Is U Kwaad Vir God?

Ek glo dat daar niks gevaarliker vir 'n Christen is as om 'n wrok teen God te koester nie. Ek is verbaas oor die toenemende aantal gelowiges wat kwaad is vir God. Hulle sal dit nie erken nie, maar diep binne koester hulle 'n wrok teen Hom. Waarom? Hulle glo dat Hy nie in hulle lewens of probleme geïnteresseerd is nie! Hulle is daarvan oortuig dat Hy niks omgee nie - omdat Hy 'n bepaalde gebed nie beantwoord het of niks daaraan gedoen het nie.

Ek het onlangs 'n brief van 'n jong man wat in 'n gevangenis in die suide van die Verenigde State opgesluit is, ontvang. Hierdie man was eens 'n toegewyde Christen - maar nou sê hy dat hy kwaad is vir God. Hy skryf:

"Ek sit nou in 'n hel - en ek glo dat God my hier gaan los! Vroeër wou ek Christus volg met my hele hart. Maar 'n sonde het my oorweldig - 'n seksuele sonde. Ek probeer om berou te hê, maar dit help nie. Ek het my Bybel gelees en bestudeer en gebid - maar dit het nie gehelp nie. My sonde was nog altyd my baas. En nou sit ek as gevolg van hierdie sonde vir lank in die gevangenis.

"Ek het my geestelike stryd gewonne gegee. Om te probeer is nie meer die moeite werd nie. God het my gered van dwelms en alkohol toe ek 'n Christen geword het, maar waarom neem Hy nie hierdie seksuele luste van my af weg nie?"

Elke bladsy van die brief was vol verbittering teen God. Hierdie man het sy afkeur laat groei tot 'n ontsettende woede.

Ek sien 'n vergelykbare woede by 'n toenemende aantal predikante in baie denominasies van die kerk. Hulle is ontnugter, uitgebrand, kwaad vir God - en dan verlaat hulle hul roeping. Al jy hulle vra waarom, antwoord hulle:

"Ek was hardwerkend en getrou - ek het my bes gedoen. Maar hoe harder ek probeer het, hoe minder resultate het ek gesien. My gemeente waardeer my nie. En al my gebede lyk tevergeefs. Op 'n gegewe oomblik lyk alles wat ek preek nie meer eg nie omdat dit nie in my eie lewe werk nie. Nou het ek maar opgehou met preek totdat ek agterkom waar die fout ontstaan het."

Ek het oor die jare heen geleer dat van hierdie predikante slegs 'n paar weer begin preek het. Waarom? Hulle bly 'n wrok koester teen God! Hulle sê: "Ek het alles goed gedoen. Maar niks waarop ek gehoop het, het gebeur nie. Ek was getrou maar Hy het my in die steek gelaat!"

Nie lank gelede nie, het ek begin lees aan 'n sendeling se biografie getiteld "Aggie" - en ek kon dit nie neersit nie. Die wonderlike verhaal het my aangegryp en ek het die boek met een slag deurgelees. Ek wil graag die verhaal kortliks vir u hier saamvat - omdat dit die afbrekende krag van 'n wrok in die hart van 'n Christen prakties illustreer:

In 1921 het twee jong egpare in Stockholm, Swede, God se roeping tot Afrika sending beantwoord. Hulle was lede van die Philadelphia pinkster gemeente, wat sendelinge oor die hele wêreld uitgestuur het. Tydens een spesifieke sengdingdiens, het hierdie egpare die opdrag gekry om na die Belgiese Kongo, wat nou Zaïre is, te gaan.

Hulle name was David en Svea Flood, en Joel en Bertha Erickson. Svea Flood was slegs 1.42 meter lank en sy was 'n bekende sangeres in Swede. Maar beide egpare het alles opgegee om hulle lewens neer te lê vir die Here.

Toe hulle in Belgiese Kongo aankom, het hulle na 'n plaaslike sendingstasie gegaan. Daar het hulle kapmesse geneem en letterlik hulle pad deur die binneland van die Kongo oopgekap. David en Svea het 'n seuntjie van twee, David Junior, gehad en hulle moes hom op hulle rûe dra. Onderweg het beide families malaria opgedoen. Maar hulle het ywerig voortgegaan, gereed om martelare vir die Here te wees.

Uiteindelik het hulle 'n sekere dorpie in die binneland bereik. Maar tot hulle verbasing het die mense hulle nie in die dorp toegelaat nie. Die inwoners het vir hulle gesê: "Daar mag geen blankes in ons dorp kom nie, anders word ons gode kwaad." Dus het die families na 'n tweede dorp gegaan, maar ook hier kon hulle nie binne gaan nie.

Op daardie stadium was daar geen ander dorpe in die omgewing nie. Die uitgeputte families het geen ander keuse gehad nie as om hulle daar te vestig. Hulle het 'n stuk grond in die woud oopgekap en net daar modderhutte gebou om in te bly.

Soos die maande verby gegaan het, het almal aan eensaamheid, siekte en ondervoeding begin ly. Klein David Junior het siek geword. En nog steeds het hulle byna geen interaksie met die dorpsbewoners gehad nie.

Uiteindelik na 6 maande het Joel en Bertha Erickson besluit om terug te gaan na die sendingstasie. Hulle het by die Flood familie aangedring om ook saam te gaan, maar Svea kon nie reis nie omdat sy swanger was en haar malaria erger geword het. Buitendien het David gesê, "Ek wil hê dat my kind in Afrika gebore word. Ek het hier gekom om my lewe te gee." Dus het die Flood familie doodeenvoudig hulle vriende totsiens gewuif en die 160 kilometer lange terugtog begin.

Verskeie maande lank het Svea ernstig koors gehad. Tog het sy getrou aangehou om te getuig teenoor 'n klein seuntjie wat dikwels daar aangekom het. Hy het van die nabygeleë dorp gekom en was hul enigste bekeerling. Hy het vrugte vir die familie gebring en wanneer Svea die evangelie met hom gedeel het, het hy net vir haar geglimlag.

Uiteindelik het Svea se malaria so ernstig geword, dat sy nie meer uit haar bed kon kom nie. Sy het 'n gesonde dogtertjie in die wêreld gebring, maar 'n week later was sy op haar sterfbed. In haar laatste oomblikke het sy aan David gefluister: "Noem ons dogtertjie "Aina." Toe het sy gesterf.

David Flood was baie ontsteld oor die dood van sy vrou. Hy het al sy krag bymekaar geskraap om 'n kis vir Svea uit 'n hout krat te maak. Toe het hy sy geliefde vrou in 'n primitiewe graf teen die berg begrawe.

Toe hy by die graf staan, het hy afgekyk na sy jong seun langs hom. Hy het sy dogtertjie vanuit die hut gehoor huil. En meteens het sy hart verbitterd geword. 'n Woede het in hom opgekom - en hy kon dit nie onder beheer bring nie. Hy het woedend gehuil, "Waarom het U dit toegelaat, Here? Ons het hier gekom om ons lewens aan U te gee! My vrou was so mooi, sy het soveel talent gehad. En hier lê sy nou, dood op 27 jarige ouderdom.

"Nou het ek 'n twee jaar oue seun waarvoor ek skaars kan sorg, en nog minder kan ek vir my klein dogtertjie sorg. En na meer as 'n jaar in hierdie woud, is al wat ons agterlaat 'n klein seuntjie wat waarskynlik nie eers een woord verstaan het van wat ons hom vertel het nie. U het my in die steek gelaat Here. Wat 'n versmorsing van lewens!"

Toe huur David Flood 'n aantal gidse van 'n nabygeleë stam en neem sy kinders terug na die sendingstasie. Daar het hy die Ericksons gesien en kwaad aan hulle gesê: "Ek vertrek! Ek kan hierdie kinders nie alleen grootmaak nie. Ek neem my seun met my saam na Swede, maar ek laat my dogter hier by julle. "En hiermee het hy vertrek en Aina by die Ericksons agter gelaat.

Tydens sy terugreis na Stockholm het David Flood op die dek gestaan, briesend kwaad vir God. Hy het almal vertel dat hy na Afrika gereis het om sy lewe vir God op te offer, om mense tot Christus te laat kom ongeag die koste. En nou kom hy as 'n verslane en gebroke man terug. Hy het geglo dat hy getrou was aan God, maar dat God hom verwaarloos het.

Toe hy in Stockholm aangekom het, het hy besluit om sy fortuin te vind in die invoerbesigheid. Hy het almal in die omgewing gewaarsku om nie oor God te praat waar hy by was nie. As dit tog gebeur het, het hy ontsettend kwaad geword en dan het die are bulte in sy nek gestaan. Uiteindelik het hy vreeslik baie begin drink.

Kort nadat hy Afrika verlaat het, is sy vriende, die Ericksons oorlede (Hulle was moontlik vergiftig deur 'n stamhoof). Klein Aina is oorgedra aan 'n Amerikaanse paartjie - goeie mense, Arthur en Anna Berg. Die Berg familie het Aina met hulle na 'n dorp genaamd Massisi in Noord Kongo geneem. Daar het hulle haar "Aggie" begin noem. Vinnig het klein Aggie Swahili geleer en met die kinders van die Kongo gespeel.

Omdat sy dikwels alleen was, het Aggie geleer om verbeeldingsspeletjies te speel. Sy het haar verbeel dat sy vier broers en een suster gehad het, en sy het name vir hulle uitgedink. Sy het die tafel voor haar broers gedek en met hulle gepraat. En sy het haar verbeel dat haar suster haar gedurig soek.

Toe die Berg familie met verlof na Amerika gegaan het, het hulle Aggie met hulle saamgeneem na Minneapolis. Op die ou end het hulle daar gebly. Aggie het groot geword en getrou met 'n man genaamd Dewey Hurst, wat later president geword het van Northwest Bible College, the Assemblies of God School in Minneapolis.

Aggie het nie geweet dat haar vader hertrou het nie, en dit met Svea se jonger suster wat nie 'n hart vir God gehad het nie. En nou het hy naas Aggie vyf kinders gehad; vier seuns en een dogter (net soos Aggie haarself voorgestel het). Stadig maar seker het David Flood 'n volslae alkoholis geword, en sy oë het ook al slegter begin word.

Veertig jaar lank het Aggie probeer om haar vader te vind, maar haar briewe is nooit beantwoord nie. Uiteindelik het die Bybelskool vir haar en haar man retoerkaartjies na Swede gegee. Dit sou haar die kans gee om persoonlik haar vader te soek.

Nadat hulle die Atlantiese Oseaan oorgesteek het, het hulle 'n dag in Londen oorgebly. Hulle het in Londen rondgeloop en kom toe by die Royal Albert Hall aan. Tot hul vreugde was daar 'n Pinkster gemeente wat 'n sending konferensie gehou het. Hulle het binne gegaan en daar het hulle 'n swart prediker gehoor vertel van die groot werk wat God besig was om in Zaïre, die Belgiese Kongo, te doen!

Aggie se hart het opgespring van vreugde. Na die preek het sy na die prediker gegaan en hom gevra: "Het u die sendelinge David en Svea Flood geken?" Hy het geantwoord: "Ja. Svea het my na die Here gelei toe ek nog 'n klein seuntjie was. Sy het 'n klein dogtertjie gehad, maar ek weet nie wat met haar gebeur het nie." Aggie het gesê: "Ek is daardie dogtertjie. Ek is Aggie - Aina!"

Toe die prediker dit hoor, het hy Aggie se hande vasgegryp, haar omhels en van vreugde gehuil. Aggie kon skaars glo dat hierdie man die klein seuntjie was wat haar moeder onderrig het. Hy het opgegroei en het 'n sending evangelis geword in sy eie land, waar nou 110,000 Christene woon, 32 sendingstasies, 'n paar bybelskole en 'n 120 bed hospitaal pryk.

Die volgende dag het Aggie en Dewey na Stockholm vertrek - en die nuus het reeds versprei dat sy aan die kom was. Teen hiedie tyd het Aggie al geweet dat sy vier broers en een suster gehad het. Sy was verras toe drie van haar broers haar by haar hotel kom opsoek het. Sy het hulle gevra: "Waar is David, my oudste broer?" Hulle het na die ander kant van die portaal gewys. Daar het 'n eensame figuur in 'n stoel gesit. Haar broer David Jr. het 'n gerimpelde, grys, harige mannetje geword. Net soos sy vader was hy verbitterd en het hy sy lewe byna met drank verwoes.

Toe Aggie oor haar vader vra, het sy opgemerk dat dit haar broers onstel. Hulle het hom gehaat. Hulle het al jare geen kontak meer met hom gehad nie.

Daarna het Aggie gevra: "En my suster?" Hulle het haar 'n telefoonnommer gegee en Aggie het haar dadelik gebel. Haar suster het die telefoon geantwoord, maar toe Aggie haar vertel wie sy was, het sy dadelik die telefoon neergesit. Aggie het nog probeer terug bel maar sonder sukses.

Onverwags het haar suster na 'n kort tyd by die hotel opgedaag en haar arms om Aggie geslaan. Sy het gesê: "My hele lewe het ek gedroom oor jou. Ek het vroeër 'n wêreldkaart op die grond neergelê en met 'n speelgoedkarretjie oor die hele kaart gery om jou te vind."

Ook haar suster het haar vader, David Flood, verag. Maar sy het beloof om Aggie te help om hom te vind. Hulle het na 'n arm woongebied in Stockholm gery en het 'n ou gebou binne gegaan. Toe hulle aan die deur klop, het 'n vrou hulle binne gelaat.

Binne het orals bottels rongelê. En op die bed in die hoek was haar vader, David Flood, die man wat eens 'n sendeling was. Nou was hy 73 jaar oud en het hy suikersiekte gehad. Hy het tevore 'n beroerte gehad en katarakte in beide oë.

Aggie het langs hom gaan sit en gehuil: "Pappa, ek is jou klein dogtertjie, die ene wat jy in Afrika agtergelaat het. " Die ou man het sy gesig omgedraai en na haar gekyk. Trane het uit sy oë gerol. Hy het geantwoord: "Ek wou jou nooit weggee nie, ek kon net nie julle altwee hanteer nie. " Aggie het geantwoord: "Dit is reg so, Pappa, God het vir my gesorg."

Meteens het haar vader se gesig verdonker. "God het nie vir jou gesorg nie!" het hy briesend gesê. "Hy het ons hele gesin geruïneer! Hy het ons na Afrika gestuur en ons daar aan ons lot oorgelaat. Daar het ook nooit iets voortgekom uit ons tyd daar nie. Dit was net 'n vermorsing van ons lewens!"

Toe vertel Aggie hom van die prediker wat sy in Londen ontmoet het en hoe die hele land deur hom geëvangeliseer was. "Dit is regtig alles waar Pappa," het sy gesê. "Almal ken die storie van die klein bekeerling. Sy verhaal was in al die koerante gewees!"

Meteens het die Heilige Gees op David Flood neergeval - en hy het gebreek. Trane van berou en bekering het langs sy gesig afgerol en God het hom weer heel gemaak.

Kort na hulle ontmoeting het David Flood gesterf. En hoewel hy weer terug was by die Here, het hy net 'n verwoesting agter gelaat. Behalwe Aggie was sy nalatenskap vyf kinders - almal ongered en verbitterd.

Aggie het die hele verhaal opgeteken. Maar terwyl sy besig was om te skryf, het sy kanker gekry. Net nadat sy klaar was met skryf, het sy ook na die Here gegaan.

Vandag is daar baie Christene soos David Flood. Hulle is teleurgesteld, neerslagtig - en kwaad vir God!

Die Bybel gee aan ons 'n voorbeeld hiervan in die boek Jona. Net soos David het Jona 'n roeping van God gekry. Hy het na Nineve gegaan om die mense te waarsku oor God se komende oordeel oor die stad: die stad sou verwoes word binne 40 dae.

Nadat hy gedoen het wat die Here hom beveel het, het hy op 'n heuwel gaan sit en wag dat God die stad verwoes. Maar toe 40 dae verby was, het niks gebeur nie. Waarom nie? Nineve het berou gehad - en God het besluit om die stad nie te verwoes nie.

Hieroor was Jona woedend. Hy het gesê: "Here, U het my verraai! U het my hier laat kom om oor hierdie mense 'n oordeel uit te spreek. Die hele Israel weet hiervan. Maar nou het U van plan verander sonder om my daarvan te vertel en nou lyk ek soos 'n valse profeet!"

Jona het in die son gesit. Hy was kwaad vir God. In sy goedheid het God 'n plant laat opkom om Jona te beskerm teen die hitte: "...om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry..." (Jona 4:6).

Die woord "ontstemdheid" beteken hier " ontevredenheid, teleurstelling." In eenvoudige woorde gestel, was Jona teleurgesteld omdat dinge nie verloop het soos wat hy verwag het nie. God het van plan verander - en Jona se eer was gekrenk.

Dit is waar die woede teen God begin - met 'n teleurstelling. God kan ons roep, ons opsaal met 'n taak en ons uitstuur - maar Hy mag dalk 'n verandering maak sonder om ons op hoogte te bring. Dan, as dinge nie gaan soos wat ons beplan het nie, voel ons asof God ons op 'n dwaalspoor gebring het, asof God ons verraai het.

In sulke oomblikke begryp God ons pyn en verwarring. Ons uitroep is immers menslik. En dit verskil nie van Jesus se uitroep aan die kruis nie, "Vader, waarom het U my verlaat?"

Maar as ons aanhou om hierdie woede te bly voed, dan groei dit tot 'n groter woede diep in ons harte. En God sal ons dieselfde vraag vra as wat hy aan Jona gevra het, "Het jy rede om vertoorn te wees oor die wonderboom?" (vers 9). Met ander woorde, "Dink jy jy het 'n reg om so kwaad te wees?"

Jona het geantwoord, "Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe" (selfde vers). Hier het ons nou 'n profeet wat so kwaad en geïrriteerd was teenoor God dat hy sê, "Ek gee nie meer om of ek lewe of doodgaan nie! My prediking het misluk. Al my pyn was verniet gewees. Ek het drie dae en nagte in die stinkende buik van 'n walvis gesit - waarvoor? God het alles ten koste van my verander. Ek het alle reg om kwaad te wees vir God!"

Baie Christene is soos Jona - hulle dink dat hulle reg het om kwaad te wees vir God. Hulle dink, "ek bid, ek lees my Bybel, ek luister na God se woord. Waarom het ek dan al hierdie probleme in my lewe? Waarom sien ek nie die seëninge wat God aan my beloof het nie? Hy het my verlaat!"

Dit is moontlik om 'n punt te bereik vanwaar jy nie meer aangeraak kan word nie. Dit is 'n punt waar niks of niemand jou kan troos nie!

Die profeet Jeremia het geskryf: "... 'n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie" (Jeremia 31:15).

Toe Jeremia dit geskryf het, was Israel deur die Assiriërs in gevangenskap geneem. Hulle huise was afgebrand en al hul wingerde was vernietig. Jerusalem was gereduseer tot 'n hoop stene. Om hul heen het hulle net niks behalwe ruïnes en verlatenheid gesien nie. Daarom het Jeremia Ragel - van wie Israel afstam - gebruik as 'n huilende figuur wat so bedroef was omdat haar kinders van haar afgeneem was, dat niks haar meer kon troos nie.

Eintlik het Jeremia gesê dat daardie huilende Israeliete vasgevang was in hulle hartseer - en dat hulle ontroosbaar geword het. Jeremia kon hulle nie meer troos nie; hy het nie eens nodig gehad om te probeer om met hulle te praat nie. Volgens hulle het God toegelaat dat hulle gevange geneem word - en dat hulle die volste reg gehad het om vir God kwaad te wees!

Maar hierin lê die gevaar: wanneer ons ons vrae en klagtes te lank koester, verander dit in 'n irritasie. Dan word irritasie verbittering en uiteindelik word verbittering woede. En op daardie oomblik luister ons nie meer nie. God se Woord het geen effek meer op ons nie. En niemand - geen vriend, voorganger of eggenoot - kan ons bereik nie. Ons sluit die werking van die Heilige Gees uit!

God se Woord sê dat daar hoop is! "So sê die Here: Bedwing jou stem van geween, en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom" (Jeremia 31:16). Met ander woorde: "Hou op met huil, hou op met kla. Ek sal julle beloon vir julle trou!"

"Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie" (1 Korinthiërs 15:58). Geliefdes, al julle gehuil en gebede was nie tevergeefs gewees nie! Julle pyn en trane was daar vir 'n rede.

God sê aan u, "Jy dink dat alles verby is. Jy sien net jou eie omstandighede - verlies, armoede, geen resultate. Daarom sê jy, "Dit is die einde" maar Ek sê dat dit slegs die begin is! Ek sien die beloning wat Ek op die punt staan om aan jou te gee. Ek het goeie dinge in gedagte vir jou - wonderlike dinge. So hou nou op met huil!"

Liewe heilige, laat God se Gees jou verlos van alle bitterheid en woede voordat jy jouself verwoes! Miskien sien u net verwoesting in u eie lewe - maar Hy sien herstel! Laat Hy u herstel van die verlatenheid en verwoesting om u heen. Hy het net goeie dinge vir u in gedagte - want Hy is "'n beloner van die wat Hom ernstig soek" (Hebreërs 11:6). Halleluja!