Is U Gereed Vir Die Storm Wat Kom?

Jesaja Jesaja het geprofeteer dat God eendag sal opstaan en die hele aarde sal skud. Die profeet skryf: "Die Here gaan die aarde verwoes, vernietig, sy voorkoms verander en sy inwoners verstrooi.die gejuig sal verdwyn, op die aarde sal daar geen vreugde meer wees nie.. dit sal so kaal wees op die aarde en onder die volke soos wanneer die olywe afgeslaan is.." (Jesaja 24:1, 11, 13).

God gaan die aarde skud asof dit 'n olyfboom is - totdat alle vrugte afval! ".. strome water sal uit die hemel val, die fondamente van die aarde sal skud ..en die aarde sal in stukke breek, heen en weer waggel en wankel. Die aarde sal slinger soos 'n dronk mens, heen en weer wieg soos 'n biesieskerm .." (verse18-20).

Die aarde sal soos 'n eenvoudige biesieskerm voorkom wanneer God dit begin skud.

Ander profete stem saam met Jesaja se boodskap:

Esegiel sê dat wanneer God se toorn kom, Hy alles wat kán skud sal skud: "Die visse in die see, die voëls in die lug, die diere in die veld, al die diertjies wat op die grond rondkruip en al die mense in die land, sal voor My bewe. Die berge sal omgekeer word, die kranse sal inmekaarstort, die mure in die land sal omval.... Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God, en hulle sal besef dat Ek die Here is." (Esegiel 38:20-23).

Joël sê: "Die Here sal uit Sion brul, Hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor, en hemel en aarde sal bewe. Die Here is 'n toevlug vir sy volk, 'n veilige vesting vir die Israeliete." (Joël 3:16).

Hagai skryf: "So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik ..." (Haggai 2:6-7).

Die skrywer van Hebreërs sê: ".Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel. ... sodat die onwankelbare dinge kan bly." (Hebreërs 12:26-27). God sal alles in sig laat bewe - sodat dit bekend sal word dat Hy die enigste onwankelbare mag is!

Die Here het gedurende die laat 1980's letterlik die aarde begin skud met aardbewings. 'n Aardbewing in Amerika het amper 'n hele provinsie uitgewis. 'n Aardbewing in Japan, wat 6.9 geregistreer het, het 'n hele stad verwoes. Daarna die vreeslike aardbewing in San Francisco - met ander in die omgewing wat amper daagliks daarop gevolg het. Aardbewings het gedurig aan die weskus voorgekom, van die noorde van California tot by San Diego en af tot in Mexico. Op 'n dag het 'n New Yorkse koerant die volgende hoofopskrif gehad: "Is God besig om ons wakker te skud?"

Laat my aan u die volgende vraag vra: Wat maak 'n ouer met sy slapende kind as die kind moet wakker word? Die ouer neem sy kind sagkens aan die skouers en maak hom wakker. Indien die kind nie dadelik wakker word nie, word die poging meer ferm - want die ouer weet die kind gaan seerkry as hy nie wakker word nie.

Dit is presies wat God nou doen - met Amerika en met die wêreld! Aan die begin het Hy ons sagkens geskud. Maar nou is Sy geskud heftig - want Hy het dit nog nie reggekry om ons wakker te maak nie!

Die profete waarvan ek praat, het nie net in die wind gepraat nie. Wanneer die Here sê, "Nog een maal sal Ek die aarde laat bewe", bedoel Hy dit! Hy sal letterlik ons ekonomie skud, ons opvoedingstelsel, ons regering - alles waarin ons ons vertroue plaas, alles wat veilig voorkom.

Kan u uself ooit voorstel, die grootste nasie op aarde kom tot 'n stilstand, as gevolg van 'n tweeparty politieke flirtasie met bankrotskap wat die betalings van internasionale skuld bedreig?

Ek het herhaaldelik 'n baie duidelike droom gehad oor die President van die Verenigde State - ek weet nie watter een nie. In die droom skud hy sy kop in ongeloof terwyl hy by die venster van sy kantoor uitkyk en sê: Hoe het dit gebeur? Wat het verkeerd gegaan? Geeneen van sy statige kabinetministers of ander raadgewers kon die Amerikaanse ineenstorting aan hom verduidelik nie.

En dit is presies wat gaan gebeur indien God sy skudding gaan begin: Niemand sal dit kan verduidelik nie! Ek dink aan die val van die aandelemark agt jaar gelede. Dit het oornag met 500 punte gedaal - en daar was geen rede daarvoor nie. Alles sal inderdaad heel goed aangaan totdat daar skielik 'n bewing die aarde sal tref - nie 'n fisieke bewing nie, maar 'n onverwagse ekonomiese bewing. God sal ons fondasies skud!

Die Bybel waarsku ons ook dat, saam met God se skuddings, sal 'n groot demoniese vloed op die mensdom sal neerdaal. Die duiwel is op die punt om 'n intense vloed van vuilheid, boosheid en beproewings, wat erger is as enige iets waaraan ons kan dink, na ons te stuur. Hy weet die tyd is min - en hy berei voor om oordonderende winde en golwe van boosheid los te laat!

By voorbeeld: Baie mense besit nou 'n rekenaar. Watter beter manier kan Satan gebruik om mense se huise binne te dring met 'n demoniese vloed deur middel van hierdie informasie supergeleier? Hierdie supergeleier kan 'n direkte lyn na die hel word. Dit dra reeds pornografie oor. Ek besef dat hierdie groot informasie-ontwikkeling vir baie wonderlike dienste aangewend kan word, maar dit het ook die potensiaal om 'n kragtige stuk gereedskap vir Satan te word!

Om die waarheid te sê, dit kan die einste stuk gereedskap word waarmee die Antichris sal gedy in sy koninkryk en krag. Byvoorbeeld, dit kan die oorsprong wees van 'n kontantlose gemeenskap. Chase Manhattan bank het reeds rekenaar bankwese in New York ingestel. Geen papierwerk - slegs syfers.

Ek glo dat die vloed van slegtheid bereik nou 'n kritiese massa, waar alles begin om buite beheer te raak. En tragies genoeg, ons besef dit nie - omdat ons gewoond geraak het daaraan! Iets wat ons voorheen gepla het, is nou alledaags. Ons het al soveel van die bose gesien dat niks ons meer raak nie.

Ek wonder. Indien die storm begin - indien alles uit beheer begin raak - hoeveel Christene sal kan staande bly? Hoeveel sal oor die fondasie van geloof, wat nodig is om die tye te verduur, beskik?

Ek glo dat dit op die oomblik die Here se grootste bekommernis vir sy mense is. En dit is my groot bekommernis as 'n herder: "Here, hoeveel van U mense gaan val wanneer die storm ons in al sy geweld tref? Hoeveel sal onbeweeglik bly staan? En hoe kan ek hulle voorberei vir die groot skudding?"

Gedurende my tyd van gebed het die Here vir my 'n openbaring gegee ten opsigte van die gelykenis van die bouers, soos dit geskryf staan in Matteus 7. Ek glo hierdie gelykenis bevat 'n ongelooflike waarheid vir ons vir hierdie laaste dae. Maar slegs die sensitiewe soekers sal dit ontdek! "Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes" (Matteus 7:24-27).

Jesus sê dat die enigste ding wat sal staande bly gedurende die komende storm, is dit wat op die fondament van rots gebou is. Een persoon het sy huis op rots gebou, ". en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots" (vers 25).

Nou, die bouers van hierdie huise verteenwoordig twee klasse Christene van die laaste dae - die verstandiges en die dwases. Hulle het twee verskillende soorte huise gebou en mense het in albei die soorte gebly toe die storm begin het.

Aan die een kant, dit is bemoedigend om te weet dat daar 'n groep gelowiges sal wees wat staande gaan bly. Hulle sal in staat wees om enige demoniese aanslag wat uit die hel na hulle toe kom, te deurstaan. Niks sal in staat wees om hulle te beweeg wanneer die storm woed nie. Dit is wat Jesus wil hê ons moet leer uit hierdie gelykenis: 'n Persoon wat sy huis op rots bou sal alles wat kom kan oorleef.

En dit is hartseer, maar daar is ook die ander groep Christene - mense waarvan Jesus sê, "Hulle val sal groot wees!" ".. en is heeltemal verwoes" (vers 27). Dit beteken 'n totale, omvattende verwoesting van alles.

Teen hierdie tyd begin u seker wonder: "Wat beteken dit werklik, om 'n huis te bou'?" Dit is belangrik om te weet waarna Jesus verwys hier - want Hy sê dat die huis wat elk van ons bou 'n verwoestende vloed gaan beleef.

Die huis waarvan Jesus hier praat, is ons wandel met Hom. Ons bou 'n fondasie van om Christus beter te leer ken, om Sy manier van doen te verstaan. Ons bou sekere eienskappe in ons geloof in wat sal bepaal hoe ons onder druk sal reageer.

Baie Christene kan sê, "Ek is 'n gelowige. Ek het op rots gebou." Maar hulle weet nie regtig wat hierdie frase beteken nie. En hulle gaan 'n groot skok en verrassing kry wanneer hulle verhouding met Jesus nie die storm gaan weerstaan nie. Hulle sal blootgestel word asof hulle geen fondasie het nie!

Ons kan nie verstaan waaroor die gelykenis praat, tensy ons die volgende verstaan: "Hierdie gelykenis gaan oor gehoorsaamheid" Jesus praat van iemand wat Sy Woord hoor en dit doen - wat Hom gehoorsaam, wat op sy bevele reageer. Hy beskryf 'n lewenstyl - 'n pad van totale, absolute gehoorsaamheid aan Sy Woord. Dit moet ons fondasie wees.

Natuurlik, Jesus Self is ons Rots. Maar dit is nie die volle betekenis van die woord "rots" soos wat dit deur Hom in hierdie gelykenis gebruik word nie. Party, wat beweer dat hulle op Christus, as hulle rots, bou, bou dalk nie ordentlik nie. Dit is omdat die rots 'n toestand van die hart is! Dit verteenwoordig die fundamentele motiewe waarvandaan ons gehoorsaamheid aan God sy oorsprong het.

Daar is 'n vloei van gehoorsaamheid in ons lewens - 'n vloei wat ontstaan uit die motiewe van die hart. Dit is belangrik om die motiewe waaruit ons gehoorsaamheid ontstaan te verstaan - want indien die ontstaan nie suiwer is nie, sal alles wat daaruit voortvloei besoedeld wees.

Daar is 'n soort gehoorsaamheid wat God eintlik laat huil. Dit is wanneer mense Sy Wil doen met halfhartigheid. Dit is 'n wettiese gehoorsaamheid - 'n koue, tegniese formaliteit, gebaseer op vrese vir die gevolge.

Beskou die vader wat sy tienderjarige dogter moet korrigeer. Hy sê vir haar, "Ek kan in jou vriend se oë sien dat hy dwelms gebruik! Jy mag hom nooit weer sien nie. En ek wil nie hê dat jy weer eers teen een of twee-uur in die oggend huis toe kom nie. Indien jy dit wel doen, skop ek jou uit die huis uit!"

Die volgende aand, tien minute voor twaalf, is die dogter by die huis. Sy was nie saam met haar vriend nie - maar hy is steeds in haar hart! Sy is nou in haar kamer, besig om haarself te bejammer. Sy was gehoorsaam aan haar vader - maar net omdat sy bang is hy skop haar uit.

Dit is gehoorsaamheid van 'n ongelukkige kind! Haar hart is nie in haar aksies nie. Sy is slegs gehoorsaam omdat sy bang is vir haar pa se oordeel. Sy gehoorsaam hom nie omdat sy hom liefhet of omdat dit vir haar lekker is nie. Inteendeel - sy is kwaad vir hom omdat hy haar haar vryheid en haar lewenstyl beperk.

Die hartseer waarheid is dat baie Christene, vandag, gehoorsaam is aan God omdat hulle bang is om hel toe te gaan. Hulle is bang vir hulle Vader se oordeel. Hulle gehoorsaamheid aan Hom is slegs "wetlik". Hulle het geen ware behoefte om Hom te behaag nie.

Maar Jesus het alles, uit plesier vir Sy Hemelse Vader gedoen, ". en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil" (Johannes 8:28-29).

Dit was die rots, die fondasie, waarop Jesus 'n lewe van gehoorsaamheid gebou het!! Dit was die fontein, die motief, waaruit Sy gehoorsaamheid gevloei het.

En dit moet ook ons rots wees. Dit moet die fundamentele motief wees vir al ons gehoorsaamheid: "Ek doen dit want ek wil my Here tevrede stel - om Hom groot plesier te gee!"

Jesus se begeerte was om Sy Vader te plesier! Hy het Homself afgesluit vir gebed op die bergtoppe, in stil plekke, meeste van die tyd vir 'n hele nag lank. En Sy een groot gebed was, "Vader, wat wil U hê? Wat sal U plesier verskaf? Wat kan ek doen om die behoefte van U hart te bevredig?"

Dit is die benadering van iemand wat die Gees van Christus het - een wat op rots bou!

Die wet is nie daar vir 'n persoon wie se gehoorsaamheid aan God die gevolg is van sy begeerte om God tevrede te stel nie. Hy is nie begaan oor wat reg en verkeerd is nie, wat toelaatbaar en ontoelaatbaar is nie. Hy het net een maatstaf: "Wat verlang my Here?"

U kan die hele wet voor hom uitlê - al die reëls, regulatsies en beperkings - en hy sal sê, "Jy het nie nodig om vir my te sê om nie daardie dinge te doen nie. Ek sou nooit iets wou doen om my Vader seer te maak nie. Ek het Hom lief. Ek het alreeds die wêreld en sy begeertes verlaat om die Een na wie my hart verlang, te volg.

"Wys my wat Hy wil hê, nie net wat Hy verbied nie. Ek wil hê dat Sy hartsbegeertes my aksies word. Ek wil Sy gedagtes ken en dit gehoorsaam. Ja, ek het Sy wet lief, maar dit is vir die wetteloses- vir hulle wat nog nie intimiteit met Christus leer ken het nie. Daar is nog 'n wet wat in my hart werk. Dit is die wet van liefde - die een wat sê, "Here, wat kan ek vandag doen om U te behaag?"

Sulke Christene lewe 'n baie nougesette lewe. Ander kla hul dikwels aan en sê, "Julle doen nie eers dinge wat toegelaat word nie. Julle is gebonde in wettiesheid. Julle lyk so anders!" Hierdie persoon kyk verbaas na hulle en sê, "Wat bedoel jy met gebonde? Ek het groot vryheid omdat ek Hom liefhet. Ek het nie nodig om een van die dinge waarvan jy praat te doen nie, omdat ek alles in die Here het. My bron van blydskap is om Hom te behaag!"

So 'n persoon word nie deur dreiging van die helvuur, of deur belonings beweeg nie. Hy het nie 'n profeet nodig om hom wakker te skud nie, geen waarskuwings of oordeel nie. Hy is verlief op Jesus - en sy gehoorsaamheid aan God se Woord is 'n natuurlike uitgroeisel van sy liefde. Dit is so natuurlik vir hom soos om asem te haal.

Aan die ander kant, die persoon wat sy huis op die sand bou, doen so slegs vir uiterlike vertoon. Dit is 'n tydelike lewenstyl. Hy redeneer dat hy vir vyf jaar in daardie huis gaan bly en dit dan gaan verkoop en die probleme los vir iemand anders. Dit is slegs 'n fasade - met geen ware fondasie nie!

U sien, hierdie persoon glo nie dat daar 'n storm aan die kom is nie. Hy wil nie daaraan dink dat dinge dalk mag begin moeilik raak nie. Tog, dit is die manier waarop die wêreld met die ewigheid deel. Hulle dink eenvoudig net nie daaraan nie. 'n bekende Christen het eens vir Johnny Carson gevra, "Wat dink jy van die ewigheid?" Hy het geantwoord, "Ek probeer om nie daaraan te dink nie."

Dit is tragies dat baie Christene die ewigheid uit hulle gedagtes wil uithou. Hulle probeer nie daaraan dink dat die oorsdeelsdag voor die deur is nie, hulle wil nie glo dat hulle eendag voor die Here sal staan en verantwoording moet doen van alles wat hulle gesê en gedoen het nie.

Ek het onlangs 'n aaklike, helder droom gehad oor die hel. Ek was aan die een kant van 'n sluier wat ondeurdringbaar was. Tog kon ek mense aan die ander kant sien loop, beweeg - maar nêrens heen gaan nie! Hulle was in pare (nie as getroudes nie) saam met iemand wat die een ding wat hulle die meeste op die aarde begeer het, verteenwoordig. Hulle het die einste ding wat hulle gedink het hulle wou hê, gekry - maar nou het dit soveel vrees en lyding tot hulle siele gebring, dat hulle geween en tande gekners het. Dit was 'n nimmer eindigende pyniging.

Wat my die bangste gemaak het, was dat ek sommige mense wat ek geken het en gedink het dat hulle heilig was, daar gesien het. Ek het na hulle geroep, "Laat my jou daaruit bid!" Maar hulle het na my gekyk en gesê, "Jy kan nie." Toe het hulle omgedraai en weggeloop. Ek het probeer om agter hulle aan te gaan, maar 'n onsigbare muur het tussen ons gekom.

Ek het bewend wakker geword en uitgeroep, " O, Here! As dit is hoe die hel is, laat my nooit misluk om die mense te waarsku nie. Hou my wakker! Elke keer wat ek op die preekstoel staan, laat dit 'n lewe-en-dood saak wees, met geen ligsinnigheid, geen grappies nie. Daar is 'n hel en dit is 'n werklikheid!" Ek sal nooit daardie volslae hulpeloosheid, wat ek gevoel het toe die verdoemdes gesê het, "Jy kan my nie help nie," vergeet nie. Ja, daar is 'n regverdige vrees van God en ons het nodig om die hel en God se toorn te vrees! Paulus het gesê, "Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig." (2 Korinthiërs 5:11 OV).

Jesus beskryf so 'n persoon in Matteus 7:21-23, "Nie elkeen wat vir My sê, 'Here, Here!' sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is." Baie sal in daardie dag vir My sê: 'Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree!"

Ek noem hierdie mense, "in die Naam van Jesus" mense. Hulle gaan voor God se troon staan en sê, "Here, in U Naam het ons duiwels uitgedryf, ons het die siekes genees, ons het baie wondertekens vir U gedoen!" Maar die tragiese waarheid is dat hulle hulle huise op sand gebou het.

Hierdie mense het nie 'n verdeelde hart gehad nie. In teenstelling - hulle harte was nooit die Here s'n nie! Hulle harte kon nie verdeeld gewees het nie - want dit was nooit in die eerste plek aan Hom oorgegee nie. Hulle het nie teruggeval of omgedraai nie - omdat hulle Jesus nie van die begin af geken het nie! Baie het magtige werke gedoen al was hulle nooit intiem met Jesus nie. Hulle het geroep, "Here, Here deur hulle hele lewens - het na Hom gekom vir verligting, vir krag, vir belonings. Maar hulle het nooit lank genoeg in Sy teenwoordigheid gespandeer om Hom te leer ken nie! Ek kan aan baie bedieninge en kerke dink van wie dit waar is. Hulle gebruik Sy naam sonder om Hom te ken.

Hulle is besig vir Hom - maar hulle gehoorsaam Hom nie met 'n liefde wat uit 'n weggeraapte hart kom nie. Hulle het eenvoudig nie die tyd geneem om Sy hart en wat Hom behaag te leer ken nie. Jesus sê dat sulke mense die wet van God oortree - omdat hulle Sy Naam gebruik sonder om eers intiem met Hom te wees! En Hy sal aan hulle sê, "Jy sê dat jy al hierdie dinge vir My gedoen het, maar jy het jou huis op sand gebou - omdat jy My nooit geken het nie. Jy was nooit aan My gehoorsaam nie!"

As u sê dat u 'n Christen is - dat u Jesus liefhet, dat u huis op 'n rots gebou is, dat u in gehoorsaamheid tot die Here wandel - maar u verwaarloos Hom in gebed dag na dag, dan ken u Hom nie! U huis is nie op die rots nie. Dit is op sand - en dit gaan in moeilike tyde heeltemal inmekaarval!

U kan nie Jesus leer ken as u net kerk toe gaan nie. U moet 'n dag-vir-dag, uur-vir-uur gesprek met die Here hê. U moet Hom leer ken, groei in u liefde vir Hom, om te begeer om te weet wat Hom behaag!

Ons maak af asof die gebooie van die Here 'n las is, onmoontlik is, beperkend is en skadelik vir ons persoonlike vryheid. En, eerder om Sy woorde aan ons te omhels, soek ons 'n manier om daarvan weg te kom en om dit nie te doen nie. Ons verdraai God se genade op hierdie manier en maak asof dit een of ander tonnel uit die tronk van Sy wet is. Maar genade is eintlik 'n leermeester van heilighied, "Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenwoordige wêreld te lewe" (Titus 2:11-12).

Die man op die rots omhels en volbring die Here se bevele met blydskap. Hy sien nie God as iemand met 'n lat in sy hand en altyd gereed is om hom te tugtig nie. Nee - hy sien die Here as Iemand met uitgestrekte arms wat sê, "Kom na my toe en ontvang die lewe, ontvang krag. Ek sal jou deurdra!"

Enog het God gehoorsaam met die enkele doen om Hom te behaag! "Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voor hy weggeneem is, geleef het soos God die wou. " (Hebreërs11:5). Enog is in die hemel opgeneem omdat hy die Here behaag het!

Die apostel Johannes sê: "en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind" (1 Johannes 3:22). ".omdat U alles geskep het; deur U wil het alles ontstaan en is dit geskep" (Openbaring 4:11). Paulus skryf: "..so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets..." (I Tessalonisense 2:4) "...en mag Hy deur Sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak..." 2 Thessalonissense 1:11).

Liewe heilige, u bou nie op die rots as u 'n prediker nodig het om u te herinner om God te gehoorsaam nie - as u 'n lys moets en moenies nodig het, as u gedurig nodig het om deur Sy Woord veroordeel en herinner te word, Nee - u het nie 'n reëlboek nodig nie! U het 'n passievolle liefde vir Jesus nodig. U het nodig om so verlief op Hom te wees dat u weet wat Hom behaag. Om sy begeertes te ken, moet u tweede natuur word!

Hoe liewer u Hom het, hoe makliker is dit om Hom te dien en te gehoorsaam. U sal nie langer begaan wees oor wat die wêreld van u sê nie. U kan antwoord, "Ek het van my Vader gehoor en ek doen die wat sy hart behaag!" 'n Vloei van gehoorsaamheid moet uit u hart kom. Die kan nie uit u uitgetrek of afgedreig word nie. Dit moet vrylik vanuit u siel vloei!

En wanneer u hart saam met Jesus weggeneem word, sal gehoorsaamheid vanself uitvloei. U sal nie nodig hê om gedurig voor die Here te gaan en te roep, "O Here, breek die mag van die duiwel oor my!" nie. Nee - al daardie kettings sal begin afval soos jy Sy hart leer ken.

Is u verlief op Jesus? As u antwoord ja is, dan het ek vir u 'n vraag: Hoe kan u deur die week gaan sonder om tyd in Sy Woord te bestudeer? Hoe kan u nie begeer om alleen saam met Hom in gebed te wees nie? Hoe kan u nie 'n tyd van liefdesgeselsies met u Vader hê nie, 'n tyd van lofprysing en aanbidding, terwyl u smag om te leer wat Hom behaag? Hierdie is die fondamente van gehoorsaamheid!

Jesus leer ons, "Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar" (Johannes 14:21). Wat 'n wonderlike belofte - alles is gebaseer of 'n gehoorsaamheid van liefde!

So, deursoek die evangelies. Leer Jesus se woorde ken. Lees die rooi letters opgeteken in Matteus 5-7, begin met die bergpredikasie. En soos u Sy woorde leer ken, doen dit! God se bevele is nie moeilik nie, dit is nie 'n swaar las wat op ons gelê word nie. In teendeel - om dit te gehoorsaam word makliker hoe meer u groei in u liefde vir Hom.

Dit is hoe om jou huis op die rots te bou! Dan, wanneer die storms kom, kan u staande bly sonder om bang te word. Niks sal u beweeg nie - omdat u in liefdevolle, behaaglike gehoorsaamheid tot die Vader wandel

Maar dit is uiters belangrik dat u verstaan dat gehoorsaamheid slegs moontlik is deur geloof in die afgehandelde werk van Christus. Slegs diegene wat deur geloof in die geregtigeheid van Christus wandel, kan Hom in liefde gehoorsaam. Gehoorsaamheid red ons nie, dit is moontlik slegs deur die gestorte bloed van Christus. Gehoorsaamheid vloei uit ons dankbaarheid tot God dat Hy ons in die perfekte geregtigheid van die Here Jesus gebring het. Dit is waarlik hoe om op die rots te bou. Amen!

*Aan God al die eer, vertaal deur Johan Delport.

*In hierdie preek is die Nuwe Afrikaanse Vertaling gebruik tensy anders aangedui.

---
Gebruik met toestemming van World Challenge, P. O. Box 260, Lindale, Texas 75771, VSA.