Satan wil jou vernietig

Geliefdes ons is in ‘n lewe en dood stryd gewikkel om ons geloof te behou. Satan is vasbeslote om die geloof van God se uitverkorenes te vernietig; hoe sterker jou geloof is hoe hewiger sal die aanval wees.

‘n Christen met onwankelbare geloof word in die hel gemerk as vyand No.1! Die rede hiervoor is: deur die krag van die geloof word koninkryke omvergegooi; word geregtigheid gebore, word God se beloftes verkry, word die bekke van leeus gesluit, die sataniese vuur word geblus en daar is ontvlugting van die swaard. Uit swakheid word krag verkry vir die gelowige, en word die duiwel se magte verdryf. Hierdie getroues wek die dooies op, gee nie in onder marteling nie, ly gewilliglik spot, slae, stenigings en as hulle in die gevangenis opgesluit word, sing hulle. Die geloof ondersteun hulle wat dit besit.

As die geloof verbrokkel of verlore raak, word gelowiges swak en draai na afgodery en boosheid. Paulus waarsku dat sommige afgedwaal het van die geloof. Hy vermaan Timotheüs om die goeie stryd te stry; “… en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hule weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Timotheüs 1:19).

Hy waarsku Timotheüs: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Timotheüs 4:1). Saam met Timotheüs, waarsku Paulus die kerk. “… wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Timotheüs 2:18).

Petrus het onder ‘n vreeslike aanval van Satan teen sy geloof gekom. Sy geloof het die hel so woedend gemaak, dat die duiwel verlof gevra het om hulle te mag sif, soos koring. “En die Here sê: ‘Simon, Simon, kyk die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sig. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk’” (Lukas 22: 31-32).

Voorspoed was van altyd af ‘n faktor wat geloof geskud het. Net voor Moses gesterf het, het hy die feit betreur dat God se volk die geloof verlaat in tye van voorspoed. In sy laaste woorde sê hy vir Israel: “Die Here was julle rots! Julle was sy erfenis. Hy het julle in die woestyn gekry. Hy het julle uitgelei en bewaar soos die appel van sy oog. Soos ‘n arend het Hy sy vlerke oor julle oopgesprei. Die Here alleen het julle gelei, want daar was geen vreemde gode onder julle nie. Julle is die opbrengs van die land; julle het heuning uit die rots geëet: julle het ‘n oorvloed van olie gehad, botter, melk, skape, beeste, bokke en ramme, en julle het suiwer druiwesap gedrink. Maar julle het hoogmoedig geraak, terwyl julle geseën was en het lui en hard geword. Julle het al sy goedheid as vanselfsprekend aanvaar en julle geloof verloor.”

En die Here het dit gesien en hulle het sy weersin opgewek. “Jy mag jou broer geen rente oplê nie, rente van geld, rente van eetware, rente van enigiets wat ‘n mens teen rente uitleen nie. Die uitlander mag jy rente oplê, maar jou broer mag jy geen rente oplê nie, sodat die Here jou God jou kan seën in alles waar jy jou hand aan slaan in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem” (Deuteronomium 32:19-20).

Toe Israel sy geloof verloor het, dit opsy geskuif en haar eie pad gevolg het, het alles verander. God het sy seën teruggetrek. Van toe af sê God. “Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal ek op hulle wegskiet”.

Dit is presies wat tans in Amerika gebeur. Ons het daardie volk geword, in wie geen geloof is nie. Eenmaal het ons op God vertrou: Ons het sy Naam op ons munte gesit; ons het eendag per week aan sy Naam gewy, (in die dae van Sondagse “blue laws”). Ons het Hom aanbid in ons skole, in ons howe, en in die Kongres, want dit was ‘n volk “onder God.” As gevolg hiervan het ons al die seën ontvang waarvan Moses gepraat het.

Maar nou het ons geloof in Hom verwerp, in die plek daarvan het wellus en hebsug gekom, asook alle vorme van boosheid. Deur dit te doen, bespot ons die Bron van ons seëninge. Vrydag, die 13de Oktober 1989 het die Aandele Mark met 190 punte geval. Dit was twee jaar (op ‘n paar dae na) na ‘n waarskuwing van God oor soortgelyke omstandighede (19-21 Oktober 1987). Die San Francisco aardbewing het ‘n paar dae later gevolg.

Nou kom die waarskuwings van Moses oor ons. God gaan probleme oor ons pad laat kom, Hy gaan pyle oor hierdie volk afstuur soos nooit tevore in die wêreldgeskiedenis nie. Ek glo dat God hierdie volk gaan tugtig en Amerika op sy knieë gaan bring.

Die geslag wat in “Wall Street” geoordeel gaan word, is die “Woodstock” geslag wat hulle rug op die maatskappye en materialisme gedraai het, want niks bevredig hulle meer nie. Woodstock dien as ‘n simbool van hierdie geslag, waar 450,000 jongmense bymekaar gekom het, verdoof deur verdowingsmiddels en hulle musiek – terwyl hulle “vrede” soek! Hulle het na iets gesoek wat hulle innerlike honger kon voed. Daardie geslag het halfdood ten einde gekom, terwyl die wat oorgebly het, hulle na “Wall Street” met sy materialisme en hebsug gewend het. Nou het daardie geslag hulle verdowingsmiddels na “Wall Street” gebring, waar daar nou net soveel verdowing is, as op die strate.

Vir my lyk Amerika soos ‘n pasiënt op ‘n operasietafel tydens ‘n hart-operasie. Baie snydokters is besig om bloedvate af te bind, maar net sodra hulle dink hulle is klaar, bars die hoof slagaar en daar is ‘n bloeding. Ek glo dat Amerika reeds aan so ‘n ernstige bloeding ly, alhoewel baie probeer om dit te stop, gebeur daar presies met ons ekonomie dit waarteen ons lankal waarsku. Die ysterjuk wat nie verbreek kan word nie, is alreeds op ons nekke. Die Amerikaanse lewenswyse soos ons dit ken, gaan vir altyd verander.

Onlangs het ons ‘n opstand in een van New York se tronke gehad. Die kombuis is opgeknap en die gevangenis het ‘n koue ete gekry, wat hulle verontwaardiging gewek het. Hulle het die vensters oopgemaak, die kos uitgegooi en dinge begin verbrand. Dit alles omdat hulle ‘n koue maaltyd ontvang het!

Wat gaan gebeur as ons opvoedings-inrigtings begin sluit en ons jongmense nie meer geld het vir sportskarre, klere, bandspelers en al die ander luukshede waaraan hulle so gewoond is nie? Hulle het nog nooit armoede geken nie. Ek het onlangs ‘n droom gehad, soos nog nooit tevore in my lewe nie. Ek was besig om te vra dat die Here met my sal praat, eers deur sy Woord, dan deur die profetiese werking van die Heilige Gees en deur drome, vir die eenvoudige rede dat ek beter sal verstaan wat Hy vir my wil sê. Dit is die droom”

Ek het hier in die strate van New York geloop (ek dink dit was New York, omdat die geboue so hoog was), die omgewing was grys, donker en lelik. Ek het op die sypaadjie geloop en op slote afgekom wat gevul was met jongmense, soos studente. Hulle liggame was kruis en dwars, vier of vyf oormekaar gestrooi. Die wat onder gelê het, se koppe was half in die modder wat in die sloot was. Ek het gedink, “hulle verdrink in daardie gemors!” Ek het gedink hulle is almal dood, maar daar was nog beweging. ‘n Vinger het hier beweeg, ‘n duim daar; hulle was lewendig, maar verdoof. Af en toe het een van die wat bo gelê het, half orent gekom, ‘n boek oopgemaak en daarna gekyk, maar dan weer lui gaan lê. Ek het besef dat hulle studente was! Toe is al die boeke toegemaak en ek het begin ween, terwyl ek roep: “O, God, kyk na hulle! Hulle lê oral in die rioolsloot, wat het met hulle gebeur? Hulle sterf! Niemand studeer nie, niemand werk nie! Niemand eet nie! Hulle sterf.

Geliefdes, die komende oordeel gaan ons jeug meer tref as enige ander groep. Die meeste van hulle het geen swaarkry ooit geken nie; hulle kon alles kry wat hulle wou hê. Ons gaan opstande en brandstigting sien onder ons jongmense.

Ek glo wat die Skrif sê is duidelik. God se oordeel het begin. In plaas van ons skielik te tref, het God gesê: “Ek sal moeilikheid oor hulle laat kom en hulle met pyle tref. Soos ek dit sien, sal die moeilikheid geleidelik toeneem. ‘n Slegte gerug hier, ‘n ander een daar en dan skielik ‘n vloed van alle kante. Dit mag ‘n jaar neem voordat julle dit voel. Hierdie moeilikheid sal nie die gemiddelde werker tref, soos dit die welgesteldes sal tref nie. Baie van julle wat gekla het dat julle ‘n doodgewone werk het, sal dankbaar wees daaroor, want baie wit-boordjie werkers gaan baie ly.

Dieselfde beginsels om geloof in God te behou, geld vir elkeen persoonlik, soos dit vir ons volk geld. ‘n Mens weet nie wat probleme is nie, totdat jy die geloof dat God jou liefhet, verloor nie. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is, en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

As jy geen geloof het nie, raak jy sarkasties teenoor die Here. Die dissipels was in ‘n stormgeteisterde boot, terwyl Jesus lê en slaap het. Hulle het Hom wakker gemaak en gesê: “Here, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Hulle beskuldig Hom van liefdeloosheid. Jesus het die storm stilgemaak. “Toe sê Hy vir hulle: ‘Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?’” (Markus 4:40).

Sommige van julle is in die grootste storm van julle lewe en dit vererger daagliks. Geen geld, geen werk, die golwe oorweldig jou. Dit lyk asof die Here slaap? Binne-in jou is ‘n woedende see wat niks kan stilmaak nie!

Het jy nog geloof oor? Of sink dit stadig weg met elke nuwe probleem? Praat jy in jou hart, sarkasties met God? “God, gee U nie om nie? Gaan U niks doen nie? Gaan U my laat verdrink onder die moeilikheid?”

Geen wonder dat Jesus hierdie vreeslike woorde uitspreek nie, “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7-8).

Ek wonder soms hoe Jesus hierdie woorde kon sê, as ek sien hoeveel Charismatiese en Evangeliese mense kerk toe gaan. Maar sal hulle geloof stand hou as die moeilike dae kom? Eindelik sal die probleme so ophoop en God se pyle van oordeel sal mekaar so vinnig opvolg, dat baie die geloof sal verloor. Sal Hy jou sonder geloof vind in hierdie uur? Satan het ‘n goed beplande strategie om jou geloof nou omver te werp.

“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18). Petrus se waarskuwing het waar geword.

Satan neem krediet daarvoor wanneer God sonde in die kerk openbaar – sodat dit voorkom asof boosheid nie beheer kan word nie. Al die oopvlek van die kwaad, in die afgelope tyd, was nie die werk van Satan nie. Dit was God wat geoordeel en gereinig het. Satan sou hierdie boosheid wou toelaat, want hy wil die dubbele standaarde hê om ‘n fondament van boosheid in die kerk te behou. Die Gees van God het skielik die spreiligte van die hemel aangeskakel en die engele gestuur om die kwaad uit te skud.

‘n Liewe broer het gevra; “Wie is volgende? Dit lyk asof elkeen wie ek vertrou het, elkeen wat ek gedink het wat heilig leef, onthul is vir walglike geheime sonde. Wie kan ek nou vertrou?” Jy vind uit dat sommige evangeliste en pastore nooit oorwinning kry oor ‘n verslawende sonde nie. Jy hoor van jare se verslawing aan pornografie, geheime drank gewoontes, perversie en jare se toegee aan versoekings – terwyl hulle die oorwinning van Jesus preek!

Nou kom Satan en hy maak asof hy verantwoordelik is vir die skoonmaak van God se huis. Hy probeer om sonde as onoorkombaar voor te stel. Sy een groot leuen is: “Almal doen iets verkeerd. Almal leef ‘n leuen. Jy gaan ook val. As die sterkes dit nie kan maak nie, kan jy ook nie.”

God het vir ons ‘n sterk wapen gegee om teen hierdie soort aanval te gebruik. “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons elke las aflê en sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1).

Moenie na hulle kyk wat val nie. Hou jou oë liewer op die “groot wolk van getuies” wat die stryd volstry het! Hierdie vers verwys na ‘n wolk van oorwinnende Christene uit alle eeue wat ons dophou, en ons aanmoedig in ons resies. Luister hoe roep hulle, “Los daardie sonde; daar is oorwinning! Ons het gewen! Ons het tot die dood geveg en oorwin, want God het ons vasgehou! Ons geloof het nooit verkrummel nie! Hardloop met geduld, hou vol, die waarheid sal seëvier! Ons is oorwinnaars!

‘n Paar predikers val. Al is dit ook ‘n paar duisend! Selfs die wat jy vertrou het! Beteken dit dat die duiwel wen? Beteken dit dat daar net ‘n paar sal wees wat oorwin? Kyk op, na die wolk van getuies almal in wit geklee!

Was dit die moeite werd? Vra Noag. “My hele geslag het geval! Net 8 van ons het die geloof behou, maar het ons vir 120 jaar volgehou ondanks die geweld, die sonde en die hoon. Jy kan ook oorwin.”

Sê vir die duiwel, “As sonde so magtig is, as jy sê almal is bedrieërs, wat dan van daardie groot wolk? Waar kom hulle vandaan? As sonde so sterk is, hoe het soveel vry geraak? Kyk na daardie groot leër van oorwinnaars … hulle wuif palmtakke, en dra krone van geregtigheid. Hoe het hulle dit reggekry?”

“Satan, jy het hulle huise besteel en besoedel. En jy het jou handlangers gestuur om hulle kinders in die riviere te gooi. Jy het hulle met swepe geslaan. Jy het hulle in stukke gekap, hulle deurboor. Hulle gehang, hulle kele afgesny, en tog het hulle nie gebuig nie. Hulle het die geloof behou.”

Al God se profete het so ‘n suiweringsproses voorspel. “Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sagaria 13:9). “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die Here in geregtigheid ‘n offer sal bring” (Maleagi 3:2-3).

God sê vir Jeremia; “Is my woord nie so soos ‘n vuur, spreek die Here, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?” (Jeremia 23:29), en Jeremia sê: “En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9). God stuur weereens ‘n vurige, suiwerende Woord so warm soos die kole op die altaar! Hy verhoog die hitte. Julle sal dit meer-en-meer sien, as God sy profete gereinigde instrumente stuur. “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie”.

As silwer of goud deur die vuur gereinig word, kom alle onsuiwerheid, alle allooi, swakker metaal, vuilheid, klein stukkies afval na die oppervlak. Satan kom ook kyk as God jou in hierdie suiwerings proses het, as jy onder sy vuurwarm Woord sit. Terwyl die onreinheid na die oppervlak kom en al die korrupsie deur die vuur gaan, dan sê die duiwel, “Kyk in die pot en sê vir my wat jy sien. Vuilheid en onsuiwerheid van alle soorte. Hoe warmer die boodskap, hoe meer vuilheid. Kyk na jouself in daardie kookpot. Jy gaan dit nie maak nie! Jy sit al vir jare onder hierdie vuurwarm Woord en al wat uitkom is jou vuilheid!”

Antwoord jy hom, “Duiwel, kyk wie sit hier langs my. Dit is my Meester, die Suiweraar. Hy blaas die vuur aan, en dit is Hy wat hier langs my sit. En Duiwel, daardie vuilheid is net op die oppervlakte – onder dit is die hele pot vol goud! Die Here maak ons gereed. Kyk, wat het Hy in sy Hand. Dit is ‘n sygdoek (melkdoek). As Hy gereed is, sal Hy die oppervlakte deursyg, en Hy sal daarmee volhou totdat Hy daarin sal kan kyk en sal glimlag, Hy sy gesig weerspieël sal sien … in my!”

Satan sal sy bes probeer om jou te oortuig dat jou huidige beproewing spruit uit God se woede oor jou.

Die Nuwe Testament het veel te sê oor tugtiging. “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?” (Hebreërs 12:5-7).

Jesus self sê: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openbaring 3:19). Paulus het geskryf; “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie” (1 Korinthiërs 11:32).

Die Ou Testament praat ook oor tugtiging: “My seun, verag die tug van die Here nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie, want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:11-12).

Wat jy deurmaak as ‘n kind van God is nie per ongeluk nie. Elke toets, is onder sy waaksame oog en daar is ‘n doel vir alles. “Want hulle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word” (Hebreërs 12:10).

Tugtiging is onaangenaam, asof iets eienaardigs met ons gebeur. Dit is nie lekker nie, maar as dit verby is, bring dit die “vredevolle vrug van geregtigheid.” Maar, slegs hulle wat wil leer, en wat gewillig is om geleer te word, sal vrug dra.

Tugtiging kan liggaamlike pyn insluit, asook lyding wat voortduur, kinders wat rebelleer, werkloosheid, verlies in die besigheid, ontrou van vriende, beproewing, geestelike verwarring – elke moontlike vurige beproewing.

Satan sal met jou praat soos hy met Job gepraat het. “Die regverdige ly nie! As God jou hoor, as Hy jou gered het, as Hy jou lief het, as sy beloftes waar is, sal jy dadelik gered word. Jou lyding sal nie so uitgerek wees nie. Waar is jou God? Is dit die loon van jou geloof?”

Geliefde, moenie toegee nie! Moenie jou geloof weggooi nie! Satan is ‘n leuenaar! Jy ly omdat God jou liefhet, omdat Hy omgee! Jy het gevra dat God jou meer soos Hyself sal maak, slegs Hy weet wat jy nodig het. Hy weet wat jou sal vernietig! Hy weet wanneer om uitredding te bring. Hy sal slegs optree as die tyd reg is.

Moenie ingee nie! God het alles onder beheer, selfs pyn en langdurige siekte. Jy mag misien te gou omdraai, as hy die beproewing nou laat eindig! Soos Paulus het jy miskien ‘n doring nodig om jou hoogmoed in toom te hou.

Die ding wat jy so graag wil hê, die antwoord wat jy dink wat jy nou moet kry, mag juis die ding wees wat jou sal vernietig. As God ‘nee” sê, moet jy dit aanvaar, in die wete dat Hy jou siel bewaar. Die wolk van getuienis roep uit: “Gaan terug na die geveg en veg met geloof! Versterk jou hande wat slap geword het. Die lam knieë. Moenie omdraai nie. Bly in die resies. Moenie aan bitterheid ‘n plek gee nie.”

Menigtes val voor die duiwel se leuens. Hulle laat bitterheid teenoor God in hulle harte kom. God waarsku, “Wees ywerig, wees versigtig dat dit nie sal gebeur nie. Hou vas aan jou sekerheid want dit hou ‘n groot beloning in.”

“Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het. Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het” (Hebreërs 10:32, 34). Hier is ‘n volk wat grootliks geteister was nadat God hulle opgelig het. Hulle het die lig gesien. Hulle het alles verloor, maar hulle het volhard in die geloof, omdat hulle, hulle oë gehou het op die “beter en blywende besitting.”

As jy alles verloor het, sal jy jou sekerheid verloor? Baie sal alles verloor. In Texas, Louisiana, Oklahoma en vele ander plekke, gebeur dit reeds. Ek het gehoor van ‘n Christen besigheidsman, een van die mees suksesvolste in Texas, ‘n multimiljoenêr met ‘n privaat vliegtuig, wat alles verloor het! Vir die afgelope jaar het hy geworstel om kos op die tafel te hê! Maar die Vader het sy hart tot rus gebring. Hy sien God nou as sy versorger en nie hy of sy familie het honger gely nie.

Die dae van die Amerikaanse lewenswyse – soos ons dit ken – is getel, en ons gaan almal daardeur geraak word, en die pyn voel. Dit is maklik om oor die geloof te praat as alles goed gaan, maar ons sal gou sien wie volhard as moeilike tye kom.

Paulus het die geloof onder alle omstandighede behou. In sy laaste dae kon hy sê; “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Timotheüs 4:7). Hy kon sê, “Satan het sy trawante gestuur om my te beveg in Jerusalem, Damaskus, Asia, Efese, Antiogië en Korinte. Maar, ek het die geloof behou! Vyf keer het die Jode my 39 houe geslaan. Ek was dikwels in die tronk gegooi, met stokke drie maal geslaan, gestenig, besteel, selfs deur my landgenote, maar ek het die geloof behou!”

“Ek was soms so moeg, vol pyn, slaaplose nagte, honger, dors, koud en nakend, belaai met allerlei sorge, maar ek het die geloof behou. Ek was verslae, in benoudheid, vervolg maar nooit mismoedig nie, nooit vernietig nie, nooit in geloofsvertwyfeling nie.”

Hierdie woorde sal ons bemoedig in die tye wat voor ons lê.

“Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here” (Psalm 112:7).

“Die Here sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid” (Psalm 121:7-8).

“Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots” (Psalm 27:5).

“… en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer” (Psalm 50:15).