Verlos Van Hierdie Teenwoodige Bose Wêreld

David Wilkerson

Ek glo dat regverdigmaking of vryspraak deur geloof die fundamentele waarheid van Christendom is. Jy kan nie ware rus en vrede ken, totdat jy oortuig is dat jy nooit geregverdig of vrygespreek kan word in God se oë deur jou eie werke van geregtigheid nie.

As jy nie die volmaakte geregtigheid van Christus wat joune word deur geloof, verstaan nie, sal jy ‘n lewe lei van hardearbeid en sweet. Jy sal jou dae deurbring deur te probeer om God te behaag deur een of ander wettiese, hopelose poging om jou eie geregtigheid op te rig. Maar in werklikheid sal jy nooit enige geregtigheid hê om vir die Here te bring nie!

Jy is heel waarskynlik bekend met die gedeelte in Jesaja wat sê, al ons geregtigheid is soos ‘n besoedelde kleed in God se oë. Dit beteken nie God verag ons goeie werke nie – geensins. God wil ons regverdige dade hê en ons behoort goeie dade te doen. Maar as jy dink jou goeie dade verdien jou redding – dat dit jou toelaat om heilig voor God te staan – dan is dit niks anders as ‘n besoedelde kleed nie. Jy stuur op ‘n ramp af!

Natuurlik kan jy goed voel oor die goeie werke wat jy doen. Jy sal waarskynlik ‘n oomblik van oorwinning geniet wanneer jy versoeking weerstaan. En daar sal waarskynlik dae wees waarop jy dink jy het een van jou troetelsondes oorwin. Jy voel regverdig en dat God se guns op jou rus.

Maar die volgende dag misluk jy weer – val jy weer terug in ‘n sonde – en skielik verloor jy al jou blydskap. Jy dink die Here is kwaad vir jou. Jy wonder of jy jou verlossing verloor het. Jy dink, “Ek sal dit nooit maak nie” en op die ou end kruip jy weg vir God.

Dit is ‘n wipwaentjie rit van emosionele hoogtes en laagtes – van op-en-af, warm-en koud, sondig-en-bely-en-sondig-en-bely – volgens hoe goed of sleg jy dink jy gedoen het op een spesifieke dag. Dit is ‘n lewe van ellende – omdat jy probeer om God in jou vlees te behaag!

Geliefde, geen geregtigheid van die vlees sal ooit staande bly voor God nie. Selfs die beste mense onder ons – die mees morele, goddelike heiliges – het almal ellendiglik misluk en het aan God se heerlikheid kortgekom. Niemand van ons kan ooit aanvaar word in die Vader se oë deur ons goeie werke nie. Ons word deur Hom aanvaar slegs as ons in Christus is!

“...want julle is almal een in Christus Jesus” (Galásiërs 3:28). Wanneer ons ons tot Jesus bekeer met reddende, self-ontledigende geloof, word ons een in Christus. Om “in Christus” te wees, beteken God reken Jesus se geregtigheid aan ons toe. Al ons sondes word weggewas as gevolg van Sy werk, nie ons s’n nie!

Verder, ons is nie net een met Hom nie, maar ons is ook volmaak in Hom. Aan die Kruis, was ons ou mens – met al sy vleeslike begeertes en welluste, al sy eie-geregtigheid, al sy strewinge – mee weggedoen in God se oë. God het gesê, “Ek is klaar met die ou mens. Hy is aan die Kruis vasgenael. Van nou af, kan slegs een Mens voor My staan – ‘n volmaakte regverdige Mens – Jesus Christus. En almal wat een is met Hom, is vergewe en aanvaar – gereken as regverdig voor My aangesig!”

Tensy jy hierdie fundamentele waarheid begryp, kan jy nie oorwin in hierdie laaste dae nie!

Ons word geregverdig, vrygespreek, reg gemaak in God se oë, deur ons geloof in die Jesus se werk aan die Kruis. Jy sien, God aanvaar niks minder nie as volmaakte geregtigheid. En daar is slegs een volmaakte geregtigheid – die geregtigheid van Jesus Christus. Slegs Hy het al die vereistes van die wet volmaak nagekom. Slegs Hy het aan die geregtigheid van God insake sonde voldoen.

Ek dank God vir alle goeie, rein, morele, getroue mense in die liggaam van Chistus – mense wat nie lieg en bedrieg, steel ,drink, rook, dwelms gebruik, dobbel, pornografie kyk of skinder nie. Alle Christene behoort so te leef.

Maar nie een van hierdie dinge sal op die oordeelsdag staande bly nie! Ons kan nie op één daarvan steun om guns of aanvaarding by God te kry nie. Nee! Ons moet almal hierdie waarheid verstaan: Ons kan geregverdig word slegs deur geloof in die werk wat Jesus vir ons aan die Kruis gedoen het!

Laat my jou egter die res van die storie vertel. As jy nie verder gaan as regverdigmaking of vryspraak deur geloof nie – as jou leerstelling eindig by redding, “Ek is en het Jesus se geregtigheid deur geloof” – dan is jy in groot gevaar!

Hier is waar talle Christene misluk. Hulle sê, “Ek is die geregtigheid van Chrsitus!” Nee! Ons is nie die geregtigheid van Christus nie, ons het die geregtigheid van Christus aan ons toegereken! Ons het geen geregtigheid in onsself nie; daar is niks goed in ons nie.

Die volmaakte geregtigheid van Christus word nie in ons gespuit of in ons gegiet nie. Liewer, ons word regverdig geag in God se oë weens Jesus. Christus se geregtigheid word op ons rekening gekrediteer! God reken die geregtigheid van Christus aan ons toe.

Hierdie geregtigheid is nie iets wat in ons is nie. Liewer, dit is slegs in Christus. Wanneer God egter na ons kyk, sien Hy ons slegs as in Christus – as volmaak regverdig!

Toe Paulus die eerste keer regverdigmaking en vryspraak deur geloof verkondig het, was Hy valslik beskuldig dat hy ‘n verdraaide evangelie verkondig het!

Toe die apostel Paulus hierdie openbaring van regverdigmaking en vryspraak deur die volmaakte geregtigheid van Christus verkondig het, was dit gesê dat hy ‘n verdraaide lewenstyl verkondig het. Mense het uitgewys dat as ons gered, vergewe, aanvaar, vrygespreek en regverdig geag was, alles deur geloof in Christus, dan sou ons almal uitgegaan en meer gesondig het. Die redenasie was, “God kan selfs meer genade bewys – en Hy sal meer verheerlik word!”

Paulus het uitgeroep, “Dit is laster! Dit is glad nie wat ek sê nie.” In later jare, was die waarheid wat hy verkondig het, verder verdraai deur baie wat dit gebruik het as ‘n verskoning om voort te gaan met sonde. Hieruit het ‘n leerstelling genaamd antinomianisme gekom. Hierdie woord beteken letterlik, “anti-wet,” of “sonder beperking.” Dit is ‘n leerstelling met geen beperkinge nie.

Die verklaarders van antinomianisme stel dit op prys om vry in Christus te wees! Ek het geen bande, geen skuld, geen veroordeling nie – omdat Jesus dit ten volle vir my betaal het. Hy is my voldoening met God, sodat die Vader nou slegs vir Jesus sien as Hy na my kyk. Ek is veilig en ewig gered – daarom kan ek doen wat ek wil!”

Een van die leidende teoloë van die leerstelling van antinomianisme was ‘n man genaamd Dr. Crisp. Die volgende is ‘n paar gedeeltes uit die hart van sy leerstellinge:

“God se liefde is nie afhanklik van enigiets in my nie, daarom sal daardie liefde nooit verander as ek sondig nie; en om hierdie rede, wanneer ek sondig, veronderstel deur owerspel of moord, beskou God my as een met Sy eie Seun, wat alle geregtigheid vir my vervul het. En omdat Hy ‘altyd ‘n welbehae’ het in Hom, daarom ook met my, want ek is ‘been van Sy been en vlees van Sy vlees.”

“Daar is dan geen afstand, wat ek nie kan afdwaal nie, geen dieptes wat ek nie kan inval nie, sonder om Hom te mishaag nie; net soos Dawid het, wat ten spyte van sy herhaaldelike afvallighede nie sy karakter as ‘n man na God se hart verloor het nie. Ek kan saam met hom moord pleeg, ek kan Astarte saam met Salomo aanbid, Christus verloën saam met Petrus, Onesimus beroof, bloedskande pleeg saam met die Korinthiërs, sonder om die goddelike guns of die koninkryk van God in te boet...

“Jesus Christus het deur een offer my ‘vervolmaak’ – ek, wat ‘geheilig’ is in al my sondes. In Hom is ek volmaak in al my swakhede... Ek glo God sal my sonde oorsien, of dit nou owerspel, moord, of bloedskande is, ter wille van Sy heerlikheid en my eie beswil...”

Die leerstelling van antinomianisme klink afstootlik vir enige ware gelowige. Die Christendom is vandag egter vol mense wat in presies dieselfde soort “gekkeparadys” leef. Hulle maak aanspraak op die geregtigheid van Christus. Hulle roem dat hulle ewig verlos is. Tog het hulle nog nooit hulle sonde laat staan nie!

Hulle drink, rook, fuif, slaap rond – en die hele tyd sê hulle, “Ek is gered, omdat Jesus my geregtigheid is! Dit word alles deur geloof reggestel. Daarom maak dit nie saak wat ek doen nie.” Sulke mense is egter verslaaf aan hulle ou verdorwenhede. Hulle is steeds “van die wêreld” – en leef in hul plesiere – besoedel deur die gees van hierdie eeu, verblind en mislei deur sonde.

Daar is inderdaad talle Christene wat hoor van die verkondiging van genade – preke oor die volmaakte geregtigheid van Christus wat beskikbaar is deur geloof – en tog gee dit vir hulle ‘n valse gevoel van gerustheid! Hulle gaan voort in hulle sonde en sê vir hulself, “Miskien is my sonde nie so sleg nie. Miskien is Jesus my geregtigheid soveel so dat God dit sal oorsien!”

Nee! Sulke mense doen oneer aan die genade van God. Paulus sê hulle misbruik die boodskap van genade!

Daar is altyd ‘n risiko in die verkondiging van die boodskap van genade!

Die risiko in die verkondiging van genade is dat mense dit sal misbruik, soos hulle met Paulus gedoen het – lasterlike beriggewing dat hoe meer ons sondig, hoe meer kan God se genade onder ons geopenbaar word. So ‘n leerstelling is gevaarlik, omdat dit iets lewensbelangrik uitlaat – iets sentraal tot die evangelie!

Laat my vir jou die hart van die ware genade boodskap gee: Dit is nie ‘n verdraaide evangelie nie – maar een wat heiligheid onderrig!

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Volgens Paulus, wandel ons nie in genade totdat ons gebreek het met wêreldse verdorwenhede nie. Tensy ons deur die krag van die Heilige Gees poog om goddelike en regverdige lewens te leef en uitsien na die Here se koms tydens ons elke wakker oomblik, dan ken ons nie God se genade nie!

Die meeste Christene wil vergifnis hê – maar dit is al. Hulle wil nie verlos word van hierdie huidige wêreld nie, omdat hulle dit liefhet. Hulle is verslaaf aan hulle sondes en wil nie die plesiere van hierdie aarde prysgee nie. Daarom klou hulle vas aan ‘n leerstelling wat sê, “Ek kan leef soos ek wil – solank ek sê, ‘Ek glo!’”

Hulle wil nie hoor van gehoorsaamheid, bekering, selfopoffering, die kruis opneem, die juk of las van Christus opneem nie. Hulle wil liewer in hierdie wêreld leef sonder selfbeheersing, terwyl hulle dink hulle het ‘n Verlosser wat hulle op die ou end sal vergewe.

Hulle wil bloot verskoon word op die Oordeelsdag – om al hulle ongeregtighede oorgesien te hê. Hulle verwag dat Jesus vir hulle die pêrelpoorte sal oopmaak, Sy arms rondom hulle sal sit en hulle met ‘n goue straat af sal neem na hul gereserveerde herehuis – selfs al het hulle nooit gebreek het met die gees van hierdie wêreld nie!

Paulus skryf, “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Ons moet heeltemal met hierdie wêreld breek en verander word na Christus se beeld alleen!

Jy sien, Jesus regverdig ons deur geloof om ‘n rede: Dit is om ons aan te moedig en ons te bemagtig om die duiwel te weerstaan en die wêreld te oorwin in die krag van God se Gees. Ja, Jesus het vir ons gesterf sodat ons die ewige lewe kan hê; dit is waarlik wonderlik. Maar Hy het ook gesterf sodat ons verlossing in en van hierdie teenwoordige bose wêreld kan geniet!

“Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galásiërs 1:4).

“Wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reining, ywerig in goeie werke” (Titus 2:14).

Daar is ‘n ingewikkelde teologiese probleem wat Christene verdeeld gemaak het vir eeue.

‘n Eeu-oue teologiese vraag woed steeds voort vandag. Dit is: “Wat is God se deel in ons verlossing en wat is ons deel? Dit is ‘n vraag van geloof versus werke.

Een gedagterigting, genaamd Calvinisme sê, Christus se werk is klaar, sodat geen verdere werk nodig is nie. Die ander kamp, genaamd Arminianisme sê, ons word geregverdig sodat ons goeie werke kan doen deur die krag van die Heilige Gees.

Een kamp haal Gálasiërs aan, wat sê, “Paulus sê die evangelie is deur geloof alleen, sonder werke.” Die ander kamp wys na Jakobus en sê, “Jakobus sê dat geloof sonder werke is dood. Ons moet bewys gee van ons geloof deur ons dade!”

Beide hierdie standpunte is in der waarheid reg. Daar is geen teenstelling tussen hulle nie. Hier is wat regtig gesê word:

  1. Werke sal nie verlossing vir enigeen verdien nie.
  2. Diegene wat ywerig is om goeie werke te doen, bewys hulle het die soort geloof wat regverdig maak.

Dit is beide wonderlike, lewegewende, skriftuurlike waarhede oor die aard van geloof.

Maar, die feit bly staan, nie alle geloof regverdig of spreek vry nie. Nie alle geloof is ‘n geloof wat red nie. Laat my verduidelik.

Sedert Times Square Kerk nege jaar gelede gestig is, het duisende met die gangetjies hier afgeloop, voor die altaar gestaan, die sondaarsgebed gebid en gesê, “Here, ek glo. Red my!” Maar die oorgrote meerderheid het ongered teruggegaan na hulle sitplekke en terug na hulle huise! Hulle het teruggegaan met dieselfde toestand waarin hulle gekom het.

Talle Christene sê hulle glo in regverdigmaking en vryspraak deur geloof. Om egter bloot hierdie woorde te sê, “Ek glo,” regverdig dit nie. Die Bybel sê immers die duiwels glo ook en hulle sidder. Sulke mense het nie ‘n reddende, ware geloof vir die Here gebring nie.

As jy na die strate moes gaan en mense willekeurig sou vra, “Glo jy Jesus was die Seun van God? Dat Hy na hierdie aarde gekom het om te bedien? Dat Hy gekruisig was en weer opgestaan het?”, sou die oorgrote meerderheid mense antwoord, “Ja – ek glo dit alles.” Maar hulle is nie gered nie!  Om bloot met jou verstand instemming te gee aan daardie dinge maak nie ‘n reddende geloof uit nie. Dit is nie geloof wat regverdig maak en vryspreek nie!

Die kerk van Jesus Christus het desperaat eenvoudige taal oor geloof nodig. Ons is eenvoudig te glad met die tong daaroor. Ons bied geloof aan mense wat nog nie gereed is daarvoor nie. Ons stel dit voor asof dit ‘n eerste afbetaling op ‘n nuwe kar is. Deur dít te doen, verkleineer ons geloof na iets wat niks waardevoller is as ‘n prys in ‘n pakkie Cracker Jacks nie!

Die kerk se konsep van geloof is besoedel deur ons Amerikaanse kultuur. Mense in hierdie land voed op ‘n demoniese evangelie van selfvetroue, eie-waarde en selfhelp. Ons word vertel, “Glo in jouself.” Dan voeg daarby ons obsessie met “kits alles” – kitskos, kitsdrankies, kits-informasie, kits-bevrediging.

Op hulle beurt, bied kerke ‘n demoniese diëet van eie-wil en vertroue in die self. Predikers sê, “Stem net saam met jou verstand oor God se beloftes. Jy sal kitshemel, kitsheiligheid en kitsgeluk kry!”

Dit het ‘n tydelike, valse geloof veroorsaak. Vandag hardloop mense na God se altaar met geen ware oortuiging nie en sê, “Jesus, red my. Ek glo!” Maar hulle het nie ware geloof nie. Wat hulle het, is veronderstelling!

Jy kan nie op God vertrou totdat jy opgehou het om in jouself te glo nie!

Paulus het nie daarvan gepraat dat hy geloof gehad het nie, totdat hy alle vertroue in sy vlees verloor het. Hy het alles geneem wat hy weet – al sy opleiding, selfvertroue, vermoëns, leerstellinge en ywer – en dit eenkant gewerp soos drek! Hy het van geloof gepraat slegs nadat hy gesê het, “Ek het geen vertroue in my vlees nie!”

Dieselfde is waar vir ons! Ons het nie reddende geloof totdat ons gekom het aan die einde van ons geloof dat iemand of iets anders as Jesus ons kan red nie. Voor enigeen in staat is om ware geloof te hê, moet hy kom by ‘n gevoel van hoe verlore, hulpeloos en totaal hopeloos hy is. 

Jy mag beswaar maak en sê, “Amper elke keer wat Jesus ‘n wonderwerk verrig het, het Hy vir mense gesê, ‘Glo net!’” In elke geval het Hy dit egter gesê vir mense wat aan die einde van alle hoop gekom het – wat geloof verloor het in alle ander dinge. Dit sluit in die vader wie se seun in die vuur gegooi is deur demone. Dit sluit ook Jaïrus in, wie se twaalfjarige dogter gesterf het. Hulle geloof was gebore uit die wete dat niks anders in die wêreld hulle sou kon help nie. Hulle het alles aan Christus oorgegee en in geloof uitgeroep, “Jesus, U is my enigste hoop. As U dit nie doen nie, kan dit nie gedoen word nie!”

Reddende, regverdigmakende geloof sluit meer in as om bloot alle vertroue op die vlees prys te gee. Dit sluit ook in om jou hele lewe aan Christus te onderwerp met jou hele hart. Dit sluit in ‘n belydenis in wat sê, “Jesus, ek het niks om U te bied nie. Ek is niks en het niks. Ek kom om my aan U heerskappy te onderwerp!”

In Romeine 10:9, beskryf Paulus geloof as om te glo met jou hart en te bely met jou mond. Hy sê geloof is meer as net om met jou verstand saam te stem. Dit is eerder om jou hele lewe aan Hom te onderwerp – met jou hele hart!

In Handelinge 8:37, sê Filippus vir die hofdienaar, “...As u glo met u hele hart...” Die hofdienaar het geantwoord, “...ek glo...” (dieselfde vers) – en hy was gered! Dit was nie bloot ‘n “ja” vir Jesus met die verstand deur die hofdienaar nie. Dit was volle onderwerping van sy wil – ‘n oorgawe van sy hele lewe en toekoms in die Here se hande. Hy het met sy hele hart geglo!

In teenstelling daarmee, het Simon Magus Paulus se prediking geglo. Hy het egter net ‘n tydelike geloof gehad, omdat sy hart nie daarin was nie. Die Skrif sê hy het steeds aan bitterheid vasgeklou! (sien Handelinge 8:13). Menigtes mense het inderdaad in Jesus se tyd tydelik in die naam van Christus geglo. Maar Jesus wou Homself nie aan hulle toevertrou nie, want Hy het geweet hulle harte was nie aan Hom oorgegee nie (sien Johannes 2:23-24).

So, jy vra, wie is werklik geregverdig of vrygespreek deur geloof? Wie het Christus se volmaakte geregtigheid aan hom toegereken? Wie word as heilig voor God gesien?

Dit is die een wat gekom het by die einde van alle menslike hulp – wat weet hy is verlore en hulpeloos! Hierdie persoon het alles probeer en het misluk. En nou het hy sy hele lewe oorgegee in die Here se hande – met sy hele hart, verstand, siel en krag. Hy roep uit, “Here, ek is U s’n – neem my alles! Ek wil verlos wees van al my sondes. Ek wil die Christus-lewe leef. Here, U is my enigste hoop!”

Daar is een ander belangrike aspek van reddende, regverdigende geloof!

Die sterkste eienskap van ware, reddende geloof, is ‘n begeerte om nader te kom aan Hom wat jou liefhet “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring...” (1 Petrus 3:18).

Waarom het Jesus gely en gesterf? Waarom het Hy regverdigmaking en vryspraak vir ons beskik? Waarom word Sy volmaakte geregtigheid aan ons toegereken?

Dit was sodat Hy ons na God kon bring! Dit gaan alles oor intieme gemeenskap met die Vader. Jy sien, reddende geloof het ‘n hartsgeroep: “O God, trek my nader aan U!” En tensy jy dit as deel het van jou geloof, kan dit nie reddende geloof wees nie. Wanneer jy na Jesus toe kom, moet dit oor meer gaan as net om geluk in die lewe te hê. Iets in jou hart – wat deur die Gees daar geplaas is – moet sê, “Ek wil Hom wat my liefhet, ken. Ek wil die Een wat Sy Seun vir my gegee het om te sterf, ken. Ek wil nader aan die Here kom!” Daar is ‘n trekkende krag in reddende geloof.

Toe Adam gesondig het, het hy die kosbaarste ding wat enige man of vrou kon besit, verloor: intimiteit met God. Sonde het Adam weggedryf van intimiteit met God – en hy het in werklikheid van Sy teenwoordigheid af weggekruip. En van toe af, as die mens sondig, het hy ‘n geneigdheid om weg te hardloop en weg te kruip soos sy voorvader, Adam.

Dit is waarom God sonde so haat – omdat dit ons beroof van Sy gemeenskap! Hy het ons geskep vir een rede – vir intimiteit met Hom. En Hy smag so na ons gemeenskap, dat Hy Sy eie Seun gestuur het om aan ‘n kruis te sterf om ons te regverdig en die mure wat daardie intimiteit met Hom blokkeer, af te breek.

Dit is die krag van regverdigmaking en vryspraak – die heerlikheid van Christus se volmaakte geregtigheid toegereken: Dit maak ‘n pad terug na God se oorspronklike doel om die mens te maak – vir gemeenskap met die Vader!

Hierdie teenwoordige wêreld is vol boosheid, laster, sataniese leuens, verleidings, skuld, vrees, veroordeling – dit alles is deur die Satan ontwerp om ons te laat voel ons is onheilig en onwaardig om in God se teenwoordigheid in te kom!

Maar ons is verlos van dit alles. Ons het ‘n reg tot God se teenwoordigheid – ‘n uitnodiging na Sy troon – omdat ons in volmaakte geregtigheid voor Hom staan! Ons hemelse Vader is nie gewillig dat enigiets tussen ons en Hom staan nie. Omdat ons die kleed van Jesus se geregtigheid dra, kan niks ons van die Vader se reddende genade weghou nie!

God het ons egter nie net uitgenooi na die troon van genade nie, maar Hy aanvaar ons as heilig in Christus. Ons sonde is onder die bloed en vergewe – en nou het ons ‘n reg tot binne-in Sy heiligheid. As ons immers na Jesus kom met reddende geloof, dan het ons alles aan Hom onderwerp. En iets in ons harte smag gedurig na Hom.

Geliefde, Jesus het nie gesterf net om jou paradys toe te neem nie. Hy het gesterf sodat jy elke dag in die heerlike, innige gemeenskap met die Vader kan lewe. Jy kan met Hom praat, na Hom luister, Hom vra om jou te lei, jou te leiding te gee, vir jou te sê waar jy verkeerd is, jou van sonde te oortuig – omdat Hy in jou woon deur Sy Gees!

Om verlos te word van die teenwoordige bose wêreld beteken bloot die volgende:

  • Hy verlos ons van die mag, skuld en veroordeling van sonde.
  • Hy verlos ons van die veroordeling van ‘n beskuldigende gewete.
  • Hy het versoening gedoen vir alle sonde en Satan beroof van alle beskuldigings teen ons.
  • Hy het ons sondes in die see van vergetelheid gebêre en alles aan die Kruis vasgenael.
  • Hy het die voorhangsel in twee geskeur – en die weg vir ons na die Allerheiligste oopgemaak, ‘n pad vir ons om na Hom te kom en vir Hom om uit te kom na ons toe.

Jy hoef nie diep teologie te verstaan nie – Calvinisme, Arminiasnisme, antinomianisme of enige ander teologiese konsep om hierdie geloof te aanvaar nie. Jy het nie ‘n vier-jaar Bybelkollege opleiding nodig nie. Al wat jy nodig het, is om te smag om Hom in wie jy geglo het te ken – en ‘n honger in jou hart vir Hom! Amen!