Vader se Liefde

David Wilkerson

Nie lank gelede nie, het Newsweek tydskrif ‘n voorbladstorie gepubliseer, “’n Wêreld Sonder Vaders.” Die fokus was primêr op Swart Amerikaanse families en die onstellende toename van kinders wat grootgemaak word sonder ‘n vader. Beskou byvoorbeeld:

*’n Swart kind wat vandag gebore word, het ‘n een-in-vyf kans om groot te word met ‘n vader net totdat hy sestien is. Hierdie statistiek weerspieël nie net arm families nie, maar ook ‘n verstommende 22 persent toename onder dié families wat $75,000 of meer verdien. Tans is 62 persent van alle swart families sonder ‘n vader.

*Egskeiding eis sy tol onder Kaukasiese families, soos vaders in toenemende getalle wegvlug van hulle verantwoordelikhede. Daar word nie langer ‘n stigma geplaas op vaders wat “verdwyn” nie. Die regering moet ‘n groeiende menigte weghol vaders opspoor wat nie hulle kinders wil onderhou nie.

By Hanna Huis Nuwe Lewe vir Meisies en Teen Challenge Huis vir Vroue, is een van die grootste probleme vir vroue in die program om hulle pa of stiefpa te vergewe omdat hy hulle gemolesteer het toe hulle klein was. Talle van hierdie jong vroue stry vir jare met herinneringe van waar hulle geterroriseer was deur ‘n wellus-gedrewe pa of stiefpa. Een meisie by Hanna Huis het die moeilikste tyd gehad om haar biologiese vader te vergewe omdat hy haar swanger gemaak het. Onlangs het die Heilige Gees hierdie jong vrou gehelp om hom te vergewe, net voor hy gesterf het. Maar hierdie brutale sonde het sy letsel op haar lewe gelaat.

*’n Stiefpa in Opper-Manhattan het sy baba stiefdogter doodgemaak deur haar uit ‘n tagtig-verdieping venster te gooi. Die hele gemeenskap wou hierdie man opskroef. En talle vaderlose kinders in daardie behuisingsprojek se beeld van ‘n vader was weereens verdraai in hulle gedagtes. As jy hulle sou vra hoe hulle dink vaders is, sal hulle antwoord, “Hy is ‘n gemene, venynige man wat sy kinders by die venster uitgooi.” Hierdie kinders kan nie die verband van ‘n liefdevolle hemelse Vader insien nie – want in hulle gedagtes is ‘n beeld van ‘n gewelddadige, hartelose man!

*Ek ken ‘n twaalfjarige seun wat uit sy huis gegooi is deur sy stiefpa, ‘n voormalige Pinkster prediker wat nou afvallig geword het. Hierdie seun is nie rebels nie – hy is regtig ‘n goeie kind. Gelukkig is sy biologiese pa ‘n goddelike man wat hom diep liefhet en gejaag het om hom op te tel. Die seun is nou in blydskap herenig met sy liefdevolle Vader. Hy weet wat ‘n ware vader is!

Ek opper al hierdie voorbeelde om jou te herinner hoe moeilik dit is vir baie mense om aan God te dink as ‘n liefdevolle Vader. Hulle kan nie anders as om God deur die oë van vorige belewenisse met ‘n goddelose pa of stiefpa te sien nie. Baie min van die geknelde mans en vroue wat na ons toe kom vir hulp, kan die verband van ‘n vader wat normaal of liefdevol is, begryp. Hulle pa het hulle óf verlaat óf verwond en bedroef. Dit is alles so jammer – so tragies.

Hierdie onderwerp is nie nuut nie – dit word jarelank reeds verkondig. Dit is algemene kennis dat so baie duisende Christene nie glo dat God hulle liefhet nie, omdat hulle aardse pa hulle verkeerd behandel het. En my bedoeling met hierdie boodskap is nie om slegs met hulle te praat nie, maar ook met diegene wat nié so ‘n troebel siening van die hemelse Vader het nie. Daar is inderdaad baie wat goeie vaders en ‘n soliede gesinslewe gehad het, wat die Here liefhet en in geregtigheid wandel – maar wat nog nie die dieptes van ons hemelse Vader se besondere liefde ontdek het nie!

Die meeste Christene ken die Skrif en teologie agter God se groot liefde vir sy kinders. Baie min van ons het egter geleer om daardie liefde toe te eien. Ons geniet nie die heerlike voordele daarvan om dit te besit nie!

Ek herken in my eie lewe verskeie hindernisse om God se liefde te ken – struikelblokke wat my daarvan verhoed om die absolute vryheid van die Vader se liefde toe te eien en te lééf. En ek glo dit is hindernisse vir menigtes ander Christene.

Laat my net drie van die hindernisse noem wat ons verhoed om ten volle in te gaan in die besondere liefde wat ons Vader vir ons het:

1. Baie Christene glo regtig nie wat God oor Homself sê nie.

Luister na hoe God Homself aan Moses beskryf het:

“HERE, HERE, barmhartig en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierendheid en trou, wat goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe...” (Exodus 34:6-7). (Die Here het verklaar Hy is al hierdie dinge “maar nooit [sonde] ongestraf laat bly nie” – dat Hy steeds “die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders...” [Exodus 34:7].).

Wanneer ons te midde van ons baie beproewings en verdrukkinge is, vergeet ons wat God gesê het van Sy eie natuur. As ons egter tog maar net op sulke tye in Hom sou glo, sou ons soveel gerusstelling in ons siele gehad het! Van begin tot einde, praat die Bybel as God se stem met ons en openbaar hoe teer en liefdevol Hy is. Dit sê van ons Vader weer en weer:

  • Hy is gereed om te alle tye te vergewe. “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5).
  • Hy is geduldig met ons, vol teerheid en genade. “HERE, u barmhartighede is menigvuldig...” (Psalm 119:156). “Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:9). “...dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jakobus 5:11).
  • Hy is stadig om kwaad te word. “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Psalm 103:8). “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid” (Psalm 145:8). “...Bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Joël 2:13).

Wanneer jy gaan om die Here te aanbid in gebed, moet jy versigtig wees watter soort beeld jy van God in sy teenwoordigheid inneem! Jy moet ten volle oortuig wees Hy het jou lief – en dat Hy alles is wat sê Hy is!

Die duiwel se grootste leuen is om jou te maak glo God is meer gewillig om jou te oordeel en te veroordeel, as wat Hy is om jou te red, te seën en te verlos. Satan sal met ons probeer doen wat hy met Job gedoen het. Hy het ‘n verdraaide beeld van die Vader in sy gedagtes geplant!

Job het gesê: “Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie? My oortreding is verseël in ‘n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg” (Job 14:16-17). Job het God beskuldig as ‘n “spioen in die lug”! Hy het in wese gesê, Here, U hou my dop om te sien wanneer ek gaan misluk. U het nie my sonde vergewe en vergeet nie – U merk elke verkeerde tree wat ek gee! U plaas al my sonde in ‘n sak en bêre dit vir later om my te oordeel. Hulle word dag na dag opgestapel – en een van hierdie dae gaan U my forseer om dit te konfronteer!” (Sien Job 14).

Dit is die beeld wat die meeste van ons het van ons hemelse Vader! Ons glo Hy wag vir ons om te misluk, sodat Hy ons kan oordeel, iets van ons wegneem, iets vernietig wat vir ons kosbaar is!

Kan jy egter sien hoe verdraai so ‘n siening van God is – na alles wat God vir ons vertel het van Sy groot liefde, goedertierenheid en eindelose deernis teenoor ons? God het in der waarheid glad nie op Job gespioeneer nie. Die Here was so vol liefde en respek teenoor Job dat Hy oor hom geroem het voor die duiwel en hele hemelse leërskare! Hy het gesê, “Het jy al ooit ‘n man soos hierdie man gesien, wat My so liefhet? My dienaar Job is ‘n regverdige man, sonder bedrog!”

Wanneer jy in God se teenwoordigheid ingaan met jou hoof gebuig, depressief en dink dat jy Hom teleurgestel het - het Hy al die tyd oor jou geroem! Hy vertel al die engele, “Kyk na my dienaar – wanneer hy misluk, bekeer hy hom dadelik. Hy reik voortdurend uit na My. Is dit nie wonderlik nie?”

Job het egter in die Here se teenwoordigheid ingekom toe hy alle gevoel van God se liefde en goedertierenheid teenoor hom verloor het. Hy het gekla, “God, U het al my hoop weggewas!” (Sien vers 19).

Is dit hoe jy die hemelse Vader sien? Dink jy Hy is so siek en sat van al jou mislukkings en swakhede dat Hy gereed is om jou te tref, te oordeel, jou sondes te laat opstapel teen jou? Sien jy Hom as kwaad vir jou en dat Hy toelaat dat duiwel jou terroriseer? O, dit moet die Here meer as enigiets anders bedroef!

Die Vader het twee soorte liefde: ‘n algemene liefde vir alle sondaars en ‘n spesiale liefde vir almal in sy familie!

God het ‘n algemene liefde vir die mensdom wat omhels kan word deur enigeen wat hulle tot Hom bekeer. Maar in God se hart is daar ook ‘n ander soort liefde – ‘n spesiale liefde vir sy kinders!

Die Here het nog altyd ‘n uitverkore, spesiale volk vir Homself uitverkies op wie Hy Sy groot liefde uitgestort het. Israel was die enigste voorwerp van hierdie spesiale liefde:

“Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het” (Deuteronómium 7:6-8).

God het hierdie spesiale woorde aan Israel gerig. Vandag, as jy in Jesus as jou Verlosser en Here ontvang het – as jy in God se familie aangeneem is, en Hy jou liefdevolle Vader is – dan moet jy ook besef hoe spesiaal jy vir Hom is! Jy is die ontvanger van die Vader se spesiale liefde! En hier is sy woorde vir jou:

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig...nou (is julle) die volk van God; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is” (1 Petrus 2:9-10).

Eens was jy nie ‘n voorwerp van Sy spesiale liefde nie – maar nou is jy! Jy is versoen met die Vader, en Hy het jou lief met ‘n spesiale liefde – nou, op hierdie oomblik!

Dit is belangrik om nooit God se oordele meer te eerbiedig as sy liefde nie! In jou tye van swakheid en mislukking, sal Satan jou hamer met elke vers uit die Skrif oor God se toorn oor sonde. En natuurlik oordeel God sonde. Maar Satan sal hierdie verse uit konteks uit neem en dit gebruik om vrees in jou gedagtes in te boesem:

  • U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie” (Hábakuk 1:13).
  • “Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God?” (1 Samuel 6:20).
  • “Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sonde nie vergewe nie” (Josua 24:19).

Ek het gehoor herders neem hierdie verse uit konteks uit en slaan hulle skape daarmee. Maar in elkeen van hierdie gedeeltes, het God die wederstrewige, skynheilige volk aangespreek. Hy het in wese gesê, “In jou huidige toestand kan ek jou nie vergewe nie – omdat jy nie ‘n hart het wat berouvol is en na My uitreik vir vergifnis en genade nie. Jy hart is verhard in jou sonde!”

Al hierdie skrikwekkende verse is gerig op skynheiliges wat weier om hulle sonde te haat. En as jy ‘n skynheilige is, sal God teen jou kom met hierdie woorde soos ‘n hamer, nie om jou seer te maak nie, maar om hou hardheid te breek – om jou te terug te bring na ‘n hart van liefde vir Hom. Maar hierdie harde woorde was nooit bedoel vir kinders wat hulle bekeer en besprinkel is met die bloed van Jesus nie – wat hulle altyd tot hul Hemelse Vader bekeer! Te veel van ons laat toe dat hierdie skrikwekkende verse enige visie van God se liefde uitblok!

2. Dikwels rus ons nie in die feit dat God weet wat die beste vir ons is nie.

Daar is tye wanneer God dinge van ons af wegneem. Daar is ook tye waarin ons vir dinge bid, wat ons dink ons nodig het, maar God gee dit nie vir ons nie. Nietemin, “...die HERE ken die weg van die regverdiges...” (Psalm 1:6). En eendag sal alles bewys word dat dit vir ons – en vir Sy Koninkryk is!

Jy sien, die enigste ware bevrediging in die lewe is om die volmaakte wil van God te doen – om volmaak in sy wil te wees, sy werk te doen en te leef volgens sy keuses. Maar die meeste van ons is oortuig ons weet wat ons nodig het om vervuld en gelukkig te wees. En in die meeste gevalle, sal dít wat ons glo die beste vir ons is, ons eintlik ruïneer!

Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom, het God enigiets van sy kinders weggeneem nie, tensy dit was om iets beters, mooier en meer vervullend te bring. God se beste is nie iets om te vrees nie – dit is altyd wat op die ou einde die meeste bevrediging bring. Die Here wéét nie alleen wat die beste vir ons is nie – Hy wil hê jy moet Sy beste hê!

O, as ons dit tog net werklik geglo het, watter rus, vrede en blydskap sou dit nie in ons produseer nie. Ons sou nie treur oor dinge wat ons moet laat gaan nie; ons sou weet ons word vrygemaak van alle slawerny! Ons sou sê, “Here, as U hierdie dinge van my af wegneem, dan moet dit beteken dat U iets baie beter vir my het. So neem dit – U kan dit kry!”

Ek het al baie jong dames gehoor sê, “Bedoel jy God sal moontlik probeer om my kêrel van my af weg te neem? Hy is my lewe – daar is niemand anders soos hy nie. As ek hom verloor, verloor ek alles!”

Ek het dit baie kere gesien gebeur. Wanneer hulle hul kêrel verloor, skreeu hulle, “Ek wil sterf!” Maar ek dink, “As jy jou net sal wend tot die Here met jou hele hart en Hom liefhet, sal jy verbaas wees oor wat met verloop van tyd oor jou pad kom!”

Dan kom daar ‘n jongman – een wat soveel beter is as wat sy ooit kon dink – oorvloedig in God se wil en in Sy goddelike orde. En wanneer sy terugkyk na waarvoor sy amper mee tevrede was, roep sy uit, “God, dankie dat U my nie toegelaat het om enigiets minder te aanvaar as U beste vir my nie!”

Daar is ‘n jong meisie van Engeland op ons personeel wat verloof was aan ‘n gawe jongman – maar God het baie duidelik vir haar gesê om daardie verhouding op die altaar te plaas. Die Here het gesê, “Hierdie een is nie vir jou nie. Ek het iets beter beplan – en hy pas nie!”

Sy het die verhouding verbreek – en sy was geroep tot ‘n besondere bediening wat haar heeltemal vervul het. Nou word sy op ‘n wonderlike manier gebruik. God bewys vir haar dat dít waarmee Hy vervang, soveel beter is!

Geliefde, ons moet rus in die liefdevolle hand van ons Vader! Ons moet by die punt van vertroue uitkom waar ons kan sê, “Ek het ‘n liefdevolle hemelse Vader wat die beste vir my wil hê. Hy weet alles!”

Hoe het Job uiteindelik by ‘n plek van rus uitgekom? Hy het homself oortuig dat God weet wat Hy doen – en dat alles onder sy beheer was. Job het gesê, “Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom” (Job 23:10).

Nou mag jy dalk wonder, “Sal God my ooit afkap as ek sondig of misluk terwyl ek vir sy beste wag? Ek weet ek is nie volmaak nie. Beteken dit dat ek sy beste vir my misgeloop het?”

Dit is waar talle Christene tans is. Hulle sien God aan die werk in hulle lewens – hulle weet Hy wil hê hulle moet by Sy beste uitkom – maar hulle wonder steeds, “Wat as ek alles opmors? Wat as ek iets verkeerds doen en God word kwaad of ongeduldig met my? Sal al God se beloftes vir my verlore wees? Sal ek maar tevrede moet wees met iets minder as sy beste?”

Nee, nooit! Ek wil vir jou ‘n wonderlike illustrasie gee wat wys dat God se ewige doeleindes nie deur jou swakhede of mislukkings gedwarsboom kan word nie.  As jou hart reg is voor God – as jy aanhou om terug te keer na Hom toe en Hom soek met jou hele hart – dan sal niks ooit Sy plan vir jou verander nie!

Beskou God se genadige optrede met Efraim, wat die Here beskaam het.

“Ek is vir Israel ‘n Vader, en Efraim is my eersgeborene” (Jeremia 31:9).

Efraim was die grootste stam van Israel en die mense wat die naaste aan God se hart was. Die Here het ‘n ewige plan vir hierdie geseënde stam gehad – maar Efraim het aangehou terugval en Hom bedroef. Hierdie mense het teen meer lig en genade gesondig as enige ander stam in Israel.

Maar het die Here sondige Efraim verlaat? Dit is net die teenoorgestelde: God het gesê dat Efraim ‘n vry en losgekoopte volk moes wees! Hulle sou lewe tussen die vettigheid – wat God se grootste seëninge aandui. Wat was dit wat God in Efraim gesien het? Hulle het ‘n berouvolle hart gehad – ‘n skaamte oor sonde en ‘n gewilligheid om hulle tot die Here te bekeer. Ten spyte van al hulle mislukkings, het hierdie een eienskap God se hart na hulle aangetrek het!

 Toe ‘n sterk, profetiese woord tot Efraim gekom het, het hulle gereageer. En toe hulle bestraf is, het hulle oor hulle sonde geween. Selfs al was hulle geneig om afvallig te word, was hulle gewillig om terug te hardloop na God toe. En op die hoogtepunt van hulle afkerigheid, het God gesê:

“Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering: Ek sal Hom sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE” (Jeremia 31:20).

God het in wese gesê, “Ten spyte van Efraim se tekortkominge en mislukkings, sien Ek ‘n berouvolle gees in hom. En Ek sal nie my innige liefde wegneem nie. My ewige doel vir Efraim sal voortgaan volgens plan.”

Geliefde, God het ‘n plan vir jou lewe – om seker te wees, hou aan om jou na Hom te wend! Hy gaan al Sy doeleindes vir jou bereik, dit maak nie saak waardeur jy gaan of hoe erg jou beproewing is nie. God dink goed na om jou toekoms te beplan!

Ek het ‘n profetiese woord vir iemand wat op hierdie oomblik hierdie boodskap lees: Jy kan nie God se ewige doel vir jou beoordeel deur dit wat jy dink of voel nie. Jy mag dalk té gefokus wees op jou mislukking of sonde om reg te oordeel. God wil in jou gees sê, “Hou jou hart nederig voor My. Vertrou My Woord oor My natuur – dat Ek ‘n innige, liefdevolle Vader is wat baie in jou belê het, en dat Ek nie van plan is om jou te laat gaan nie. Ek het ‘n welbehae in jou – en Ek sal jou verlos.”

“Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!” (Psalm 139:17).  “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee” (Jeremia 29:11). God sê in wese vir ons hierdeur: Ek is nie geneig om met toorn, oordeel en tugtiging aan jou te dink nie. Ek dink goeie gedagtes – Ek werk daaraan om jou lewe te beplan. Staan stil en sien hoe my verlossing ontvou. Laat my liefde jou deurdrenk!”

Dit is die soort Vader wat ons dien! Nie Een wat bose, veroordelende gedagtes van toorn teen ons het nie – maar En wat goeie gedagtes van vrede en hoop teenoor ons het tot ons laaste dae!

As gelowiges, het ons twee keuses. Ons kan glo wat God oor Homself sê – dat Hy ons liefhet en ons deur ons beproewings sal dra; dat Hy besig is om alle deure vir ons oop en toe te maak; dat wanneer ons misluk, Hy nie vir ons kwaad sal wees nie, maar ons wil reghelp in sy innige liefde.

Of, ons kan die verskriklike alternatief glo - dat God toegelaat het dat ons deur die duiwel mislei word en dat Hy ons gelos het om op ons eie bene te staan!

Jy mag sê, “Ek sien nie veel bewyse dat God enigiets doen om my aaklige toestand te verander nie. My pyn voel of dit nooit ophou nie. Ek het gewag en gewag. Hoe lank sal dit nog vat?”

Dit neem so lank as wat dit nodig is vir ‘n heilige, almagtige God om al die stukkies van sy plan vir jou saam te stel! Hy het so baie gedagtes omtrent jou en jou toekoms dat jy hulle nie eers kan tel nie. Sy Woord sê dat sy gedagtes oor jou meer is as die sand van die see!

God het aan Dawid ‘n belofte gegee dat Hy vir hom ‘n bestendige huis sal bou, ‘n ewige koninkryk wat vir ewig gevestig sou wees. En deur al Dawid se beproewings, sonde en skande, was God se doel nie verhinder nie. Selfs toe Dawid en sy eie familie en seuns in die skande gekom het, het hy aan die Here se liefdevolle belofte vasgehou en nie laat los nie.

Laastens, toe Dawid oud en grys was en dit nie gelyk of die belofte vervul sou word nie, het hy hierdie verklaring gemaak: “Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het vir my ‘n ewige verbond daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie” (2 Samuel 23:5). Hy het bedoel, “Ek sien dit nog nie vervul nie. Maar Ek staan op God se woord aan my. Hy sal dit sekerlik uitvoer.”

Dawid het daarin gerus dat God die beste weet en dat Hy sy woord sou hou: “Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop” (Handelinge 2:25-26).

3. Soms dink ons dat dit te goed is om waar te wees dat ons die Here al ons dae met blydskap kan dien – en nie vrees nie.

God se begeerte vir ons is om so oortuig te wees van sy innige liefde vir ons – so oortuig dat Hy besig is om ons in sy beste in te bring – dat ons voortdurende vreugde en blydskap in ons wandel met Hom sal hê!

Moses het Israel gewaarsku: “Omdat jy nie die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles...” (Deuteronómium 28:47-48).

Hy sê in wese vir ons vandag, “wees bly en jubel in wat Ek reeds vir jou gedoen het! As jy rondgaan en jou verknies, mumureer en kla, sal jy altyd geestelik honger en naak wees, ‘n prooi vir jou vyande!”

God wil hê ons moet so vertrou in Sy liefde vir ons, dat ons getuienisse van blydskap en blymoedigheid sal wees! Hy wil predikers hê wat van harte bly is – met ‘n blydskap wat gebaseer is op die waarheid. En Sy waarheid produseer ‘n rykdom van blydskap wat spontaan uit die hart stroom:

“Dien die Here met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel” (Psalm 100:2). “En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel” (Psalm 105:43).

“Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!” (Psalm 32:11). “Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap” (Psalm 68:3).

Jy mag vra, “Kan ek verwag om vol te hou met vreugde en blydskap in my diens aan die Here?” Baie Christene glo dat blydskap net solank duur as wat die tyd van vernuwing uit die hoogte kom – of so lank as wat dinge reg verloop. Volgens Jesaja is dit nie so nie.

Nee – ons moet te alle tye blydskap hê! Dit is presies wat die Bybel daaroor sê: “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Psalm 90:14). “Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees” (Jesaja 65:18).

Ons is “die Jerusalem daarbo” – weergebore en ons leef vir Hom met ‘n gees van blydskap en gejubel! En ons liefdevolle Vader het ons ‘n rotsvaste fondament vir al ons vreugde en blydskap gegee: “Maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33).

Vertrou die Vader – glo Sy Woord oor Homself – en sien Sy blydskap uit jou lewe stroom. Halleluja!