Waar Staan Ek met die Here?

‘n Ontsaglike openbaring van God se barmhartigheid.
David Wilkerson

Exodus 33 stel ‘n teenstrydigheid voor. Vers 11 vertel vir ons, “Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.” Dan, net ‘n paar verse verder, lees ons, “Verder het Hy (God) gesê, Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). Dit beteken letterlik, “My aangesig sal nie gesien word nie.”

Wat moet ons hiervan dink? Een vers vertel vir ons Moses het die Here se aangesig gesien. Maar ‘n ander verklaar dat niemand die aangesig van God kan sien en bly leef nie.

Eintlik het Moses nie letterlik in die Here se aangesig gekyk nie. In plaas daarvan, verwys hierdie na ‘n ontsaglike intimiteit wat Moses met God gehad het. Dit praat van insig en openbaring wat die Here vir Moses gegee het as gevolg van hulle band. Moses het dae lank in God se teenwoordigheid deurgebring en gesoek om Hom te ken. En die Skrif sê die Here het Moses as ‘n vriend geken (Exodus 33:11). Dit vertel vir ons Moses het God “gesien” (of Hom geken) soos geen mens voorheen nie. Moses het ‘n intieme kennis en begrip van God se hart gehad, weens die kwaliteit tyd wat hy saam met Hom deurgebring het.

Dit alles het plaasgevind op ‘n kritiese tyd in Israel se geskiedenis. Die Israeliete het pas ‘n lasterlike sonde teen die Here gepleeg. Hulle het al hulle juwele gesmelt en ‘n afgod daarvan gemaak in die vorm van ‘n goue kalf. En hulle het die afgod aanbid en daar rondom gedans tot in ‘n demoniese beswyming.

Israel se afgodery het egter meer behels as om ‘n goue kalf te aanbid. Die mense het ook klein afgodjies in hulle tente weggesteek en dit in die geheim aanbid. Die Skrif vertel vir ons, “Ja, hulle het die tent van Molog opgeneem en die ster van hulle god Remfan, die beelde wat hulle gemaak het om te aanbid” (Handelinge 7:43).

Al hierdie dinge het God se toorn opgewek. Hy het vir Moses gesê, “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer” (Exodus 32:10). Dit is belangrik om op te let dat Moses nie saam met die res van Israel gesondig het nie. Hy was die hele tyd saam met die Here op die berg. Moses het egter verantwoordelikheid geneem vir die volk se optrede. As Israel se leier, het hy homself met die mense se sonde geïdentifiseer en het verklaar, “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak” (Exodus 32:31).

Moses het geweet dat die Here ‘n reg gehad het om die hele kamp te verteer. Maar dit het ‘n probleem veroorsaak. Die Israeliete en Leviete was immers sy aangestelde bedienaars en die Here was in ‘n verbond met hulle. Daarom het Moses met God probeer redeneer en gesê, “Ja, Here, dit is u volk. En hulle het verskriklik gelaster. U het hulle niks anders as liefde betoon nie en tog het hulle gesondig in die aangesig van u groot lig.

“Maar, Here, hulle is steeds u volk. En as U hulle afsny, sal ons verdoem wees. Ons het nie ‘n ander plek om heen te gaan nie. Ons het niemand om ons tot te wend nie, geen ander hoop nie. Ons kan net sowel ons eie grafte grawe, hier gaan sit en wag om te sterf.”

Dink aan die dilemma wat dit vir Moses meegebring het. Hy het Israel se sondige natuur eerstehands geken. Die mense se harte was duidelik geneig tot afvalligheid. In sy laaste dae, sou Moses hulle herinner, “Van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die Here” (Deuteronómium 9:7). Moses was egter ook bewus van sy eie sonde. Selfs al het hy nie voor die goue kalf gebuig nie, het hy geweet sy eie menslike geregtigheid was nie in God se oë aanvaarbaar nie.

Terwyl Moses hierdie dilemma beleef het, was hy bedroef. Dit was asof hy gesê het, “Here, U het die volste reg om ons nou te oordeel. Ek sou waarskynlik dieselfde gedoen het as ek U was. Iets oor hierdie krisis maak my benoud vir myself.

“U sê U ken my by die naam. U ken my elke beweging, my opstaan en my gaan sit. Ek het intimiteit met U gehad en ek het genade in U oë gevind. Maar, Here, ek is nou in ‘n krisis soos nog nooit tevore nie. En daar is iets wat ek nie van U weet in hierdie situasie nie. Dit is iets baie belangriks, en ek moet dit weet.

“As ek guns in u oë gevind het, wys my dan asseblief hoe U teenoor u mense optree wanneer hulle in sonde betrap word. Wys my waar ek nou met U staan in hierdie krisis. Is ek steeds u vriend? Het ek steeds u genade? En het ons, u volk, steeds u goeie genade? Ek het gesien hoe U vir ons sorg in elke beproewing. Maar ek ken U nie nou in hierdie huidige krisis nie. Ek weet nie hoe U sal reageer op ons sonde nie.”

In hierdie toneel, verteenwoordig Moses meer as net Israel se leier. Hy verteenwoordig ‘n volk van God wat teen die hoogste hemel gesondig het. (Net so het sy eie sonde homself voor God se aangesig veroordeel. Die Skrif sê almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.)

Uiteindelik het Moses uitgeroep. “Maak my dan u weë bekend, dat ek U kan ken” (Exodus 33:13). Die oorspronklike Hebreeuse teks lees hier, “Wys my U eie self,” met die woord vir self, vertaal as “hart.” Moses het in wese gesê, “God, ek moet u hart ken. Ek het ‘n nuwe openbaring van u heerlikheid nodig. U moet hier vir my iets wys van Uself om my teologie reg te kry. Ek weet nie hoe om U te nader in hierdie soort krisis nie. Ek weet nie hoe om U vir genade te soek nie, of self hoe om daarvoor te glo nie.”

Ons het nodig om in Moses se skoene te staan. Hoe reageer ons op God wanneer ons weet ons verdien sy toorn? Dit maak nie saak hoe “groot” of “klein” ons mag dink ons sonde is nie. Enige sonde is groot genoeg om sy oordeel te verdien.

Soos Moses, mag ons groot intimiteit met God gehad het. Maar dit is moontlik om daardie intimiteit te besoedel en sy vriendskap uit te koggel. Ons mag geseën wees met groot openbarings, maar ons het gesondig teen die lig wat aan ons gegee is. Aan ons is groot liefde bewys, maar ons het in die in die aangesig daarvan gesondig. Nou is daar ‘n dringende uitroep wat in ons opkom: “Here, wys my hoe U in hierdie soort krisis is. Ek moet hierdie kant van U ook ken. As ek verras word deur sonde – as ek ‘n goue kalf in my hart oprig – hoe sal U teenoor my optree?”

In ons krisis, is ons gewetens met skuld getref. Diep binne-in, is al wat ons hoor dieselfde stem van toorn wat Moses gehoor het: “Los my uit. Ek gaan jou verteer en jou uitwerp. Keer op keer het Ek jou in my arms opgetel. Ek het jou deur elke hopelose situasie gedra. Ek was vir jou ‘n sorgsame, liefdevolle God. Maar jy het gewillig en klaaglik misluk. En nou gee Ek moed op met jou. Ek sal ‘n getroue dienaar vind om in my weë te wandel. Ek het van plan verander oor jou. Ek wil jou nie meer hê nie, jou wederstrewige skaap.”

Kortliks, ons beleef dieselfde dilemma wat Moses beleef het. Moses het God as sy vriend geken. Maar hy het nie geweet hoe God was as hy sonde in sy eie gemeente beleef het nie.

Hierdie toneel wys vir ons dit is nie genoeg om God as ‘n intieme vriend te ken nie. Jy sien, aan die menslike sy van hierdie verhouding, kan ‘n vriend die vertroue van intimiteit verraai. Aan die een kant, sou Moses kon sê, “Ek ken God as my vriend. En ek weet hoe Hy teenoor my behoeftes optree. Hy bied voorsiening op die manier waarop ‘n vriend dit sou doen. En wanneer ek bid, reageer Hy met barmhartigheid."

Maar nou het Moses te staan gekom voor die vraag: “Wat van nou, wanneer ek ‘n goue kalf in my lewe vind? Wat gebeur wanneer ek die vertroue van my intimiteit met my Here verraai? Sal ek steeds in sy guns bly? Hy is heilig en rein en ek het die band van die verbond met Hom gebreek. Waar staan ek nou in die oë van my gewonde vriend?

“Ja, ek het van aangesig tot aangesig met Hom gepraat. Ek het baie tyd met Hom deurgebring en ons het ‘n ontsaglike intimiteit gehad. Maar dit laat my mislukking net erger lyk. Ek het verskriklik teenoor Hom gesondig en sy Gees bedroef. Hoe sal Hy teenoor my optree? Here, wys my wie U is, nie net wanneer alle dinge tussen ons reg is nie. Wanneer ek gesondig en in opstand gekom het, hoe sal U reageer? As ek nie hierdie openbaring het nie, sal ek nie weet waar ek met U staan nie.”

Daar is een openbaring van God wat elke Christen ten volle moet verstaan. Jy moet weet hoe Hy jou gaan hanteer wanneer jy gesondig het.

Moses het presies geweet hoe God met die goddelose handel. Hy het in heilige eerbied gekyk hoe die Here met verskriklike oordeel opgetree het teen Farao se hardheid. God het Egipte se leër vernietig, omdat dit sy gesalfdes aangeval het. Moses het eerstehands gesien hoe God sonde gehaat het.

Hy het ook gesien hoe die Here reageer op geloof en gehoorsaamheid. Moses het gekyk hoe God die Rooisee bonatuurlik geskei het vir sy mense om in veiligheid oor te gaan. Op hierdie manier, het Moses God as verlosser geken.

Moses het immers God in sy heiligheid geken. Die Here het met hom gespreek uit die brandende bos en gesê, “Moses, Moses, trek jou skoene uit. Jy staan op heilige grond.”

Maar nou, in die huidige krisis, het Moses die Here nie geken nie. Hy was glad nie bekend met God se natuur in hierdie situasie nie. Moses het besef dat dit nie meer oor intimiteit gegaan het nie. Dit het nie gegaan oor hoeveel ure hy gebid het nie, of hoe getrou hy gedien het nie. Wat hy ook al van God geken het in die verlede, het nie hier saak gemaak nie.

Nou het dit alles gegaan oor wie God is wanneer sonde in sy kinders uitbreek. Moses wou meer van God se natuur weet, iets wat hoop sou verskaf. Hy wou meer waarheid oor God hê, iets wat die mense sou terugbring na sy teenwoordigheid en liefdevolle omhelsing.

Moses het dit nie geweet nie, maar God was op die punt om Hom ‘n groter openbaring van sy heerlikheid en natuur te gee. Hierdie openbaring sou verder as vriendskap en intimiteit gaan. Dit is ‘n openbaring wat God wil hê al sy kinders moet ken.

Die Here het Moses vertel dat Hy aan hom sy heerlikheid sou wys: “Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die Here uitroep” (Exodus 33:19). Toe het Hy gesê, “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie...(Maar) kyk, hier is ‘n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het” (Exodus 33:20-22).

Die Hebreeuse woord vir “heerlikheid” in hierdie gedeelte beteken “My eie self.” God het Moses in wese vertel. “Ek self sal naby jou verbygaan.” Helen Spurrell se oorspronklike Hebreeus sê dit as volg: “Ek sal jou verberg in ‘n skeur van die rots, en Ek sal jou verdedig met die beskerming van my krag totdat Ek verbygegaan het.”

Die Here het in wese gesê, “Ja, jy het my gefaal. Maar Ek gaan jou op ‘n plek plaas waar jy veilig sal wees. Daardie plek is binne-in die rots. En Ek wil hê jy moet daar bly. Moenie twyfel en vrees herberg nie. Ek gaan vir jou ‘n openbaring gee van wie Ek is.”

Hier is wat Paulus bedoel wanneer hy sê ons is “verborge in Christus.” Wanneer ons God faal – wanneer ons ernstig teen die lig sondig – moet ons nie in ons gevalle toestand bly nie. In plaas daarvan, moet ons gou na Jesus hardloop, om in die rots verberg te word. Paulus skryf, “Ons vaders...[het] almal dieselfde geestelike drank gedrink... want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots van Christus” (1 Korinthiërs 10:1,4).

Laat ons teruggaan na die toneel. God het ‘n plek in die rots geskeur en Hy het Moses veilig daarin geplaas. Hy het sy dienaar vertel, “Ek self sal by jou verbygaan. En Ek gaan jou my hart toon. Dan sal jy weet wie Ek is, eens en vir altyd. Jy sal die volle prentjie van my natuur sien. En jy sal my hart teenoor jou ken in jou tye van mislukking."

Soos Moses, moet ons weet wat dit beteken om veilig in die skeur van die rots te wees. Anders sal ons van die Here af weghardloop wanneer ons Hom faal. God belowe ons, “Ek gaan jou nie net verberg in ‘n veilige plek nie. Ek gaan jou daar bedek en jou beskerm. Daar sal jy heeltemal veilig wees, selfs in die teenwoordigheid van my heiligheid. Jy sien, daar is ‘n ander kant van my natuur wat jy moet ken.

“Jy het grootliks gesondig. Maar Ek wil hê dat jy na My toe hardloop met goddelike berou. Ek sal jou beveilig met my hand totdat jy ‘n duidelike openbaring van my barmhartigheid en genade gevind het. Ek wil hê jy moet sien en verstaan wie Ek is. Net soos Moses, moet jy egter ‘n begeerte vir hierdie openbaring hê. Jy moet uitroep, 'Here, wys my u heerlikheid.'"

Laat my dit onder jou aandag bring, dat Moses ook God se wet gebreek het. Toe hy van die berg afgekom het en die mense nakend sien dans het rondom die goue kalf, het my van woede gekook. Hy het die steen tafels waarop God die Tien Gebooie geskryf het, geneem en dit teen die grond stukkend gegooi. “Die toorn van Moses [het] ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel” (Exodus 32:19).

Dit was nie ‘n heilige woede nie. Dit was die vurige, menslike woede van ‘n briesende man. En dit was sonde. Die Skrif beskryf Moses as ‘n sagmoedige, nederige dienaar van God. Maar toe hierdie selfde dienaar die volk se sonde sien, het hy sy humeur erg verloor. En hy het letterlik God se wet gebreek deur die tafels te breek.

As ‘n bedienaar van God, het dit ‘n heilige vrees in my geplaas. Dit vertel vir my dat ek dit nie mag waag om in my eie menslike woede teen sonde in God se huis te kom nie. Wanneer ek wraak wil neem met vleeslike ywer, om slegs God se oordeel aan sy mense te openbaar, breek ek God se wet. In plaas daarvan, moet ek na die rots hardloop. Ek moet ‘n openbaring van God se heerlikheid en sy liefdevolle goedertierenheid kry. En ek moet sy mense teruglei na ‘n plek van sy barmhartigheid en beskerming.

Die volgende toneel wys waar Moses steeds in woede optree. Hy het die goue kalf tot poeier gemaal. En het die mense dit saam met hulle water laat drink. Toe het hy sy broer, Aäron, die hoëpriester in die openbaar veroordeel. Aäron was so met skuld en vrees getref, dat hy uitgeroep het, “Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie” (Exodus 32:22).

Op daardie stadium, het Moses slegs God se toorn gesien. Hy het gesien hoe die Here sonde hanteer het. Maar hy het nie die goedheid van God geopenbaar gesien nie. Moses het steeds nie die volle strekking van God se hart teenoor sy mense gehad nie. En as gevolg daarvan, het hy het ‘n wanvoorstelling van die Here gebring. Hy het slegs ‘n halwe evangelie verkondig. Soos Jakobus sê, “Die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie” (Jakobus 1:20).

Die Bybel sê nie of die Here Moses se toorn hier goedgekeur het nie. Wat het Moses se aksies egter vir Israel gesê? En wat het dit vir die heidense wêreld gesê? Daardie volke moes gedink het, “So, dit is hoe God is wanneer sy mense sondig. As jy ‘n goue kalf oprig, sal Hy teen jou kom met woede en toorn. Hy sal jou bitter water laat drink. En Hy sal jou familie doodmaak en jou eenkant toe stoot.”

Nee, nooit! So ‘n konsep van God is nooit volmaak nie. En dit broei net vrees uit. As ‘n bedienaar van die Here, weet ek ek kan nie God se toorn verkondig sonder om ook sy barmhartigheid te verkondig nie. Ja, die Here is regverdig en Hy haat sonde. Daar is ‘n toorn van God. Maar Hy is ook ‘n God van liefde. Hy is barmhartig, geduldig, vol medelye en vergewensgesind.

Moses het slegs uit sy menslike ywer opgetree. Hy het al hierdie dinge sonder die openbaring van God se barmhartigheid gedoen. Hy het sy boodskap uitgebulder, “Ek is aan die Here se kant. Kom na my toe, almal wat gesondig het. Ek is op die punt om na die Here te gaan en miskien kan ek vir julle versoening vir julle sonde doen” (sien Exodus 32:30).

Die Bybel sê dit was die presiese rede waarom God nie vir Moses toegelaat het om die Beloofde Land binne te gaan nie. Moses het ‘n wanvoorstelling van God se natuur, sy karakter en sy heerlikheid weergegee . En die Here het hierdie heilige, nederige, kosbare bedienaar vertel, "Omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het...omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie... sal hy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie” (Deuteronómium 32:51-52).

Hier is hoe ernstig die Here hierdie saak van wanvoorstelling van Hom sien. Moses het nie God in sy volheid voorgestel as ‘n Vader wat sy toorn met barmhartigheid temper nie. En dit het Moses daarvan weerhou om die land van belofte binne te gaan. Die Here het dit uitgewys, “Omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie” (Deuteronómium 32:51).

Petrus het hierdie saak aangespreek toe hy geskryf het, “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Petrus 3:15). Wat sê Petrus presies?

Eenvoudig gestel: “Moenie God in jou eie hart wanvoorstel nie.” Met ander woorde: “Maak vir eens en vir altyd die saak van God se karakter in jou gedagtes uit.” Dit is die enigste weg waarop ons ‘n fondament van hoop van kry. Jy sien, as ons nie weet hoe God sy kinders hanteer in beide vrugbare en opstandige tye nie, hoe sal ons Hom akkuraat aan ander kan voorstel. Ons sal Hom slegs as ‘n streng regter voorstel, omdat ons Hom nie as ‘n liefdevolle Vader ken nie.

“Die hoop wat in julle is” (1 Petrus 3:15). Petrus sê in wese, “Die rede vir jou hoop is dat jy ‘n belewenis met die Here gehad het. Jy het Hom klaaglik gefaal. Jy het ‘n goue kalf in jou lewe opgerig. Maar toe het jy teruggekeer na die rots. Jy het in die skeur weggekruip, waar jy sy beskermende hand gevoel het. En jy het sy vergifnis, barmhartigheid en liefde gesmaak. Hy het jou teruggebring na sy omhelsing. En Hy het jou herstel en veroorsaak dat jy in Hom groei. Jy ken nou die Here, nie net as ‘n heilige God nie, maar as ‘n barmhartige Vader.

“Vestig nou hierdie ware openbaring van God se heerlike natuur in jou hart. Dit is die presiese basis van jou hoop. Jy weet dat as jy ooit verras of oorval word deur sonde, hoef jy nie van God af weg te vlug nie. En jy hoef nie in skuld te vertoef nie. Jy kan in berou teruggaan en in die rots wegkruip. Daar sal jy al die barmhartigheid en liefde wat jy nodig het, vind.”

So, wat was die groot openbaring, wat God vir Moses oor Homself gegee het? Wat is die waarheid oor Hom waarmee ons ons harte moet heilig? Dit is dit:

“Toe het die HERE aan Moses gesê...hou jou gereed teen die môre, en klim in die môre op die berg Sinai...En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:1-2,5-7).

Hier was die groter openbaring, die volle beeld van wie God is. Die Here het vir Moses vertel, “Kom op na hierdie rots môre oggend. Ek gee jou ‘n hoop wat jou sal bewaar. Ek wys vir jou my hart soos dit nog nooit voorheen gesien is nie.” Wat was God se hart? Wat was die “heerlikheid” wat Moses van die Here gesoek het?

Hier is die heerlikheid: ‘n God wat die volgende is “barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.”

Christus is die volle beeld van daardie heerlikheid. Alles wat in die Vader is, is immers vergestalt in die Seun. En Jesus was na die aarde gestuur om daardie heerlikheid na ons te bring. In Moses se tyd, het Christus natuurlik nog nie vlees geword nie, hoewel Hy in God was. Ons sien dat alles wat God hier oor sy eie natuur verklaar het, in Jesus vergestalt word. Christus is barmhartig en genadig, vol waarheid, rein, regverdig, maar vergewe tog sonde.

Nou vra ek jou, “Wat van daardie laaste vers? God sê Hy sal nie die skuldige ongestraf laat bly nie. Hoe kan dit wees, as Hy barmhartig en vergewensgesind is?” Die vers lees, “Maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en die vierde geslag” (Exodus 34:7).

God sê in wese, “Hier is my heerlikheid: Ek bied jou barmhartigheid, genade, liefde en vergifnis in oorvloed. Maar as jy hierdie heerlikheid weier – as jy jou hart verhard, jou sonde liefhet en weier om na My terug te keer – as jy nie jou nie gou sal bekeer en my verbondsbeloftes vertrou om jou te bewaar nie – dan is jy skuldig aan die ergste soort sonde van almal. Jy het My verwerp. Jy het weggedraai van my liefdevolle omhelsing.”

In werklikheid is daar geen genesing buite Jesus se omhelsing nie. Jy mag getuig van groot intimiteit met die Here, van baie bid, van die ontvang van kragtige openbarings. Maar het jy “Christus in jou hart geheilig?” Ken jy die hoop van sy oorvloedige barmhartigheid in tye van mislukking en wederstrewigheid? Kan jy van hierdie hoop getuig teenoor enigiemand wat jou vra? Kan jy getuig dat jy deur Jesus herstel is, nadat jy voor ‘n goue kalf gebuig het? Kan jy ander dieselfde hoop bied, sodat hulle hul na Christus kan wend, net soos jy het?

Jy mag wonder: wat gebeur met gelowiges, wat geneig is tot sonde en wat hierdie openbaring van Christus in sy oorvloedige heerlikheid in besit neem? As hulle sy barmhartigheid ontvang en herstel word, sal hulle in sonde voortgaan? Sal hierdie openbaring van oorvloedige liefde veroorsaak dat hulle sonde ligtelik opneem?

Ons hoef net Moses se reaksie op hierdie wonderlike openbaring te sien. Wat hierdie man volgende gedoen het, het ‘n groot impak op my siel gemaak: “Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval en gesê: Here, as ek genade in u oë gevind het, laat dan tog die Here in ons midde trek; want dit is ‘n hardnekkige volk; maar vergewe ons ongeregtigheid en ons sonde, en neem ons aan as ‘n erfdeel” (Exodus 34:8-9).

Moses het gou in aanbidding op sy aangesig geval. Hy het ‘n magtige visioen van God se ontsaglike barmhartigheid en liefde gesien. En nou het daar in hom ‘n hernude honger vir die Here se teenwoordigheid opgestaan. Skielik was daar ‘n groter uitroep in sy hart om vergifnis. En hy het sy sonde vrylik begin erken en het vir die mense ingetree.

Wat het hierdie verandering teweeg gebring? Dit was die openbaring van God se barmhartigheid. Dit was ‘n magtige waarheid oor die Vader se liefdevolle hart wat geopenbaar is. Moses het geweet hy was vergewe. Ek wonder of hy later vir homself gevra het, “Waarom het ek nie vir Aäron stilweg eenkant toe geroep en hom gekonfronteer nie? Waarom het ek so gou die swaard uitgetrek? As ek net hierdie openbaring van God se heerlikheid gehad het.”

Hier is hoe die Here op Moses se uitroep gereageer het, “Kyk, Ek sluit ‘n verbond; voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie, sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die HERE kan sien. Want verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen” (Exodus 34:10). Die oorspronlike Hebreeus in hierdie laaste frase vertaal, “Dit is sekerlik die vrees van God wat ek in jou sal plaas” (Helen Spurrell).

God het in wese gesê, “Jou beste dae lê voor, Moses. Ek gaan wonders te midde van my mense doen. En wat Ek sal doen, sal my heilige vrees in jou plaas, sowel as in diegene rondom jou.” Eenvoudig gestel, die openbaring van God se heerlikheid sou goddelike vrees veroorsaak.

Geliefde, heilig hierdie openbaring van God se barmhartigheid in jou hart. Jy kan deur Moses se voobeeld verseker wees, dat dit nie tot sonde sal lei nie. In werklikheid, as jy waarlik die Here se oorvloedige liefde aanvaar, sal dit jou tot aanbidding lei. Jy sal bid, “Here, watter soort God is U dat U my liefhet ten spyte van my mislukking? Watter soort God sou my in my sonde vind en my terugbring na die skeur in die rots? O, wat ‘n God dien ek. Ek wil hê die wêreld moet van U weet.”