Staan Stil en Sien die Verlossing van die Here!

David Wilkerson

Die drie algemeenste woorde wat ek onder Christene hoor ten tye van ‘n krisis is: “Here, doen iets!” Dit is heeltemal teen ons natuur as mens om stil te staan en niks te doen wanneer ons verbysterende beproewings beleef. Om geduldig vir God te wag om op te tree is waarskynlik die moeilikste ding om te doen in die Christelike wandel. Selfs toegewyde gelowiges raak paniekerig wanneer die Here nie volgens húlle tydtafel werk nie.

Ons gee voortdurend vir God spertye en tydgrense. Ons roep uit, “Here, wanneer gaan U iets hieromtrent doen? Hoe lank gaan U neem? As U nie nou optree nie, sal dit te laat wees!” Maar God is nooit te laat nie. Hy tree altyd op – en nie volgens ons skedule nie, maar syne.

Ons God deursoek altyd die aarde vir mense wat Hom in elke krisis, beproewing en hopelose situasie sal vertrou. Hy lei ons inderdaad na situasies wat angswekkend, kritiek en moeilik is om ons te toets. Hy wil sien of ons gewillig is om stil te staan en vir Hom te wag om bonatuurlike verlossing te bring.

Die Bybel stel dit baie duidelik: “Deur die HERE word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg” (Psalm 37:23). Die Hebreeuse woord hier vir “bevestig” betekend “vooruitbeplan, stap vir stap, vasgestel, deur God beskik.”

Dit beteken dit is God, nie die duiwel nie, wat ons na moeilike plekke lei. Ons mag uitroep, “Here, waarom laat U toe dat my krisis voortduur?” Maar in der waarheid laat Hy nie net ons beproewing toe nie, maar Hy doen dit doelbewus – vir ‘n rede. En dit is vir ons moeilik om te aanvaar!

God laat egter hierdie moeilike dinge in ons lewens toe om geloof in ons te vorm. Hy vorm en smee ons tot goddelike voorbeelde van geloof – om sy getuienis te wees aan ‘n ongelowige, goddelose eeu.

Ek glo vas dat elke tree wat ons gee deur ons hemelse Vader beskik word. En as dit inderdaad waar is, dan kan ek nie glo dat God my ooit tot op die rand van ‘n moeilike situasie sal lei net om my te verlaat nie. Hy sal nie sê, “Reg, Dawid, Ek het jou gelei tot sover. Nou is jy op jou eie!”

Nee! God is absoluut getrou aan sy kinders in elke krisis. En Hy vra altyd vir ons, “Sal jy die één wees na wie Ek soek? Sal jy een wees wat nie paniekerig word nie – wat My nie sal beskuldig dat Ek jou verlaat en begewe en my kinders seermaak nie? Sal jy in jou krisis staan en op geloof steun en My vertrou om jou deur te dra?”

Die Bybel is vol voorbeelde van groot en angswekkende krisisse – doelbewus deur die Here opgestel!

Die Ou Testament lys baie tye van beproewing vir God se volk. Miskien is die grootste voorbeeld hiervan, die krisis by die Rooisee. Hierdie beproewing was nie deur die duiwel of deur Farao uitgelok nie. Dit was ‘n krisis wat totaal deur God gereël is – opgestel deur sy eie bevele aan Israel. Die Skrif sê immers dit was God wat Farao se hart verhard het, wat veroorsaak het dat die Egiptenaars Israel agtervolg het en wat toegelaat het dat die Egiptiese leër hulle by die see sou inhaal.

God het die mense spesifiek beveel om tussen Migdol en Pi-hágirot laer op te slaan. Hierdie plek was tussen twee bergpasse geleë met die see wat ‘n derde kant begrens het. Die enigste moontlike roete van ontsnapping was terug na die wildernis – en dit was geblokkeer deur Farao se aankomende leër. Die Israeliete was nou verskrik oor hulle situasie. Hulle God het hulle daarheen gelei!

Laat my iets hier uitwys: God kon voorafbepaal het om die wiele van die Egiptiese strydwaens af te slaan te enige tyd. Hy kon dit in die wildernis gedoen het en die Egiptenaars van hongersnood laat omkom het. Maar in plaas daarvan, het Hy gewag totdat hulle tussen die mure van die gekliefde see was.

God kon ook die bonatuurlike wolk op die Egiptiese leër laat neerdaal het om hulle te verwar. Daardie soldate sou dae lank in die verwarrende mis rondgehardloop het. Maar in plaas daarvan, het Hy gekies om die wolk agter die Israeliete te stuur as beskerming.

Of, God kon net een engel gestuur het om die hele Egiptiese leër te verslaan binne ‘n oogwenk. Hy kon gekies het om hulle op enige stadium te vernietig.

Maar die Here het nie een van hierdie dinge gedoen nie. In plaas daarvan, het Hy Israel gedruk in ‘n nou, angswekkende situasie – ‘n krisis wat onmoontlik was om van te ontsnap deur menslike vermoë!

Ek glo die Here het twee doelwitte gehad om hierdie onmoontlike situasie toe te laat vir sy volk:

Hy was vasbeslote om Israel se vyande so te vernietig, dat hulle nooit weer met vrees oor hulle skouers hoef te kyk nie. God het in wese gesê, “Ek gaan jou vyande se lyke langs die strand strooi, sodat julle kan sien dat almal van hulle dood is. Dan sal julle weet dat Ek almagtig is!”
God wou ‘n geleentheid voorsien vir sy volk om hulle lewens in sy hande te plaas – om stil te staan en Hom te vertrou om vir hulle rigting aan te dui.

Hoe weet ons God het hierdie angswekkende stituasie gereël om sy volk te toets? Sy eie woord sê so: “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie” (Deuteronómium 8:2).

Hierdie vers spel dit duidelik uit: “...die hele pad waarlangs die HERE jou God jou...gelei het...” Dit was God wat hulle na die Rooisee gelei het – nie die duiwel nie!

Maar, waarom het God dit gedoen? Dieselfde hoofstuk sê vir ons: “...om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronómium 8:16).

God het in wese gesê, “Ek was op soek na iets in jou. Ek het jou in hierdie situasies gebring, sodat jy jou geloof kon beoefen. Slegs hierdie soort omstandighede kan ware geloof in jou vorm. Slegs jou absolute vertroue in My sal jou ooit daar uitkry!”

“En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger lei...” (Deuteronómium 8:3). Met ander woorde: “Ek het jou moeilike plekke, honger plekke, dors plekke, plekke wat skrikwekkend, vreesaanjaend was laat deurgaan – om te sien of jy ‘n hart het wat vertrou!”

Soos die Egiptenaars vinnig opgedaag het, was daar geen plek vir die Israeliete om te vlug nie. Die berge aan beide kante was kaal, met geen bome of grotte om in weg te kruip nie. En die see het hulle aan die anderkant ingeperk. Hulle het eenvoudig geen plek gehad om heen te vlug nie. Dit was ‘n onmoontlike situasie!

Die Skrif sê op hierdie punt, “..slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die Here  geroep” (Exodus 14:10).

Probeer om jouself in hulle posisie te plaas: Jou familie het rondom jou vergader – kinders, oupa’s, familielede. En skielik hoor jy die rommeling van strydwawiele, die gekletter van swaarde, die verwoede oorlogskreet van ‘n moorddadige, bloeddorstige leër. Sou jy nie bang wees nie?

God is in der waarheid geduldig met ons wanneer die verskriklike golf van menslike vrees ons oorval in ‘n skielike krisis. Ons Here is nie ‘n moeilike leermeester nie. En Hy weet dit sou ‘n vreesaanjaende belewenis vir Israel wees.

Hy sou in werklikheid baie genoeë gewees het met ‘n gebed soos, “Here, ons is bang! Ons weet egter U was nog altyd getrou om ons te verlos. Toe ons in Egipte was, het U ons verlos van die doodsengel en van al die plae. En ons weet U het die mag om ons ook uit hierdie krisis te verlos, maak nie saak hoe benard dit lyk nie. Vader, ons gee ons lewens oor in u hande!”

Maar was dit Israel se hulpgeroep? Nee! Die Skrif sê, “En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipte uitgelei het? ...Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe” (Exodus 14:11-12).

Hulle was so sarkasties dat dit gegrens het aan laster. En hulle het God beskuldig dat Hy hulle doelbewus wou vernietig. Dit was nie die uitroep van geloof nie!

Beleef jy jou eie krisis op hierdie oomblik? Miskien dra jy sulke swaar laste dat jou vriende op hulle aangesigte sou val en huil as hulle daarvan geweet het. Die feit bly egter staan – jy is gelei tot in jou baie moeilike situasie deur die Here self. Die eenvoudige, Bybelse waarheid is dat as jy syne is – as Hy jou gange bevestig – dan het Hy jou gesit waar jy nou is. En Hy moet goeie rede daarvoor hê. Jy word getoets!

Jy mag vra, “Wat is ek veronderstel om te doen wanneer ek in so ‘n krisis ingebring word? Wat sou ek doen wanneer alles hopeloos voorkom – wanneer daar geen sigbare ontsnapping is nie? Wat gebeur wanneer ek oorval word met vrees omdat alles rondom my in duie stort – en ek nêrens het om heen te gaan nie, geen antwoorde vir my probleem het nie en niemand om my te vertel hoe om uit my moeilikheid uit te kom nie?”

Hier is hoe God Israel verhoor het toe hulle hul krisis beleef het: “...Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE...Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (Exodus 14:13-14).

Die Here het in wese vir hulle gesê, “Die eerste saak waarmee julle moet deel, is julle vrees! Ek sal vir julle veg. En Ek sal julle red en verlos. Laat daardie belofte nou jou sterkte wees. Laat dit al jou vrees uitdryf!”

Laat my dit toepas op die Nuwe Testament!

Eerstens wil ek praat oor slawerny aan sonde – dit is, jou stryd met die vlees. Onder die Nuwe Testament, sal God altyd situasies toelaat om vir ons te wys hoe hulpeloos ons is – en hoe totaal afhanklik ons van Hom is om ons te verlos deur geloof.

God sal jou nooit in versoeking lei nie. Maar Hy sal toelaat dat jy aan die einde van jouself kom. As jy ‘n boesemsonde het, is daardie sonde die Farao in jou lewe. En sy leër van leuengeeste kom voortdurend teen jou met demoniese leuens: “Jy gaan dit nie maak nie. Jy gaan onder. Jy sal op die ou end vernietig word!”

Jy hoor die gekletter van kettings soos Satan jou nog ‘n keer aan jou gewoonte probeer vasbind. En jy wonder, “Here, hoe gaan ek ooit weer kan opstaan hiervan? Ek het so laag gedaal!”

Wat kan jy doen? Jy weet jy kan nie vir die vyand weghardloop nie. En jy is vir hom geen gelyke in ‘n stryd nie. Jy is hulpeloos teen hom. Daarom staan jy voor hom en sidder en bewe bang.

Jy mag vir jou self sê, “Ek sal maar net teruggaan na my ou weë. Op daardie manier sal ek gespaar word van al hierdie geestelike oorlogvoering. Dit is te veel vir my!” Maar jy weet jy kan nie teruggaan na jou ou meester nie. As jy nou jou rug keer – as jy Christus verlaat – sal dit jou jou lewe kos!

Ek vra jou – hoeveel Israeliete sou gespaar gewees het as hulle teruggekeer het na Egipte? Niemand sou oorleef het nie! Hulle sou almal in stukke gekap geword het. Waarom? Die vyand is ‘n bloeddorstige moordenaar en daarop uit om ons te vernietig!

Op hierdie punt, word talle Christene vasgevang in die duiwelse siklus van sonde en belydenis, sonde en belydenis. Hulle hardloop na vriende, beraders, enigeen wat na hulle sal luister terwyl hulle ween, huil en bid. Sulke gelowiges sal alles doen behalwe om stil te staan en die Here te vertrou om verlossing te bring.

Die Ou Testament gee egter vir ons voorbeeld na voorbeeld van hoe ons geen krag in ons vlees het om geestelike oorloë te voer nie. Ons ou mens is uiters swak en magteloos. Maar ons het ‘n nuwe mens in ons – en hy moet sy lewe totaal in die Here se hande oorgee. Die nuwe mens verstaan daar is geen menslike uitweg nie – dat God die hele stryd vir hom moet voer. Ons weerstaan die duiwel nie in ons krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees, wat in ons geopenbaar word deur geloof alleen.

Ek glo dat God, deur sy Gees, sy mense red en verlos deur vir hulle duidelike leiding te gee!

God praat met sy mense deur sy Gees. En Hy maak die Gees se stem vir ons duidelik: “En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle links of wanneer julle regs wil gaan” (Jesaja 30:21).

Die stem van God se Gees kom hoofsaaklik na ons deur die Skrif. Hy mag vir ons ‘n Bybelse gedeelte openbaar wat die sleutel tot ons verlossing sal wees. Maar voor ons sy stem van leiding kan hoor, verwag God iets van ons: Ons moet stil staan en op Hom wag om op te tree!

Hierdie woord is nie ‘n voorstel nie, maar ‘n bevel. En dit is die geheim tot ons algehele oorwinning en verlossing. Die Here het inderdaad sy mense beveel om stil te staan op talle geleenthede.

Byvoorbeeld, in Josua 3 het ons gelees van ‘n ander oorgang wat Israel moes maak, by die Jordaanrivier. God het sy volk beveel: “...Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan” (Josua 3:8). Toe het die Here bygevoeg: “...en net soos die voetsole van die priesters...in die water van die Jordaan rus, sal die water van die Jordaan afgekeer word...en dit sal soos een wal bly staan” (Josua 3:13).

God het in wese gesê, “Wanneer julle by die water kom, plant julle voete daarin en bly staan net daar. Wees stil en rustig. Moenie probeer uitwerk wat Ek beplan om te doen nie. Wag net vir My om op te tree. Ek sal die water vir jou oopmaak!”

Die Hebreeuse woord vir “bly staan” in hierdie gedeelte beteken “Stop alle aktiwiteit, hou op strewe.” Hoeveel Israeliete het egter gehoorsaam toe hulle by die Jordaan gekom het? Terwyl hulle met hulle voete in die water gestaan het, moes baie van hulle gedink het, “Hoe weet ons dit gaan werk?”

Sommige mag versoek gewees het om een of ander soort van pontbrug te bou en probeer oorgaan met hulle eie vindingrykheid. Maar dit sou alles verniet wees.

God het op daardie geleentheid opgetree – Hy het die waters oopgeklief. En Hy het dit gedoen omdat Israel se daad van gehoorsaamheid vergesel was met geloof. Hulle het gedoen wat God vir hulle gesê het en hulle het daarin gerus. God het hulle geloof verhoor!

Op ‘n ander geleentheid, was Israel se koning beveel om stil te staan eerder as om op te tree. Nadat Samuel Saul as koning gesalf het, het hy hom na die rand van die stad begelei. En op een stadium, het Samuel vir Saul gesê, “...staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor” (1 Samuel 9:27).

Samuel het in wese gesê, “Saul, ek jou pas gesalf, maar jou gedagtes is egter reeds op hol. Jy dink, ‘Wat is God besig om te doen? Hoe kan ek sy stem ken, sy wil?’ Hou op om te streef, Saul! Wil jy van God hoor? Wil jy leiding van Hom hê? Staan dan stil en luister. Ek sal God se woord vir jou gee.”

Dit illustreer volkome die beginsel wat ek hier wil beklemtoon: Die woord van die Here – die stem van leiding en verlossing – word gegee aan diegene wat kom by ‘n plek waar hulle stil staan voor God!

In Twee Kronieke lees ons dat Juda binnegeval was deur ‘n koalisie van magtige leërs. Die Skrif sê Koning Jósafat “...het ...bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep” (2 Kronieke 20:3).

Die mense het begin bid en gehuil, “...Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie...Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U” (2 Kronieke 20:6,12).

Weereens sien ons dat daar niks mee verkeerd is om bang te wees nie. God is lankmoedig teenoor ons en Hy hou nie ons vrees teen ons nie. Ons moet inderdaad dieselfde gebed bid wat Jósafat gebid het: “Here, ek is bang! Die vyand kom in soos ‘n stroom en ek weet nie wat om te doen nie. Maar ek weet dat U alle krag en mag het. So ek sal niks doen nie, Here, behalwe om te bid. Ek sal my oë op U vestig!”

“Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering...” (2 Kronieke 20:14). Hier is wat die Gees beveel het: “Wees nie bevrees of verskrik...nie...want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle...” (2 Kronieke 20:15-17).

Die frase “staan gereed, bly staan” beteken “neem julle posisie in; moenie weifel in hierdie saak nie.” Met ander woorde: “Neem ‘n posisie van geloof in. Wees oortuig dat die stryd die Here s’n is. Enige demoon wat teen jou kom, moet teen Christus in jou kom. Dit is die Here se stryd om te stry – nie joune nie!”

Jy mag onthou wat in hierdie storie gebeur het. Toe die manne van Juda uitgegaan het om teen die groot leër te veg, het hulle die vyand reeds verslaan op die oorlogsveld aangetref. Die magtige soldate het in die middel van die nag opgestaan en teen mekaar begin veg – en hulle het op die ou end mekaar vernietig!

Toe het die leër van Juda bloot die buit opgetel en teruggemarsjeer huistoe met ‘n groot oorwinnigsoptog. Hulle het nie eers die swaard opgelig nie. Die Here het die stryd namens hulle gestry!

Die psalmis skryf, “Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde” (Psalm 46:10). Die letterlike vertaling in Hebreeus is, “Laat staan en staak al jou strewinge en erken dat Ek God is.” Met ander woorde: “Hou op streef! Staak al jou pogings om jouself te verlos. Erken dat God alleen jou kan red!”

Jy mag sê, “Maar, Broer, Dave – moes Israel nie soms hulle wapens opneem en oorlog voer nie?” Ja, hulle het – maar op hierdie voorwaarde: dat hulle eers stil voor die Here gestaan het en gedetailleerde opdragte van Hom ontvang het. Dit is wat Josua gedoen het voor die stryd van Jerigo. Hy het spesifieke marsbevele gekry voor hy enigiets gedoen het. En sy oorwinning het aan God al die eer gebring!

Laat my jou vertel wat ek glo nodig is in hierdie kwessie van “bly staan” voor die Here.

Die frase “bly staan” beteken nie om passief te wees of op die noodlot te rus nie. Die noodlot sê, “Wat ook al sal wees, sal wees.” Maar geloof verander alles. En “bly staan” is ‘n daad van geloof – ‘n aktiewe rus op God se beloftes. Dit is ‘n vasbeslotenheid om alle vrae, twyfel en nuttelose strewinge te staak.

Vandat ek in die bediening is, was ‘n belangrike gebied van strewing vir my die kwessie om die stem van God te hoor. Ek glo hierdie stryd is algemeen onder baie Christene vandag. Ons vra voortdurend, “Hoe kan ek weet of ‘n stem wat ek hoor God s’n is? Hoe kan ek onderskei wanneer dit Syne, of myne of my vlees is?”

Wanneer ek ook al ‘n kritieke tyd beleef wat ‘n antwoord noodsaak, wend ek my tot die Here in gebed. Ek roep uit, “Vader, u woord sê U spreek met u mense. Asseblief, God – praat met my. Gee vir my u leiding!” En op die ou en haal ek elke vers wat ek ken aan:

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Johannes 10:27).
“En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle reg of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21).
“Maar baie naby jou is die (My) woord, in jou mond en in jou hart...” (Deuteronómium 30:14).

‘n Rustige, sagte stem kom inderdaad dikwels na ons toe – en as God begin praat, kry ons skielik ‘n groot gevoel van vrede en kalmte. Die stem is vertroostend, kalmerend en ons verlaat ons binnekamer met ‘n wonderlike gevoel. Hy lei ons en verlos ons sekerlik deur die stem van die Heilige Gees.

Maar al te dikwels, kom die woord wat ons in gebed hoor, nie uit nie. Dit kan in werklikheid soms verkeerd wees. En ons besef ons het ‘n ander stem gehoor – nie Christus s’n nie. In sulke gevalle, moes dit of die stem van ons eie begeerte en ambisie gewees het, of die stem van ons vlees.

Verstaan asseblief – Ek praat nie van om “dwase dinge” te hoor nie. Oor die jare het ek gehoor hoe mense talle onsinnige, vleeslike dinge aan die stem van die Here toegeskryf het. Ek praat eerder van goddelike gelowiges wat aan God se woord vashou en Hom getrou soek vir leiding. En wanneer die woord wat hulle ontvang op een of ander manier verkeerd uitdraai, sak daar ‘n wolk van twyfel oor hulle neer. Op die ou end is hulle verward en roep uit:

“O God – ek het alles gedoen wat ek weet om te doen! Ek het gebid. Ek het aan u woord vasgehou. U weet ek soek u wil, Here. En ek weet ek is onder u bloed. Hoe kon ek so ‘n groot gemors gemaak het? Hoe het ek ‘n ander stem vir U s’n aangesien? O Here  hoe kan ek ooit weer enige stem vertrou?”

Paulus beskryf die gevoel as volg: “...ons is verleë, maar nie radeloos nie” (2 Korinthiërs 4:8). Ons vergeet egter dat Paulus ook sê, “Daar is wie weet hoeveel soorte tale (stemme) in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie” (1 Korinthiërs 14:10). Daar is duisende stemme – insluitende ‘n stem van die vlees, ‘n stem van die wil, ‘n stem van ambisie – en alles skreeu vir ons verstand se aandag.

Dit maak nie saak hoeveel ons bid nie, hoe intiem ons met die Here is nie, hoeveel ure ons in sy woord deurbring nie. Ons is almal feilbaar en ons almal maak foute. Ons vlees het steeds ‘n stem – en soms is dit in die pad.

Laat my jou vertel hoe God my deur hierdie toets van geloof gebring het: EK HET ONWRIKBAAR GEWORD IN DIE WAARHEID DAT DIE HERE AL MY GANGE BEVESTIG, MY ELKE TREE! Ek is oortuig God bepaal en stel al my omstandighede op. Hy het beloof, deur sy verbond, om my te lei en te rig deur sy Gees en om my van struikeling te bewaar. So, nou bid ek in geloof en glo sy woord aan my. En ek bly staan en wag vir Hom om op te tree.

Jy sien, as God ‘n belofte maak, is dit nie langer ‘n saak van genade nie. Eerder, dit is wettig. Hy seël al sy beloftes met ‘n eed – en ons het die reg om “wettiglik” daarop te staan. God kan nie wegdeins van enige van sy beloftes nie, anders sou Hy nie God wees nie. Daarom kan ons aan elke belofte vashou en sê, “Here, ek gaan staan op wat U gesê het. Geen antwoord is nodig nie! U belofte is u stem – en dit spreek direk met my!”

Jy mag sê, “Wag ‘n bietjie. Bedoel jy ons is nie veronderstel om met die Here te kommunikeer nie?” Natuurlik bedoel ek nie dit nie. Maar in werklikheid is ons gemeenskap met God nie beperk tot aanbidding, lofprysing of gebed nie. Ons gemeenskap met Hom sluit ook in dat ons Hom vertrou. Ons kommunikeer met Hom deur aktief op sy geskrewe, geopenbaarde woord te steun!

Die Heilige Gees “spreek” meestal deur ons te lei na pertinente skrifgedeeltes, wat vir ons God se gedagtes wys oor enige saak en vir ons sê watter stappe om te neem. Waarom sou Hy spreek met ‘n innerlike stem wanneer ons nie sy geopenbaarde, geskrewe stem wil “hoor” nie?

God hoef in werklikheid nie vir ons alles te sê om intimiteit met Hom te hê nie. Hy hoef nie al sy planne aan ons te openbaar nie. Ons kan in werklikheid intimiteit met God hê deur al ons pogings te laat vaar om sy stem uit te redeneer. Hierdie soort intimiteit sê, “Here, selfs al hoor ek nooit weer nog ‘n woord van U nie, het U steeds vir my alles gegee wat ek nodig het. Ek weet U het my lief – u woord het na my gekom – en ek gaan daarin rus. Al wat ek vra is dat U u beloftes aan my hou. Daar is geen antwoord nodig nie!”

In die tussentyd, moet ons tevrede wees met die openbaring wat ons in God se woord het: “God...in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun...” (Hebreërs 1:2). En God het vir ons genoeg verbondsbeloftes gegee om ons te dra deur enige krisis of beproewing:

“Immers sy doddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:3-4).

Dawid is ‘n voorbeeld van hierdie soort vertroue. Toe hierdie goddelike man op sy sterfbed gelê het, het hy gesê: “Want is my huis nie so by God nie?” (2 Samuel 23:5). Met ander woorde: “Ek het nog nie gesien dat al die woorde wat die Here vir my gegee waar word nie. My huis is nog steeds nie wat dit moet wees nie. Drie van my seuns is dood. Ek is egter ‘n belofte gegee dat my huis nie sal val nie!” “...Want Hy het ‘n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is...” (2 Samuel 23:5).

God het Dawid se voorvader, Abraham, beloof, “Ek sal vir jou vaste huis gee met ‘n stewige fondament. Ek sal jou seën en die hele aarde sal deur jou saad geseën wees” (bedoelende Christus).

Dawid het geen profeet gehad wat naby hom gestaan het en vir hom hierdie dinge gesê het nie. Hy het geen droom, geen visioen, geen innerlike stem gehad wat met hom gepraat het nie. Nee – toe hy die ewigheid in die gesig gestaar het, het Dawid nie na een van hierdie dinge gesoek nie. In plaas daarvan, het hy gesê, “God het vir my ‘n verbondsbelofte in sy woord gegee. En ek sal in die ewigheid ingaan terwyl ek op daardie belofte staan!” “...want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie...” (2 Samuel 23:5). Hy het in wese gesê, “Ek kan sterf – want sy belofte is al wat ek nodig het.”

Ons mag fouteer in ons onderskeiding, in dit wat ons hoor en in ons besluite. Maar ons kan juig in ons God wat ons sterkte is! Hy sal ons die regte pad laat loop. Dit is alles sy werk. En ons moet eenvoudig oorgee, bly staan en sy verlossing beleef!

Die Here beloof: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (Jesaja 41:10).

Halleluja!