig dat die Heilige Gees se werk slegs was om gawes uit te deel!

Baie ander Christene beleef egter die tweede fout: Die Heilige Gees word binne-in hulle geblus – selde erken, skaars geraadpleeg, en is nie in staat om deur hulle te doen waarvoor God Hom gestuur het nie!

Ons erken die werk van Jesus Christus aan die Kruis, en ons glo Hy woon in ons en ons ken Sy teenwoordigheid. Maar ons erken nie die werk en bediening van die Heilige Gees binne-in ons nie. Ek vra jou – praat jy met die Heilige Gees soos met Jesus? Erken jy Hom daagliks?

Ek erken, dit was ‘n probleem vir my. Ek het onlangs ‘n belewenis gehad waarin die Heilige Gees met my in my binnekamer gepraat het. Hy het gesê, “David, erken My. Moenie My in een of ander donker hoekie van jou verstand en hart bêre nie. Erken dat Ek Myself aan jou openbaar op hierdie oomblik!”

‘n Tyd moet kom waarin jy ernstig raak oor waarom die Heilige Gees aan jou gegee is. Jy moet in staat wees om te sê, “Heilige Gees, die Bybel sê U is na my gestuur as ‘n gawe van my hemelse Vader. Die Woord sê U leef in my. Sê vir my – waarom het U gekom? Wat is U ewige doel? Wat probeer U in my bereik?”

Die ewige doel van die Heilige Gees in ons is om ons huistoe te bring na Jesus Christus toe as Sy ewige, vlekkelose bruid.

Die Heilige Gees het gekom om in jou en my te woon en ons te seël, te heilig, te bekragtig en voor te berei – alles vir die bruidskap van Christus. Hy is na ons wêreld gestuur om ‘n bruid gereed te maak vir ‘n huwelik met Christus!

‘n Ou Testament tipe van hierdie verhouding tussen gelowiges en die Heilige Gees word gevind in Génesis 24. Abraham het sy oudste dienaar, Eliëser, gestuur om ‘n bruid vir sy seun Isak te soek. Eliëser se naam beteken “magtige, goddelike helper” – ‘n tipe van die Heilige Gees. En net soos seker soos wat hierdie magtige helper teruggekom het met Rebekka om haar as ‘n bruid vir Isak aan te bied, net so sal die Heilige gees nie misluk om ‘n bruid vir ons Here Jesus Christus terug te bring nie.

God het Rebekka gekies as ‘n bruid vir Isak – en die Here het Eliëser reguit na haar toe gelei. Die dienaar se hele sending en doel was gefokus op een ding: om Rebekka na Isak toe te bring – om haar sover te kry om alles te verlaat wat sy gehad het, en om bemin te word deur Isak en met hom te trou. Rebekka se ouers het vir Eliëser gesê, “Van die Here kom die saak...neem haar en gaan heen, dat sy ‘n vrou kan wees vir die seun van jou meester” (sien Génesis 24:50-51).

En, geliefde, so is dit met jou en my! God ons gekies om Sy bruid te wees. Ons verlossing – ons uitverkiesing vir Christus – was gedoen deur die Here. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons na Jesus te lei – en as ons Hom vertrou, sal die Gees ons veilig tuisbring as Christus se ewige bruid!

Moenie vir ‘n oomblik dink jy het Christus eerste gekies nie. Jy was ‘n vreemdeling, ‘n uitlander – en God het jóú gekies. “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16). “Maar omdat...Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). “Soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld” (Efésiërs 1:4). “Dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid” (2 Thessalonicense 2:13).

Moses het vir Israel gesê hulle was ‘n uitverkore volk: “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God: jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees” (Deuteronómium 7:6).

O, hoe lief was die Israeliete vir hierdie boodskap! Hulle het daarvan gehou om uitverkore te wees, spesiaal in God se oë. Maar hulle wou die voordele hiervan geniet sonder om die verpligting en dissipline op te neem om hulle Meester waardig te word!

Jy sien, Eliësier het vir Rebekka gesê, “Jy is uitverkore. Nou sal ek jou seën met baie seëninge!” En Rebekka het die goue armbande, oorringe, juwele, silwer en duur klere wat hy aan haar gegee het, aangesit. Toe het Eliëser gesê, “Kom, gaan saam met my!”

Veronderstel egter Rebekka het geantwoord, “Dankie dat jy my gekies het, en vir al hierdie seëninge. Maar ek kan nie nou gaan nie – ek geniet my huidige plek té veel!”

Ek vra jou, tree ons nie almal maar dieselfde op nie? Ons neem al die seëninge – al die goud en silwer – en ons aanvaar die “uitverkorenheid.” Maar daar kom ‘n tyd wanneer ons moet opstaan en gaan! Ons moet saam met óns Eliëser, die Heilige Gees, gaan. Hy sê vir ons, “Ek het ‘n goddelike doel. Ek het gekom met ‘n sending van God – en Ek sal dit afhandel!” En net soos Eliëser huistoe gekom het met ‘n bruid vir Isak, sal die Heilige Gees nie met leë hande terugkom nie.

Die volk Israel het nooit opgestaan en die Here se leiding in die Beloofde Land ingevolg nie. Hulle het nooit die Gees ten alle koste gevolg nie. Hulle het voortgegaan in hardkoppige rebellie, afvalligheid, geestelike hoerery en afgodery. Hulle was uitverkore, maar nie gereinig nie! Hulle was spesiaal, maar het nooit hulleself vir Hom afgesonder nie. En toe dit tyd was om Kanaän binne te gaan, was hulle nie gereed nie. In plaas daarvan, het hulle anderkant toe gedraai, omdat hulle niks in die wildernis geleer het nie. Hulle was net so afvallig as wat hulle aan die begin was. Wat ‘n tragedie! Veertig jaar van geen groei nie – van slegs vir die self leef!

Dit is in werklikheid ‘n beeld van hedendaagse Christendom. Ons roem dat ons deur God uitverkore en geroep is, maar ons wil nie die dissipline van die Heilige Gees hê om ons voor te berei vir die heiligheid van die bruidskap nie. Ons neem al Sy seëninge, Sy goud en silwer en Sy groot voorsiening aan. Maar as die Heilige Gees sê, “Laat ons opstaan en gaan, dit is tyd om gereed te maak as ‘n bruid vir die Meester” – dan is dit ‘n heel ander storie!

As jy vir my sou sê jy is gered, dat jy in Christus uitverkore is en dat jy Hom liefhet, sou ek jou moes vra: “Het jy ‘n ‘Rebekka hart?’ Is Jesus die Minnaar van jou siel? Groei jou liefde vir Hom en verteer dit jou hart?” Rebekka was gevra, “Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: ja” (Génesis 24:58).

Alles wat die Heilige Gees in ons doen, hou verband met Sy sending.

Die Heilige Gees verrig nie Sy werk in ons op een of ander onsamehangende, lukrake manier nie. Hy bestaan nie bloot om ons te help om die lewe te hanteer, om ons deur krisisse te kry en ons deur eensame nagte te dra nie. Hy is nie daar net om ons op te tel en ‘n klein bietjie meer krag in te pomp voor Hy ons terugplaas in die wedloop nie.

Nee, alles wat die Heilige Gees doen, hou verband met die rede van Sy koms – om ons huistoe te bring as ‘n voorbereide bruid. En Hy tree slegs op in ooreenstemming met daardie sending! Ja, Hy is ons Leidsman, ons Trooster, ons Sterkte in tye van nood. Maar Hy gebruik elke daad van verlossing – elke aanraking, elke openbaring van Homself in ons – om ons meer geskik as ‘n bruid te maak.

Die Heilige Gees is ook nie hier bloot om gawes aan die wêreld te gee nie. Nee, al Sy gawes het ‘n doel daaragter. As jy profeteer, het daardie profesie een doel: om Christus te verheerlik en te veroorsaak dat die wêreld en Sy kerk verlief raak op Hom! Elke keer wat iemand genees word, sê die Heilige Gees, “Kyk. Dit is jou Jesus! Is Hy nie wonderlik nie? Hy is genesing – en jy sien bloot die openbaring van wie Hy is!”

Daardie gawes is óns Eliëser wat sê, “Het jy Hom lief? Kyk na dit wat Hy vir jou gedoen het!” Alles wat Hy doen, wys na Jesus, want die Gees “sal nie uit Homself spreek nie” (Johannes 16:13). “Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur...sal Hy van My getuig” (Johannes 15:26).

Die Heilige Gees het een boodskap; alles wat Hy leer, lei tot een, sentrale waarheid. Hy mag dalk skyn in ons soos ‘n pragtige juweel, maar elke straal waarheid is bedoel om vir ons een waarheid te bring, en dit is die volgende:

“Jy is nie jou eie nie – jy is gekoop teen ‘n prys. Jy is gekies om te trou met Christus. En Ek, die Gees van God, is gestuur om aan jou die waarheid te openbaar wat jou sal vrymaak van alle ander liefdes. My waarheid sal elke gebondenheid aan sonde breek en afreken met alle ongeloof. Want jy is nie van hierdie wêreld nie; jy is op pad na ‘n heerlike ontmoeting met jou wederhelf en word gereed gemaak vir Sy bruilofsmaal. Alles is gereed – en Ek berei jóú voor! Ek wil jou vlekkeloos voorstel, met ‘n passievolle liefde in jou hart vir Hom.”

Dit is die werk van die Heilige Gees – om Jesus aan die kerk te openbaar, sodat ons verlief sal raak op Hom. En daardie liefde sal ons bewaar! Die Bybel sê as jy in daardie soort gees wandel, sal jy nie die begeertes van die vlees volbring nie. Waarom? Omdat die Gees jou hart verlief maak op Christus. Die Heilige Gees kom om Jesus vir ons oop te maak – om vir ons die skoonheid van Sy heiligheid te toon.

Ons praat baie oor Heilige-Gees-leiding. Ons roep uit, “Lei my, Here. Wys vir my die pad om te gaan.” Ons onderwerp ons egter nie aan Sy leiding nie! In plaas daarvan, mors ons ons tyd deur self te probeer besluit, “Het ek die regte stem gehoor? Of het ek dit mis? Was dit net my vlees? Waarom het dit nie uitgewerk op die manier wat ek gedink het dit sou nie?” Ons het so begaan geraak oor “om dit reg te kry” dat ons op die ou end glad nie die Heilige Gees vertrou nie! Ons glo nie Hy woon in ons nie, dat Hy ‘n ewige doel het nie, dat as ons net aan Hom wil onderwerp, sal Hy ons in God se plan inlei nie.

Ek vra jou: Waarom is die manifestasies en gawes van die Heilige Gees gegee? Paulus het gesê dit was vir ons eie voordeel: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Korinthiërs 12:7). Die gawe van wysheid het niks te doen met die wysheid van hierdie wêreld nie. Liewer, dit is wysheid in die dinge van Christus. Geloof, genesing, wonderwerke, profesie, onderskeiding van geeste, tale, uitleg van tale – wat is die nut van hierdie gawes? Dit moet ons na Christus bring as ‘n bruid!

Alles wat Hy doen, mik in daardie rigting – en hoewel ons dit mag vergeet, vergeet die Heilige Gees nooit nie. Nie een van hierdie gawes het geen nut hoegenaamd nie, as dit geskei word van die Heilige Gees se ewige doel. In plaas daarvan, word dit ‘n “klinkende simbaal.” Die werking van die geestelike gawes het slegs betekenis as dit ons verander na die gelykenis van Jesus Christus!

Was jy al ooit by ‘n wonderwerk- of genesingsbyeenkoms? Het dít wat jy gesien het jou nederig gemaak? Het dit vir jou die “groot sondigheid van sonde” gewys? Het dit jou siel met liefde vir Jesus gevul? Het dit jou laat verlang na Sy wederkoms? Indien nie, was die Heilige Gees nie teenwoordig nie – omdat dit Sy werk is!

Sy doel is om die bruid nader aan die Bruidegom te trek. En as dit nie gebeur nie, dan was dit wat jy gesien het van die vlees!

Die Heilige Gees het nie gekom om ons te vermaak, om tekens en wonders en wonderwerke te beskik en ons te laat goed voel nie. Nee, elkeen van Sy werkinge het hierdie goddelike doel: “Ek maak ‘n bruid gereed.”

Die werk, bediening en sending van die Heilige Gees is enkel en alleen: Om ons van hierdie wêreld te speen...om ‘n verlange binne-in ons te skep vir Jesus se spoedige verskyning...om ons te oortuig van alles wat ons sal verontreinig...om ons oë af te haal van alles behalwe Jesus...om ons met die ornament van ‘n passievolle begeerte te vul om by Hom te wees as Sy bruid!

Die Heilige Gees moet bedroef word as Hy kyk hoe herders en evangeliste vandag Sy bediening in ‘n sirkus verander. Die Gees kan nie die manipulerings van vleeslike vertoon wat alles in Sy naam gedoen word, verdra nie. Ek kan nie begin om aan jou te verduidelik van sommige van die tierlantyntjies waarvan ek gehoor het gebruik word om ‘n gevoel van Sy teenwoordigheid te skep nie. Hoe moet dit God se hart bedroef. En dit is laster teen die Gees van God!

Deur elke genesing, profesie en openbaring van God se heerlikheid in Sy huis, is die Heilige Gees aan die werk en sê vir ons, “Dit is die liefde van jou huweliksmaat – dit is hoe Hy is. Is Hy nie wonderlik nie? Is Hy nie vriendelik, sag, bedagsaam, barmhartig nie? Jy sien egter slegs ‘n kykie van Hom na Wie Ek jou lei!”

As die Heilige Gees aan die werk is in ‘n kerk, dan sal elke lied, elke woord van lof, elke noot van elke instrument, alles gedring wees deur die Gees om Christus te verhef. Die Gees doen wat Hy geroep is om te doen – om ons voor te stel aan ons Bruidegom in al Sy heerlikheid en majesteit.

Laat my nou vir jou een van die mees glorieryke werke van die Heilige Gees wys:

Die Heilige Gees is gestuur om vir ons ‘n voorsmaak van Christus te gee!

Die Bybel noem dit ‘n onderpant – “die onderpant van ons erfdeel” (Efésiërs 1:14). Dit beteken om vir ons ‘n voorsmaak te gee van die geheel voor ons die geheel het. Ons erfenis is Christus self – en die Heilige Gees bring ons in Sy teenwoordigheid in as ‘n voorsmaak van hoe dit is om ontvang te word as Sy bruid, en ewigdurende liefde en gemeenskap met Hom te geniet.

Paulus beskryf ‘n volk van God wat “verseël is met die Heilige Gees” (Efésiërs 1:13). Dit spreek van ‘n volk wat spesiaal gemerk is deur ‘n werk van die Gees. Die Heilige Gees produseer in hulle ‘n onderskeidende kenmerk, ‘n heerlike innerlike werk – iets bonatuurliks wat hulle vir altyd verander.

Hulle is nie meer gewone gelowiges nie. Hulle is nie langer “van hierdie wêreld” nie, omdat hulle hul liefdes gestel het op dinge daarbo, nie op dinge van hierdie aarde nie. Hulle word nie geraak deur die wêreld se gebeurtenisse nie; liewer, hulle is onwrikbaar. Hulle is nie langer louwarm of halfhartig nie. In plaas daarvan, roep hulle hart dag en nag uit, “Kom gou, Here Jesus....”

Wat het gebeur om hulle te verander? Wat het die Heilige Gees in hierdie gelowiges gedoen? Wat het hulle vir altyd gemerk en verseël as die Here se besitting? Bloot die volgende: Die Heilige Gees het vir hulle ‘n voorsmaak gegee van die heerlikheid van Sy teenwoordigheid! Hy het na hulle gekom, die hemel teruggerol – en hulle het ‘n bonatuurlike manifestasie van Sy oortreffende grootheid beleef!

Dit is waarom dit so noodsaaklik is dat God se huis heilig is – waarom ons harte en hande rein moet wees, waarom ons niks moet hê wat die Gees se werk verhinder nie. Dit is omdat die Gees van God Hom daarin verbly om die sluier weg te trek om vir ons ‘n voorsmaak te gee van wat kom!

Tans maak die Heilige Gees die oë van Sy uitverkorenes oop – “verligte oë van julle verstand” (Efésiërs 1:18). Die Heilige Gees kom na ‘n kerk toe wat Hom wil hê en bid...na herders wat gebroke is voor God...na gelowiges wat geen ander belang het as om die liggaam van Christus te sien verander word na die hemelse beeld nie.

God verseël sulke mense op hierdie oomblik! Jy kan na vergaderings gaan waar Jesus so werklik vir jou is dat jy ‘n voorsmakie van die hemel in jou siel kry. Jy gaan daar weg met so ‘n gevoel van ewige werklikheid dat jou probleme jou nie langer pla nie, en jy is veral nie bang vir die duiwel nie. God plaas ‘n heilige vuur in jou siel en jy sê, “Dit is bonatuurlik. Dit is nie ek nie – dit is God se Gees wat deur my werk!”

Hy gee vir ons “’n bietjie van die hemel” om mee hemel toe te gaan – ‘n opwekking van ons aptyt. Hy open die vensters van die hemel en laat ons kyk na die heerlikheid wat ons s’n sal wees. Ons kry ‘n voorsmaak van Sy heiligheid, Sy vrede, Sy rus, Sy liefde – en ons is vir altyd bederf vir hierdie aarde, omdat ons smag na die volheid wat ons gesmaak het!

Die Gees se sending is nie voltooi totdat Hy ‘n passievolle, toenemende verlange na Christus binne-in ons skep nie!

Watter soort bruid dink jy sal die Gees aan Jesus Christus voorstel op daardie dag van Openbaring? Een wat halfhartig is? Wie se liefde louwarm of koud is? Wie nie toegewyd is aan Jesus is nie? Wie nie intimiteit met Christus wil hê nie?

As jy Jesus werklik liefhet, is Hy nooit uit jou gedagtes nie. Hy is teenwoordig elke oomblik terwyl jy wakker is. Sommige Christene dink, “Dit sal met my gebeur wanneer ek sterf. Wanneer ek in die hemel kom, sal alles verander. Ek sal dan die spesiale bruid van die Here word.” Nee, om te sterf heilig niemand nie! Die Heilige Gees is hier vandag, Hy leef in werk in jou – om ‘n passievolle liefde vir Christus in jou te skep aan hierdie kant van die dood!

Romeine 8:26 beskryf een van die kragtigste werke van die Heilige Gees in die hart van die gelowige: “En net so kom die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.”

Wat is hierdie sugtinge van die Heilige Gees diep binne-in die hart? Wat is hierdie emosie wat so deurslaggewend is dat daar geen woorde is om dit uit te druk nie?

Die Hebreeuse woord vir sugting beteken ‘n smagting – ‘n verlange na meer van Christus. Jy kan soveel na Jesus smag, dat jy in Sy teenwoordigheid sit in niks kom uit nie, behalwe ‘n diep sugting – iets wat nie uitgedruk kan word nie. Dit sê, “Jesus, U is die enigste geluk wat in hierdie wêreld is. Ek het dit gesmaak en gesien dat U goed is – en ek wil alles van U hê.”

Dit is die diep, innerlike uitroep van iemand wat smag na heiligheid en benoud is oor sy ongeregtighede. Hy erken egter, “Ek weet nie hoe om te bid nie. Ek weet nie waarvoor om te bid nie, of hoe ek veronderstel is om te bid nie.” Sy hartsgeroep is: “Heilige Gees, kom! U ken die gedagtes van God. U weet hoe om te bid volgens die wil van die Vader. Wandel saam met my – neem beheer!”

Dit is die kenmerk van iemand wat in die Gees wandel: Hy het ‘n onversadigbare aptyt vir Jesus. Dit is egter nie omdat hy siek is vir al die gemors wat hy in die wêreld sien nie – al die onreinheid, misdaad, dwelms en werkloosheid. Nee, dit is eerder iets baie positief. Soos Paulus, is hy net angstig om heen te gaan en by die Here te wees!

Hierdie persoon word deur die Gees gedring om Christus na te jaag met soveel passie en emosie dat Hy oorweldig word. Sy hart verlang na Christus, geen woorde kan sy honger en liefde uitdruk nie. Dit is ‘n wonderlike, kragtige belewenis – maar dit is ook pynlik, omdat hy nog nie die volheid kan betree wat op hom wag nie!

Dit is jammer dat min mense hierdie passievolle sugting na Christus het vandag. Daar is geen honger of dors en so min passie. Elke Sondag is kerke vol Christene wat nooit hulle liefde vir Christus bevraagteken of ondersoek nie!

Maar die Heilige Gees het Sy mense gevind! Hulle laat toe dat die Gees beheer neem. Hulle begin om hulle aan Hom te onderwerp – en hoe meer hulle dit doen, hoe meer kom Sy innerlike sugting na vore.

Dierbare heilige, wat het in jou lewe gebeur sedert jy jou saligheid ontvang het? Doen jy alles slegs omdat jy moet? Is jy louwarm? Is jy bang om aan die brand vir die Here te wees, omdat jy as ‘n fanatikus beskou sal word?

Vra die Heilige Gees om Christus so in jou hart te openbaar dat jy heeltemal gespeen sal word van hierdie wêreld. Dit is wat met Abraham gebeur het. Hy het gesê, “Ek gaan net hier verby.” Hy het uitgesien na ‘n stad waarvan die bouer en skepper God was. Hy het ‘n visie gehad en sy oë was oopgemaak vir die ewigheid.

Kan jy op hierdie oomblik sê dat jy gereed is om by Hom te wees, dat hy Hom meer wil hê as jou lewe? Jy mag dit dalk dikwels sê, maar bedoel jy dit wanneer jy sing, “Hy is vir my meer werd as die lewe”? Is jy meer passievol verlief op Jesus as toe jy Hom aan die begin ontmoet het?

Op hierdie oomblik, roer die Heilige Gees aan die kole van jou liefde wat besig is om dood te gaan. Dit is omdat Hy begeer om jou hart aan die brand te steek. Laat jy toe dat die Gees van God jou oortuig van sonde en ongeloof? Indien wel, juig! Hy wil hê jy moet gereinig wees van elke vlek of rimpel op daardie dag wanneer jy jou Bruidegom tegemoet gaan!

So, onderwerp jou aan Sy leiding. Laat Hom Sy werk volkome in jou doen – en jy sal waarlik weet wat dit is om in die Gees te wandel!