Valse Geestelikheid

David Wilkerson

Dit was die Loofhuttefees en Jerusalem was stampvol godsdienstige Jode van orals af. Jesus het twee dae deurgebring in die tempel. Hy het daardie eerste nag op die Olyfberg geslaap en vroeg die oggend opgestaan om Sy lering te begin. Die groot vraag in Jerusalem was, “Wie is hierdie man?” Ek wonder of Sy dissiples moedeloos geword het oor al die ongeloof en beskuldigings van die skrifgeleerdes en Fariseërs. Ek wonder of hulle vir Jesus gesê het, “Dit is hopeloos. Hierdie stad en sy godsdienstige stelsel het U uitgesluit. Laat ons verder gaan!”

Maar op die tweede dag het dit gelyk of daar ‘n geestelike deurbraak gekom het. Dit het gelyk of die Woord uiteindelik deurgedring het: “Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo” (Johannes 8:30). Ek kan sien hoe opgewonde Sy dissipels gedink het, “Dit is wonderlik! Uiteindelik, ‘n deurbraak! Die begin van herlewing!”

Vandag, sou baie herders geen verdere vrae vra nie. Hierdie bekeerlinge sou ingeneem word as lede. Daar sou vir hulle gesê word dat al wat hulle hoef te doen, is om te glo en hulle sal gered word. Hulle sou “Christene” genoem word. Daar sou vir hulle gesê word hulle was die seuns van God en op pad hemel toe as medegelowiges – erfgename en mede-erfgename!

Maar Jesus sou nie! Jesus het valse geloof, valse geestelikheid onderskei. Hy het geweet iets was nie reg nie, nie eg nie, nie opreg nie. Dit is asof Jesus gesê het, “Stop alles! Nie so vinnig met hierdie ‘gelowiges’ nie. Hulle kom nie na My toe met hulle harte nie. Daar is ‘n leuengees aan die werk hier. Laat ons dit volgens die Woord beoordeel!”

Hierdie “gelowiges” was in werklikheid leuenaars – sonde-gebonde leuenaars! “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het...En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ‘n leuenaar wees....” (Johannes 8:31,55). Die Here Jesus Christus wil niks te doen hê en oppervlakkige geloof nie. Uit Johannes 8:31 tot die einde van die hoofstuk, sien ons Jesus vreesloos teen hulle uitvaar, hulle skynheiligheid openbaar en vir hulle wys dat hulle sogenaamde “geloof” in Hom nog nie eens hulle harte aangeraak het nie.

Die Here se ongekompromitteerde houding teen hierdie Joodse “gelowiges” het my oë oopgemaak vir wat in die kerk aan die gang is vandag. Dieselfde ding gebeur in hierdie laaste dae: valse bekerings! Dit het tot gevolg dat ‘n valse geestelikheid wat satanies van oorsprong is in die kerk ingebring word. Die evangelie is so afgewater dat selfs duiwels aan baie kerke kan behoort! Hulle sou kon “amen” sê op baie van die prediking! Jakobus het geskryf: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19).

Waarom is die kerk vandag besoedel met rockers en punkers, wat stywe spanbroeke dra, gepunte, pers hare het, gesonke wange en demoniese voorkomste het, en dieselfde heavy-metal in die kerk inbring wat ‘n hele geslag dryf na crack en heroïene? Waarom dans hulle nou in die kerkpaadjies op die geklank van heavy metal, hulle oë vol begeerte en noem dit ‘n geestelike belewenis?

Waarom is daar nie ‘n groter verskil tussen die goddeloses en die godsdienstiges nie? Christelike televisie paradeer ‘n hele generasie van glanspersoon-gelowiges. Eendag praat hulle by ‘n geestelike konferensie en getuig op Christelike TV van hulle geloof in Jesus; en die volgende dag word hulle gesien waar hulle optree in goddelose TV programme en onsedelike films, of hulle speel en sing in goddelose nagklubs en kroeë in Las Vegas!

Wat het gebeur met afsondering en uit hulle uitkom? Of sit in die kring van die spotters? Jesaja, die sagsprekende profeet, sou uitroep vandag, “Hulle wagte is almal blind....hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer. En die honde is gulsig” (Jesaja 56:10-11).

Daar is nie meer “blaf” op die kansel nie! Te veel herders is lui, te behep met hulle eie drome en persoonlike wins, hulle weier om te waarsku teen die leuengeeste, die nagemaakte geloof, die valse geestelikheid. Ons het God se heilige “waghonde” verloor, diegene wat die demoniese magte sou wegjaag, vreesloos uitroep teen kompromie! “Hulle is almal stom honde!” Hulle is aan die slaap, traag teen sonde, en selfsugtig. Terwyl hulle slaap, het die vyand ingesluip en ‘n vals evangelie van mengsel geplant! Wat jy hier lees, is ‘n boodskap wat “blaf!”

Jesus het in hierdie gedeelte in Johannes 8 geopenbaar hoe om te onderskei wat valse geestelikheid is. Dit word onderskei deur drie duidelike eienskappe.

‘n Blindheid vir hulle eie gebondenheid en slawerny.

Toe Jesus vir hierdie sogenaamde “gelowiges” gesê het hulle kan nie Sy dissipels wees nie, tensy hulle toelaat dat Sy Woord hulle sondes verbreek, het hulle aanstoot geneem. Jesus het hulle gewaarsku: “Julle kan my dissipels wees slegs As julle in My Woord bly totdat julle vry is van alle slawerny. Julle is nie vry nie, julle is gebonde. Julle geloof moet gehoorsaamheid aan My Woord insluit!”

Hulle was slawe van sonde, maar wou dit nie erken nie. Jesus het vir hulle gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is” (Johannes 8:34). In Grieks, word dit beter geïnterpreteer: “Wie ook al sonde doen (of daarmee voortgaan) is sonde se slawe.”

Die Here probeer vir hulle wys Hy wil meer van hulle hê as kostelose, verstandelike geloof. Hy wil hulle seuns en dogters maak. In hulle gedagtes is hulle reeds seuns van God en sê, “God is ons Vader! Gebonde? Sondeslawerny? Ons? Nooit! Ons was nooit in slawerny nie. Hoe kan U so ‘n ding sê?” Hulle kon sê, “Meester, U het vir Nikodémus, wat een van ons is, gesê, ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word’ (Johannes 3:16-17). So ons het geglo! Is dit nie genoeg nie?”

Jesus sou moes sê, “Daar was meer wat ek vir Nikodémus gesê het. Julle het nog nie My hele Woord ter harte geneem nie. Ek het ook gesê, ‘...Die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Johannes 3:19-21).

Volgens Jesus, is niemand ‘n ware gelowige nie, totdat die Woord ‘n “plek in sy hart het.” Totdat die Woord beide ‘n hoop en ‘n verskrikking vir sy siel is – totdat hy verbind is daaraan om elke Woord wat uit die mond van God kom te gehoorsaam – totdat die Woord die slawerny van alle sonde, alle tradisies, alle valse leerstellinge geopenbaar en verbreek het! Vir hierdie gelowiges het Jesus gesê: “Julle wil My doodmaak...omdat My Woord geen plek in julle het nie.” Hy is die Woord. Die Woord het vlees geword. As jy die Woord van God in jou doodmaak, kruisig jy Christus! Jy verwerp die eise van Sy Woord. Jy verwerp Hom!

Jesus het vir hulle gesê: Julle kan nie daders van My Woord wees nie, omdat julle nog nooit julle sonde afgelê het nie. Julle neem steeds opdragte van Satan, “Julle doen ook wat julle by jul vader gesien het” (Johannes 8:38-47).

‘n Groot Meerderheid van Kerkgaande Gelowiges was nog nooit gered nie!

So baie kerkgangers is nog nooit aangeraak deur die veroordelende Woord van God nie. Hulle is steeds slawe van ou maniere, ou gewoontes, ou vriende. Hulle het nog nie een jota verander nie. Hulle het steeds een voet in die wêreld. Hulle leef ‘n leuen en bring Christus openlik tot skande. Hulle doen Jesus meer skade as al die Hollywood spotters tesame. Onder die direkte beheer van leuengeeste, is hulle nie in staat om sien dat hulle gebonde is nie. En hulle word kwaad as jy probeer om vir hulle te wys dat hulle uitgewerp gaan word as onverdienstelike diensknegte. Hulle gaan hel toe, terwyl hulle dink hulle is gelowiges! Hulle word verdoem deur misleiding, hulle vertrou op valse leerstellinge van sekerheid. Hulle is meer mislei as half dooie verslaafdes op die straat – want hulle het toegelaat dat Satan hulle vang met ‘n leuen deur ‘n leuengees uit die hel!

Hier is die leuen wat die Jode van Jesus se tyd verstrik het en ook sekere “gelowiges” vandag: “God is met my! Alles wat ek het, het Hy vir my gegee! Al my talente en vermoëns is Sy gawes aan my! Ek doen presies wat God wil hê ek moet doen. Ek en God is op goeie voet! Ek is ‘n kind van die Koning. God het al hierdie deure vir my oopgemaak. Verseker tree ek op in nagklubs. Ja, hulle drink en vloek daar. Ja, ek gaan in die middel van goddeloosheid in. Maar God het my daar geplaas. Ek is Sy verteenwoordiger. God het vir my gesê dit is als reg. Kroeë en klubs? Ja! Ek neem Jesus saam met my. Verseker speel ek rolle in ongure TV en films. Maar dit is nie die regte ek nie! Die regte ek is ‘n liefhebber van Jesus!”

Dit is alles ‘n groot leuen en die ergste soort valse geestelikheid. Daar was geen oorgawe nie, geen afsondering nie, geen hartseer oor sonde nie, geen aflê van die vorige lewe nie! Jesus sê dit soos dit is: Julle mense wil nie regtig My Woord hê nie. Julle bewe nie daarvoor nie. Julle hoor dit nie. Julle stop nie en laat dit nie insink nie. Dit beteken niks vir julle nie! Julle mense dink julle is My dissipels, maar julle is nie. “As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15). God het deur Maleági gesê, “...As ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My?...” (Maleági 1:6).

Hulle het geen sin van befhoegte toe of nou gehad nie. Vir hulle was daar geen nodigheid om hulle te bekeer of om te verander nie – niks om neer te lê of te verlaat nie. Hulle het bloot al hulle wêreldse weë opgetel en Jesus gevolg. Hierdie soort mense gebruik Jesus as ‘n bevorderaar van hulle eie selfsugtige weë. Hy word nie gesien as ‘n verlosser om hulle vry te maak nie, maar as een wat byvoeg tot dit wat hulle reeds het – een wat hulle talente sal verbeter, deure sal oopmaak, hulle sal seën en nuwe dimensie aan hulle loopbane sal gee. Hulle bid vir God om hulle suksesvol te maak in hulle loopbane van sonde!

Die oorgrote meerderheid van sogenaamde “Christen” rockgroepe, maak dit nie in die sekulêre wêreld nie. Daarom gebruik hulle godsdiens en Jesus om die massa’s arm, misleide, herderlose Christen juig te manipuleer om vir hulle ‘n naam en loopbaan op te rig. Hulle sou oorgaan na die sekulêre mark met die eerste geleentheid as die duiwel ‘n winsgewende kontrak onder hulle neuse sou druk! Luister na Christus: “Julle doen die werke van julle vader die duiwel.” Jesus het niks daarmee te doen nie. Dit word alles uit die hel bestuur!

Hulle sal Jesus nie eens glo as Hy hulle hoereerders en afgodedienaars noem nie!

Jesus het baie duidelik met hulle gepraat, “Wat julle doen is van die duiwel. Al hierdie werke wat julle dink God goedgekeur het, is werke van die vader van leuens.” “Julle doen die werke van julle vader” (Johannes 8:41).

Hulle was verontwaardig: “...Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God” (Johannes 8:41). Luister na hulle verskonings: “Ons doen niks verkeerd nie! Ons is nie goddeloos nie; ons het God lief! Ons sien absoluut niks verkeerd om hierdie dinge te doen nie. Die duiwel is nie in ons nie. Hy lei ons nie. Die Gees van God is in ons! Ons is kinders van God – spesiaal, uitverkore.”

Jesus het hulle nie geglo nie! Hy het gesê, “Ek het dit duidelik gemaak wie My kinders is. My seuns is vry van alle bande met hierdie wêreld. My seuns trek nie in dieselfde juk met ongelowiges nie. My seuns het geen deelgenootskap met ongeregtigheid nie. My seuns het geen gemeenskap met werkers van die duisternis nie. My seuns weier om My tempel te omskep in lêplekke van afgodery. My seuns is afgesonder van hierdie wêreld. Hulle raak nie aan wat onrein is nie” (sien 2 Korinthiërs 6:14-18).

Hulle het gesê, “Ons pleeg nie afgodery nie. God praat met ons!” Hulle was hopeloos blind vir hulle eie verskriklike sonde.

Jesus was skynbaar vererg met hulle. “Waarom ken julle my spraak nie?” (Johannes 8:43). Met ander woorde, Waarom oortuig My Woorde julle nie? Waarom kan julle nie luister na sulke plein, eenvoudige woorde nie? “...Omdat julle na my woord nie kan luister nie” (Johannes 8:43). Hulle was verby luister – hulle ore was toe! Waarom kon hulle nie hoor of verstaan nie? Waarom kon hulle nie verstaan dat Jesus vir hulle gesê het dat hulle die duiwelsgeleide afgodedienaars was nie? “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie” (Johannes 8:47).

Jesus waarsku dat alle afgodery onder gelowiges persoonlik deur die duiwel bestuur word. Onmiddellik nadat hy vir hierdie “gelowiges” gesê het hulle hoor nie waarheid nie, sê Hy vir julle waar hulle leiding vandaan kom. “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen...Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44).

Ek het ‘n brief ontvang van ‘n man wat desperaat uitroep oor ‘n sekere boesemsonde. Hy vra in die brief, “Is dit ‘n buite-invloed of is dit my eie bose hart?” Talle Christene laat “’n buite invloed” toe om te heers.

In alle eerbaarheid vra ek jou, wie het vir jou gesê dit is reg om vir ure voor die TV te sit en gemors in te neem? Wie het vir jou gesê dit is nie afgodery om te vertonings te kyk wat heeltemal besoedel is nie? Was dit Jesus wat vir jou gesê het, “Dit is oukei om ‘n paar bloedige, gewelddadige, sensuele films te kyk! Jy is ‘n volwasse gelowige – jy sal nie verslaaf raak nie”? Wie het dit gesê? Wie het jou gerus gestel? Wie is dit wat op hierdie oomblik deur my praat en so hard blaf en uitroep, “Dit is afgodery! Dit is nie wettiesheid nie! Raak ontslae van alle buite invloede!” Is dit die duiwel wat dit vir jou preek? Is dit ‘n woord uit die hel wat vir jou sê om wakker te word? As dit van God is, en jy van God is, sal jy dit hoor – dit glo – daarop handel – en daardeur verander word!

Wie het vir jou gesê dit is oukei om te flankeer met ‘n ander man se vrou of iemand anders se man? Wie het vir jou gesê dit is oukei om weg te loop uit jou eie huwelik? Wie het vir jou gesê dit is oukei om goddelose video’s in jou huis in te bring? Wie het vir jou gesê dit is oukei om af en toe uit te glip om nagklubs toe te gaan? Was dit God? Of was dit die duiwel?

Laat my vir jou sê wat my siel ruk. Jesus praat met diegene wat bely dat hulle gelowiges is en sê, “Julle is van die duiwel. Julle doen die begeertes van julle vader.” Is julle so blind vir wat julle besig is om te doen, terwyl julle verskonings maak soos, “Dit is nie ek nie! Ek het God lief. Ek is nie ‘n hoereerder nie!” Hoe moet dit God bedroef as miljoene “Christene” sondig, met die duiwel flankeer, hard word en blind op hulle eie weë gaan en sê, “Ek is oukei. Alles is reg. God is steeds met my. Ek is nie goddeloos nie. Ek is nie ‘n afgodedienaar nie!”

Die haat wat gerig moes wees teen hulle eie sondes, was gerig teen bestraffing!

Hulle het die blaam probeer skuif deur uit te roep, “Moenie oordeel nie!” “Die Jode antwoord toe en sê vir Hom: Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?...Vir wie gee U uself uit?” (Johannes 8:48,53).

Dit is die plan wat Satan steeds vandag gebruik om sonde te verberg. Wat hulle in wese vir Jesus gesê het, was die volgende: “U is die een wat verkeerd is! Ons word nie deur Satan gelei nie – U word! Dit is die duiwel wat U dring om ons te oordeel. Dit is ‘n sonde om te oordeel. Wie is U om ons te oordeel! Ons weet ons is van God af!”

Hierdie slim plan word deur die duiwel gebruik in hierdie laaste dae om talle valse leerstellinge te verberg. Hy gebruik dit om boesemsondes in die kansel en in die kerkbanke te verberg. Die uitroep oral oor vandag is, “Moenie oordeel nie! Satan probeer eenheid verhinder. Dit is ‘n sonde om te oordeel. Heiligheidspredikers is verkeerd. Hulle is selfgemaakte regters!”

Jesus is die Woord en die Woord het hulle sondes geoordeel en bestraf. En in plaas van toe te laat dat die Woord hulle reinig en genees, het hulle hulle trots beskerm en hulle sonde gehou! Toe het hulle die profeet van God na die sondaar laat lyk! Ja, die Bybel sê, “Moenie oordeel nie.” Maar verduidelik dan gou: “Moenie na die vlees oordeel nie!” “Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand [so] nie. En al oordeel Ek, my oordeel is waar...Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel...” (Johannes 8:15-16,26). Paulus het gesê: “En hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efésiërs 5:1).

Paulus het verder gesê, “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk; verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigtes leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:1-4).

Satan se groot prioriteit vandag is om alle bestraffing stil te maak, om die monde van alle profete en wagte toe te maak, en om alle prediking teen sonde te diskrediteer deur te sê dit is té veroordelend.

As jy nie waaksaam is nie, sal die vyand deur of een of ander misleide gelowige vir jou probeer sê, “Moenie na Times Square Kerk toe gaan nie! Hulle prediking veroorsaak verdeeldheid! Hulle glo nie in eenheid nie. Hulle praat teen ander herders!” Ons sê saam met Paulus: “...[Ons] waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee...” (Hebreërs 13:17). “Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is veral die wat uit die besnydenis is; hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins. Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê: Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike. Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees” (Titus 1:10-13).

Om na die vlees te oordeel, is om wraaksugtig te oordeel. Dit beteken dikwels arrogant en selfregverdigend. Dit is die soort oordeel wat die Woord verbied. Maar om regverdig te oordeel, is om verlossend te oordeel. Dit word gebore uit liefde: eerstens, uit liefde vir Sy kosbare Woord – dan, uit liefde vir diegene oor wie jy ween, omdat jy hulle in gevaar sien.

Heilige oordeel kom uit ‘n gebroke hart. Dit sê, “Ek vertel vir julle die waarheid: sodat julle vry kan wees en magtig deur God gebruik kan word.” Jesus moes vir hulle die waarheid vertel dat hulle skynheiliges, leuenaars, hoereerders, kinders van Satan en blind was! Sy liefde vir hulle was egter so sterk, al het hulle so kwaad geword: “Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig...” (Johannes 8:59). Maar Jesus het oor hulle geween, tot hierdie laaste dag. Hy het aanhou terugkom en by hulle gepleit,  gesmeek, bearbei!

Ek het die Heilige Gees gevra om vir my die sleutel tot die begrip van hierdie agste hoofstuk van Johannes te gee. Dit is so eenvoudig as die volgende: Die valse gelowige is die een wat nie sy ou lewe kan laat staan nie – terwyl die ware gelowige niks terughou vir Jesus nie! Valses glo in Jesus, dat Hy God is. Die Woord affekteer hulle nie in die minste nie!

Dit is moontlik om in Jesus te glo, maar nie om Hom nie voor die wêreld te bely nie. “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoges geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12:42-43). Mag God ons help om eerlik voor Hom te wees en ons ‘n gewilligheid te gee om te ondersoek te getugtig te word deur Sy Woord.

Die wêreld het die getuies van ware geestelikheid nodig – ware heiligheid – sonder enige mengsel van skynheiligheid.