Volmaakte Geregtigheid

Jou Erfenis - Eis Dit Op!
David Wilkerson

Daar is slegs een soort geregtigheid wat God aanvaar – en dit is volmaakte geregtigheid! Niks anders sal in Sy teenwoordigheid staande bly op die Oordeelsdag nie. Tensy ons geregtigheid absoluut volmaak is, kan Hy ons nie red, regverdig, vryspreek, erken of aanvaar nie.

Is daar egter iemand dom genoeg om te dink hy kan voor die troon van Jesus Christus staan en iets uit sy eie aanbied – goeie werke, goeie optrede, al die moets en moenies wat hy onderhou het – en dit volmaakte geregtigheid noem? Nee – nooit! So ‘n man sal daardie dag uitvind dat hy ‘n besoedelde kleed dra!

Daar is twee soorte geregtigheid. Eerstens is daar die geregtigheid van ‘n mens. Hierdie geregtigheid is ‘n lewe-en-dood stryd om uit versoekings te bly – ‘n stryd met slegs gedeeltelike oorwinnings en talle verskriklike neerlae. Dit bestaan uit groot pogings om goed te doen, om kwaad te vermy, om God te behaag deur op te staan van ons mislukkings en te probeer om dit die volgende keer reg te doen. Ek dink aan die ou geestelike lied, “Toets My Nog Een Keer, Here.” Dit sê, “Here, ek het misluk – asseblief, toets my nog een keer!”

Op die ou end, is ‘n wettiese, mensgemaakte geregtigheid ‘n verskriklike stryd, gemeng met foltering. Wanneer versoeking verander in mislukking, daal ons af in wanhopigheid, asof God ons heeltemal verlaat het. Ons word vasgevang in ‘n eindelose siklus van sondig en bely, sondig en bely... Ons is altyd ongemaklik in die teenwoordigheid van God en heeltyd bewus van dinge wat ons verkeerd gedoen het. Ons voel ons sal nooit opweeg teen die regverdige standaard van God nie.

Talle Christene het inderdaad nog nooit losgebreek van hierdie stryd nie. Die apostel Paulus sê hiervan: “...dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis” (Romeine 10:2). Met ander woorde: “Hierdie mense bedoel goed. Hulle het God waarlik lief en probeer Hom behaag. Maar hulle is onkundig oor wat Hy vir hulle voorsien het in Jesus Christus!”

“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” (Romeine 10:3).

Onderwerp jy jouself aan die geregtigheid van God in Jesus Christus? Of dink jy steeds jy kan op een of ander manier jouself vorm, poleer en aan jouself werk, sodat jy uiteindelik kan sê, “Ek is oukei, Here. Ek kan regtig nie dink aan iets in my lewe wat verkeerd is nie.”

As jy egter in der waarheid 99 persent van die wet onderhou het – selfs as jy net een punt verbreek het – sou jy steeds veroordeel staan voor God! Jy het nie geregtigheid wat Hy kan aanvaar nie. Selfs as niemand ‘n vinger na enigiets in jou lewe kan wys nie, moet elke daad steeds kom uit ‘n algehele rein hart wat voortspring uit God se rein liefde. As dit nie so is nie, kan jy nie aanvaarbaar voor God wees nie!

Paulus se begeerte was om: “...in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:9).

Daar is ‘n geregtigheid wat heeltemal aanvaarbaar is vir God – en dit is beskikbaar vir elke gelowige!

Die enigste geregtigheid wat aanvaarbaar is in God se oë, is die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus ons Here. En dit is ‘n geregtigheid wat slegs besit kan word deur geloof.

Die skrywer van Hebreërs maak aan ons bekend dat hierdie geregtigheid die erfenis is van alle ware gelowiges. Dit is iets wat Jesus vir ons nagelaat het, iets wat aan ons behoort, ‘n nalatenskap: “Deur geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is” (Hebreërs 11:7).

Noag het ‘n erfgenaam geword nie deur ‘n ark te gebou het nie, maar deur wat hy geglo en verkondig het. Hy het hierdie kennis van geregtigheid, wat God aan hom geopenbaar het, verstaan – ‘n geregtigheid wat deur geloof is – en hy het ‘n erfgenaam van ‘n volmaakte geregtigheid geword!

Geliefde, jy en ek was ‘n groot erfenis gegee toe Christus opgevaar het van die aarde af. Hy het vir ons ‘n titel en ‘n akte gegee van Sy eie volmaakte geregtigheid. Natuurlik het Jesus in absolute armoede geleef op hierdie aarde; Hy het geen grond, geen geld gehad nie. Maar Hy het vir ons rykdomme groter as die diamantmyne van Suid Afrika, groter as die olievelde in die Midde-Ooste, groter as die goud en silwer onder Amerika se berge nagelaat. Jesus het vir ons ‘n erfenis, wat ons ryker kan maak as enige mens op die aarde, gegee. Dit is ‘n erfenis tot ‘n volmaakte geregtigheid wat ons toelaat om onveroordeeld voor God te kan staan!

Wanneer jy hierdie erfenis verstaan, kan jy elke duiwel en demoon in die hel weerstaan. Satan sal nie in staat wees om jou voor die Vader, voor jou broers, voor jou eie gewete te beskuldig nie – omdat jy ‘n erfgenaam is van die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus!

Toe Elia opgegaan het hemel toe, het hy sy kleed vir Elisa agtergelaat. Net so, toe Jesus opgevaar het na die Vader, het Hy vir ons sy eie kleed agtergelaat – Sy eie volmaakte geregtigheid! Hy het dit op ons gewerp, so seker as wat Elia sy kleed op Elisa gewerp het. Die profeet se daad was ‘n tipe en skaduwee van wat sou gebeur toe Jesus na die Vader gegaan het. Ons is inderdaad erfgename van ‘n wonderlike kleed van geregtigheid wat ons heeltemal bedek – en dit maak ons aanvaarbaar in God se heilige teenwoordigheid!

Hierdie kleed is ons erfenis – en God verwag van ons om dit waardevol te ag! Hy verwag van ons om dit te soek, om gewillige erfgename van sy nalatenskap te wees. Jy mag onthou wat gebeur het toe Koning Agab teen Nabot te staan gekom het en sy wingerd begeer het. Nabot het sy wingerd so kosbaar geag, dat hy Agab se aanbod om dit te koop, verwerp het, terwyl hy gesê het, “Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee” (1 Konings 21:3). Hy het gesê, “Mag God my bewaar dat enigeen my erfenis van my af sal wegneem. Dit is myne!”

Ek glo die belangrikste ding waarvoor jy God in jou lewe kan soek, is om te verstaan dat hierdie erfenis joune is – en dat dit wag om opgeëis te word! Die kennis van volmaakte geregtigheid van Jesus sal jou plaas op ‘n rots wat onwankelbaar is. Dit sal jou nuttelose stryd beëindig en jou geregverdig en aanvaarbaar in God se teenwoordigheid plaas.

Nou, as God vir jou so ‘n erfenis voorsien het – waardeur jy voor Hom kan staan met volmaakte geregtigheid in Jesus Christus – dan moet jy dit wíl hê! Dit sou ‘n erfenis wees wat niemand van jou af kan wegneem nie. Geen duiwel sou in staat wees om dit uit jou gees uit te lieg nie. Geen mens sou in staat wees om dit van jou te steel nie. Geen emosie sou dit uit jou tap nie.

Omdat God dit gesê het, moet jy dit in besit neem! Jy moet dit soek, dit najaag en jou siel nie laat rus totdat jy jou hande daarop gesit het nie. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33).

Toe God Adam geskep het, het Hy geweet hy sou sy vrye wil misbruik en sondig!

God het geweet dat Adam sy vrye wil sou misbruik en rebellie, sonde en dood oor die hele mensdom sou bring. Deur die sonde van een mens, het die ganse mensdom voor die Here gestaan as sondaars.

Maar God het ons liefgehad – en van die grondlegging van die wêreld af, het Hy ‘n plan gehad waardeur die sondige mensdom versoen en aanvaar kon word as regverdig in Sy teenwoordigheid. God het in werklikheid aangehou om na die mens te kom – maar die mens het weggekruip, omdat sy gewete hom veroordeel het. Die Here het egter in sy oneindige wysheid altyd ‘n plan gehad van die heel begin af. Daardie plan was die gee van Sy eie geliefde Seun as ‘n offer om ons van sonde los te koop!

Geregtigheid het ‘n straf vir sonde vereis: “...die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). En daardie straf – die dood – sou betaal word deur Jesus Christus aan die Kruis, met Sy eie bloed. God het gesê hy sou die gesamentlike sondes van die hele mensdom bymekaarmaak – in elke geslag – en dit op die Sy Seun laai. Jesus sou die offerlam word. Slegs dan sou God se geregtigheid tevrede gestel word.

Soos sonde op die ganse mensdom gelaai is deur een mens, so was genade aan ons gebring deur een Man: “Want soos die ongehoorsaamheid van een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Romeie 5:19).

Deur Adam se sonde, was ons almal sondaars gemaak. En deur Jesus se offer, was ons almal regverdig gemaak. Jesus het ons verlos – Hy het die losprys betaal – sodat die duiwel geen aanspraak kon maak op diegene wat bely en vertrou op Christus en sy afgehandelde werk nie.

God het die heeltyd geweet dat die mens nie Sy goddelike wet kon onderhou of volbring nie. Hy het die wet ingestel om orde na die mensdom te bring, sodat ons onsself nie sou vernietig nie. Die wet was vir ons eie beskerming; dit was om ons te laat besef dat ons in ons eie krag en geregtigheid, nooit voor ‘n heilige God kon staan nie. Die wet was ‘n spieël wat God vir ons opgehou het en gesê het, “Laat My vir jou wys wat Ek verwag, wat My wet vereis. Hier is My wet – en hier is waar jy misluk het – waar jy in sonde geleef het! Jy het misluk op hierdie punt, hierdie punt, hierdie punt... Niemand is regverdig genoeg om My wet te volbring nie!”

Die Fariseërs het probeer om die wet te vervul. Hulle het meer as 600 regulasies onderhou, van die was van hande en potte af tot om te weier om ‘n heiden aan te raak. Hulle het probeer om die hele wet te onderhou – terwyl hulle geglo het dat hulle eendag voor God sou kon staan en sê, “Ek het al U wette onderhou. Ek het dit en dit en dit gedoen. Nou is U verplig om my te red.”

Maar niemand kan verwag dat sy goeie werke regverdigmaking of vryspraak kan verdien nie. God se Woord antwoord, “As jy net een punt van die wet gebreek het, het jy die hele wet gebreek!” As jy verwag God moet jou deur jou goeie gedrag aanvaar – jou goeie dade, jou selfverloëning, jou lyding – vergeet dit! Jy sal nooit in staat wees om die hele wet te onderhou nie.

Omdat ons nie geregtigheid se vereistes volbring het om God se wet te vervul nie, het Jesus na die aarde gekom – en Hy het die wet van God volmaak vervul, tot op die letter. Hy het nooit een punt daarvan gebreek nie – en Hy het alles uit suiwer motiewe van liefde gedoen. “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matthéüs 5:17).

Toe Jesus opgevaar het na die Vader, het Hy vir Hom ‘n absolute volmaakte geregtigheid aangebied. Sy volmaakte gehoorsaamheid het al die vereistes van die wet volbring. En Sy bloed was aangebied as volle betaling vir ons sonde. Hier het ‘n Man in die teenwoordigheid van God gestaan wie se geregtigheid volmaak was – en dus aanvaarbaar was vir die Vader.

Daarom het Satan geen beskuldiging teen Jesus gehad nie: “...want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Jesus het gesê, “Die duiwel kan niks teen My kry nie. Ek het die wet volbring – Ek het die prys van sonde met My eie bloed betaal – en nou staan Ek voor die Vader in volmaakte geregtigheid!”

En nou, weens Sy offer, kan geeneen van die aanklagte van die wet teen ons gehou word nie!

God kan geen ander geregtigheid aanvaar nie, behalwe Christus se volmaakte geregtigheid!

Dit is onmoontlik vir God om enige geregtigheid anders as Christus s’n te aanvaar. Geen ander mens kan ooit die vereistes van die wet volbring nie; geen mens kan dieselfde pad loop of dieselfde prys betaal wat Hy betaal het nie. Slegs Jesus se geregtigheid sal staande bly voor God: “...al ons geregtighede [is] soos ‘n besoedelde kleed...” (Jesaja 64:6).

Hierdie kwessie om te begryp hoe God Sy mense regverdig, is nie vir baba’s nie. Dit is ‘n waarheid vir volwasse gelowiges! Daar is egter so baie Christene wat steeds baba’s is en melk drink. Al wat hulle verstaan, is die vergifnis van hul sondes. Daarom gaan min na die vaste kos van die Woord van geregtigheid!

“Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:13-14).

Melk is vir baba’s – en baba’s het voortdurend aandag nodig! Hulle voel net goed as Ma in die kamer is. En as Ma weggaan, huil hulle met vrees. Hulle moet haar te sien en voel om veilig te voel.

Net so, leef die gelowige wat op melk bly, in voortdurende vrees vir sy verlossing. Hy is nooit gemaklik met die hemelse Vader nie. In plaas daarvan, is hy altyd gespanne en dink God is gereed om hom hel toe te stuur elke keer wat hy misluk. Hy ken en verstaan nie sy stand in Christus nie – en daarom ken hy nie die vrede van God nie. Hy kan nie glo dat God ten volle toegewyd is om hom te red en te bewaar nie.

Paulus sê daar is vaste spys vir ons beskikbaar – kos wat ons sal laat groei tot volwassenheid, om mans en vroue in Christus te word en te ontwikkel tot die volle gestalte as gelowiges. Geliefde, hierdie vaste spys is die waarheid betreffende Christus se volmaakte geregtigheid! Deur dit te begryp, kan jy versekerd in jou verlossing bly. Jy hoef nie te vrees dat God jou sal verlaat elke keer wat jy misluk en val nie. Nee – jy sal oorwinning hê!

Maar as jy nie hierdie waarheid het nie, sal die duiwel met jou gevoelens speel. Hy sal vir jou lieg en jou rondstoot. Tensy jy hierdie waarheid as ‘n fondament het onder alles wat jy glo, sal niks in jou leerstellinge, jou teologie en jou lewe reg wees nie. Jy kan nie eers God gehoorsaam nie, totdat jy dit verstaan!

Jy moet oortuig wees dat niks wat jy doen ooit ‘n aanvaarbare geregtigheid voor God kan produseer nie. Dit moet van ‘n ander bron af kom! Wanneer ons by die oorsdeelstroon staan, het ek geen ander verontskuldiging nie, behalwe die geregtigheid van Jesus Christus.

Hoe word die geregtigheid van Christus ons eie geregtigheid – sodat ons aanvaarbaar kan staan in God se teenwoordigheid?

Ons sal nooit vrygespreek of aanvaar word as heilig en regverdig voor God nie, tensy ons voor Hom staan met Christus se volmaakte geregtigheid as ons eie. Dit is immers die enigste geregtigheid wat God ooit sal erken. So, hoe kan ons Christus se volmaakte geregtigheid ontvang?

Dit word ons s’n deur toerekening. Die hemelse Vader reken dit aan ons toe deur geloof.

“Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke...” (Romeine 4:6). Paulus haal Dawid aan waar hy sê, “Die rykste, mees geseënde, mees vredevolle mens op aarde, is die een wat verstaan dat volmaakte geregtigheid aan hom toegereken word – sonder werke!”

“En hy (Abraham) het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee...Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word...” (Romeine 4:20, 22-24).

Hierdie geregtigheid moes aan ons toegereken word. Dit is nie ons s’n deur ingieting nie. Met ander woorde, God giet dit nie bloot in ons in nie. Nee – dit is nooit óns geregtigheid nie; dit het niks te doen met wat ons gedoen of bereik het nie. Dit is altyd Sy geregtigheid, aan ons toegereken – aan ons rekening gekrediteer.

Die woord toereken beteken “om te reken of te ag, te beskou, om iets aan ‘n mens toe te reken wat hy nie het nie, om sy rekening daarmee te krediteer.” Toe Jesus Sy geregtigheid aan ons toegereken het, het God dit beskou as ons eie. Nee, ons het dit nie verdien nie. Christus het dit alles gedoen – en Hy krediteer dit na ons rekening!

Hierdie toerekening kom deur geloof alleen. Ons kan nie daarvoor werk or dit enigsins verdien nie. Eerder, weens ons geloof in Jesus en Sy verlossingswerk, krediteer die Here die geregtigheid van Christus aan ons – en ons word gereken as volmaak in Hom. Dit is reg – jy en ek word gekrediteer met dieselfde geregtigheid wat Jesus hier op aarde verkry het. Deur ons sondes te bely en geloof in Hom te hê, kan ons voor God staan met ‘n toegerekende geregtighed. En dit is ‘n volmaakte geregtigheid wat uit geloof is en nie uit werke nie:

* “Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees...” (Romeine 4:16).

* “Want met die hart glo ons tot geregtigheid...” (Romeine 10:10).

* “En die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie” (Romeine 3:22).

* “Om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is” (Romeine 3:26).

Ek vra vir jou: Is daar enigiets goed in jou waarvoor God Sy Seun sou stuur om vir jou te sterf? Nee – dit was ‘n daad van algehele barmhartigheid en genade! God het self die eerste stap geneem. Ons was sondaars, vreemdelinge teenoor Hom. Selfs toe, het God egter Sy enige gebore Seun gestuur om al ons sondes op Hom te neem. Dit was alles deur genade! “Maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het” (Romeine 4:24).

O, wat ‘n wonderlike ding is die krag van geloof!

Eerstens, God se Woord sê vir ons dat Christus vir die sonde van die mensdom betaal het aan die Kruis, met Sy eie bloed; dat Hy die wet volbring het en die vloek weggeneem het; dat Hy ons losgekoop het van die aansprake van die hel en die duiwel; dat Hy ‘n sondelose lewe gelei het en die wet op elke punt bewaar het; en dat Hy ons voor die Vader sal stel met volmaakte geregtigheid.

Dan sê die Woord vir ons dat ons Christus se volmaakte geregtigheid aan ons toegereken kan hê – dat God ons sal beskou as volmaak regverdig in Jesus – as ons slegs sal glo wat Hy vir ons bereik het! Verstaan asseblief – ek praat van diegene wat hulle van hul sondes bekeer het.

O, my vlees deins terug oor die eenvoud en maklikheid van dit alles! Die vlees roep uit, “Nooit! Dit kan nie so maklik wees nie. Ek moet help – ek moet iets betaal. Ek het immers steeds probleme in my lewe. Ek stry steeds teen sonde. Ek het nog nie by ‘n plek gekom waar ek glo God is tevrede met my nie. Ek kan nie van Hom verwag om my regverdig te ag, terwyl ek steeds soveel dinge het wat kan verbeter nie. Ek moet eers myself regkry.”

Daar mag sekerlik trane aan ons kant wees. Ons moet verneder en gebreek word. Maar ‘n rivier van trane alleen sal niemand red nie. ‘n Leeftyd van stryd sal niemand red nie. God sê, “Dit moet uit genade deur geloof wees. Geen vlees sal roem in My teenwoordigheid nie!”

* “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Romeine 1:17).

* “Want ons verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop” (Galasiërs 5:5).

* “...geregtigheid...wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Filippense 3:9).

My geloof moet uitstyg bo al my vrese – bokant alle sataniese leuens, alle gevoelens, alle omstandighede – en rus in wat God se Woord verklaar. En Sy Woord sê dat deur bekering en geloof in Christus, kyk Hy na my asof ek die volmaakte geregtigheid van Jesus het. Hy aanvaar my “in die geliefde” as heilig en regverdig!

Hierdie volmaakte geregtigheid word nie in grade toegereken nie; Dit word gegee slegs in sy volheid!

Toe jy die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus ontvang het, het jy dit alles ontvang. Daar is geen “50 persent volmaakte” geregtigheid of “90 persent volmaakte” geregtigheid nie. As dit is volmaak is, is dit alles daar! Heiligmaking is die Heilige Gees wat ons help om in die praktyk te word wat God sien as deur geloof.

Laat my vir jou ‘n waarheid gee wat eens en vir altyd jou pogings sal verdryf om jou geregtigheid met iemand anders s’n te vergelyk.

In my jonger jare, het ek altyd myself vergelyk met ander wat heilig voorgekom het. Hierdie mense het gelyk of hulle altyd gestraal het – altyd opgeruimd, glimlaggend en baie meer soos Christus as ek. Ek het nooit gedink ek sou kon opweeg teen hulle heiligheid nie. Daarom het ek gebid, “Here, maak my regverdig soos Broer So-en-so. Hoe wonderlik moet dit nie wees om so vir U te lewe nie!”

Hoe verkeerd was ek! Amper elke mens oor wie ek so gevoel het, het uiteindelik geval. Hulle was nie wat ek gedink het hulle was nie. Ek het inderdaad geleer dat niks is soos dit voorkom nie; niemand is so boos of so goed as wat hy mag lyk nie. Liewer, daar is slegs Een wat waarlik regverdig is – Jesus Christus ons Here – en Sy geregtigheid is volmaak!

As ons in Christus is, dan het ons Sy geregtigheid – en dit word nie aan ons toegereken in grade nie. Niemand verkry meer of minder daarvan nie. Dit is die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus – en deur geloof ontvang ons dit in sy volheid!

Ons moet onsself slegs meet deur Sy geregtigheid alleen – en nie deur enigeen se kamtige geregtigheid nie: “...Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig” (2 Korinthiërs 10:12). “...maar volgens die maat van die werkkring wat God ons as ‘n maat toebedeel het om ook julle te bereik” (2 Korinthiërs 10:13).

Paulus sê hier, “Daar is ‘n reël waarvolgens jy jouself kan meet. Dit is die volgende: Almal wat hulle waarlik bekeer en glo in die volmaakte geregtigheid van Christus – wat na Hom kom in geloof en glo in Sy werk aan die Kruis – word volmaak regverdig gemaak voor die aangesig van God. Jy mag dalk nie alles reg hê nie. Daar is steeds ‘n daaglikse werk van heiligmaking deur die krag van die Heilige Gees. Maar jy is aanvaar in die Geliefde – toegereken met die geregtigheid van Christus!”

Geliefde, dit is tyd dat jy ophou om jouself as beter of slegter te sien in vergelyking met ander. God het jou toegereken met die volle mate van die volmaakte geregtigheid van Christus: “Totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efésiërs 4:13).

God spreek van ‘n “swaarder” straf vir diegene wat sy aanbod van geregtigheid deur geloof verwerp!

Hoewel Jesus Sy perfekte geregtigheid aanbied, weier talle dit. Hulle weier Sy vergifnis, Sy vrede, Sy regverdigmaking van die wet, Sy aanneming in die familie van God – en in plaas daarvan omhels hulle hul eie vorm van geregtigheid deur werke. Die Skrif sê van hulle: “Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe” (Hebreërs 10:39).

Die Fariseërs het hierdie aanbod geweier. En talle Christene doen dit ook vandag. Op die Oordeelsdag, sal hulle op ‘n ry staan voor die troon, met net die besoedelde kleed van eie geregtigheid aan. Hulle sal hulself afvra, “Wat het ek gedoen om vir die Here aan te bied?” En wanneer hulle beurt kom, sal hulle sê, “Here, ek het duiwels uitgedryf, ek het die siekes gesond gemaak, ek het magtige dade in U Naam gedoen.”

Maar Hy sal antwoord, “Ek ken julle nie, julle werkers van ongeregtigheid! Julle het nooit die volmaakte geregtigheid van My Seun gehad nie. Julle het slegs ‘n geregtigheid deur werke – en Ek ken nie daardie geregtigheid nie. Ek sal geen geregtigheid aanvaar nie, tensy dit deur geloof in die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus is!”

Geliefde, ek weier om op daardie manier te leef! Jesus Christus het vir my ‘n erfenis nagelaat en ek eis dit op. Dit is myne!

Die Skrif sê, “...die regverdige voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:11). As jy hierdie waarheid kan aanvaar van die volmaakte geregtigheid van Christus, sal jy die moed hê van ‘n leeu. Jy sal nooit enige persoon vrees nie. Jy sal nooit na iemand se lewe kyk en onwaardig voel nie. Jy sal kan sê, “Ek het die volmaakte geregtigheid van Jesus Christus wat aan my gekrediteer is deur geloof! Nee, dit is nie myne nie – dit is Syne. Maar dit is aan my toegereken deur Jesus Self, sodat ek dit my eie kan noem!”

Dit is tyd om jou stryd te laat staan. As die duiwel na jou toe kom en sê, “Jy is niks werd nie, jy het geen geregtigheid nie,” kan jy antwoord: “Natuurlik is ek niks werd nie. Natuurlik het ek geen geregtigheid in myself nie. Maar ek het wel die geregtigheid van Jesus Christus! Ja, ek het God gefaal. Maar ek het ‘n Advokaat by die Vader – Jesus Christus, die Regverdige!”

Wanneer jy voor die Here staan, sal jy nie hoef te bewe en dink, “Wat gaan ek vir Hom aanbied nie? Wat het ek reg of verkeerd gedoen?” nie. Nee – jy sal dink, “Ek het niks in myself om vir Hom aan te bied nie – omdat ek Sy geregtigheid het deur geloof!”

Beteken dit Christene is nie verplig om goeie werke te doen nie? Geensins. Regverdigmaking deur geloof en die toegerekende geregtigheid van Christus, maak die siel vry om in heiligheid te werk en goeie dade te doen wat vloei uit ‘n oorgegewe, liefdevolle hart. Goeie dade wat gedoen word in slaafagtige vrees bring geen eer aan God nie. Om in ware heiligheid te wandel is slegs moontlik vir diegene wat hulle erfenis – Christus se volmaakte geregtigheid – in besit geneem het, omdat hulle nie langer gevange gehou word deur vrees en veroordeling nie.

Ek werk, nie om geregtigheid te verdien nie, maar omdat Sy volmaakte geregtigheid myne deur geloof is. En nou is ek vry en vrygemaak om Hom te dien as ‘n slaaf van liefde.

Nou, deur die krag van die Heilige Gees, wat belowe is in die Nuwe Verbond, draai Hy my weg van alle ongeregtigheid en bemagtig my om die geregtigheid wat Hy aan my toegerken het, uit te leef. Halleluja!