So Word Ons Aanbidders

Exodus 14 beskryf 'n ongelooflike oomblik in Israel se geskiedenis. Die Israeliete het pas Egipte onder God se bonatuurlike leiding verlaat. Nou was hulle deur Farao se leërmag agtervolg. Die Israeliete is gelei tot in 'n vallei wat aan beide kante deur hoë berge omring was en voor hulle was die see. Hulle het dit nog nie geweet nie, maar hulle was op pad om die donkerste, stormagtigste nag van hulle lewens te beleef. 'n Angsvolle nag van paniek het hulle in die gesig gestaar en wanhoop sou hulle tot op hulle uiterste toets.

Ek is seker dat u hierdie hoofstuk in Israel se geskiedenis ken. Die meeste Christene weet wat by die Rooi See gebeur het, en hoe God sy uitverkore volk wonderbaarlik gered het. Tog mag u wonder wat hierdie gebeurtenis met die titel van my boodskap, "So Word Ons Aanbidders" te doen het.

Ek glo dat hierdie gedeelte alles te doen het met hoe God sy mense in ware aanbidders verander. Inderdaad, geen ander hoofstuk in die Bybel demonstreer dit beter nie. U sien, aanbidders word nie gemaak tydens herlewings nie. Hulle word nie gemaak in die goeie, gelukkige tye nie, ook nie in tye van oorwinning en gesondheid nie. Aanbidders word nie gemaak wanneer hulle die vyand op die vlug sien slaan nie. Die waarheid is dat ware aanbidders van God tydens donker, stormagtige nagte gemaak word. En hoe ons op ons storms reageer bepaal watter soort aanbidders ons is.

Hebreërs 11 beskryf die voorbeeld van Jakob in sy ouderdom: "Deur geloof het Jakob op sy sterfbed altwee seuns van Joself geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf" (Hebreërs 11:21). Waarom word Jakob op hierdie wyse op sy sterfbed uitgebeeld?

Eerstens moet ons oplet dat Hebreërs 11 bekend staan as die Bybel se "Eresaal." Jakob was maar net een van baie figure wat in hierdie hoofstuk gelys is as 'n voorbeeld van geloof wat ons kan navolg in hierdie laaste dae. Hier was 'n man wat deur storm na storm gegaan het. Hy en sy familie het traumatiese tye deurgemaak. Jakob self het deur baie persoonlike pyn en smart tydens sy jare op die aarde gegaan.

Nou het Jakob geweet dat hy aan die einde van sy lewe gekom het. Dit is waarom hy sy kleinkinders geseën het. So, wat doen Jakob as hy terugkyk na sy lewe? Hy word gedring om God te aanbid. Nie 'n woord word deur hierdie man geuiter nie. Tog, terwyl hy op sy staf leun en homself verwonder oor die lewe wat God aan hom gegee het, dan "aanbid" (11:21) hy.

Jakob het God op daardie oomblik aanbid omdat daar rus in sy siel was. Hy het bewys dat God sonder twyfel deur sy hele leeftyd getrou was. Jakob het waarskynlik teruggedink aan al die oorwinnings wat God hom om elke draai gegee het. En nou het die patriarg tot die slotsom gekom, " Dit het nooit saak gemaak watter stryd ek ook al deurgemaak het nie. Deur elke storm het God aan my bewys dat Hy getrou is. Met tye het ek gedink ek sou flou word van paniek en wanhoop. Maar die Here het my deur elke situasie gehelp. Hy was altyd getrou. O Here, Almagtige God, ek aanbid U!"

Ek skryf vandag hierdie boodskap aan almal wat die moeilikste tyd van hulle lewe in die gesig staar. Dit is bedoel vir hulle wat hulle teenwoordige beproewing as 'n donker, stormagtige nag beskryf. U is in die middel van uiterste beproewing. U beproewing mag so erg wees dat dit selfs 'n wonderbaarlike ingryping van God nodig het.

Ek wil vanuit die Skrif vir u wys dat die Here wil hê dat u uit die storm as 'n aanbidder kom. Hy het vir u 'n pad oopgemaak deur u donker nag. En hy beplan om u deur te dra sodat dit as 'n duidelike voorbeeld van sy getrouheid aan sy mense aan die wêreld kan dien.

Die Skrif leer ons dat die Here self hierdie donker, stormagtige nag vir sy mense georkestreer het. Eerstens was dit God wat hulle na die vallei by die see gelei het: "Toe het die Here met Moses gespreek en gesê: Sê aan die kinders van Israel dat hulle ... laer opslaan by die see" (Exodus 14:1,2). Dit was ook God wat Farao se hart teen Israel verhard het: "En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg" (14:4). Waarom sou God so iets doen?

Eerstens, sê die Here aan ons, "Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat ek die Here is" (14:4). Tweedens, God wou hê dat sy volk die woestyn wat voorgelê het, as aanbidders mnoet binne gaan. Dit is waarom dit vir hulle belangrik was om uit die Rooi See te kom met aanbidding in hulle harte. God wou nie murmereerders en kla-kouse hê nie, maar ware aanbidders. Hy het Israel as sy erfdeel benoem, die mense wat sy ewige doel op die aarde uitgebeeld het. Daarom moes hulle lewende voorbeelde van sy getrouheid aan sy mense in hulle moeilikste tye wees.

Hier is die prentjie: Israel het nou by die see kamp opgeslaan. Die mense het hulle tente opgeslaan en het in hulle nuutgevonde vryheid gejuig. Na vierhonderd jare van slawerny, het God hulle uit die ysteroond van Egipte gelei. En nou het hulle hul eerste smakie van vryheid geniet. Hulle was vol van die hoop wat vryheid bring en het gesing en uitgeroep, "Geen slae meer nie, geen vervolging meer nie. Ons is uiteindelik vry." Hulle was ook opgewonde oor die beloftes wat God aan hulle gegee het. Hy het basies aan hulle gesê, "Daar lê 'n nuwe dag vir julle voor. Ek het beloofte land wat vir julle lê en wag om binne te gaan."

Hierdie toneel verteenwoordig die Christen wat deur God van sy sonde verlos is. Die gelowige jubel in sy nuutgevonde vryheid, verlos van alle vorige bande. Skielik leef hy in 'n wondelike tyd van saligheid en verlossing. En hy het 'n heilige melodie in sy hart, want hy leef op God se beloftes.

Dit was Israel se geestestoestand toe hulle by die see kamp opgeslaan het. Die mense het besef dat God besig was om al sy woorde aan hulle te vervul. Hy het hulle uitgekies om sy erfdeel te wees en nou was Hy besig om hulle na Homself toe terug te bring. Hulle was op die punt om aanbidders te word en hulle getuienis sou dien as 'n helder lig wat oor die hele wêreld skyn.

Tog, in die uur van hulle grootste vrede, het die vyand gesoek om hulle te verskeur. Op die hoogtepunt van Israel se vryheid, tydens hulle uur van grootste hoop, het daar 'n aanval gekom. Die Egiptenare het onder Farao se bevel op hulle afgestorm gekom soos 'n brullende leeu. En hierdie demonies leërmag was vasbeslote om hulle weer in slawerny te neem: "En die Egiptenaars het hulle agtervolg - al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag - en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer by die see gestaan het" (14:9).

Die aankondiging het skielik en onverwags gekom: "Die Egipetnaars is hier! Farao se leërmag is besig om op ons af te storm. " Dit het skokgolwe deur die kamp gestuur. Israel se leiers het tot op 'n naby geleë heuwel, waar hulle gesien het hoe groot stofwolke van die massiewe opmars opgestyg het, gehardloop. Honderde perde en ruiters was aan die kom, gevolg deur legioene infanterie soldate. Die aarde het geskud van die harde gerommel van die 900 ysterwaens.

Wat 'n skrikwekkende gesig. Dit het alle hoop in die kamp laat verkrummel: "Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op , en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword" (14:10).

Ek vra myself af hoeveel Christene het al hierdie soort verskrikking op die hoogtepunt van hulle vrede in die gesig gestaar? Ek en my familie het dit verseker al ervaar. Ek onthou die skokkende telefoon oproep wat een nag gekom het en aan my vrou oorgedra is, "Jou broer is dood. Hy het skielik 'n hartaanval gekry." Of die verskriklike oproep wat gekom het oor ons kosbare kleindogter: "Tiffany het breinkanker." Ek dink aan die skokkende oproepe wat deur baie in ons kerk ontvang is: "Die klont wat jy voel is kwaadaardig. Kom spreek die dokter dadelik asseblief."

Dit was die tipe skielike, skokkende soort oproep wat Israel ook gekry het. Die Skrif teken die mense se reaksie aan: "Toe ... slaan die kinders van Israel hulle oë op ... en hulle het baie bang geword" (14:10). God se mense het hulle aandag gefokus op die skrikwekkende situasie waarin hulle was. En hulle het uitgeroep, "Dit is hopeloos. Ons is vasgevang. Ons gaan almal doodgaan."

Wat hulle toe gedoen het, vertel ons alles van Israel se status as aanbidders: "Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep" (14:10). Moenie verkeerd verstaan nie. Die mense se uitroep was nie 'n aanbiddingsroep nie. Die mense se uitroep was, "Waarom het U dit toegelaat, God? Na al daardie jare van slawerny het U ons verlos. Maar waarvoor? Om deur Farao doodgemaak te word? Na al ons pyn en smarte, is dit waar ons opeindig?"

"U het ons met hoop en verwagting gevul, U het ons verlos, U het groot beloftes aan ons gegee. Tog het U die vyand op ons laat afkom terwyl ons U Woord gehoorsaam het. Waarom het U so met ons gemaak? Dit was vir ons beter in Egipte. As dit is hoe dit eindig, is dit nie die moeite werd om U te dien nie."

Het u al ooit so gevoel? Het u ook so geklink in u uur van verskrikking? Het bitterheid in u opgekom? Het u geroep soos Israel, "Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek het gekies om u lief te hê, God. Ek het my bes gedoen om U Woord te volg en U te dien. Waarom behandel U my so? Al wat ek vorentoe kan sien is meer pyn."

God het aan Israel gesê om drie dinge tydens hulle beproewing te doen: "Vrees nie. Staan stil. Sien die verlossing van die Here." Sy oproep tot Israel was, "Ek gaan vir julle veg. Julle moet net kalm bly. Wees stil en plaas alles in my hande. Op hierdie oomblik is ek besig om iets in die bonatuurlike realm te doen. Alles is onder my beheer. So, moenie paniekerig word nie. Glo dat ek die duiwel beveg. Die geveg is nie julle s'n nie."

Gou het dit skemer in die kamp geword. Dit was die begin van Israel se donker en stormagtige nag. Maar dit was ook die begin van God se bonatuurlike werk. Hy het 'n wonderbare, beskermende engel gestuur om tussen sy mense en hulle vyand te staan. Ek glo dat God steeds beskerm engele stuur om 'n laer rondom almal, wat Hom liefhet en vrees, te trek (sien Psalm 34:8).

Maar dit was nie al nie. Die Here het ook die bonatuurlike wolk wat hy aan Israel as rigtingwyser gegee het, laat beweeg. Die wolk het skielik van die voorkant van Israel na die agterkant geskuif. En dit het as 'n pikswart muur voor die Egiptenaars gaan staan. Israel se vyand kon nie 'n sentimeter verby dit sien nie: "En die wolk was daar met die duisternis" (Exodus 14:20).

Tog, aan die ander kant het die wolk 'n bonatuurlike lig, wat aan die Israeliete die hele nag sigbaarheid gegee het, uitgestraal. "En dit het die nag verlig, sodat die een nie by die ander gekom het die hele nag deur nie" (14:20).

Liewe heilige, as u 'n bloed-gekoopte kind van God is, het hy 'n gevegsengel tussen u en die duiwel geplaas. En hy het u bevel gegee, net soos wat Hy aan Israel gesê het, "Moenie vrees nie. Staan stil. Glo in my verlossing." Satan mag teen u kom met elke bose dreigement. Maar op geen oomblik van u donker, stormagtige nag is die vyand in staat om u te vernietig nie.

Hoewel Farao se leërmag in totale duisternis was, kon hulle nog steeds hulle stemme verhef. En die hele nag lank het hulle leuens en dreigemente teenoor God se mense uitgeroep: "As hierdie nag verby is, is dit verby met julle, Israel. Môre word julle verslaan. Ons gaan julle terugneem in slawerny. En as julle probeer om teenstand te bied, sal ons julle vernietig. Julle God kan julle nie red nie. Julle kan maar net so wel nou al opgee."

Het u al ooit sulke stemme van die anderkant van die duisternis gehoor? Het die vyand van u siel u ore met leuens en dreigemente geteister die hele nag lank? Israel se tente het geskud van hierdie aanslag dwarsdeur daardie donker nag. Maar dit het nie saak gemaak hoe hard die vyand hulle gedreig het nie. 'n Engel het wag gestaan en hulle beskerm. En God het aan sy mense 'n belofte gemaak. Hy het al reeds aan hulle gesê dat Hy hulle sal red.

Onlangs het ek oos Europa besoek. Daar het ons dertig dae lank konferensies vir predikers gehou in verskeie lande. Teen die tyd dat ons ons finale vergadering in Budapest, Hongarye gehou het, was ek nogal moeg. Pas nadat ek daardie aand klaar gepreek het, het my hart begin klop. Ek het skielik erg begin sweet. Ek het besef dat ek nie die byeenkoms kon klaarmaak nie en het my seun, Gary, gevra om by my oor te neem.

Terwyl ek van die verhoog afgeklim het, het ek 'n stem in my ore gehoor: "Jy is besig om dood te gaan, David. Jy het nou net jou laaste preek gepreek. Voor die dag verby is, sal jou hart sy laaste klop gee." Dit was 'n stem van anderkant die donker muur. En dit was vol leuens, met die doel om vrees in my te produseer.

Toe ek by my hotelkamer kom, kon ek eenvoudig nie rus nie. Die dreigende stem was steeds daar. Dit het my herinner aan ander predikers waarvan ek weet wat doodgegaan het: "Ek het daardie pastoor vriend van jou neergetrek. En ek het daardie evangelis wat jy ken bygekom. Nou is jou bediening ook daarmee heen."

Praat van 'n donker, stormagtige nag. Daardie helse stemme het vir ure teen my gewoed. Uiteindelik het ek op my knieë geval en tot God geroep: "Here, wat gaan aan? Waardeur gaan ek nou? Help my, asseblief." Toe het die Heilige Gees aan my gefluister, "David, jy word aangeval. Dit is omdat jy die duiwel se koninkryk ontstel het. Honderde predikers is vernuwe en het weer vurig geword. Ek is tevrede met jou werk. Maar Satan is woedend. Maar, moenie bang wees nie. 'n Kragtige engel is tussen jou en die vyand geplaas. Jy is nie in gevaar nie. Wees net stil en rus in my."

Toe, verlede maand, het ek gesien hoe Satan van agter daardie donker muur praat. Die meeste lesers van my boodskappe weet dat my vrou, Gwen, al baie operasies vir kanker gedurende die jare gehad het. Sy het ook net een nier, omdat die ander een verwyder moes word. Elke keer wat ons 'n nuwe dokter sien, skud hy net sy kop in verwondering oor Gwen se lang mediese geskiedenis en haar wonderbaarlike oorlewing.

Onlangs het Gwen gestry teen 'n blaas infeksie. In die uroloog se kantoor het die dokter aan ons gesê, "Ek is bang om medisyne hiervoor voor te srkyf. Dit mag jou oorblywende nier beskadig." Terwyl ek na my vrou gekyk het, het trane in haar oë opgewel . En ek kon op daardie oomblik die stem in haar kop hoor: "Jou enigste nier gaan ingee. Dit is net 'n kwessie van tyd voor 'n volgende infeksie kom."

Nee! Het ek myself herinner. Soos ek later vir Gwen vertel het, "Liefling, jy het 'n engel tussen jou en daardie leuenagtige vyand. God is in beheer van jou jare. Dit maak nie saak watter stryd jou nou in die gesig staar nie, Hy het 'n plan vir jou. Jy is in die senter van sy wil, asook in die palm van sy hand. En Hy het al die mag om jou deur te dra."

Waarom het God toegelaat dat Israel deur so 'n stormagtig nag gaan, terwyl Hy so maklik net 'n woord kon spreek en die elemente sou kalmeer.

Gedurende daardie nag in Egipte het 'n storm getref. Die Skrif sê, "Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het deur 'n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur" (Exodus 14:21). Die Hebreeuse woor vir "wind" hier beteken "heftige uitaseming." Met ander woorde, God het sy asem die hele nag uitgeblaas. Israel se tentwonings moes seker heftig geskud het soos daardie magtige winde deur die kamp gewaai het.

Terwyl ek hier skryf, sien ons sulke magtige windkragte in die Californiese vure waai. Elke dag bring die media verslag van hoe hierdie onvoorspelbare Santa Ana winde die verterende vuurvlamme laat versprei. En daardie windstorms duur vir dae en selfs weke. Die skade wat hulle berokken is onberekenbaar.

Dit is die soort wind wat deur Israel se laer moes gewaai het. Die windstorm wat God gebring het, was so kragtig, dat dit begin het om die golwe van die see te verdeel: "'n sterk oostewind... die see droog gemaak; en die waters is gekloof" (14:21).

Wat 'n storm moes dit nie gewees het nie. En watter vreesaanjaende tyd moes dit nie vir Israel gewees het nie. Daardie woeste winde moes hulle vrees vererger het, terwyl hulle ook nog die vyand van agter die donker muur gehoor skreeu het: "Julle is nou so goed as dood. Selfs as julle die storm oorleef, sal julle ons nie oorleef nie. Julle en julle kinders gaan dit nie maak nie."

Ek vra u, wat was God se plan tot hier toe? Waarom sou Hy toelaat dat so 'n vreeslike windstorm die heel nag waai? Waarom het Hy nie net vir Moses gesê om die water met sy mantel te raak en die golwe bonatuurlik te kloof soos later met Elia en Elisa gebeur het nie? Watter moontlike rede kon God hê om so 'n aaklige nag te laat plaasvind?

Daar was maar net een rede: die Here was besig om aanbidders te maak. God was aan die werk die hele tyd, en Hy het die vreesaanjaende storm gebruik om 'n pad vir sy mense uit hulle krisis te maak. Tog kon die Israeliete dit nie op daardie oomblik sien nie. Baie het in hulle tente weggekruip terwyl hulle van vrees gebewe het en kwaad was vir God. Maar hulle wat buite was, het 'n wonderlike lig aanskou. Hulle kon die glorieryke gesig van golwe wat opeenhoop, magtige mure van water wat oprys om 'n droë pad deur die see te vorm, sien. Toe die mense dit sien, moes hulle uitgeroep het. "Kyk, God het die wind gebruik om vir ons 'n pad te maak. Prys die Here!"

Ek glo dat die bonatuurlike lig wat deur daardie wolk voorsien is, 'n prentjie is van God se Woord. Ons kan in 'n donker, stormagtige nag wegkruip terwyl ons God bevraagteken. Maar Hy het 'n lig aan ons voorsien sodat ons kan sien dat Hy besig is om vir ons 'n pad te maak. Inderdaad, dieselfde storm wat ons bang maak, is God se manier om vir ons 'n pad te maak vir verlossing. En Hy sal daardie pad gebruik om ons uit ons storm te bring. Maar om dit raak te sien, moet ons in die lig van sy Woord kom, sodat ons ons kan verlustig in sy verlossingswerk.

Toe die oggend gekom het, het die hele laer die wonder van wat die storm veroorsaak het, gesien: magtige waters het hoog aan elke kant gestaan. En voor hulle was 'n pad van droê grond, reguit deur die Rooi See. Toe het die Here hulle beveel om op hierdie droë pad, wat in die middel van die see deurgeloop het, te stap.

U mag dink, "Dit het nie vir Israel baie geloof gekos om te gehoorsaam nie. Per slot van rekening, hulle was op droë grond." Maar verbeel u hoe dit was om na daardie hoë watermure te kyk. Daar moes 'n Niagara-tipe hoeveelheid druk agter hulle gewees het. Die vraag was, sou daardie watermure hou? Die mense het seker gewonder, "Here, U het ons gebede tot hier toe verhoor. U het ons veilig tot hier gebring. Maar daar is nog baie gevare vorentoe. Sal U ons bewaar?"

Op hierdie punt, wou God hê dat sy mense sien dat Hy al die tyd vir hulle 'n plan in gedagte gehad het. Eerstens wou Hy hê dat hulle sien dat Hy al die tyd God vir hulle was. Hy wou hê dat hulle weet dat Hy hulle nooit sou teleurstel nie, dat Hy die hele wêreld (hulle vyande ingesluit) in sy almagtige hande het. Hierdie mense het alreeds sy seëninge ervaar. Hulle het gesien hoe sy beloftes elke keer volbring word.

Nou was daar die grootste toets van almal. Voor hulle was 'n pad wat hulle na veiligheid sou bring. In hierdie kritieke oomblik wou God hê dat sy mense na die mure kyk en glo dat Hy die water sou terughou totdat hulle veilig aan die ander kant kom.

Eenvoudig gestel, God wou hë dat sy mense geloof moes hê wat verklaar, "Hy wat hierdie wonderwerk begin het, sal dit klaarmaak. Hy het alreeds aan ons bewys dat Hy getrou is.

"As ons terugkyk, sien ons dat al ons vrese verniet was. Ons moes nie bang gewees het toe ons die Egiptenaars sien kom het nie. God het 'n bonatuurlike muur van duisternis opgestel om ons teen hulle te beskerm. En ons moes nie bang gewees het vir hulle dreigement deur die nag nie. Die hele tyd het God ons met 'n lig voorsien, terwyl ons vyande deur duisternis verblind was. Ons het al ons vrese gemors op daardie woeste winde, terwyl God al die tyd besig was om dit gebruik om vir ons 'n ontsnaproete te bewerkstellig.

"Ons sien nou dat God net goed aan ons wil doen. Ons sien sy krag en heerlikheid namens ons werk. En nou is ons vasbeslote om nie langer in vrees te lewe nie. Dit maak nie vir ons saak as daardie watermure meegee nie. Lewend of dood, ons is die Here s'n. En ons is altyd in sy hande. So, laat die golwe maar kom, as dit kom. Soos ons vader Abraham, sal ons kyk na 'n stad wie se bouer en maker God is."

Daar is 'n rede waarom God op hierdie tydstip hierdie tipe geloof vir Israel wou hê. Hulle was op die punt om 'n tog deur die woestyn aan te pak. En hulle sou gebrek, gevaar en lyding deurmaak. Daarom het Hy gesë, "Ek wil hê dat my mense moet weet dat Ek net goed aan hulle wil doen. Ek wil nie hê dat hulle elke keer moet bang wees dat hulle sal doodgaan nie. Ek wil mense hê wat nie bang is vir die dood nie, omdat hulle weet dat Ek betroubaar in alles is."

Daar was nooit 'n oomblik dat God daardie mure van water sou laat meegee nie. En hy wou aan hierdie kant van die see die mense se vertroue wen. Op daardie manier sou hulle veilig aan die ander kant uitkom, dit sou in Sy rus wees. Hy wou ware aanbidders hê, mense wat hom te alle tye kan prys, in alle situasies.

U sien, 'n ware aanbidder is nie iemand wat dans nadat die oorwinning behaal is nie. Dit is nie die persoon wat God se lof besing eers nadat die vyand verslaan is nie. Dit is wat die Israeliete gedoen het. Eers toe hulle aan die ander kant aangekom het, het hulle gesing en gedans en God geloof en sy grootheid geprys. Tog, net drie dae later by Mara, het dieselfde mense bitterlik teen God gemurmereer. Hulle was nie aanbidders nie - hulle was oppervlakkige aanroepers. Hulle het nie hulle liefdevolle Vader se geaardheid geleer tydens hulle swaarkry nie. Hulle het nie die liefde van hulle Almagtige Here te midde van hulle storm, begryp nie.

'n Ware aanbidder is eimand wat geleer het om God te midde van die storm te vertrou. Die persoon se aanbidding is nie net in sy woord nie, maar in sy leefwyse. Sy siel is te alle tye rustig, omdat sy vertroue in God se getrouheid, onbeweeglik is. Hy is nie bang vir die toekoms nie, omdat hy nie langer bang is om dood te gaan nie.

Ek en Gwen het so 'n onwrikbare geloof in ons kleindogter, Tiffany, gesien. Terwyl ons langs haar bed gesit het in haar laaste dae, het ons in Tiffany so 'n vrede, wat al ons verstand te bowe gegaan het, aanskou. Sy het aan my gesê, "Oupa, ek wil huistoe gaan. Ek het Jesus gesien, en Hy het aan my gesê dat Hy wil hê dat ek daar moet wees. Ek wil nie meer hier wees nie." Ons twaalf-jaar oue Tiffany het haar vrees vir die dood verloor.

Dit is die rus wat God vir sy mense wil hê. Dit is 'n vertroue wat sê, soos Paulus, en soos Tiffany, "Lewend of dood, ek is die Here s'n." Dit is wat 'n ware aanbidder maak.

Ek bid dat almal wat hierdie boodskap lees te midde van hulle storm kan sê, "Ja die ekonomie mag ineenstort. Ja, ek mag dalk 'n donker, stormagtige nag in die gesig staar. Maar God het Homself aan my bewys. Dit maak nie saak wat kom nie, ek sal rus in Sy liefde vir my."