Verdryf Ongeloof

“Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het [Nasaret] … baie het na Hom geluister en is deur Sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: Waar kom Hy aan al hierdie dinge, en watter besondere wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur Sy hande plaasvind? … Die mense wou niks van Hom weet nie. … Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. Hy was verbaas oor hulle ongeloof (Mark 6:1-3, 5-6).

In die vorige hoofstuk doen Jesus verbasende wonderwerke. Hy dryf ‘n legioen bose geeste uit ‘n man. ‘n Vrou word onmiddelik genees van bloedvloeiing wat haar vir jare geteister het. ‘n Twaalfjarige dogtertjie, die kind van ‘n Joodse owerste, word uit die dood opgewek. Wanneer Jesus sulke magtige dinge doen, sê Hy vir hulle wat verlos is, “Jou geloof het jou gered” (Mark. 5:34, 10:52, Mat. 9:22, Luk. 7:50, 8:48, 17:19, 18:42).

In die daarop volgende hoofstuk kom Jesus in Sy tuisdorp waar Hy met die grofste ongeloof te doen kry. Jesus het vir Sy eerste dertig jaar in Nasaret gewoon. Nou het hy teruggekom na Sy eie land om tussen Sy eie mense en familie te wees.

Die mense van Nasaret het gehoor van Jesus se wonderwerke. Hulle het al die verbasende stories oor die dinge wat onder sy hande gebeur het, gehoor. Maar, vir hulle het hierdie dinge “elders” gebeur — in ander stede, ander plekke, ander gemeenskappe, net nie in Nasaret nie.

Elders — net ‘n dagreis verder — was mense vol blydskap oor Jesus se wonderwerkende mag. Elders, het verbasende wonderwerke van God gebeur, met menigtes wat saamstroom om oorvloedige wonderwerke te beleef. Elders, het mense geestelike herlewing ervaar, met nuwe hoop vir die hopeloses. Daar was groot opgewondenheid in die land, maar vir die mense van Nasaret was dit altyd elders.

Ons moet verstaan dat hierdie mense kerkgangers, Bybellesers, ernstige godsdienstiges was. Hulle het God se Woord liefgehad en sê van Jesus, “Ons ken Hom en sy familie. Hy is ‘n voorbeeldige man.” Maar hulle erken Hom nie as die vleesgeworde Seun van God nie.

In werklikheid was hulle geestelik dood. Hulle ken Jesus as wonderwerker, wat magtige bevrydinge doen, maar hulle het geen geloof nie, geen verwagting nie. Op ander plekke ontmoet Jesus ‘n groot honger as mense smeek “Wat moet ons doen, om die werke van God te volbring?” (Joh 6:28). Sulke vrae is nie in Nasaret gevra nie.

Niemand in Jesus se geboortedorp het gewonder “Waarom ervaar ons nie wat die ander dorpe ervaar nie? Waarom kan ons God se krag nie hier belewe nie? Wat moet ons doen om die Heilige Gees te sien werk? In plaas daarvan bly hulle selftevrede.

Geliefdes, dit is die tragedie vir baie Christene en kerke vandag. Hulle hoor van groot herlewings elders, met baie wonderwerke en menigtes wat verlossing smaak. Tog vra niemand: “Hoekom nie by ons nie? Hoekom nie nou nie?”

‘n Hele geslag van Evangelies-georïenteerde mense groei op terwyl hulle Jesus, die man, erken. Hulle weet dat Hy wonderwerke gedoen het en dat Hy steeds wonderwerke doen op ander plekke. Hulle weet dat Hy hulle gered het en dat Sy Gees die Woord lewendig maak in hulle harte. Hulle glo alles wat oor Jesus in die Bybel geskryf is, maar hulle erken Christus nie as God hier en nou, in hulle lewens nie.

Ons kan getuig van gemeenskap met Christus, ons kan ween onder lofprysing, ons kan sê ons is vriende van God. Tog, moet daar nog ‘n tyd kom, wanneer ons onder probleme en versoekinge, waarlik sal toelaat dat Hy God vir ons is — die God van die onmoontlike.

Die Woord sê dat die Here nie ‘n aannemer van mense is nie. Hy wil vir almal en oral dieselfde groot dade doen wat Hy elders doen. Tog, waar die geloof ontbreek, is God se hande gebind. “[Jesus], kon daar geen wonderwerke doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siek mense gesit het en hulle gesond gemaak het” (Mark 6:5).

Moenie ‘n fout maak nie. God se krag was beskikbaar in Nasaret. Jesus was in hulle midde, vol van die wonderwerkende krag van God. Hy wou verlos, gesond maak, nuwe lewe gee, magtige werke doen, maar Hy sê: “Ek kan nie hier werk nie.” Hoekom? “Dit het Hom verbaas dat hulle nie in Hom wou glo nie” (Mark 6:6). Met ander woorde: Jesus was geskok. Hy was verstom, dat sy eie mense, nie die werking van God gesien of gehoor het nie.

Dat hulle nie die getuienis van andere van elders wou aanvaar nie. Daarom gaan Hy verder.

Die Here verkies om nie teenoor ongeloof te reageer nie. Hy is bedroef wanneer sy mense “die Heilige van Israel versoek en krenk” (Ps. 78:41).

Waar daar ongeloof is, is daar ‘n droë, dooie woestyn. Mense leef sonder enige hoop. Tog, is daar nie so iets soos ‘n “dooie plek” nie. Daar is net dooie Christene, wat geen geloof het nie. Niks is te
moeilik vir God nie.

Jare gelede toe ek ‘n kind was, het ‘n sekere evangelis – ‘n onbekende geloofsman – na Argentinië gegaan met ‘n visie van God om daardie volk te red. Hierdie man was nie ‘n groot prediker nie, net iemand met ‘n sprankie ware geloof. Hy het begin om in klein kerkies te praat. Hy het geloof verkondig: “God sal deure oopmaak, as julle Hom vertrou. Hy gaan honderde, duisende red. Dit het tyd geword om Hom op Sy Woord te neem.”

Die Here het daardie man se geloof beantwoord. Honderde, duisende het hulle bekeer en God het oor die nasie begin werk. ‘n Familielid van general Peron is wonderbaarlik genees en hy het die eenvoudige evangelis begin ondersteun. Skielik is byeenkomste in stadium ge-organiseer met tot 200,000 toeskouers. Op ‘n stadium het die evangelis vir general Peron self gebid. Die groot werk van die Here gaan vandag steeds voort in Argentinië.

Honger Brasiliaanse pastore het gehoor van die groot dade wat God, in Argentinië, gedoen het – elders. Hulle het daarheen gereis en gaan kyk. Wat hulle gesien het, het hulle geloof laat ontbrand. In hulle harte het hulle dit vir hulle eie land begeer. ‘n Beweging van die Heilige Gees in Brasilië het gevolg, met baie wat tot bekering en herlewing gekom het. Daardie beweging gaan vandag nog voort, onder miljoene gelowiges.

In Chile het die gelowiges gehoor wat God in Brasilië gedoen het — elders — en hulle begin ook ontbrand. Hulle het geloof begin verkondig en gebid, “Here, as U dit in Brasilië gedoen het, kan U dit ook hier doen.” Miljoene Christene is nou lede van die Liggaam van Christus as gevolg hiervan, met ‘n geskatte 30% van die bevolking, as erkende evangeliese gelowiges.

Langs Argentinië is Uruguay, ‘n land wat nog nooit ‘n beweging van God se Gees ervaar het nie. Terwyl ek skryf, is een van ons spanne besig om voor te berei vir dienste met 2000 pastore, in Uruguay, om vir hulle te vertel wat ek vir julle skryf: “Waar daar ook al geloof is, beweeg God. Dit is nie genoeg om te hoor wat elders gebeur nie. Dieselfde God wat in ander lande beweeg, wil ook in julle midde werk. God behandel alle mense eenders (Hand 10:34).

Ons mag nie tevrede wees om te hoor van die wonderwerke wat ander belewe nie. Iets in ons hart moet sê: “Dit is nie genoeg om te bewonder wat elders gebeur nie. Here, wat U elders gedoen het, doen dit ook hier.”

Jare gelede het God vir my gesê om na New York te gaan en vir die bendes te preek. Dit is vir my gesê dat ek bespot sou word, omdat daar op daardie stadium gedink is dat daar geen genesing was vir verslaafdes en alkoholiste nie. Ek was gewaarsku dat die bendes nie vir ‘n plattelandse prediker sou luister nie. Maar ek het God se Woord geglo. Daar was geen plan nie, geen geld nie, net geloof alleen.

Onmiddelik het God begin, deur die ergste bendeleier te red en daarna ‘n heroine-verslaafde. Daardie bendeleier was Nicky Cruz, wat vandag ‘n wêreldwye bediening het. Die heroine-verslaafde was Sonny Argonzoni, wat as biskop diens doen oor 200 kerke wat hy wêreldwyd gestig het. Dit was ‘n groot beweging van God se Gees, wat verslaafdes, alkoholiste, bendes en jongmense bereik het. ‘n Werk wat steeds voortgaan. “Teen Challenge” het vandag 520 sentrums, oor die wêreld, omdat mense in daardie lande nie tevrede was om te hoor wat God elders doen nie.

In Nasaret, en in vandag se kerk, kan ongeloof teruggevoer word na een probleem: mense glo nie meer dat Jesus waarlik God is nie. Hulle sien Hom nie meer as die Almagtige Here, in die vlees nie. Hulle vertrou Hom nie meer as die God van die onmoontlike vir hulle nie. En hulle twyfel praat hard. Satan en sy magte luister aandagtig na die taal van gelowiges in nood. Die oomblik dat hulle vra en vertwyfeling agterkom, beweeg hulle in om ‘n vastrapplek te kry. Ongeloof maak die hart oop vir allerlei duiwelse leuens.

Met die tyd, soos beproewinge toeneem, en vermoeienis groei, is baie Christene geneig om vrees en twyfel te laat inkruip. Stadig verloor hulle wat voorheen ‘n totale geloof in God, in kinderlike vertroue, was. Vrae en versigtigheid neem hulle harte in.

Geliefdes, net soos Jesus vrugbaar was, deur sy geloof in die Vader, so sal ons geloof ook beoordeel word. “Christus is die Seun van God, wat beheer het oor die hele huis van God, en ons is daardie huis waarin God woon as ons moedhou tot die einde toe en vashou aan die Here op wie ons vertrou (Hebr. 3:6).

Ek sien drie sake waarop die gelowige moet ag slaan en wat hy moet doen:

“Die duiwel … was van die begin af ‘n moordenaars. Hy staan nie aan die kant van die waarheid nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is die vader van die leuen” (Joh. 8:44). Hierdie vers openbaar die duiwel as die vader van alle leuens, die ontwerper van alle misleading. Alle leuens is in sy boesem gebore.

God het sy kerk duidelik gewaarsku teen die duiwel se misleidings, veral in hierdie laaste dae: “die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei … die aanklaers van ons medegelowiges is uit die hemel gegooi, hy wat hulle elke dag en nag voor ons God aangekla het … die slang het toe ‘n stroom water soos ‘n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word” (Openb. 12:9-10, 15).

Wat is die “vloed” waarvan hier gepraat word? Dit is ‘n rivier van leuens, wat bedoel is om die vrede en versekerdheid van God se heiliges te ontwrig. Hy probeer ons vernietig deur twyfel oor God se getrouheid in ons te plant.

Ek vra vir jou, vir wie lieg die duiwel? Nie vir God nie. Die duiwel weet om dit nie eers te waag nie. Nee, hy lieg vir gelowiges, ware soekendes wie se harte stewig op God gerig is. Ons kan hierdie groep nouer trek: Satan werp sy hewigste beskuldigings — sy subtielste misleidings, op, teen hulle wat vasbeslote is om God se beloofde rus in te gaan.

“Daar wag dus steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie (Hebr. 4:9-11).

Wat beteken dit om in “God te rus”. Dit beteken om op ‘n plek van algehele vertroue op die Here se beloftes te kom. Om in God te rus beteken dat daar geen worsteling met vrees en twyfel meer is nie, maar ‘n vaste sekerheid. Dit is ‘n voortdurende geloof dat God met ons is, en dat Hy wat ons geroep het ons sal deurdra.

Sodra jy dink dat jy hierdie nuwe geloofslewe bereik het – as jy dink jou vlees is gekruisig en jy vertrou geheel-en-al op die Here — kom die ou slang met ‘n vrag nuwe opgemaakte beskuldigings. Hy weet hoe ons toegewyd is aan die Here, en ken ons begeerte om alles te doen waarvoor God ons geroep het. Daarom beroep Satan hom op ons gewete en met afskuwelike leuens beskuldig hy ons in alles wat ons doen.

Sien, Satan se mikpunt is ons geloof. Hy weet as ons groei in die geloof, sal dit al sy leuens waardeloos maak. Hier is sommige van sy grootste misleidings.

Leuen Nommer 1: “Jy maak geen geestelike vordering nie.”

Die duiwel fluister vir jou: “Dit help nie dat jy na God smag nie. Ondanks al jou selfverloëning, al die onderrig wat jy ontvang het die hele tyd wat jy met Jesus gewandel het, is jy, nogtans, swak en beangs. Daar is soveel vir jou gegee, maar dit het jou so min verander. Jy sal nooit geestelik volwasse word nie, al word jy ook honderd jaar oud. Iets is verkeerd met jou. Andere kry dit, maar jy bly agter.”

Leuen Nommer 2: “Jy is te swak vir geestelike oorlogvoering.”

Satan fluister, “Jy is gedaan, moeg en opgewerk. Jy het net nie meer die krag om verder te veg nie. Hierdie geestelike oorlogvoering is te veel vir jou.” Sommige gelowiges word deur die volgende leuen, deur elke wakker uur, geteister. “Jy is aan die einde van jou krag. Verslap nou. Stadig. Gee moed op. Jy is net te moeg … moeg … moeg.” Dit is ‘n leuen wat ek dikwels self hoor, terwyl ek in my studeerkamer besig is met gebed en Bybellees.

Ons het onlangs ‘n brief van ‘n geliefde vrou ontvang wat vir die afgelope tien jaar in voortdurende pyn is. Sy skryf, “Ek het nou op ‘n plek gekom waar my enigste begeerte is om net vir één uur sonder pyn te wees. Dit is my enigste begeerte, behalwe om die Here te dien.” Daar is soveel oorgawe in haar woorde.

Baie mense het alle hoop verloor dat God dinge kan verander. Op die oomblik moet ek die Here vertrou vir my seun Greg se rugoperasie. Ek moes ook op God vertrou dwarsdeur die afsterwe van ons kleindogter, Tiffany. Ek moes hierdie beproewinge in God se hande plaas en vir genesing bid. Ek weet sonder geloof, te midde van beproewinge, is dit onmoontlik om God te behaag.

Daniël waarsku ons dat Satan daarin sal slaag om gelowiges uit te put. “Hy [die duiwel] sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg” (Dan. 7:25). Die Hebreeuse woord vir “vervolg” is hier “geestelik moeg, die gedagte uitgeput.”

Satan is vasbeslote om ons te oorwin deur ons te laat oorgee aan ‘n gees van uitgeputheid. So probeer hy ons van ons geloof beroof. Ek moet sê dit is makliker om hierdie leuen te glo wanneer jou liggaam afgetakel raak. Hoe ouer ek word, hoe swakker word ek fisies. Ek het eenvoudig nie meer die krag, soos vroeër, om ure in gebed deur te bring nie. Dit maak nie saak hoe getrou jy ookal is nie, jou liggaam verloor krag in die ouderdom. Maar een ding bly: die vuur van die geloof. Die een ding wat ek aan die Here kan gee tot my sterfdag is my sekerheid in Hom.

Het jy al ooit gesê: “Ek is geestelik/verstandelik gedaan?” Dit is geen sonde nie. Die sonde gebeur as ons nie God se beloftes van krag glo nie. Ons moet die duiwel se leuens stil maak deur geloof. Mag ons nooit van hierdie punt af wegdwaal nie. “Die Here sal dit doen.”

Leun Nommer 3: “God is nie met jou nie. Jy het Hom iewers bedroef.”

Die duiwel fluister: “God het jou nog lief, maar op die oomblik is Hy nie by jou nie. Daar is iets in jou waarmee Hy nie tevrede is nie, iets wat jy nie raaksien nie. Sy seën rus nie meer op jou nie.” Skielik gooi die duiwel jou toe met God se Woord uit konteks geneem: “Die Here het Israel verlaat toe hulle Hom gefaal het. Hierdie droë tyd is ‘n bewys dat God nie met jou is nie. Hierdie opbouende beproewinge en probleme, bewys dat die Heilige Gees jou verlaat het.”

Dit was die leuen wat die duiwel in Gideon se gedagtes geplaas het. Israel het vreeslike wreedhede onder die onderdrukkinge van die Midianiete gely. Maar die Heilige Gees het vir Gideon gesê: “Die Here is met jou, dapper man” (Rigters 6:12).

Toe Gideon dit hoor, kyk hy om hom na Israel se hopelose toestand en hy glo die duiwel se leuen. Hy bevraagteken God: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al Sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het? Toe hulle gesê het: “Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie? Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete” (Rigters 6:13).

Die waarheid was, God het Israel oorgegee in die hande van die Midianiete om hulle te tugtig, maar Hy het hulle nooit verlaat nie.

Moses het hulle gewaarsku dat daar ‘n tyd sal kom dat hulle sal afdwaal. Hulle sal vir hulle afgodsbeelde maak en dit aanbid — kwaad doen voor die Here se aangesig. Ja, hierdie sonde sal selfs Israel se bestaan bedreig. Hulle sal oor die aarde verstrooi word tot ‘n klein bietjie van hulle sal oorbly.

Tog selfs met hierdie harde profetiese woord, werp Moses alle ongeloof weg en vertrou op ‘n ander Woord van die Here: “As julle die Here julle God daar aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou (met julle hele hart en julle hele siel). Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en Sy Woord gehoorsaam. Die Here julle God is ‘n genadige God, Hy sal julle nie in die steek laat, of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met ‘n eed aan julle voorvaders beloof het nie” (Deut 4:29-31).

Ons het selfs ‘n sterker bevestiging van die Meester self: “Hy het gesê: Ek sal jou nooit verlaat en nooit in die steek laat nie. Daarom kan ons met vetroue sê: Die Here is my Helper (Hebr. 13:5-6). “Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mat 28:20).

“Broeders, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die Lewende God afvallig word nie” (Hebr 3:12). Die skrywer spreek die broeders aan — heiliges, gelowiges. Hy praat nie met sondaars nie, maar die deelgenote aan die hemelse roeping. Hy sê: “Julle Christene — pasop! Is daar in jou ‘n bose hart van ongeloof?”

Die skrywer van Hebreërs bind alles saam: ‘n bose hart vol ongeloof, ‘n verharde hart, wegbeweeg van God af. Die feit is dat ongeloof gevaarlik is, want dit verhard die hart, soos beton. Dit is moontlik om riviere van trane te stort en nog verhard te wees van hart.

Ons sien dit met Israel gebeur, wanneer God hulle beveel om Kanaän binne te gaan en dit in besit te neem. Israel weier om te gaan. Liewer glo hulle die slegte stories van die tien verspieders wat die land gaan verken het. Hulle ongeloof het hulle geloof en sekerheid van God vernietig. Daarom stuur God hulle terug na die woestyn, om rond te dwaal, vir 40 jaar.

As hulle eindelik besluit om in te gaan en te veg, doen hulle dit sonder God en die Amoriete laat hulle in die stof byt. Die Skrif sê: “Dit het julle berou dat julle dit gedoen het, julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister en Hom nie aan julle gesteur nie” (Deut 1:45). Trane sonder geloof is betekenisloos.

Na Jesus se opstanding, was die dissipels se harte verhard deur ongeloof. Hulle het geweet Jesus het opgestaan, maar hulle harte was vol twyfel. Dink oor hierdie gebeurtenisse na:

“Na Jesus se opstanding vroeg die Sondag môre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn … sy het dit vir die dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. Daarna het Jesus met ‘n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn, terwyl hulle op pad was na die platteland toe. Hulle het vir die dissipels gaan vertel, maar díe het selfs vir hulle ook nie geglo nie.

“Later het Jesus aan die elftal selfs verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hulle hardhead van hart omdat hulle die wat Hom ná Sy opstanding gesien het, nie geglo het nie” (Mark. 16:9-14).

In hierdie laaste vers bind Jesus ongeloof en verharding van hart, saam. (In Grieks is die woord “ongevoeligheid”). Christus was nie bly oor wat Hy in die dissipels bespeur het nie, daarom betig Hy hulle skerp. Hy tik hulle oor die vingers!

“Die Hoëpriester kan ons swakhede verstaan. Hy het presies dieselfde versoekinge as ons gehad, maar Hy het nie daaraan toegegee en sonde gedoen nie. Laat ons dan vol vertroue na die troon van God gaan, want daar sal Hy ons Sy liefde en genade gee juis wanneer ons dit nodig het (Hebr. 4:15-16).

Ons moet alles na Christus toe neem. Tog is sy Genadetroon nie ‘n plek waar ons Hom moet oortuig om ons te help nie. Hy het geen oortuiging nodig nie: Hy is meer gewillig om te gee, as wat ons is om te ontvang.

Ons word in die Troonkamer van die Almagtige Skepper van die Heelal genooi. “Hier is dit met God wat ons te doen het. Daar is nie ‘n ding wat vir Hom weggesteek kan word nie. Hy sien alles asof dit oop en bloot voor Hom uitgesprei lê” (Hebr. 4:13). Alles is “oop” en “bloot” voor die Here. Hy weet waardeur jy is, waardeur jy nou gaan en wat vir jou voorlê. Hy is nie net aan jou kant nie, maar Hy wag dat jy met vrymoedigheid na Hom sal kom.

Hy is liefdevol en vol genade, gewillig om jou te help in jou nood. Hy is vol meegevoel, want Hy het ook deur alles gegaan waardeur ons nou gaan. Ons hoef niks vir Hom te verduidelik nie: “Jesus, U weet wat ek deurgaan. Ek kan dit nie in woorde beskryf nie. U was voor my hier. Help my.”

In dit alles, mag ons nie met ongeloof voor God kom nie. In plaas daarvan moet ons, onsself oortuig en tot volkome geloof kom. “Julle moet julle eie lewens opbou op die fondament van die ware geloof wat baie heilig is en julle moet bid met die krag wat die Heilige Gees julle gee” (Judas 20).

Geliefde, dit het tyd geword dat ons hierdie gebed vandag sal bid: “Here, ek het genoeg gehad. Doen in my lewe wat U in ander lewens doen. Doen dit asseblief, hier en nou en nie net elders nie.

“As ek moeg word om U wil te doen, weet ek dat ek op U kan vertrou om my krag te gee en my op te lig. Ek gaan my self nie sit en verknies in my twyfel nie. Ek weet waarheen ek kan gaan in ‘n tyd van nood. Ek sal my geestelike ingesteldheid nie meet teen iemand anders nie. Ek laat alle geestelike groei in U hande.

“Ek gaan nie langer na die duiwel se leuens luister nie. Ek gaan my geloof opbou deur te lees in U Woord. Ek weet dat dit sonder geloof onmoontlik is om U te behaag. Amen!”