U word getoets

Wees gerus, as u regverdig op die pad van die Here wandel, dan word u getoets en beproef! Die feit is, hoe dieper u pad met Christus, soveel intenser sal die toets wees. Die Skrif maak dit baie duidelik:

"Die verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense. Wanneer dit hulle tref, sal hulle `n bietjie hulp ontvang." Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal" (Daniël 11:33-35).

`n Besondere tyd van beproewing kom vir die "verstandiges"! Presies wie is hierdie mense wat beproef gaan word? Hulle is die regverdiges - hulle wat werk vir die Here, wat met God loop en die wysheid van Christus het!

Jy mag dalk nou vra, "Hoekom word ek beproef? Hoekom gebeur dit alles met my?"

Onthou jou skooldae? Wanneer daar `n toets gegee is, het dit gewys hoeveel u eintlik geleer het van wat u geleer is. Tog praat Paulus van `n ander skool - een waar ons "van Christus leer" en waar ons "deur Hom geleer word omdat die waarheid in Christus is" (Efesiërs 4:20-21). As u aan Jesus behoort, dan is u in Sy skool! U mag dink dat u geslaag het, maar u sal nie slaag totdat u in Sy heerlikheid is nie!

Toe ek op skool was het ek onaangekondigde toetse gehaat. Tog het die Here ons geleer dat ons gereed moet wees om enige tyd getoets te word - en dat hierdie toetse sal voortduur totdat Jesus terugkeer. Almal wat die Here liefhet sal deur hierdie vurige beproewings gaan en sal so gesuiwer word van alles wat onchristelik is, in voorbereiding op die bruilof van die Lam wat binnekort sal wees!

Dawid het gereeld van toetse en beproewings gepraat: "Ek weet, my God, dat U die hart ondersoek en opregtheid wil hê" (1 Kronieke 29:17). "As U my sou toets, my selfs in die slaap sou ondersoek, my deuglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie. Oor die doen en late van mense het ek niks verkeerds gesê nie" (Psalm 17:3).

Heiliges, ek kan nie begin om al die maniere wat die Here sy kinders toets te tel nie - maar daar is drie algemene toetse vir ons almal, en ek wil daarop fokus:

Een van die moeilikste konsepte vir Christene om mee te deel is die lyding van regverdiges.

Tot en met die tyd van Christus het die Jode voorspoed en goeie gesondheid geassosieër met goddelikheid. Hulle het geglo dat as jy ryk is, geseënd is of goeie gesondheid het, God met jou is. Dit is hoekom Jesus se dissipels dit so moeilik gevind het om Sy stelling, "dit is makliker vir `n kameel om deur die oog van `n naald te kom as vir `n ryke om in die koninkryk van God te kom" (Matteus 19:24), te verstaan. Die dissipels het gevra, "Wie kan dan gered word?"

Daar is selfs vandag nog `n dogma dat die wat in verbond met God lewe nie sal ly nie! Roep net uit volgens hierdie dogma en jou verbonds-vennoot-God sal aangehardloop kom en oombliklik alles regstel. Maar, geliefdes dit is nie die evangelie nie!

Die helde van geloof soos gelys in Hebreërs 11 het almal in verbond met God geloop - en hulle was gestenig, gemartel en het geweldadige dode gesterf (verse 37,38). Ander het gely deur "bespotting en lyfstraf verduur [met swepe], selfs boeie en gevangenskap" (vers 36). Paulus, wat na aan God beweeg het, was `n skipbreukeling, is gestenig, met `n sweep geslaan en vir dood agter gelaat. Hy was beroof, in die gevangenis gegooi, vervolg en die verlies van alle dinge beleef. Hoekom? Dit was alles toetse, reiniging, die waarmaking van sy geloof!

Petrus het gesê, "Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemd waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid" (1 Petrus 4:12-13).

"Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig om `n kort tydjie bedroef gemaak te word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit die heerlikheid en eer waardig mag wees" (1 Petrus 1: 6 - 7).

Een van die gevaarlikste dinge wat `n ouer kan doen wanneer `n kind gedissiplieer word, is om simpatie en vetroosting te bied voor daardie kind sy les geleer het. Dit kan die kind vernietig! As die roede gespaar word en die les word nooit geleer nie, is rebellie die gevolg.

Jesus is ons ouer, en terwyl ons gedissiplineer word, kan ons Hom aanroep net soveel ons wil. Maar Hy sal nie beweeg voor ons geleer het wat Hy wil hê dat ons leer nie. Hy sal nie die lat lig voordat ons ingee nie!

Tog, die hele tyd wat u getoets en gedissiplineer word is u onder die beskerming van God. Die Skrifte sê diegene wat deur menigte vervolgings en versoekings gaan, word "deur die krag van God veilig bewaar." "...omdat julle glo," (1 Petrus 1:5). U mag uitroep na God en dink dat u in gevaar is, maar Hy weet u is nie. Hy wag slegs dat u die les leer!

Wanneer Jesus lyding en vervolging in ons lewens toelaat, is Hy agter een ding aan. Dit is dieselfde ding waaragter Hy aan was toe Hy Abraham gevra het om sy geliefde seun Isak te offer.

God het Abraham toegelaat om Isak teen die berg op te lei en die mes bo hom op te lig. Dit was slegs toe dat die Here "Nee!"gesê het. Waarna was die Here opsoek? Eenvoudig dit: "Abraham beteken Ek vir jou meer as die objek van jou diepste aardse gevoelens?" Abraham was gewillig om alles wat naby en kosbaar aan hom was, neer te lê - sy enigste seun, die einste objek van God se belofte aan hom - en om sy toekoms in die hande van God te plaas. Hy het alles aan God gegee!

U mag op hierdie oomblik ly as gevolg van armoede of werkloosheid. Ander mag ernstig getoets word deur siekte. Maar, wat ookal die geval, God mag daardie beproewings en lyding gebruik om `n gemor of klaende gees in ons bloot te lê.

God haat `n gemor en gekla. Die feit is, Hy het toegelaat dat Israel oor 40 jaar gely het onder baie tipes van teenspoed omdat hulle gewoonte murmureerders geword het. En hulle teenspoed kon teruggespoor word na hulle tonge! Die Here waarsku ons vandag, "En moenie teen God in verset kom nie, soos sommige van hulle in verset gekom het, en hulle het deur die engel van die dood omgekom" (1 Korintiërs 10:10-11).

Verset begin in ons gedagtes -gedagtes van ontevredenheid, en van onregverdige behandeling deur die Here, en deur misverstaan te word deur God se mense. Dit begin gewoonlik met disrespek vir die bediening, vir die wat deur God geroep is en die gesalfdes van die Heilige Gees.

Murmureerders is nooit tevrede nie. Wanneer jy doen wat hulle vra wat jy moet doen, dan kom hulle op met nog `n dosyn vereistes. Die lys is nimmereindigend want hulle gees is nie onder beheer nie- dit is nie onder die regerende mag van die Heilige Gees nie! Die Bybel sê oor hulle, "Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot. Hulle leef net volgens hulle eie begeertes, praat groot en sê vleiende dinge van mense om daardeur vir hulleself voordeel te trek (Judas 1:16).

Die Israeliete het gekla dat hulle geen water gehad het nie - toe gee Godaan hulle water vanuit `n klip. Hulle het gekla toe hulle geen brood gehad het nie - toe gee God vir hulle brood vanaf die grond. Toe kla hulle weer omdat hulle geen vleis gehad het nie en God gee hulle vleis uit die hemel uit.

Die Here het al hierdie dinge vir hulle gegee - en die Bybel sê die mense het dit verafsku! Hulle het gekla nadat hulle dit gekry het! En daar is Christene vandag wat, sou God hulle gebede beantwoord, kla oor wat hulle ontvang het!

Ons kan ook getoets word deur die lyding van regverdige heilige diensknegte van God. Hierdie toetse is moontlik die moeilikste om te verstaan.

Ek ken `n jong sendeling paartjie wat hulle lewens gegee het vir die bediening vir inwoners van die agterbuurte van Hong Kong. Nou is hierdie kosbare vrou in Amerika, gekluister aan `n bed, en ly aan `n seldsame, kroniese, verswakkende siekte. "Hoe kan dit wees?"

Ons lees in die Skrif dat "Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal" (Psalm 34:19). Maar tog sien ons toegewyde Christene sterf voor ons oë. Party ly van ontsettende pyn.

Nog steeds is ek oortuig dat ons nie die wonderbaarlike bevryding , wat die Here vir ons in die vooruitsig het, raaksien nie! Sy weë is ver bo ons eie.

`n Paar jaar gelede het `n paartjie wat ek geken het hulle sesjarige seun verloor aan `n kwaadaardige breingewas. Hulle het gebid en gebid vir sy genesing. Die Here het my vertel om aan hulle te sê, "Julle seun het volkome herstel. Hy het `n splinternuwe liggaam! Die Here het hom lief en het hom van julle af weggeneem, maar Hy sal hom eendag weer aan julle voorstel! Vra die Here om vir julle krag te gee tot dan. Jesus versorg hom nou - en julle kind is totaal genees!" Hulle het nie verstaan tot tien jaar later nie!

Ek was teenwoordig by lydende Christene in hospitale wat meer geloof en hoop gehad het as diegene wat vir hulle genesing gebid het. Gewoonlik is dit die lydendes wat uiteindelik vir die ander bid!

Wanneer jy daardie tipe van hoop in jou het, dan leef jy nie vir hierdie wêreld nie - dan leef jy vir die ewigheid! Hulle wat gely het en in geloof gesterwe het, het algehele genesing ontvang! Dit het Christus vir hulle beteken! Petrus sê, "Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid." (1 Petrus 4:13). Hulle geloof het gedemonstreer dat dit groot heerlikheid aan God in Sy heerlikheid sal bring!

God wil iets in ons harte plant deur al hierdie toetse en beproewings. Hy wil dat dit moontlik is vir ons om te sê, "Here Jesus, U is my beskermer en ek glo U regeer elke ervaring van my lewe. En indien enige iets met my gebeur, dan is dit omdat U die skans laat sak en omdat U `n rede het daarvoor."

"As ek die pad van geregtigheid loop en U vreugde in my hart het, dan sal my lewe en dood heerlikheid aan U bring. U mag `n soort voorbereide heerlikheid hê, `n soort ewige doel wat my klein verstand nie verstaan nie. In elk geval, ek sal sê, 'Jesus, lewe of dood, ek behoort aan U!'"

Meeste van ons bid soos Dawid bid: "Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp!" (Psalm 102:2). "My gebed is tot U gerig, Here, antwoord my tog gou" (Psalm 69:17). Die Hebreeuse woord hier vir "gou" beteken "Nou dadelik, maak gou - in hierdie selfde uur wat ek tot U roep, doen dit!". Dawid het gesê, "Here, ek stel my vertroue in U, - maar asseblief, maak gou!"

Geliefdes God is in geen haas nie. Hy spring nie as ons beveel nie. Om die waarheid te sê, u mag by tye wonder of Hy ooit sal antwoord! U mag dit uitskreeu, huil, vas, hoop - maar dae gaan verby, weke, maande, selfs jare en u kry nie die geringste aanduiding dat God hoor nie!

Eers vra u aan uself: "Iets moet my gebede blok, `n verskuilde sonde. Miskien het ek verkeerd gevra. Of miskien is my geloof te swak.." Jy word verward en oor die tyd verander u houding na die volgende: "Here, wat moet ek doen om hierdie gebed beantwoord te kry? U het belowe in U Woord, en ek bid in geloof. Hoeveel trane moet ek stort?

Hoekom vertraag God antwoorde van opregte gebede? Dit is verseker nie omdat Hy nie die krag het nie. Hy hoef slegs te knipoog of `n gedagte te dink en die werk sal klaar gedoen wees! En Hy is baie gewillig - baie meer as wat ons is - vir ons om van Hom af te ontvang!

Die antwoord word gevind in hierdie vers: "Jesus het vir hulle `n gelykenis vertel om duidelik te maak dat `n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word" (Lukas 18:1).

Die griekse woord vir "ontmoedig" beteken, "verslap word swak en moeg in geloof, hou op worstel, moenie langer wag vir voltooing nie." Galasiërs 6:9 sê, "Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel."

Die Here soek biddende mense wat nie sal verslap of moeg word om na Hom toe te kom nie. Hierdie mense sal wag en sal nie opgee alvorens die werk voltooi is nie - en hulle sal wagtend gevind word wanneer Hy die antwoord bring!

Ek het gedink ek het standvastige geloof, dat ek die Here ten volle vertrou. Toe word van my baie belangrike gebede vir `n lang tyd nie beantwoord nie - en sommige is nog steeds nie beantwoord nie! Ek het aan die Here gesê, "As U net my gebede sal beantwoord sal dit my geloof opbou. Ek kan dan na die heiligdom gaan en grootpraat van U getrouheid, soos Dawid gedoen het. Dink daaraan hoe ander bemoedig sal word!"

Maar die Here het aan my gesê, "Ek bou nie jou geloof op antwoorde nie. Ek bou jou geloof op My vertragings!"

Enige een kan glo wanneer die antwoorde op gebede inrol! Maar wie gaan glo na `n jaar of twee? Soos wat die tyd aanstap los ons, ons gebede agter en ook die geloof dat Hy dit sal beantwoord en ons beweeg aan na iets anders. Ons sê aan God, "Ek sal getrou bly aan U. Maar moet nie verwag dat ek meer geloof sal hê om vir antwoorde van gebede te wag nie."

Liewe heilige, God wil seker maak dat jy nie gaan verslap in jou gebedswaak nie! Hy wil dat jou hart ingestel moet wees op volharding, maak nie saak hoe lank die antwoord neem nie! Jesus het vir ons `n gelykenis gegee wat toon dat Hy op ons wag om vas te skop en gedetermineerd te wees om nie op te gee nie. Dit is die gelykenis van die behoeftige weduwee wat aanhoudend na die regter toe gegaan het en geregtigheid gevra het (lees Lukas 18: 2-8).

Die regtig het uiteindelik haar versoek vir geregtigheid toegestaan omdat hy nie afgemat wou word deur haar aanhoudende smekinge nie. "Maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog" (Vers 5). Jesus het by hierdie gelykenis bygevoeg, "Sal God dan nie aan Sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook" (verse 6-7). Die 1953 vertaling sê: "Sal God dan nie aan Sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?"

U mag sê, "Is Jesus nie besig om `n paradoks in hierdie paragraaf te spreek nie? Eerstens sê Hy, 'God is lankmoedig in ons geval' - dan sê Hy, Hy sal ons spoediglik aanspreek.'"

Meeste van ons verstaan die paragraaf geheel en al verkeerd. U sien, Jesus praat nie van uitstel vir `n lang tyd nie - nee glad nie! Hy sê God wil ons spoedig antwoord - maar God verduur iets. Hy "verduur iets" iets wat vir geduld vra aan Sy kant! Hy sê, "Ek sal hierdie ding verdra wat Ek in jou hart sien - Ek sal saam met jou dra - totdat jy gewillig is om die antwoord aan te gryp soos wat jy moet!"

Soos wat ek terugkyk na sommige van die dinge waarvoor ek `n lang tyd gebid het, sien ek die Here sê, "Ek hou die versoek omhoog na jou, soos `n spieël. En deur hierdie spieël gaan Ek jou wys wat diep in jou hart is."

Ek het onsekerheid gesien.bangheid.ongeloof. dinge wat gemaak het dat ek my voor Jesus se voete neergegooi het en gehuil het, "O Here - ek is nie meer geintereseerd in antwoorde nie, maar slegs om hierdie gees uit my uit te kry! Ek wil U nie in twyfel trek nie - om te bid en te huil vir `n antwoord nie, en tog nog saad van ongeloof in my hart te hê nie!"

Dit is waar, die hardste pad van geloof is die laaste halfuur. Wanneer dit lyk of God nie gaan antwoord nie gee ons op, sit alles agter ons, en gaan ons met iets anders aan. En wanneer ons dit doen, dan dink ons, ons gee oor aan God se voorsorg, maak staat op Sy soewereine wil. Ons sê, "Here, doen wat U dink is die beste," of "wel God, U wil dit tog na alles nie hê nie."

Nee! Dit is nie wat God bedoel het nie! Wanneer jy bid vir dit wat vanselfsprekend die wil van God is - redding van familie, byvoorbeeld - het jy alle reg om vas te hou en nooit op te gee totdat Jesus antwoord nie! Jy het alle rede om nie na die duiwel te luister nie - en om God te vra om die saadjie van geloof van Jesus Christus in jou te plant, en nie te ontspan totdat jy dit voltooing gesien het nie!

Maar in plaas daarvan, het jy flou geword - jy het die toets gedop! As jy nie flou geword het nie, sal jy nog steeds meer gedetermineerd vasgehou het as ooit om die antwoord deur te sien!

U sien die Here sien ons flou harte al die tyd. Die Bybel wys ons `n prentjie van hierdie vernederende ondervinding in 2 Konings 6-7:

"Samaria was onder beleg deur Ben-Hadad en sy groot Siriese leër.die stad was sterwend omdat daar geen kos of enige iets te eet was nie. `n Donkie se kop is verkoop vir 80 stukke silwer, `n pint duiwemis vir vyf!

Maar die profeet Elisa het aan die koning van Samaria geprofeteer dat God hulle bonatuurlik sal red. Hy het gesê om uit te hou - te wag, te bid, te bekeer en God te vertrou maak nie saak hoe sleg dit sou gaan nie.

Terwyl die koning op die stadsmure geloop het, kon hy dalk gedink het, "Hoe lank moet dit aangaan? Ons kan nie veel langer uithou nie. As God ons nie gou antwoord nie, sal ons moet uitgaan met `n wit vlag en oorgee."

Toe sien `n vrou die koning en huil, "Gister het ek en my buurvrou my baba gekook en geëet! Ons het ooreengekom dat ons vandag haar baba sou eet, maar nou het sy haar kind weggesteek! Koning, dit is onregverdig - maak dat sy haar baba ook gee!"

Dit was die laaste strooi! Die koning het sy sak klere oopgeskeur en in woede geskreeu, "Elisa, jou kop gaan waai! Jy het ons almal laat glo dat God jou gebede sou beantwoord. Jy het ons vertel dat daar `n wonderwerk sal plaasvind - maar nou is dit te laat!"

Toe die koning Elisa gevind het waar hy saam met die ouderlinge gebid het, het hy geskreeu, "Kyk watter ellende het die Here oor ons gebring. Hoe kan ek nog op die Here hoop!" Met ander woorde, "Dit is te laat - die tyd is verstreke en verby, en God het nie Sy woord gehou nie! Gebed gaan nie help nie. Dit is tyd om die saak in eie hande te neem!"

Terwyl die koning swak geraak het - sy eie geloof verloor het - was die antwoord amper by die deur. Elisa het hom vertel, "Hoor die woord van die Here! So het die Here gesê: Môre sal `n mens elf gram silwer vyf kilogram meel of nege kilogram gars kom koop, hier in die poort van Samaria" (2 Konings 7:1).

Dit is jammer dat die koning nie nog 24 uur gewag het voordat hy ontplof het nie. Wat hy nie geweet het nie was dat God besig was om alreeds besig om vinnig `n wonderwerk te bewerkstellig!

In die Siriese kamp het `n wonderbaarlike gedruis die lug gevul - soos die gerommel van `n groot leër van strydwaens wat na hulle toe kom. Paniek het tussen die Siriërs uitgebars en hulle het alles laat val en vir hulle lewens gehardloop.

So het die samaritane wavragte van die Siriërs se kos in gebring. Groente, fyn meel en dromme vol gars het deur die stadspoorte gestroom. Terwyl hulle hierna kyk, moes die koning se gesig baie rooi gewees het toe hy daaraan dink dat hy gesê het, "God het nie Sy woord gehou nie!"

Geliefdes, dit het ten minste al `n dosyn kere met my gebeur! Ek het opgegee en gesê, " Ag wat, dit was nie God se wil nie. Dit is `n onmoontlike situasie." En somtyds het die antwoord gekom binne `n uur na my woorde!

Dit mag presies wees wat met jou gebeur! Jy het opgegee en hou nie meer uit nie. Maar God is alreeds aan die werk - en Sy antwoord is op die punt om sy opwagting te maak.

Ek bedoel nie dat Christene wat terugval in hulle ou sondes en terugdraai na die wêreld getoets word nie. Nee hierdie gelowiges is skipbreukelinge!

Maar Petrus waarsku, "Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie meegesleep word deur die dwaling van beginsellose mense en so van julle eie standvastigheid beroof word nie." (2 Petrus 3:17). Petrus waarsku gelowiges wat groei in heiligheid en wat daarop ingestel is om die Here te volg.

Sommige van julle mag geval het ten spyte van al die vooruitgang wat julle met die Here gemaak het. As ek sou vra, wat het die val veroorsaak, mag u dalk antwoord, "Broer David, dit was `n aanval van aggressie! Ek was uitgelok deur my familie en ek het ontplof. Ek kan dit verstaan - ek het gedink ek word `n bietjie soeter, `n bietjie meer soos Jesus. Maar iemand het net die verkeerde knoppie gedruk en ek het my humeur verloor!"

As daar `n wortel van aggressie in jou is, dan sal God jou huis die toetsgrond maak. Jy sal keer op keer beproef word totdat jou verborge aggressie ontbloot word en deur die Heilige Gees uitgeruk word! Jy mag sê, "ek is net menslik, hoeveel is ek veronderstel om te moet vat?". Dit maak nie saak dat u uitgelok was, of selfs reg was nie. Die ergerlikheid bewys net dat u bevryding nodig het!

Die Skrif sê: "Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie" (Efesiërs 4:31).

God gaan aanhou om jou te toets, totdat u sê, "ek het `n gees in my wat moet gaan!" U sal geen groei sien in Christus of enige vrede in u huis of werkplek ervaar, totdat u kan sê, "U is reg Here - haal dit uit!"

As u in hierdie area getoets word - of enige ander area, vir daardie rede - dan mag u dink, "Ek voel so waardeloos. Hoeveel grond het ek nie verloor nie? Het die Here my nog steeds lief?"

Liewe heilige, as u werklik berou het, dan het u geen grond hoegenaamd verloor nie. God sit Sy liefdevolle arms om u en sê, "Ek het dit toegelaat om te gebeur sodat jy kan sien wat in jou hart is. Maar jy maak vordering. Jy het gesê dat jy die pad met My wil loop, en Ek leer jou. Ek weet wat binne in jou is en Ek sal toelaat dat jy uitgelok word totdat jy van dit alles ontslae geraak het."

Word jy getoets? Indien wel, bid dan: "Here, U het U vinger op sommige areas in my. Ruk dit uit my hart uit. Bemoedig my o Here, dat ek nie agteruit gaan nie- Ek gaan vorentoe met U!"