Waarom faal soveel Christene God?

“Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders” (Psalm 12:2).

‘n Vyf-en-sewentig jarige afgetrede leier van ‘n Pinkster gemeente in Houston Texas was ge-arresteer omdat hy ‘n prostituut uitgelok het. Hy het bely dat hy dit vir amper veertig jaar gedoen het; tog het hy in al daardie jare nooit berou gehad nie. Eens was hy ‘n getroue dienskneg van God, maar hy het sy reinheid verloor – en vir die laaste veertig jaar het hy ‘n leuen geleef. Hy het God gefaal, en gefaal om goddelike te wees.

Ek het onlgangs ‘n hartverskeurende brief ontvang, van ‘n vrou wie se pastoor sy vrou verlaat het en met ‘n dogter van die skryfster weggeloop het. Die pastoor het twee tienerjarige kinders, ‘n verwarde gemeente en ‘n verwoede, deurmekaar jeuggroep, agtergelaat. Hy het so heilig en toegewyd voorgekom – maar hy het dit alles weggegooi vir wellus. Dit was nog ‘n “eenmaal toegewyde man”, wat geval het.

In die afgelope jare, was die sondes van bekende predikers voorblad nuus. Tog vind hierdie ongelukkige voorvalle nie net op die preekstoel plaas nie, maar oral. Die gevolg is dat baie gelowiges hulle rug op God gedraai het. Hulle het handdoek ingegooi en leef nou in algehele ellende en wanhoop.

Die Skrif voorspel dit alles: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf” (2 Thessalonicense 2:3). Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat daar nie ‘n groot afvalligheid onder hulle wat God ken, gekom het nie.

Hier in Times Square Church, treur die pastore oor hulle wat deel van ons gemeente was, maar nie meer kom nie. Hierdie gelowiges het geestelik gegroei en was ‘n belangrike deel van God se familie. Ons was lief vir hule, hulle het so getrou teenoor God voorgekom.

Nou is hulle weg! Party het teruggedraai na hulle ou sondige gewoontes. Andere gaan glad nie meer kerk toe nie. Vroeër kon hulle nie wag dat die diens moes begin nie. Hulle was opgewonde oor die sang, lofprysing en prediking. Nou is hulle koud asof hulle nooit die waarheid geken het nie. Hulle leef nie meer ‘n heilige lewe nie, en is nie meer getrou aan God nie.

Iewers langs die pad is hulle oorweldig deur ‘n sataniese aanval. Sonde het ingekom en hulle het hulle rug op God gedraai. Tog was dit nie nodig dat hulle daar opgehou het nie – hulle kon aangedruk het vorentoe met die Here, maar in plaas daarvan het hulle oorgegee en die hande in die lug gegooi, terwyl hulle sê: “Dit is te swaar vir my! Ek is geestelik nie sterk genoeg om aan te hou nie. Ek is nie ‘n normale Christen nie – iets is verskriklik verkeerd met my. Ek is te swak en te wêrelds, te verslaaf aan my ou gewoontes, om te verander.

In die Psalms kyk Dawid na al die mislukkings rondom hom. Hulle wat God liefgehad het, wat eenmaal heilig en getrou was, wat links en regs geval het. Dawid was verslae deur so baie mense wat weggeval het, en hy roep uit: “Here, help! Die godvresende gee pad, en die getroues verdwyn. Hulle faal U en hulle val weg!”

God het altyd ‘n heilige res gehad wat getrou gebly het – en Hy sal dit altyd hê. Maar so baie in Israel het weggeval dat dit Dawid se hart gebreek het. Hy vra vir God, “Wat gaan aan? Waarom val so baie wat U eenmaal gedien het, weg en verval in sonde?”

Hier is drie hoofredes waarom Christene vandag hulle rug op God keer.

Terwyl ek onlangs besig was om die Heilige Gees te vra om my hart te ondersoek, het ek woorde gehoor wat ek nie wou hoor nie! Die Heilige Gees het gesê: “David, jy is gebind, op ‘n baie subtiele manier, wat net die Heilige Gees aan jou kan openbaar. Baie Christene is so gebind, baie van die personeel en gemeente ook …”

“Jy is gebind deur ‘n baie beperkte visie van die Here se oseaan van liefdevolle en sagte genade! Jy dra baie skuld, veroordeling en vrees, omdat jy nie die Heilige Gees toegelaat het om die grootheid van My vergifnis, gesondmaking, en genadige versoening, aan jou te openbaar nie. jy ken My nie, want jy ken My teerheid nie!”

God het vir my gewys dat dit die oorsaak is waarom so baie tou opgooi en wegval. As sonde toeslaan … as die Satan met ‘n stortvloed aanval kom, en skielik is jy vasgevang in ‘n demoniese lokval … as jy in ou sonde terugval … skep die duiwel ‘n binding!

Eers stroom die skuldgevoel in. Dan is jou hart gevul met vrees. ‘n Gevoel van algehele hulpeloosheid en mislukking vul jou siel. Op hierdie punt verloor gelowiges alle herinnering aan genade – omdat hulle begrip van God se genade beperk is!

Satan kom by jou en sê: “Jou beker is nou vol. jy het jou sonde oor-en-oor bely. Daar is geen manier waarop God jou weer kan vergewe nie, want jy het teen die lig wat jy ontvang het gesondig. As jy omdraai en jou sonde weer bely, sal jy tog maar weer omdraai en dit doen. Hou nou op om God te terg!”

Die duiwel sal in jou gedagte ‘n bekrompe beeld van die Here se genade skep. Hy wil nie hê jy moet God se oseaan van genade sien nie, hy wil hê jy moet net ‘n stroompie sien! Ja, jy kan glo dat God jou twee, drie, selfs sewe of tien maal sal vergewe – maar nie meer as dit nie.

As gevolg van ons onkunde van die vergewende, herstellende liefde van Christus, word ons vernietig. Ons het vir onsself nie meer genade nie, omdat ons so vreeslik gebind is, deur ons beperkte visie. Ons oë het nog nie oopgegaan vir die groter visie nie, naamlik die eindelose genade van ons tere Vader!

Ons is so gebind deur hierdie valse beperkte visie van God se genade dat dit byna onmoontlik is om te glo en te aanvaar wat Jakobus oor die Here sê: “Ons … het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jakobus 5:11)

Weet jy wat hierdie vers beteken? Ek twyfel of enigeen van ons die volle openbaring van die betekenis het. Jy moet ‘n wye, onbeperkte visie van die genade van Jesus Christus hê, om dit te verstaan. Dit beteken: “God is gou bewoë oor ons probleme en ons seerkry. Hy voel ons pyn en ons teleurstellings, en Hy is jammerhartig teenoor ons. Hy het ons liefgehad toe ons nog sy vyande was! En nou, selfs al stel ons Hom teleur, is hy gou om ons te help, te herstel, en lief te hê.”

Die woord barmhartigheid beteken: “sagte en deernisvolle behandeling van ‘n oortreder in jou mag.” Kyk, God het die mag om ons hel toe te stuur, elke keer as ons sondig. Dit is die betekenis van sy barmhartigheid: dat Hy ons in sy mag het en met ons kan doen wat Hy wil. En dit is sy wil om ons met deernis, liefde en lankmoedigheid te behandel. Juis teenoor hulle wat Hom die meeste gefaal het.

Wie kan Jeremia se profesië lees sonder om onder die indruk te kom van sy leed oor Israel se afvalligheid, rebellie en verraad? Niemand het oor Israel se tekortkominge meer gepraat as hierdie man nie. Maar Jeremia het ook ‘n visie gehad van God se tere genade.

Dit is die probleem met die meeste heiligheidsprediking deesdae. Daar is ‘n donderende veroordeling van sonde sonder die gepaardgaande klem op God se genade en barmhartigheid. Geliefdes, dit is gevaarlik! Toe ek nog ‘n jong prediker was, het ek so kwaad geword vir sonde, dat God se oordeel die enigste tema van my prediking was. Maar ‘n viool met een snaar, speel nie goeie musiek nie.

Luister na hierdie byna ongelooflike gedeelte in Jeremia:

“Toe het die Here vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige Israel, spreek die Here. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.

“Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het … maar na my stem het julle nie geluister nie … Keer terug, o afkerige kinders …. want Ek is heer oor julle” (Jeremia 3:11-14).

God sê hier, “O, my kinders – julle hoef nie moed te verloor of die aftog te blaas nie! As julle sondig, onthou dan hoe teer, genadig en vergewensgesind Ek deur die eeue was. Al wat Ek wil hê, is dat julle, julle tekortkominge en sonde moet bely. Julle is nog steeds Myne. Ek sal julle vergewe, herstel en terugbring.”

Julle vind dit miskien moeilik om vergifnis te aanvaar as julle so dikwels gesondig het, ongeag al die lig wat julle ontvang het. Dan loop julle by die deur uit en sê: “Hoe kan ek teruggaan, as ek so baie gehoor het en nogtans so jammerlik gefaal het?” Dit is presies wanneer jy ‘n visie moet hê van die onbeperkte genade van God, sodat die duiwel jou nie verskeur nie!

As Satan na jou toe kom met sy leuens, herinner hom aan Petrus, wat onder die gesalfde lering van die Here self gesit het en Hom tog so jammerlik gefaal het. Petrus het teen God gesweer, Jesus verloën en weggehardloop en gesê, “Ek ken nie eers die man nie!” En die ewige erbarming van ons Here het Petrus in hierdie gebroke toestand gevind, hom vergewe, hom in ere herstel en op die kansel geplaas op Pinksterdag.

In sy lyding het Dawid gesê, “My sonde is altyd voor my” (Psalm 51:3). En dit is presies wat hierdie beperkte siening van die genade van God doen. Dit laat jou konsentreer op jou mislukking, in plaas van op die grootheid van God se genade en barmhartigheid. Satan, wil nie hê ons moet die vrede van God ondervind nie, maar ‘n vrees en angs vir ‘n God wat kwaad en wraakgierig is, wat ons wil verdoem en vernietig! So is ons God nie!

Die Bybel sê hiervan; “Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die Here onse God” (Jeremia 3:22). As jy God teleurgestel het of op die punt is om te val, wil Hy jou voorberei vir die aanval wat gaan kom!

Gedurende Nehemia se heropbou in Jerusalem het die Leviete met die mense gepraat oor hoe genadig God teenoor hulle was (sien Nehemia 9:16-21). Hierdie mense het herhaaldelik teen God gesondig – nadat Hy hulle telkemale herstel het. Hoe het hulle nie teen die lig gesondig nie! Tog is God liefdevol en barmhartig teenoor hulle wat teen Hom opstaan. Hulle het na Hom toe teruggekom en Hy onderneem altyd weer vir hule.

Is Satan besig om te fluister dat jy te afvallig, rebellerend en gebonde deur sonde is om te wees wat God verlang? Herinner hom dan aan God se groot genade, teenoor sy kinders, in die verlede, wat net soos jy gesondig het. Herinner hom aan wat die Bybel sê wat die Here is “maar U is ‘n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie” (Nehemia 9:17).

As die duiwel sê God se geduld met jou is op, herinner hom aan God se groot geduld met Israel: “… en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered” (9:28). “En U was baie jare lankmoedig oor hulle … Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle verlaat nie, want U is ‘n genadige en barmhartige God” (9:30-31).

Die Bybel sê die vreugde van die Here is ons krag. Daarsonder het ons geen krag om te bly staan nie. Geliefdes, ons moet waak, want skuld en veroordeling verwoes die vreugde van die Here!

Baie Christene is tans hierdeur gebind. Hulle kan nie volle en vrye vergifnis aanvaar nie. Hulle glo dat hulle geen reg het om bly te wees nie. Toe die verlore seun sy erfenis vermors het, en in skande en skaamte huis toe gekom het, wou hy buite sy vader se huis sit en treur. Maar sy vader het vrye vergifnis geskenk, ‘n kalf geslag en ‘n fees laat voorberei.

U sien, God het net een manier om met ‘n boetvaardige kind wat omdraai, te handel. Hy sê: “Ontvang my liefde en vergifnis – en laat almal bly wees! My kind is terug!”

As jy nie wil omdraai nie, as jy aan jou sonde bly vasklou, dan het jy geen reg om bly te wees nie. Die Bybel sê dan sal jy ‘n onrustige uitdrukking op jou gesig hê.

Toe Juda gesondig het, het God gesê: “En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid” (Jeremia 25:10). Die straf vir sonde is die verlies van blydskap: “Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander” (Klaagliedere 5:15).

Die Christen wat iets het om weg te steek, kan niks wegsteek nie! Dit is op sy gesig geskryf. Dit is duidelik uit sy loop, sy praat en sy houdig. As jy vra: “Hoe gaan dit?” en die antwoord is, “so-so. Ek maak dit net.” Dan het hy geen teken van oorwinning nie – slegs ‘n moedelose, treurige morbiedheid. Want daar kan geen blydskap wees waar sonde wegkruip nie!

Maar as jy jou sonde haat en dit bely, moet jy die duiwel nie toelaat om jou reg om bly te wees, te steel nie! Ontvang God se vergifnis, en moet nie nalaat om Hom te loof en te prys nie. God se grootste begeerte is om jou sterk te maak op jou swakste plek. Dan salf Hy jou met die olie van vreugde!

Die Bybel sê Jesus was “gesalf met vreugde” (Hebreërs 1:9). Sommige mense sien Jesus net as wenende in die tuin, met trane van bloed.

Ja, Hy het nagte van worsteling en eensame gebed geken. Maar ek glo dat as Hy teruggekom het van sulke tye het Hy in sy siel gelag.

Hy kon sy hande klap en sing en sy hemelse Vader loof!

Dwarsdeur die Skrif stort God die olie van blydskap uit oor hulle wat sonde haat en sy geregtigheid lief het. Dit is wat die Woord van Jesus sê: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle” (Hebreërs 1:9).

Dwarsdeur die Bybel gaan vreugde gepaard met ‘n haat van sonde en ‘n liefde vir geregtigheid: “Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap” (Psalm 68:4). “Wees bly in die Here en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11). “Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek” (Psalm 70:5).

Mense wat hulle rug gekeer het op hulle sonde en wat met die Here wandel kan nog ‘n stryd hê met iets wat nie oorwin is nie. Maar daar is so ‘n aantrekkingskrag in die Here, so ‘n honger, dat die uitkoms onvermydelik is: ‘n golf van vreugde! Ware belydenis uit die hart laat riviere van lof en dankbetuiging ontspring.

Veronderstel dat Jesus nou sal verskyn, geklee soos ‘n gewone man en langs jou kom sit. Jy sit daar gewond, ‘n oorwonne Christen, met ‘n gesig wat spreek van skuld, veroordeling en vrees. Jy herken Hom nie en Hy begin met jou praat:

“Het jy die Here regtig lief?” vra Hy.
Jy sal waarskynlik sê: “Ja, baie!”
“Jy het gesondig, het jy nie?”
“Ja,” sê jy (en hoop hy is nie ‘n profeet wat jou gedagte kan lees nie!)
“Glo jy dat Hy almal wat hulle sonde bely en dit laat staan, vergewe?”
“Ja, maar … Ek is jammer, Meneer Ek glo dat ek my Verlosser bedroef het. Ek het Hom waarlik teleurgestel.”
“Hoekom het jy nie sy vergifnis vir jouself geneem nie? As jy bely het, waarom het jy dit nie ontvang nie?”
“Ek het dit al so baie keer gedoen!”
“Glo jy dat Hy 499 keer sal vergewe – as jy elke keer bely en jou bekeer?”
“Ja.”
“Selfs moord? Egbreek? Homoseksualiteit? Verdowingsmiddels? Jaloesie? Haat?”
“Ja.”
“Haat jy jou sonde? Wil jy Hom nog hê?”
“O, ja!”
“Hoekom laat jy dan toe dat die duiwel jou van die oorwinning van die Kruis beroof, die krag van die bloed van die Lam? Waarom eien jy dan nie sy vreugde vir jouself toe nie? Waarom kyk jy nie op nie?”

Geliefde, jy hoef nie tou op te gooi nie, en jy hoef nie jou vreugde in die Here te verloor nie. Jy het die reg om Hom te loof – om te sing, en uit te roep en bly te wees in die Here – want jy het ‘n Vader wat vergeef!

“Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou? (Spreuke 27:4).

‘n Gees van woede verwoes orals Christene se lewens en huwelike. Dit gebeur omdat woede nie as ‘n ernstige sonde gesien word nie – nie soos verdowingsmiddels, alkohol en egbreek nie. Dit word lig opgeneem – maar nie in God se Woord nie.

Die Bybel maak dit baie duidelik dat woede so gevaarlik is, dat ons nie mag gaan slaap voordat dit bely is nie. “Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie” (Efesiërs 4:26-27).

Iin hierdie vers verbind Paulus woede direk met die duiwel. Hy sê: “Jou woede kom van Satan. As jy dit nie uit jou siel kry voordat jy oud is nie, maak jy ‘n vesting oop vir die hel!”

“Woede is soos ‘n oorstroming en daarmee saam kom ‘n onbeteuelbare golf van harde, goddelose woorde. Woede oorweldig sy slagoffers. (Die Hebreeuse woord beteken om te oorstroom of om te verswelg). Dit is ‘n helse gees – en ek glo dat vloede van woede en jaloesie, menigtes wegvee in vernietiging.

Ons neem die gevaar van woede nie ernstig genoeg op nie. Paulus sê dat daarmee dadelik en ongenadiglik gehandel moet word. As ons dit nie uit ons gestel kry nie – as ons daarop broei – sal ons die Heilige Gees bedroef.

“En bedroef die Heilige Gees van God nie … Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efesiërs 4:30-32).

Paulus beveel: “Maar nou moet julle ook dit aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond” (Kolossense 3:8). Woede, jaloesie, kwaadpraat en bitterheid is nie die wortel van die sonde nie. Dit is die vrugte van ‘n dieper sonde – die tekens van ‘n hart wat oorloop van sondigheid: “’n Opvlieënde man verwek twis, en ‘n driftige man is ryk aan oortreding” (Spreuke 29:22).

As ek oorweldig word deur woede is daar iets verkeerd tussen my en die Here – en hierdeur gee ek die duiwel ‘n kans om deur my te praat. As jy kwaad is, gaan jy dinge sê wat nie uit jou hart kom nie. Jy sal ‘n vloed van bitter woorde uitspoeg, terwyl jy in jou hart sê, “Waar kom dit vandaan? Dit is nie ek nie!” Jy sal soos ‘n toeskouer wees, omdat jy die duiwel ‘n plek gegee het!

Jesus het gesê, woede kan jou hel toe stuur. Hy het duidelik gesê hoe woede vir jou harde, onvriendelike, moordende woorde kan baar wat verwoes en veroordeling bring:

“Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! Moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! Moet verantwoording doen in die helse vuur!” (Mattheüs 5:22).

Baie Christen egpare is op die oomblik op pad na ‘n verwoeste huwelik! Uiteindelik sal hulle hard en koud word, omdat hulle toegee aan woede. Net sodra dit lyk asof alles oor is, kom daar ‘n “maar” – en hulle grawe ou koeie uit die sloot. Dit is die duiwel wat die verlede opgrawe.

Die Skrif sê vir ons: “Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los” (Spreuke 20:3). En “‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom” (15:1) Los dit! Laat dit sterf!

Moenie bly opgrawe nie. Jy gee die duiwel ‘n geleentheid om in te kom en jou huwelik te vernietig! Dit is nie onskuldige skoorsoek nie, maar demoniese aanvalle. As jy toegee, sal jy hard word en is jy oppad hel toe.

Maar as jy jou sondige “kwaad-word” sal bely en dit sal sien vir wat dit is – demonies – en oorwinning en verlossing vra, sal jy die genade en verlossing ontvang, waarvoor jy vra. Jou liefdevolle hemelse Vader sal jou uitlei – en Hy sal dit herstel wat die kankerwurm opgeëet het.

Geliefde, het jy jou Meester gefaal – vandag, verlede week, verlede maand? Tog weet jy dat jy Hom vandag liewer het as ooit tevore? God sien jou hart. Bring jou sonde en tekortkoming na die altaar en sê: “Here, neem dit weg. Ek beroep my op U teerheid en vergewing.”

Hy wil jou genees, herstel en die vreugde van die Here aan jou teruggee. Dawid het gesê, “Gee weer vir my die vreugde van U verlossing. Gee dit weer vir my – ek vra dit!” God wil hê dat jy vandag weer sal opstaan in sy vreugde.

Here, vergeef ons, ons woede, kwaadpratery en bitterheid. Maak ons oë oop, dat ons weer U liefde sal raaksien. Gee vir ons ‘n vergrote visie, ‘n onbeperkte perspektief van ons tere, liefdevolle, hemelse Vader – en bring ons in die volheid van U vreugde.