Waarom ly die Regverdiges?

‘n Kosbare doktersvriend van my het eenkeer vir my vertel hoe God hom laat aansluit het by die “skool van medelye.” Hy het baie min empatie gehad met mense wat gekla het van pyn. Dokters sien en hoor soveel van pyn, dat hulle dikwels immuun daarvoor word. Hy kon nie verstaan waarom pasiënte met nierstene, byvoorbeeld, van die pyn kon skreeu nie. Hy het gedink, “Dit kan nie so erg wees nie – hulle moet ‘n bietjie oordryf – miskien om medisyne te kry. Hoe kan iemand so swaar ly?” Toe eendag, het hý opgestaan met nierstene! Die pyn was alles wat hulle gesê het dit was: hy moes medisyne kry net om dit te verduur. Dit was verskriklik! Vandag, het my doktersvriend ‘n ware medelye vir die pyn van sy pasiënte.

Ek lees sommige van die briewe wat my vrou Gwen ontvang van vroue wat mastektomieë gehad het of wat moet gaan vir ondersoeke vir ‘n klont in die bors. Hulle weet Gwen het vyf kankeroperasies oorleef – haar mastektomie was meer as sewe jaar gelede. Hulle roep uit om medelye en hoop. Gwen bewaar daardie briewe soos goud. Vir haar, is daardie lydende vroue soos lydende studente – en sy was in God se skool van medelye. Sy het deur die lyding en pyn gegaan, en nou kan sy vertroosting, hoop en sterkte bied aan ander. Gwen ken die pyn van wakker word met verbande en vermink voel.

Daar is ‘n Heilige Gees skool van medelye, wat bestaan uit beproefde heiliges wat swaar gely het. Hulle is heen en weer gegooi, versoek, getoets, beproef en mishandel. Die Bybel praat van ‘n “gemeenskap aan sy lyde” (Filippense 3:10). Dit is ‘n gemeenskap wat lyding deel: diep, geheimsinnige, ondenkbare beproewings en toetse. Dit is ‘n skool wat Jesus gestig het en Hy het die leerplan opgestel. Hy het bewys dat dit moontlik is om deur dit alles te gaan, dit te verdra, en te gradueer as ‘n oorwinnaar. Ons sal nie gradueer nie totdat ons ook verheerlik is!

Jesus het geestelike en fisieke angs gely – Hy was verwerp, gewantrou, mishandel, bespot, voor gelag. Hy het geweet wat dit was om alleen, honger, arm, ongeliefd, beskaamd, die onderwerp van grappies te wees en gelaster te word. Hy was ‘n leuenaar, ‘n bedrieër en ‘n valse profeet genoem. Hy was verneder; Sy eie familie het Hom nie verstaan nie; Sy mees betroubare vriende het geloof in Hom verloor; Sy eie dissipels het Hom verlaat en gevlug; een het selfs ontken dat hy Hom geken het. Laastens het hulle op Hom gespoeg, Hom bespot en Hom vermoor! “God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly” (Handelinge 3:18). Jesus het medelye met al ons hartseer en lyding omdat Hy self deur dit alles gegaan het. “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15).

My doel met hierdie boodskap is om jou te waarsku om nie ontsteld te wees oor die sorge en lyding in jou eie lewe, óf oor dit wat jy sien gebeur in die lewens van talle goddelike mense oral rondom ons nie. Jy mag Jesus nou meer liefhê as ooit tevore en kan dalk nie verstaan waarom jy deur al sulke beproewings en hartseer moet gaan nie. Jy kan baie seker wees dat God ‘n goddelike doel agter elke beproewing, agter elke enkele lyding het wat jy op hierdie oomblik verduur!

Paulus was baie begaan daaroor dat Christene nie ontsteld moet wees oor die lyding wat hulle in hierdie lewe sien nie. Hy het geweet hierdie lewe is‘n skouspel, ‘n visbak! Die Jode het geglo dat as God tevrede met jou was, sou jy altyd geseënd wees en nooit ly nie. Paulus wou nie hê dit bekeerlinge moes veward wees oor al die sorge wat rondom hom gewemel het nie. Min mense het meer gely as Paulus. Onthou wat Ananias oor hom geprofeteer het net na sy bekering: “...Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Handelinge 9:15-16).

Berigte van Paulus se groot lyding het deur al die kerke heen versprei. Talle bekeerlinge en Judese leraars het steeds gehou by die tradisies van die Jode, dat alle lyding ‘n teken was van God se misnoeë. Daarom het Paulus Timótheüs gestuur na die kerk van Thessalonika en gesê, “Sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is. Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet” (1 Thessalonicense 3:3-4). Hy het ook vir die Efésiërs gesê, “Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge...nie” (Efésiërs 3:13).

Die Bybel waarsku ons vooruit dat die goddelikes in Christus sal ly.

Ons moenie verbaas wees as ons ly nie. Ek gee nie om watter leraar of herder of evangelis vir jou gesê het dat heiliges wat vertrou, as hulle net die regte geloof het, nie hoef te ly nie. Die Woord van God sê presies die teenoorgestelde. Jesus self het gesê, “...In die wêreld sal julle verdrukking hê...” (Johannes 16:33). Die woord hier vir “verdrukking” in Grieks, is thlipsis, wat beteken “benoudheid,” “laste,” “vervolging,” “swaarkry.” Jesus het ons gewaarsku dat in die laaste dae, groot moeilikhede ons sal oorval: “Dan sal hulle jul aan verdrukkinge oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam” (Matthéüs 24:9). Ek luister na al hierdie aangename, vermakerige prediking dat Amerika besig is om terug te keer na God toe omdat ons die nasie is wat die wêreld evangeliseer – en ons die land is wat Israel ondersteun. My Bybel sê dat alle nasies ware gelowiges sal vervolg; all nasies sal verdrukking bring oor diegene wat Jesus liefhet. Paulus het vir die kerke gesê: “...Ons hou aan om julle vooraf te waarsku dat ons vervolging sal ly.”

Jesus het ons vooraf gewaarsku oor ‘n naderende gety van lyding, vervolging, en verdrukking, selfs tot die dood. Jy sê dit kan nie in Amerika gebeur nie! Hulle het gesê dit kon nie in Amerika gebeur nie, maar vandag het homoseksuele konstitusionele regte om hulle sonde te pleeg; 500,000 het deur New York Stad se strate betoog! Dit kon nie gebeur nie – tog gaan die Kongres wetgewing deurvoer teen die openbaarmaking van diegene met VIGS, die eerste siekte (pes) wat beskerm word deur wette van privaatheid deur konstitusionele beskerming!

Paulus het rondgegaan en gelowiges gewaarsku dat hulle persoonlik sal ly, “Die siele van die gelowiges versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:22). Weer is die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir “verdrukking,” presies dieselfde een wat Jesus hierbo gebruik het, wat “angs,” “laste,” “vervolgings” en “sorge” beteken. Paulus sê, “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Timótheüs 3:12). Die goddelikes sal die koninkryk binnekom, nie sonder lyding, sonder siekte, sonder pyn nie. Maar liewer, hulle sal deur baie angs, baie vervolging, baie laste, en baie swaarkry binnegaan! Vir die Thessalonicense, het Paulus geskryf, “Sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolging en die verdrukkinge wat julle verduur” (2 Thessalonicense 1:4).

Jesus waarsku van ‘n sekere soort gelowige wat struikel en val wanneer swaarkry kom. “En hy wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik” (Matthéüs 13:20-21). Dit is die Christene wat ‘n kompromie maak wat skielik blootgestel word aan die ware Woord van God. Hy word skielik wakker en daar is nuwe blydskap. Hierdie een sê, “Dit is presies waarna ek gesoek het! Dit verander my lewe. Dit is wonderlik!” Hy gaan oral rond, soos ‘n lopende advertensie vir hierdie nuwe waarheid, en sê vir almal, “Jy moet saam met my kom – hulle gee vir jou die waarheid by my kerk!” Hy lyk of hy gelukkig is en groei, maar daar is ‘n harde, klipharde hart wat nog nie gebreek is nie. Dan laat God lyding, angs, pyn, hartseer en verwerping toe, en hy kan dit nie verstaan nie! Dit maak nie vir hom sin nie. Hy sê, “Ek het probeer! Ek het gebid – ek het my Bybel gelees – ek het my bekeer van wat ek was. So, waarom gebeur dit nou alles met my?” God se Woord is aan die werk in hom, maar hy word ongeduldig. Dit gee hom aanstoot. Hy sien baie goddelike mense ly en dit lyk nie reg nie. Daarom struikel hy daaroor – verloor moed – en val!

Daar was mense van Time Square Kerk wat gehoor het Gwen was baie siek vir amper drie weke, en hulle het vir my gesê, “Broer Dave, ek verstaan nie – sy is so vriendelik en sorgsaam – sy lewe nie in sonde nie. Waarom ly sy so baie?”

My sekretaresse se suster, Faith, het haar laaste vyf-en-twintig jaar deurgebring om ghetto kinders te help. Sy was ‘n goddelike, sorgsame, nederige dissipel van Jesus Christus, en het alles gedoen wat Hy haar beveel het om te doen. Sy het onlangs gesterf, verteer deur beenkanker. Terwyl ek vir haar gebid het net voor haar dood, het ek ervaar dat Jesus haar aan die regterhand neem en haar lei na rustige, groen weivelde.

Sommiges neem aanstoot, en is verward. Maar Dawid het gesê, “Kosbaar in die oë van die HERE is die dood van sy gunsgenote” (Psalm 116:15). “Kosbaar” in Hebreeus beteken “waardevol,” “noodsaaklik.” Dit beteken dat Hy hulle nodig gehad het – hulle dood is noodsaaklik vir Sy ewige plan. Paulus het moedig gesê, “...dat Christus...groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is...die sterwe wins...” (Filippense 1:28). Wat hy in wese sê, is dat lyding, of selfs die dood van ‘n goddelike siel, ‘n teken vir die wêreld is van verlies, verwoesting, of noodlot is – maar vir diegene wat God ken, is dit alles verlossing, deur lewe of dood.

Die apostels het nie die soort pynlose evangelie verkondig wat vandag verkondig word nie.

Christene word vertel dit is nie God se wil vir gelowiges om te ly nie, maar wat het die apostels verkondig? Petrus het gesê, “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepeer toevertrou met goeie dade” (1 Petrus 4:19). “...omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). Petrus sê in wese, “Dit is genoeg om te weet God is getrou, dat Hy jou nie meer sal laat ly as wat jy kan dra nie, dat Hy ‘n uitkoms sal beskik, dat jy dit kan verdra.” Vertrou die bewaring van jou liggaam en siel aan Hom toe!

 “En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves” (1 Petrus 5:10). “Geliefde, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13). Paulus het gesê, ter wille van Hom, “...Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry” (Filippense 3:8).

Ly Christene? Was Paulus nie ‘n goddelike man nie? Luister na hom: “...in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diep water deurgebring...in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene...in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid...my daaglikse bekommernisse, die sorg van al die gemeentes” (2 Korinthiërs 11:23-28). Deur al sy pyn en lyding heen, kon Paulus triomfantlik sê, “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

Die doel van lyding is om vertroosters in die liggaam van Christus te produseer.

Deur die skool van lyding, lei God simpatiseerders op wat getoets is in die vuur en Hom getrou bewys het. God sien die groot verdrukkings wat vir die kerk voorlê: ongelooflike lyding wat ons nie kan beskryf nie, groot en swaar vervolging. En Hy sal nie onkant gevang word sonder beproefde en ware getuies in hierdie laaste tyd nie.

Sommige van julle mag dalk nie weet of verstaan waarom julle deur sulke diep beproewings gegaan het nie. Dit was soms so moeilik, dat jy amper moed verloor het. Maar die Trooster het gekom en jou voetstappe bevestig! Jy was in die Heilige Gees skool van medelye, omdat God ‘n bediening van vertroosting vir jou het. Jy is geleer – jy word steeds geleer – groot lesse geleer. Dit is sodat jy hoop en vertroosting kan bied aan ander wat deur die vuur gaan.

Ons weet die Heilige Gees is ons Trooster. Maar waarom kom Hy na ons toe in ons ernstige lyding? Waarom versterk, help, en lig Hy ons gees op? “...Sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus” (2 Korinthiërs 1:4-5). Paulus maak dit baie duidelik dat sommige toegelaat word om so baie verdrukking te ly, nie net vir hulle eie opleiding nie, maar ook tot voordeel van ander en om hulle te leer. “Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding” (1 Korinthiërs 1:6-7). Wie is daar onder ons wat kan kyk na waardeur hy of sy gaan en sê, “Dit gaan ander vertroos en seën en red wat deur dieselfde dinge gaan”? Dit is so moeilik om te glo en te aanvaar, maar God se Woord verklaar, dat “...Verdrukking lydsaamheid werk” (Romeinge 5:3).

Vandag moet die kerk mense hê wat nie aanstoot neem of vernietig word deur hulle lyding nie, ‘n volk wat nie neerslagtig, moedeloos en vol vrae is nie, maar wat vashou aan Sy liefde, en Hom getrou bewys in alles – geduldig, blywend, sterk in geloof. Hulle moet ‘n voorbeeld wees vir die swakkes, ‘n bron van ware troos en vertroosting wees. Dit is so maklik vir diegene wat nie gely het nie om betekenislose, leë woord van advies te gee. Maar tensy hulle gesterf het aan self, gesterf het aan menslike wysheid, gesterf het aan onbewese leerstellings, kan hulle nie lewe produseer nie. Hulle het geen ware troos of hoop om te bied nie.

Jy moet besluit of jy sal toelaat dat jou lyding jou oplei of jou vernietig.

“Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel ’n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Hebreërs 12:6-15).

Dit hang alles van jou af: óf jy laat toe dat jy lyding ‘n skool van medelye word om ander te help – óf dit sal ‘n doodskamp word wat jou sal vernietig en baie ander sal besoedel wat opkyk na jou. Sommige van julle wat hier lees, verduur groot lyding omdat jy getugtig word deur die Here. Hy slaan jou met groot liefde, probeer om jou hart sag te maak om Sy heiligheid in jou te bewerkstellig – om jou hardkoppige wil te breek. Maar selfs as julle lyding ‘n gevolg is van tugtiging, sê God dit is tot jou voordeel en dit sal ná die tyd die vredevolle vrug van geregtigheid produseer as jy gewillig is om daardeur geleer te word.

As ‘n wortel van bitterheid saad skiet, sal dit vernietig en besoedel. Maar daar is ‘n manier om daardie wortel te stop, om die besoedeling te keer: versterk jouself in die Here. “Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word” (Hebreërs 12:12-13). Dit is ‘n oproep om jouself op te rig, om apatie af te skud, om terug te keer om God te dien en te vertrou, om voort te gaan en genees te wees – anders sal afvalligheid intree. Raak ontslae van elke gedagte van moed opgee. Neem elke gedagte van traagheid gevange in jou totale gehoorsaamheid aan die Here.

Dit is nie verdrukking of lyding self wat ons leer nie. Baie goeie mense het niks geleer in hulle swaarkry nie. Sommige het selfs grond verloor by God. Liewer, dit is lyding verstaan en verdrukking aanvaar as uit Sy hand. Die vleeslike mens is geïrriteerd en depressief met enige soort lyding en verdrukking. So, tensy ons verstaan dat God dit toelaat en ‘n opleidingsdoel daarin het, sal dit net ons geestelike groei belemmer. Dawid het gesê, “Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE...” (Psalm 77:3). Dit is die doel: om ons te breek van die liefde vir hierdie wêreld en om ons na Jesus te dryf vir hulp. Dawid het ook gesê, “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67). God ken jou en my! Hy laat verdrukking toe en sê, “Jy is van dié soort wat My sal vergeet in goeie tye! Jy skeep My af wanneer alles goed gaan. Ek het jou te lief om jou aan die duiwel te verloor. Ek sal jou wakker maak deur verdrukking, om jou te herinner hoe kort die lewe is, en jou afhanklik van My maak.”

Laat my vir jou ‘n paar goeie argumente gee om teen die duiwel te gebruik:

1. Christus het magtig in die vlees gely – en Hy was volmaak!

2. Paulus en ons kerkvaders het groot verdrukkings gely – en God het hulle baie liefgehad.

3. In plaas van lyding wat ‘n teken is van God se ontevredenheid, is dit ‘n teken van kindskap – dié vir wie Hy liefhet, tugtig Hy!

4. Elke verdrukking is bedoel vir my geestelike voordeel en groei, en om my toe te rus om medelye te hê met ander in nood.

5. Dit mag swaar en pynlik wees – ek sal moontlik ween en ly – maar daarná, as ek dit aanneem, sal ek die vrug van heiligheid dra.

God het ‘n dag van verlossing uit al ons verdrukkings belowe!

“Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir “verdrukkings” is ra wat “boosheid,” “ondergang,” “nood,” “kwaad,” “moeilikheid,” “ellende” beteken. Dit is omtrent alles wat met ‘n mens kan gebeur! Hierdie verdrukkinge is menigvuldig – en teen die regverdige! Dit is God se Woord. “Hulle [die regverdiges] roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:18). Hier beteken “red” om “weg te raap,” “uit te trek,” “te verlos.”

God verlos wanneer Sy wil bereik is.

Hoe red die Here diegene wat Hom aanroep? Sekerlik twyfel niemand dat God al ons lyding, al ons pyn, al ons benoudheid kan stop deur bloot ‘n woord te spreek nie. Hy kon ‘n legioen engele stuur, ‘n leërskare uit die hemel. Ons weet daar is reeds ‘n engel rondom elkeen van ons wat glo. Maar ‘n alwetende God sou ons nie in die vuuroond plaas, halfpad saam met ons gaan, jammer voel vir ons en ons dan daarvan onthef nie. Hy sou nie opgee op ons totdat Hy Sy wil bereik het nie. Dan sou dit alles verniet gewees het. Hy sal ons nie spaar omdat ons huil nie. Paulus praat van “aan die dood oorgelewer” sodat die lewe mag voortspruit. “Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees geopenbaar kan word” (2 Korinthiërs 4:11).

Hier is waar ons die betekenis van verlossing verkeerd het: ons word nie altyd verlos deur die ophou van lyding nie, maar liewer deur die verdieping daarvan, sodat God ons ontvlugting deur ons sterwe aan hierdie wêreld kan verhaas. Ons word verlos wanneer ons sterwe aan die vlees! Het jy tot God uitgeroep vir verlossing? Het moeilikheid eerder toegeneem? Word dinge erger, nie beter nie? Juig! Jy is op die punt om oorgelewer te word aan die dood! Jy is op die punt om al jou veglus te verloor, op die punt om te sterwe aan jou eiewil. Dit is die ontvlugting – deur die dood van eiewil.

Verlossing is nie deur berusting nie, maar deur opstanding. Dawid het gesê, “Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered” (Psalm 22:5). Hy praat hier van Israel by die Rooi See, met Farao se leër wat afkom op hulle. Hoe het God verlos? Deur die moeilikheid weg te neem? Nie totdat hulle eers deur die Rooi See gegaan het nie! Dit is ‘n tipe van sterwe aan hierdie wêreld.

Jesus het ons verlosser geword deur eers aan die dood oorgelewer te word. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alle genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32). Dit is nie ‘n goeie getuienis om te kan sê, “God het vir my spesiale geloof gegee – ek het die Woord gespreek – en al my moeilikhede en lyding het opgehou! Prys God, ek is vry van alle pyn en verdrukking!” Dit is beter om te kan sê, “Maak nie saak wat voorlê nie – maak nie saak wat die beproewing of verdrukking is nie – God het Homself getrou bewys. Hy het lewe uit die dood geproduseer. Nie een van hierdie verdrukkings ontstel my nou nie. Al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom!”