VERGEET DIE VERLEDE

David Wilkerson (1931-2011)

Die fondament van alle oorwinning oor sonde is om te verstaan dat God barmhartig en vol goedertierenheid en liefde is.

“So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:23-24).

As jy al ‘n geruime tyd met die Here wandel, het jy het seker al ander daarmee bemoedig dat God genadig en vergewensgesind is. Laat my nou toe om jou te vra: Wanneer jy die Here teleurstel, is dit skielik ‘n ander saak? Vind jy dat jy verskriklike gevoelens van skuld en skande beleef?

Jy mag sê, “Is ons nie veronderstel om sulke gevoelens te ervaar wanneer ons sondig nie?” Daardie gevoelens is inderdaad die natuurlike gevolg van sonde. Maar as kinders van God is ons nie veronderstel om vir dae en weke te bly dink dat ons Vader vir ons kwaad is nie. As gevolg van Christus se voorsiening aan die kruis, kan alle skuld en veroordeling vinnig opgehef word.

Selfs nadat ons ons bekeer het, mag ons voel dat ons moet opmaak vir ons mislukkings. Soos die Verlore Seun, kan die Vader ons omhels, ons wang soen, ‘n ring om ons vinger sit en ‘n kleed om ons hang. Hy sê vir ons om die verlede te vergeet en die feesmaal wat Hy vir ons voorberei het te geniet.

Maar van binne af protesteer ons, “Ek is nie waardig nie! Ek het teen die Here gesondig. Ek moet vir Hom wys dat ek jammer is.”

Vir baie Christene is dit maklik om te glo dat God Israel se groot sondes vergewe het. Ons het geen probleem om te aanvaar dat Hy Ninevé in die Ou Testament en die sterwende misdadiger in die Nuwe Testament vergewe het nie. Maar, snaaks genoeg, dit is vir ons moeilik om te verstaan dat die oomblik wanneer ons onsself tot Hom bekeer, Hy ons vinnig en liefdevol aanvaar asof ons nooit gesondig het nie.