Sonde Sal Oor Julle Nie Heers Nie!

David Wilkerson

Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade" (Romans 6:14).

Geliefde, as ons nie geweet het God se Woord is absoluut waar nie, glo ek, ons sou dink hierdie vers is ‘n bespotting!

Dit is vir my verstommend om te sien hoe lank mense kan voortgaan om te lewe met verborge sondes in hulle harte. Deur ‘n goeie front voor te hou, kan hulle vir lank daarmee wegkom. Hulle kan hulle sonde wegsteek van hulle man, vrou, kinders, vriende en herder. Maar die Bybel waarsku: “Weet dan dat julle sonde julle sal uitvind” (Númeri 32:23).

Ek dink aan een broer wat nou saam met my gewerk het vir die laaste agt jaar. Hy was ‘n vriendelike, bedagsame, liefdevolle persoon en man. Hy het ‘n dienaarshart gehad en sou enigiets doen om iemand in nood te help. Hy was ‘n integrale deel van ons bedieningspan – en ek het hom steeds lief in die Here.

Maar in al die tyd wat ek hom geken het, het ek nooit geweet wat weggesteek was in sy hart nie! Sy vrou het nie geweet nie, ook nie sy kinders nie, omdat hy so ‘n pragtige front voorgehou het.

Uiteindelik het my vrou, Gwen, en ek besef iets was verkeerd. Sy buie en gesindhede het begin verander. Ons het daaroor gebid en die Here het vir my gesê om hom te laat gaan. Ek het gesê, “Asseblief, Here, ek moet weet waarom. Wys vir my wat in sy hart is!”

Nie lank daarna nie, het ‘n vriend hierdie broer dronk gekry. Sy vrou en kinders het hom in hierdie toestand gesien – en hulle was histeries en kon dit nie glo nie! Die man was jarelank ‘n geheime alkoholis – en God het hom ontbloot!

Toe ek hom in my kantoor ingeroep het om hom af te dank, het ek gevra, “Hoe lank gaan dit al aan?”

Hy het gesê, “Broer Dave, ek was ‘n alkoholis voor ek my tot Christus bekeer het. En ek drink al sedert ek by jou begin het. Elke keer wat ons in ‘n hotel ingeboek het, het ek iets in my kamer bestel.” Hy het gesê dit was nie sy enigste probleem nie. Wanneer hy alleen gereis het, het hy by hotelle ingeboek wat R-gegradeerde films gewys het. (‘n Verborge sonde bly nie alleen nie. Enigeen met ‘n onoorwinde sonde, sal ‘n hele kettingreaksie van sondes sien ontstaan!”)

Hierdie man se vrou was verpletter. Sy kinders het respek vir hom verloor. En nou het hy sy werk verloor. Ek het vir hom gesê, “Hoe kon jy op hierdie manier sondig, onder hierdie bediening? Vir agt jaar het jy toegekyk hoe menigtes alkoholiste gered is. Jy het saam met my gewandel en gebid, jy het so baie van God se Gees aan die werk gesien. Maar jy het hierdie ding verborge gehou!”

Hy het sy kop geskud en geantwoord, “Ek het hierdie ding nog nooit oorwin nie. Dit was met my sedert ek my saligheid ontvang het.”

Hy was berouvol en jammer – maar steeds gebonde!

Die skokkende onthullings vind elke dag plaas!

Evangeliste, bedienaars en gemeentelede word betrap in skandelike dade – en wanneer hulle openbaar gemaak word, vertel hulle van sonde probleme wat hulle jarelank het!

‘n Huisvrou in Brooklyn het haar man elke dag weggesien na sy Wall Street werk. Hy het ‘n geslote aktetas gedra en dit styf vasgehou wanneer hy vertrek het. Sy het van niks geweet nie – totdat hy deur die Polisie gevang is vir die smous van crack kokaïne!

‘n Man het my genader ná een van ons kerkdienste en het bely, “Ek kom al vir meer as ‘n jaar na Times Square Kerk en niemand sal ooit raai dat ek nie ‘n regverdige man is nie. Ek sit hier en aanbid, en mense dink ek lei ‘n rein lewe.

“Maar ek is op die punt om dit alles te verloor! God het my oortuig van sonde, en ek kan nie meer my boesemsonde geheim hou nie – ek is verslaaf aan crack! Dit vernietig my, en ek het hulp nodig! Ek was verlos jare gelede – maar nou is ek weer in sy greep. Broer Dave, waarom het ek teruggegaan? Ek kan nie van hierdie ding ontslae raak nie – dit beset my hart!”

Ek wonder hoeveel mense wat hierdie boodskap nou lees, het ‘n lewensbeherende boesemsonde. God weet en sien elke daad – elke begeerte, alles waaraan jy toegee, elke verborge, geheime ding!

Ek glo elke getroue herder van die Here Jesus stoei daarmee as hulle sien dat kinders van God gebind bly deur ‘n boesemsonde. Maar God gee ons hierdie wonderlike beloftes:

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Johannes 8:36).

“Ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word” (Romeine 6:6).

“Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde” (Romeine 6:7).

“En, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid” (Romeine 6:18).

Ek lees al hierdie kosbare, heerlike beloftes oor vryheid van die mag van sonde – en dan kyk en na al die slawerny van sonde wat in God se huis is!

Menigtes Christene – Pinkster, Katolieke, Baptiste, Metodiste, charismate – is almal onder sonde se heerskappy. Hulle voer heeltyd ‘n verlore stryd teen ‘n sonde wat hulle oorweldig!

Hulle sing, juig en prys die Here – maar iets hou aan opkrop en word nooit mee afgereken nie. Hulle mag vir ‘n maand of twee, ‘n jaar, twee jaar voortgaan – maar dan kom dit skielik terug, en hulle val! Hulle sê, “Ek is wanhopig, ek kan dit nie help nie. Dit kom oor my en ek word oorweldig!”

My siel roep uit, “O God, waar is U oorwinning? Waarom is so baie van U kinders steeds in slawerny van die vyand en val steeds terug in ou sondes en begeertes?”

Die antwoord is eenvoudig. Die apostel Paulus sê, “Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig...Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou” (Romeine 3:4).

Dit is nie die Here se fout dat ons verslaaf is nie – omdat Sy beloftes waar is. Wanneer ‘n gelowige sê hy het God lief, maar nie oorwinning oor sonde kan kry nie, moet hy lieg – omdat God nie kan lieg nie! Sy Woord sê, “Sonde sal oor jou nie heers nie!”

Daar is ‘n harverskeurende uitroep van baie: “Wie sal my van hierdie slawerny verlos?” Ek het vir God gesê ek kon nie ‘n boodskap van oorwinning oor sonde lewer, tensy ek dit van die Heilige Gees gehoor het nie. Ek móés net ‘n bemoedigende woord uit die hart van Jesus kry – en ek glo Hy het vir my een vir jou gegee. God het in werklikheid vir my ‘n belofte saam met hierdie boodskap gegee: Hy het gesê baie gaan vrygemaak word – vir die eerste keer sedert hulle Christus begin dien het!

Jy mag dalk nie ‘n stryd voer met ‘n heersende sonde nie – maar miskien ken jy iemand wat verstrik is deur Satan. Indien wel, kan jy hierdie boodskap met hulle deel.

Die eerste ding wat God wil hê jy moet weet, is die volgende:

Maak nie saak hoe jy gesondig en die Here teleurgestel het nie – dit maak nie saak hoe laag jy gedaal het nie – my moet oortuig wees dat God jou steeds liefhet!

Die Here het vir my gesê, “My kinders moet verstaan dat, maak nie saak waardeur hulle gebind is nie, maak nie saak wat hulle probleem is nie – hulle móét weet dat Ek hulle liefhet!”

Jy kan nie eens begin om verlossing te kry van die magte van die hel, totdat jy oortuig is dat Jesus jou steeds liefhet het nie kwaad is vir jou nie.

Ek sien Jesus by Petrus staan, al het die dissipel hom verloën. Petrus het sy Verlosser verlaat en gevloek. Toe hy egter bedroef op die grond gelê en wonder het hoe hy ooit sy Here so kon seermaak, het Jesus nie toorn oor hom gestuur nie. In plaas daarvan, het Jesus vir hom gebid – dat sy geloof nie sou ophou nie!

God het David liefgehad ten spyte van sy owerspel. Die Here was bedroef terwyl Dawid die moord van Uría, Bátseba se man, beplan het. En God het sy sonde geoordeel – Dawid het inderdaad ‘n duur prys daarvoor betaal. Maar God het Dawid se gebed van bekering verhoor: Hy het nie Sy Heilige Gees van hom af weggeneem nie!

Geliefde, jy mag dalk nou wanhopig en bedroef wees en wonder hoe jy so skielik en verskriklik teen jou Here kon gesondig het. Maar jy moet weet Hy het jou steeds lief en bepleit jou saak! Hy is aan jou kant, en bid dat jou geloof nie sal ophou in die stryd nie. En Hy wil nie Sy Heilige Gees van jou af wegneem nie – as jy jouself sal verneder en uit jou hart uit tot Hom sal roep.

Die oomblik waarop jy terugval in ‘n ou begeerte of sonde, kom die duiwel na jou toe met hierdie leuen: “Dit was jou laaste kans! Jy het te dikwels gesondig – God se geduld het opgeraak met jou. Jou sonde is erger as ander s’n, omdat jy daarop aanspraak maak dat jy ‘n kind van God is. Jy het van beter geweet!”

Satan weet as jy jou kan laat glo dat jou toestand hopeloos is, dan het hy die oorwinning behaal:

“Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart handel” (Jeremia 18:12). Die kinders van Israel was oortuig hulle was so goddeloos, verhard en bestem om te val, dat hulle wanhopig was – dat hulle netsowel kon doen wat hulle wou.

Maar dierbare heilige, God sal jou nie laat staan nie! Op hierdie oomblik, stuur die Heilige Gees sendelinge na Rusland en ander voormalige Kommunistiese lande, waar hulle die goddeloses soek, hulle bearbei en hulle in Sy koninkryk inbring. Sou God ateïste najaag met Sy liefde – en jou, Sy kind, laat staan? Nooit!

Hoe was jy verlos van die mag van sonde toe jy jou aanvanklik tot Christus bekeer het? Was dit omdat jy ‘n groot gebedskryger was? Nee – dit was alles weens die barmhartigheid en liefde van Christus! Hy het jou van Satan se strik verlos, bloot omdat Hy jou liefgehad het! Die Bybel sê: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19).

Terwyl ek gewerk het aan hierdie boodskap, wou ek volgende sê: “Wanneer jy val, staan gou op en hardloop na Jesus. Bely dit alles voor Hom en vertrou Hom vir krag!”

Maar die Heilige Gees het vir my gewys dat voor jy terughardloop na Jesus toe, is daar iets wat jy moet doen. Dit is die rede waarom so min die oorwinning oor sonde behaal: Hulle hardloop terug na Jesus toe sonder om met hulle sonde af te reken!

‘n Ryk jongman het na Jesus gekom – en Jesus het vir hom vertel van die prys wat hy moes betaal: “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” Die Skrif sê Jesus het hierdie jongman baie liefgehad: “Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry” (Markus 10:21). Maar toe die jongman gehoor het wat die prys was, het hy “bedroef weggegaan.”

Jesus kan jou liefhê met alles in Sy ewige wese – en tog kan jy omdraai en van Hom af wegloop. Jy sien, jou sonde strek dieper as dwelms, alkohol, seks of dobbel. Dit het sy wortels in dinge soos bitterheid, afguns, woede – dinge wat jou hart en karakter beset.

Dit is steeds daar binne-in jou – en dit was nooit mee afgereken nie. Dit is waarom dit week na week, maand na maand, jaar na jaar te voorskyn kom! Dit vernietig jou getuienis en bring skuldgevoelens en veroordeling en vrees oor jou, soos dit moet.

Maar jy kry nooit oorwinning nie!

Ek het egter gevind dat daar ‘n weg is na hoop wat die Here voorsien. Dit is die volgende:

Op die laagste punt van jou mislukking, moet jy jouself eerlik die volgende drie vrae vra.

Wanneer jy in die middel van jou sonde is – steeds in die “skoot van Delila” – moet jy stop en jouself die volgende vra:

1. ”Hoe het ek hier gekom – so laag gedaal?”

2. ”Wat het met my gebeur – waarom doen ek dit?”

3. ”Watter mag het so ‘n houvas op my om my dit te laat doen?”

Ek het gevind dat as jy dit nie doen op jou heel laagste punt nie, sal jy dit nooit doen wanneer jy in die lig wandel nie!

Jy sien, reg nadat jy dit “gedoen het,” gee Satan vir jou ‘n valse gevoel van vrede – ‘n hel-agtige rus! Hy gee jou ‘n bietjie tyd om jou sonde te geniet, en alles is skynbaar in orde.

Maar die “nagloed” van sonde is tydelik – en dit is verblindend! Satan wil nie hê jy moet stop en aan God, die ewigheid of gevolge dink wanneer jy in die middel van jou sonde is nie. Daarom verblind hy jou vir alle skuld, vrees en veroordeling.

As jy egter ‘n gelowige is en steeds verslaaf is aan ‘n oorweldigende sonde, sal jy nooit vry word, totdat jy jouself hierdie vrae vra en die waarheid in die oë kyk nie. En die waarheid is dat ‘n bonatuurlike mag sy intrek geneem het – en dit het beheer oor jou geneem!

Ek hoor Christene sê, “Ek sukkel steeds met ‘n alkoholprobleem.” “Ek stry ‘n stryd teen dwelms.” “My probleem is wellus.” Nee – jou probleem is groter as dwelms, seks of alkohol. Dit is die duiwel self! Petrus sê, “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Jy stry nie teen ‘n probleem nie – maar teen ‘n persoon!

Jy vra, kan ‘n Christen duiwel-beheers wees? Dit hang af van watter soort Christen jy praat. As jy bedoel ‘n oorwinnende, regverdige gelowige wat waaksaam is en ‘n intieme wandel met Jesus het – nee, absoluut nee. Hy is veilig en beskermd en kan nooit binnegeval word deur duiwelse magte nie. Maar as jy praat van ‘n lui siel wat wegdrywe, wat nie in waarheid wandel nie, nie bid of die Bybel lees of God soek nie – ja! Sy hart is wyd oop vir demoniese magte!

As jy voortdurend in die duiwel se gebied ingaan, maak jy jou hart oop vir Satan en gee vir hom ‘n plek. Byvoorbeeld, Simson het vertrek na Gasa met die volle wete dat daardie dorp vol prostitute en bordele was. Hy kon homself dalk oortuig het, “Ek sal net verbyloop – ek sal niks doen nie. Ek is net nuuskierig.”

Die oomblik wat Simson egter deur die poort van Gasa geloop het, het die duiwel sy intrek geneem! Satan kon daarop aanspraak maak, “So lank as wat jy aan God se kant van die muur van vuur was, kon ek jou nie aanraak nie, Simson. Maar toe jy in my gebied ingeloop het, het jy daarmee vir my gesê jy wou hê wat ek jou kon bied. Jy sou nie hierheen gekom het, tensy jy gejeuk het vir wat ek het nie. Nou is jy in my gebied – en jy is hulpeloos. Ek het jou!”

Is dit wat met jou gebeur het? Elke keer wat jy pornografie opgetel het, of ‘n vuil film gekyk het, het jy teruggeloop na die duiwel se gebied – en jy het die deur van jou hart oopgemaak! Dit is ‘n oop uitnodigiing vir die duiwel om in te trek!

Jesus het baie duidelik gepraat oor hoe ‘n mens wat verlos is van die Satan se mag, weer oorwin word. Dit is omdat die hart nie reggestel is nie:

“En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste” (Matthéüs 12:43-45).

Geliefde, Jesus praat van ‘n hart wat gereinig is! Wanneer die bose gees terugkom, sien hy die hart wat skoon gevee is – maar daar was geen verandering nie. Dit was nie vol van die evangelie of met gebed nie; dit was soos hy dit agtergelaat het. Daarom bring hy sewe ander geeste slegter as hyself – en die toestand van daardie man se siel was sewe keer erger!

Toe Jesus dit vertel het, het Hy gepraat met diegene wat Hom gehaat het – en Hy het vir hulle gesê waarom hulle dit gedoen het! Baie van hierdie mense het hulle bekeer deur Johannes se prediking. Maar Satan het teruggekom met sewe keer die krag!

Hoe anders kon so ‘n godsdienstige volk hulle eie wet breek en ‘n onskuldige Man vermoor wie se enigste begeerte was om te red, te vertroos en hulle te verlos? Dit is omdat Satan hulle oorwin het! Hulle het totaal en al onder invloed van die duiwel opgetree, Satan het toegang verkry – en hy het elke daad gereël.

“Want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Petrus 2:19-21).

Dit is harde woorde! Petrus praat nie van dwelmverslaafdes, prostitute of straatsondaars nie. Hy praat van Christene wat besmet geword het met ‘n vals evangelie van vryheid – en oorwin is deur die duiwel.

Hulle het “die besmettinge van die wêreld ontvlug” (2 Petrus 2:20). Hulle kon sê, “Ek is vrygemaak – en ek maak aanspraak op Jesus se oorwinning!” Hulle het Christus aanvanklik waarlik gevolg.

Hulle het ‘n volkome “kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus” gehad (2 Petrus 2:20). Die Griekse woord vir “kennis” stel hier voor “ten volle, volmaak.” Hulle het Christus intiem geken!

Hulle het “die weg van geregtigheid” geken (2 Petrus 2:21). Hulle het ‘n geruime tyd saam met die Here gewandel – hulle was nie baba’s in Christus nie.

Hulle het “die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is,” gehoor (2 Petrus 2:21). Hulle is onderrig in die ware Woord van God – ware evangelie verkondiging en lering. Hulle het Sy beloftes en Sy oordele geken.

Hulle het “met julle (die gelowiges) saam[ge]smul” (2 Petrus 2:13) – menende hulle het nagmaal gehad. Hulle was by al die byeenkomste en het saam met die liggaam aanbid. En hulle het by die Here se tafel gesit vir die gemeenskapsmaaltyd van die kerk.

Hulle was nie groentjies wat ongeskoold was in die Woord van God nie. Hulle was ervare Christene. En tog sê Petrus hulle was deur Satan oorwin – menende “verwoes, geruïneer, in die put geval, verstrik in diep sonde” – heeltemal verpletter!

Het jy ‘n boesemsonde waaroor jy gebid het – maar geen krag om dit te oorwin nie? Indien wel, wat is dan die logiese gevolgtrekking, volgens die Skrif?

Dit is dat jy jou hart oopgemaak het en toegang vir die vyand gegee het!

Of dit nou deur geestelike luiheid, verwaarlosing, vashou aan ‘n hartseer, wat dit ook al mag wees – jy het die vyand toegang gegee en jy het nie daarmee afgereken nie. So lank as wat die vyand op die troon sit en die dinge dikteer, en jy sê, “Ek kan myself nie help nie, ek hou net aan om dit te doen!” – dan erken jy dat jy beheer verloor het.

Jy moet sien dat jy onder iemand anders se beheer is!

Jy kan nie Christus s’n wees deur belydenis – en tog die duiwel s’n wees in beoefening nie!

Jy mag bely jy leef vir Christus. Maar wat doen jy? Beoefen jy liefde vir Jesus – of vir sonde?

Een evangelis was onlangs geopenbaar vir rondgaan saam met prostitute – en hy het bely hy het dit jarelank gedoen! ‘n Ander bedienaar was betrap in owerspel – en hy het erken dat hy deur wellus gedryf was vir meer as vyf-en-twintig jaar.

Ek sê vir jou dat dit nie saakmaak hoe kragtig hierdie mans kon gepreek het nie, hulle was onder die heerskappy van Satan! Hulle probleem was nie ‘n swakheid of ‘n karakterfout nie. Dit was liewer die duiwel wat sy intrek geneem het, hulle beset het en hulle lewens gereël het.

Is jy verslaaf, gebind en nie in staat om jou sonde te laat staan nie? Wanneer gaan jy die waarheid in die oë kyk? Wanneer gaan jy sê, “Hierdie voortdurende teruggaan na ‘n groot sonde word deur die Satan geïnspireer – ek is onder Satan se heerskappy.

Jy sal nooit loskom totdat jy erken wat met jou gebeur het nie: Jy is beset! Die duiwel leef in jou, en hy dryf jou, oefen druk op jou uit – en hy sal nie rus totdat hy jou vernietig het nie!

Jy het ‘n volle en algehele verlossing nodig! Jy het nodig om Satan uitgedryf te hê – sodat hy kan uitbly!

As jy nie gewillig is om te erken dat jy oorweldig is deur die duiwel nie, sal jy aanhou soek na raad eerder as verlossing. Maar jy het nie nog meer raad nodig nie – jy moet vrygemaak word van Satan se mag. Hy moet uitgedryf word!

Jy kan verlos word vandag – op hierdie oomblik! Jy hoef nie meer onder die duiwel se mag te leef nie. Maar eerstens moet jy verstaan: Daar is geen vryheid van sonde totdat jy leer om dit te haat nie!

Die enigste krag wat sonde oor jou het, is die liefde daarvoor. Maar as jy genoeg gehad het van die skuldgevoel, vrees en veroordeling en kan sê, “Ek sal nie langer skande oor die Naam van Jesus bring nie” – dan kan jy opstaan in geloof en sê, “Duiwel, ek herken jou!”

Is jy gewillig om ‘n stand in te neem in die Naam van Jesus – om te erken, “Ek is oorweldig”? Dit gaan baie eerlikheid aan jou kant vereis. Jy moet in jou hart sê, “Ja, dit is ek! Ek het hierdie ding vir lank genoeg binne-in my, en dit moet gaan. Ek móét vrygemaak word!”

Nou, op hierdie oomblik, moet jy die hele hel in kennis stel dat jou Verlosser Jesus Christus gesterf en Sy bloed gestort het – en daarom het die duiwel nie meer mag of oorwinning oor jou nie: “Want sonde sal oor jou nie heers nie!”

Hier is wat jy moet doen:

1. Besef dat God jou liefhet – en dat Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur het om jou vry te maak van elke gebondenheid. Dit maak nie saak of jy in daardie gebondenheid was voor jy na Christus gekom het, of sedertdien nie. Hy het gekom om jou vry te maak!

Jy kan nie daar op jou eie sit en stry met die duiwel nie; jy het reeds gesien hy is te sterk vir jou. Maar die duiwel se stryd is nie teen jou nie – dit is teen Jesus! Jy moet net moedig opstaan en sê, “As gevolg van die Kruis!”

2. Lê alle vrese neer. Jy mag dalk vrees wat Satan met jou sal doen – maar hy het geen gesag om enigiets te doen nie. Die duiwel het dit wat verlossing is, verdraai – omdat dit in der waarheid bloot die gesag van Jesus Christus en Hom alleen is!

3. Stáán op dit wat die Woord van God vir jou sê:

* 1 Johannes 3:8 sê: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Jesus het nie bedoel dat jy vernietig word nie. Hy wil jou red – om jou te verlos en jou vry te maak!

* Hebreërs 2:14 sê: “Sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel.” Al jou verlossings het gekom deur die dood van Jesus Christus aan die Kruis!

* Kolossense 2:14 sê: “En die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.” Jesus het ‘n openlike tentoonstelling gemaak van Sy triomf oor Satan – deur Sy oorwinning op Golgóta!

4. Lê jou sonde heeltemal af – en vertrou Jesus om jou te help om dit af te sterwe. Spreek hierdie gebed tot Hom uit:

“Here Jesus, ek wil verlos word van my sonde. Ek laat die duiwel binnekom deur my wil – en nou verwerp ek my sonde deur my wil. Ek noem dit sonde, en ek vertrou U ten volle om my te help om dit te weerstaan. Nou vra ek U om my te was en te reinig. Ek vertrou op U Woord dat ek vergewe, gewas en vrygemaak is deur U bloed.

“Voor U Naam moet elke knie buig – alle dinge in die hemel, op die aarde en onder die aarde. So, in U Naam, weerstaan ek alle demoniese vestings in my lewe. En op die gesag van U Kruis, bid ek om verlos te word van die demoniese geeste wat my beheer.

“Duiwel, jy moet Jesus in die oë kyk – nie vir my nie, maar Jesus! Ek beveel hierdie vesting oor my om gebreek te wees, deur die bloed van Jesus en die oorwinning aan die Kruis. Ek verklaar ‘n openlike tentoonstelling en triomf oor jou – in Jesus se Naam!”

Lees nou hierdie belofte van die Here aan jou:

“Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken” (Psalm 91:14).

Rig nou jou liefde op Jesus. Dit is deur Sy Naam en Sy Kruis dat jy verlos is. Nie deur jou geroep nie, nie deur iemand wat vir jou bid nie – maar deur Sy Naam en deur Sy Kruis!

O God, ek bid vir die kosbare mens wat hierdie boodskap nou lees. Stort U barmhartigheid uit op hierdie kind van U wat vir so lank in slawerny gehou is. Werp die vesting neer, breek dit en vernietig dit in hierdie geliefde kind se lewe. En in Jesus se Naam, maak hierdie mens vry! Ek verklaar dat elke bose gees en demoniese gebondenheid nou moet vlug, in die Naam van Jesus. Verlos U kind!

Dank nou die Here – en bring eer aan sy Naam vir jou volkome en algehele verlossing vandag. Hy het jou lief – en Hy het die volle prys betaal om jou vry te maak!