Slangeiers Uitbroei

David Wilkerson

“Slangeiers uitbroei” is ‘n Bybelse term, nie ‘n grap nie, en dit het te doen om in heiligheid voor God te wandel. Jesaja die profeet, het die geheime oorsaak van die geestelike ineenstorting van God se kinders ontdek, en God het Jesaja beveel om ‘n deurdringede basuin teen hulle te blaas. “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Jesaja was beveel om die sondes te openbaar van God se volk, diegene wat Hom daagliks gesoek het, diegene wat hulle daarin verheug om Sy weë te ken en in geregtigheid te wandel, diegene wat lief was daarvoor om God te nader. “Wel soek hulle My dag vir dag en het ‘n behae in die kennis van my weë! Soos ‘n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het ‘n behae in die toenadering tot God” (Jesaja 58:2). Maar hulle gebede het nie deurgekom nie, en hulle gevas was verniet. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat al hulle offers, al hulle gebede, al hulle gesoek na God, niks uitgerig het nie. En inderdaad, God het Sy aangesig van hulle verberg. “Maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2).

Daar was ‘n goeie rede vir God se toorn. Sy volk het deur al die rituele gegaan; hulle was heeltyd in Sy huis. Hulle het al die regte woorde gesê: “Ons wil hoor van God en doen wat Hy vir ons sê.” Hulle het so gehoorsaam gelyk; hulle het so godsdienstig voorgekom. Maar hulle harte was verdeeld; hulle het God slegs met hulle lippe liefgehad. God het aan Esegiël geopenbaar die Jode “...sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle monde, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Eségiël 33:30-32). Dit is waarom God Jesaja beveel het om so hardop teen Sy eie volk uit te roep, diegene wat Hom skynbaar so ywerig gesoek het.

Watter sonde het veroorsaak dat God Sy teenwoordigheid teruggetrek het? Dit was die sonde van “slangeiers uitbroei” en “spinnerakke weef” (Jesaja 59:5). Die verstand is die baarmoeder van die hart, en gedagtes is saad of sperm. Bose gedagtes is slangsaad, wat eiers sal word as die saad nie dadelik vernietig word nie. God kyk na wat binne-in die baarmoeder van die verstand aangaan. Hy oordeel nie volgens uiterlike voorkoms nie; Hy beskou die hart. “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy...” (Spreuke 23:7). God se volk het Hom met lippediens aanbid. Hulle het ‘n harde amen uitgeskree vir elke oproep tot heiligheid; hulle het gelyk of hulle toegewyde liefhebbers van waarheid was. Maar hulle gedagtes was slangneste. Hulle neste was vol slangeiers, en hulle het in God se teenwoordigheid gesit, en bose gedagtes uitgebroei. Hulle gedagtes was vergiftig; hulle het aan afgode gedink. Hulle het spinnerakke geweef met slap verskonings om hulle in verbode dinge te verlustig. Hulle het gevas, gebid, God aangeroep, godsdienstige dinge gedoen, maar hulle gedagtes was nie gereinig nie. Gedagtes en wilde verbeeldingsvlugte was nie onder beheer gebring nie.

Daar is niks skadeloos of onskuldig oor bose gedagtes nie. As hulle nie dadelik neergewerp word nie, kan hulle die siel vergiftig. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:6-9). Sommige Christene laat die vyand bose gedagtes in hulle verstand saai, en laat dan die gedagtes talm, en julle doen niks daaromtrent nie, sonder om die gevaar te besef. Jesus vergelyk hierdie bose gedagtes met saad van onkruid, en “die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel...” (Matthéüs 13:39). Christene moet sulke gedagtes neerwerp so gou as wat dit verskyn. Christelike lewe sluit in “planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:5). Hierdie aktiwiteit word verbind met vers 4: “vestings neer te werp” (2 Korinthiërs 10:4). Bose gedagtes word vestings. Satan plant die gedagte, en hy is vasbeslote om dit lewend te hou en dit te beskerm totdat dit uitbroei en ‘n volgroeide slang word. Om bose gedagtes te vertroetel en te verdra, is om ‘n slang uit te broei. God beveel om dit te verbreek, neer te werp, en elke gedagte tot gehoorsaamheid te bring. Moenie dat een bose gedagte toegelaat word om rond te swerf soos dit wil nie. Gaan agter daardie gedagte aan, vang dit en maak dit dood.

Kwetsende gedagtes is die gevaarlikste

Dit is die eerste van drie maniere om slangeiers te bevrug en uit te broei wat ek sal bespreek. Wanneer iemand jou verjeerde verstaan en kwetsende dinge van jou sê, begin jy om daardie gedagtes oor en oor te speel in jou verstand? Indien wel, bevrug jy slangeiers. As voorbeeld, hierdie bediening kry sy deel van kritiese pos. Nadat ons verlede jaar se Kerskalender uitgestuur het, het ‘n heiligheidsprediker ‘n kriptiese nota teruggestuur: “Haal my af van julle poslys. Jy en jou vrou lyk na twee tipiese Pinkstermense.” Was ons glimlagte te groot? Het Gwen se serp hom gepla? Of miskien haar haarstyl? Verder word ek dikwels daarvan beskuldig om wanhoop oor die kerk te bring, om vol somberheid en bestraffing te wees. Een herder se vrou het gesê, “Ek het jou nog nooit sien glimlag in 25 jaar nie.” As ons sou broei oor al hierdie kwetsende stellings, sou ons slangeiers van bitterheid en afkeur bevrug en uitbroei.

Maar God sê, “Moenie daarmee speel nie – maak dit dood! Moenie baklei met jou aanklaers nie, moenie reageer nie. Laat alle gedagtes van selfregverdiging dadelik gestop word. As jy voortgaan met sulke gedagtes, as jy dit oor en oor speel, sal jy ‘n eier bevrug en ‘n slang uitbroei.” Die Bybel sê, “As dit stukkend gedruk word, bars daar ‘n adder uit” (Jesaja 59:5). Daar is moeders en dogters, vaders en seuns, wat vyande is. Daar is Christene wat nie met mekaar praat nie. Daar is sommige wat sê, “Ek kan nie vergewe wat gesê is nie. Ek kan nie daaroor kom nie.” Hulle het almal slangeiers uitgebroei, en die slange seil nou los deur hulle gedagtes heen, en versprei bitterheid en gif. Word jy maklik seergemaak? Kook jy van binne? Bekommer jy jou? Broei jy? Bly jy op in die nag en brand terwyl jy elke woord oorspeel? Jy is op ‘n baie gevaarlike plek, want jy sit op slangeiers, en broei gif en dood. Laat die hakskeen van Christus liewer die slang se kop verpletter. Ly verkeerdelik; verdra dit, sluk die seer. Werp die gedagte van haat en wraak neer; haal dit uit jou gedagtes uit.

Dink aan wat Christus gely het: “Kwaadwilige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my. Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel. En ek – toe hulle siek was, het ek ‘n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem. Ek het rondgegaan asof dit ‘n vriend, asof dit ‘n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur. Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou. Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my” (Psalm 35:11-16). En ook “My vyande spreek kwaad van my en sê: Wanneer sal hy sterwe en sy naam vergaan? En as iemand kom om my te sien, dan praat hy leuens; sy hart vergader boosheid vir hom; gaan hy uit na buite, dan spreek hy daarvan. Al my haters tesame fluister onder mekaar teen my; teen my bedink hulle my onheil en sê: Iets skandeliks is op hom uitgestort; en nou dat hy lê, sal hy nie weer opstaan nie. Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig” (Psalm 41:6-10).

Daar is menigte duisende wat uit die kerk weg is en die Here verlaat het, alles omdat bitterheid hulle opgevreet het. Iemand het iets kwetsend en onnadenkend gesê, en hulle was seergemaak. Toe het hulle daardie slangeiers van gekwetste gedagtes uitgebroei en die slang laat nesmaak in hulle harte. Nou kan hulle nie vergewe en vergeet nie. Die Bybel sê, “Die goddelose mense...die leuensprekers...het gif soos die gif van ‘n slang...” (Psalm 58:4-5). Leuens, insinuasies, en skinderpraatjies is almal baie giftig vir jou en my, as ons dit toelaat om ons harte binne te kom, as ons heeltyd daaraan dink, as ons onsself verdedig en smag na wraak. God het gesê, “...My kom die wraak toe, Ek sal vergelde...” (Hebreërs 10:30). As jy alle gedagtes van wraak sal uitwerp en sag bly, en alle bose gedagtes gevange neem, sal jy lewe om die dag te sien waarop God die boeke balanseer. En dit sal wonderlik wees. Jy sal so bly wees jy het nie die sake in eie hande geneem nie.

Speel jy oor en oor al die verskriklike dinge wat oor jou gesê en aan jou gedoen is? Hierdie gewoonte kan jou vernietig. Vergewe! Vergeet! Laat die Woord van God dit alles skoon was.

Tweedens, talle Christene broei uit gewoonte die slangeiers uit van verlammende vrees, die vrees wat foltering, verwarring en angs bring. Daar is te veel soorte vrees selfs om te begin om op te noem, maar alle vreesagtige gedagtes is noodlottig as dit nie uitgewerp en doodgemaak word nie, want  hierdie soort saad ontwikkel tot die giftigste van alle slangeiers. Byvoorbeeld, ek het ‘n vriend in Texas gehad, ‘n perfeksionis, wat grootgeword het terwyl hy onsukselsvol probeer het om sy vader te behaag. Die gevolg was dat hy gevrees het dat hy nooit sy baas of sy familie kon tevrede stel nie. Ek het hom dikwels beraad, maar die vrees van mislukking het in sy gedagtes uitgebroei, en hy kon dit nie afskud nie. Hy het buierig en bitter geword. Hy het gedink dit was selfs te moeilik om God te behaag. Uiteindelik het hy ‘n haelgeweer teen sy maag gedruk en sy lewe beëindig. Nou is sy seun dieselfde.

Soveel vroue word geteister deur gedagtes van hulle mans verloor, en vice versa, want hulle hoor van so baie vriende wat skei, selfs bedienaars. Hulle lewe in die voortdurende vrees van, “Sal ek volgende wees?” Ouers vrees om hulle kinders aan dwelms te verloor. Hulle sien hierdie geslag hel toe gaan en wonder, “Hoe kan ek my seun of dogter weerhou van al hierdie verwarring? Sal die skole hulle infekteer met humanisme? Sal ek eendag opstaan om te ontdek my seun of dogter is koud en bitter teenoor God?” Ander vrees hulle gaan hul werk verloor en wonder of die ekonomie en alles in duie gaan stort en indien wel, wat gaan hulle doen, hoe gaan hulle lewe, hoe sal hulle die rekeninge betaal, en hoe sal hulle eet? Talle vrees om nooit hulle plek in die lewe te vind nie, “Sal my lewe tel? Sal ek nuttig wees? Ek word ouer, en dit lyk nie of ek indruk maak nie. Ander steek my verby. Waarheen gaan ek? Wat is my toekoms?” Vir baie is daar die vrees vir ‘n terminale siekte, soos VIGS of kanker. Met elke klont wat hulle voel, dink hulle, “Kanker!” Ander dink, “Wat as ek oud en siek word met niemand wat my liefhet of versorg nie?”

Talle Christene sit op ‘n neseier van vrees. Hierdie gewoonte om vreesagtige gedagtes te vertroetel, moet stop voor dit jou vernietig, jou vergiftig, jou hulpeloos en verlam laat. Vergeet van al die formules oor hoe om vrees te oorwin; die Bybel het geen vier-stap program om vrees te oorwin nie. Maar God sê wel vir jou wat om te doen wanneer hierdie skrikwekkende gedagtes jou verstand binnekom. Jy is in ‘n geestelike oorlog in hierdie saak; dit is nie kinderspeletjies nie; dit is ‘n lewe en dood kwessie.

God het vir Moses beveel om nie die vreesagtiges in die oorlog in te stuur nie, “...Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie”  (Deuteronómium 20:8). God sien gedagtes van vrees as baie aansteeklik en baie afbrekend. Die vreeagtiges en lafhartiges het nie God se Woord geglo nie; hulle het getwyfel in Sy beloftes van verlossing. God het gesê, “...Julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie; want die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee” (Deuteronómium 20:3-4). God het Sy kinders voorberei, hulle waarskuwings gegee dat dinge skrikwekkend en hopeloos sou lyk, dat hulle “...perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God...is met jou” (Deuteronómium 20:1).

Het God jou ooit gefaal? Het Hy jou ouers gefaal wat deur die laaste groot depressie gegaan het? Het Hy hulle wat Hom vetrou het deur ‘n wildernis gebring? Dit is God se antwoord aan almal wat vrees: “Wanneer die kanse hopeloos lyk, wanneer dit lyk of jy oorweldig is met geen ontsnapping of teken van hulp nie, moenie vrees nie, want Ek is God en Ek is met jou om jou te red.” Of, in die woorde van die Psalmis, “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:5). Is God met ons of nie? Is Hy ‘n liefdevolle hemelse Vader wat al ons hare tel? Sal Hy Sy eie geliefde kinders verlaat? Die sondigheid van vrees is dat dit God beskuldig van verwaarlosing. Dit beroof ons van vertroue in Sy liefdevolle sorg en ...... Werp alle vrees uit. Bring elke gedagte gevange tot die gehoorsaamheid van die Here Jesus.

Gedagtes van wellus

Uiteindelik, is daar die gedages wat eindig in sensuele, hoerery aksie. Dwelmverslaafdes getuig dat hulle maklik hulle fisieke gewoonte kan stop, maar nie hulle verstandelike gewoonte nie, want hulle gedagtes hou aan om ou gedagtes oor en oor te speel, slanggedagtes. Ek  het ‘n vriend en personeellid gehad wat ‘n vriendelike, liefdevolle vader en man was. Hy het marijuana begin rook op sewe jarige ouderdom in sy vader se motorhuis; vir 25 jaar was hy verslaaf. Hy het tot bekering gekom, maar hy het keer op keer aangehou terugval. Hy het sy gewoonte verskoon deur te sê dat die dokter vir hom gesê het dit kon sy asma help. Hy het dosyne kere hom bekeer; hy het geween; hy het uitgeroep om genade. Hy het na ‘n spesiale program in die midde-weste gegaan, en dit het goed gegaan vir ‘n jaar. Maar marijuana was nooit uit sy gedagtes nie. Hy het teruggegaan huistoe, het sy twee seuns betrokke gekry en sy vrou verlaat. Vandag is sy hart hard, en hy is verlore omdat hy slangeiers uitgebroei het. Sy gedagtes was nooit gereinig nie. Hy het na die vyand gekyk en opgegee. Hy het Satan se ysterwaens gesien en gesê, “Ek sal dit nooit maak nie!” maar oorgegee in vrees.

Waarom gaan so baie wat verlos word terug na hulle ou gewoontes? Waarom is die greep van sonde nie gebreek nie? Want, wanneer bose gedages later geplant word deur leuengeeste, word hulle nie dadelik neergewerp nie. Laat ‘n enkele wellustige begeerte in die gedagtes bly vir 30 sekondes, en dit sal jou beset. Gou word dit ‘n eier, met ‘n slang wat wag om uit te broei. Dit is waarom God se Woord letterlik uitroep, “Werp die bose gedagte neer!” Moenie met die gedagte flankeer nie; moenie dit ‘n vatplek gee nie. Hardloop na die Here; hardloop na Sy Woord; roep uit vir ‘n skoonmaak van die gedagtes. Laat die vrees van God elke bose gedagte uitdryf, want as dit bevrug word en ‘n eier word, sal dit uitbroei en die verstand sal gebyt en vergiftig word. So gou as enige bose gedagte kom, moet die Christen sê, “Dit kan my doodmaak. Dit sal my vernietig. Dit is dodelik. Ek kan my lewe en siel verloor as ek daarmee flankeer.” Die Christen moet besef, “Hierdie gedagte is nie myne nie; dit is nie natuurlik nie; dit is nie my vlees nie; dit is nie net ‘n ou begeerte wat terugkeer nie. Dit is Satan self. Dit is ‘n leuengees uit die hel, gestuur om my te mislei en te vernietig.” Die Bybel belowe, “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Jy moet hom in jou gedagtes weerstaan op die eerste gedagte van boosheid.

Die verskriklike gevolge van slangeiers uitbroei

God kan duidelik openbaar wat met mense gebeur wat beheer word deur bose gedagtes. Eerstens, “Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle harte” (Jesaja 59:7). Jesaja het ‘n volk aangespreek wat vry was omdat hulle hul bekeer het van hulle goddeloosheid. Hulle het gejuig in ‘n nuutgevonde oorwinning en vryheid. Maar toe Satan teruggekeer het en die bose saadgedagtes laat val het, het hulle dit nie neergewerp nie en daarom het die slang voortgekom. Niks kan sulke mense nou keer nie – geen vriend, geen argument, geen Bybel, geen profeet nie – want hulle is vasbeslote om boosheid te doen, en hulle hardloop na goddeloosheid. Vermorsing en verwoesting lê op hulle pad. Almal wat onskuldig is, ly skade.

As voorbeeld, ek ken ‘n vrou wat siek was met keelkanker in ‘n hospitaal in Houston; ‘n deel van haar keel was verwyder is en ‘n klein gaatjie is gelos waardeur sy kon asemhaal. Op haar pad na die operasiesaal vir ‘n tweede operasie, het sy gesmeek vir ‘n sigaret en die rook ingesuig deur die gaatjie. Daar is geen menslike krag wat mense kan keer op hulle pad om hulle te verlustig in hulle begeertes nie. ‘n Bedienaar se vrou in Illinois het onlangs weggeloop saam met ‘n jong misdadiger, en twee huilende kinders en ‘n gebroke man agtergelaat. Maar daardie huilende kinders kon haar nie keer nie. Sy het na haar begeerte gehardloop.

Tweedens, mense beheer deur bose gedagtes verloor alle vrede en onderskeiding. “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8). Hulle word die mees ellendige mense in die land. Niks stel hulle nou meer tevrede nie. Waarom? Omdat hulle van beter weet. Omdat hulle eens heerlike vrede gesmaak het. Maar nou is hulle skelm en alles in hulle lewens gaan verkeerd. Niks is reg nie. Hulle werk versuur. Hulle huislewe is heeltemal deurmekaar. Hulle steel en roof die vrede van geliefdes: “...Niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8). Waarskuwing! Gaan nooit saam met ‘n man of vrou wie se voete nou na boosheid hardloop nie. Dit sal die regverdige maat alles kos. Staan op, sodat die ander een oortuig word van sonde.

Derdens, die verstand wat beheer word deur bose gedagtes word uiteindelik blind en vol ontsettende duisternis. “Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ‘n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense” (Jesaja 59:9-10). Die koudste, hardste harte in die hele wêreld behoort aan diegene wat eens liefdevol, oop en gelukkig in hulle kennis van die Here was. Nou, weens wat sonde aan hulle gedoen het, wil hulle nie van Hom hoor nie; hulle is volslae vreemdelinge vir Hom. So is dit met ‘n voormalige evangelis, wat eens voor duisende gepreek het. Ek het hom onlangs in my kantoor gesien, waar hy die ruimte ingestaar het met ‘n verlore, veraf kyk in sy oë. Ek ken ‘n ander evangelis wat sy bediening verloor het as gevolg van ‘n homoseksuele aanklag. Nou is hy soos ‘n zombie; wanneer jy met hom praat, is dit asof niemand daar is nie. Hulle weet hulle was verkeerd, maar hulle het aangehou dieper en dieper in sonde ingaan, en hulle het die waarheid in die grond ingetrap.

Vierdens, hulle ontwikkel ‘n baie veranderlike “Jekyll en Hyde” persoonlikhede. “Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend...” (Jesaja 59:11). Een oomblik is hulle gereed om vriend of vyand uitmekaar te skeur – gemeen, gewelddadig en kwaad. Die volgende uur roep hulle uit, “Ek is so jammer! Ek het dit nie bedoel nie; help my asseblief.” Israel, nadat hulle slangeiers uitgebroei het, het soos ‘n woedende beer geword en ‘n droewige duif teenoor God en mekaar. Hulle het van gewelddadige, humeurige uitbarstings tot sentimentele droefheid gegaan. Vandag bly vroue by mans wat hulle slaan, omdat hulle soms so goed en sag is. Maar God wil niks met hierdie op en af buie te doen hê nie. Hierdie wilde buie wisselings, beteken daar is sataniese gif aan die werk. Die Gees van Christus is altyd sagmoedig, liefdevol, vriendelik, en lydsaam. Nooit gewelddadig nie. Nooit brommend soos ‘n beer nie.

Daar is waterdigte beloftes van God, absolute versekerings dat geen bose gedagte op enige manier in enige Christen hoef te ontwikkel en ‘n slang word nie. “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U” (Jesaja 26:3). “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed...” (Romeine 12:2). “Daarom, omgord die lendene van julle verstand...” (1 Petrus 1:13). “Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom...Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie...Die HERE is jou Bewaarder...Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar; Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid” (Psalm 121:1-8).