Sal Ons in Sonde bly?

David Wilkerson

Hoe kan enigeen homself ‘n liefhebber van Jesus noem en in sonde bly? As volgeling van Christus, maak ons daarop aanspraak dat ons verlos is van sonde se mag. Ons getuig dat die kruis ons ten volle verlos het van die slawerny van ongeregtigheid. Tog is daar menigtes van gelowiges wat vandag voortgaan om aan begeertes, gewoontes, wrokke en bitterheid vas te hou.

Waar is hierdie Christene, vra jy? Hulle is oral rondom jou. Jy kry hulle in kerke waar hulle elke Sondag aanbid. Hulle hef hulle hande op in lofprysing tot God om hulle te verlos. Hulle getuig teenoor andere van Christus se mag om alle slawerny of bindings te breek. Maar hulle sal nie ontslae raak van hulle eie boesemsonde nie.

Dit is jammer dat soveel Christene glo dat niks sonde se greep op hulle kan breek nie. Hulle probeer elke bekende metode om vry te word van hulle slawerny, maar dit lyk of geen hoeveelheid gebed, berading of oortuigende preke help nie. Hulle sonde hou net aan om dit rondom hulle harte te draai soos ‘n slang, totdat dit volkome beheer oor hulle lewens het. En op die ou end dra hulle ‘n folterende las van skuld en veroordeling rond.

Paulus vra, “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Romeine 6:1-2). Paulus wonder, “ Ons het sulke ontsaglike seëninge in Christus ontvang. Ons is in Hom gedoop, begrawe en opgewek saam met Hom en verander in die gelykenis van sy dood. So, hoe kan ons in sonde bly?”

Hoe langer ons in werklikheid aan ons boesemsonde oorgee, hoe sterker word sy houvas op ons. Dit is ‘n kanker wat regdeur ons hele wese versprei en al ons gedagtes en aksies besoedel. Sy afbrekende krag veroorsaak vernietiging op elke gebied van ons lewens – van ons wandel met Christus, tot ons verhoudings, tot alles wat ons aanraak.

Verder sterf sonde nooit vanself nie. As dit nie ontwortel en vernietig word nie, neem dit die troon van ons lewens oor. Eerstens beïnvloed dit ons gewete, wat veroorsaak dat jy alle onderskeiding verloor. Die verskil tussen reg en verkeerd word vaag en onduidelik. Dan, kry sonde jou ore beet. Stadig begin dit jou begeertes aan jou regverdig – en dit gee jou selfs skriftuurlike argumente om dit te ondersteun. Uiteindelik word jy “preekbestand” – wat beteken dat jy nie meer reageer op die oortuiging van sonde van die Heilige Gees nie.

Jy mag dalk Christene, wat in hierdie verskriklike toestand is, ken. Hulle raak verdedigend wanneer jy hulle konfronteer oor hulle boesemsonde. Hulle maak daarop aanspraak, “Wat ek doen, is nie verkeerd nie. Ek het daaroor gebid en die Heilige Gees het vir my gesê dit is nie sonde nie.” Tog weet jy baie goed dat daardie persoon se optrede in stryd is met God se woord.

Volgens God se verbondsvoorsiening, bemagtig die Heilige Gees ons om seëvierend oor die duiwel te leef. Hy gee ons al die bronne wat ons nodig het om sy heerskappy in ons lewens omver te werp. Hy veroorsaak dat ons die Here se bevele “wil gehoorsaam.”

God se Nuwe Verbondsbelofte om elke slawerny te verbreek en elke gevangene vry te laat, is bedoel slegs vir diegene wat siek en sat is vir hulle sonde. Waarom sou die Heilige Gees sy krag vrystel in enigeen, wat nie sy sonde as ‘n ernstige saak beskou nie?

As jy dink die Heilige Gees gaan jou vrymaak van die greep van sonde sonder jou volle samewerking, maak jy ‘n fout. Ek hoop nie dat enige Christen agteroorsit en homself aan sy begeertes oorgee, terwyl hy wag dat die Heilige Gees dit uit hom ruk nie. Sulke lering maak Christene nie net gemaklik met hulle sonde nie – dit is ‘n wanvoorstelling van die Nuwe Verbond.

Om hierdie vraag te antwoord, moet ek bloot in my eie hart kyk. Meer en meer soos die dag nader kom, verbeel ek my om voor die regterstoel van my Here te staan wanneer sy liefdevolle oë op my val. In daardie oomblik sal ek moet rekenskap gee van al my dade en gedagtes. En as ‘n bedienaar van die evangelie, sal ek moet rekenskap gee oor die boodskappe wat ek vir ander gepreek het, maar nie self uitgeleef het nie. Soos Paulus geskryf het, “...dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27).

Die blote gedagte aan hierdie toneel bring ‘n heilige vrees in my hart. Elke dag roep ek uit, “Here, as daar enige sonde in my is, deel asseblief daarmee. Ek wil nie die ramshoring hoor blaas en myself dan vind waar ek voor U staan met ‘n begeerte wat om my hart gedraai is nie.”

Wat sal jy vir Jesus sê wanneer jy voor Hom staan? Watter verskoning sal jy vir Hom gee as jy vashou aan ‘n wortel van bitterheid, ‘n wrok, ‘n wellus of ‘n sondige gewoonte? Sal jy sê, “Here, ek het nie geweet U sou hierdie een sonde so ernstig opneem nie. Ek het gedink U sal geduldig met my wees, dat U genade oorvloedig sou wees daarin. Ek het altyd u Nuwe Verbondsbelofte geglo. Ek het net gewag vir u Gees om die sonde van my af weg te neem.”

Geliefde, ons Here kom binnekort en daar is nie meer tyd oor om met jou sonde te speel of dit gering te ag nie. Ek ken baie opregte gelowiges wat op een stadium in hulle lewens roekeloos geword het en oorwin is deur hulle wellus. So, moenie dink dit kan nie met jou gebeur nie. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Jy moet jouself afvra: Waarom bly ek in my sonde? Waarom is ek nie vry nie?”

Ek glo die Heilige Gees het verskeie dinge aan my geopenbaar oor hierdie onderwerp:

Vandag het talle Christene nie die vrees van God deur die Heilige Gees ingeplant in hulle harte nie. Die skrywer van Spreuke verklaar, “Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6). “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “Die vrees van die HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spreuke 14:27).

Die “vrees van die HERE” verwys hier na baie meer as die eerbiedige ontsag en respek. Die Psalm vertel vir ons dat ons nie die volle openbaring van God se verbond kan ontvang nie, totdat sy vrees diep in ons gewortel is: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak” (Psalm 25:14). Hierdie vers koppel begrip van die verbond aan die vrees van God. Kortliks, alle openbaring is gekoppel aan sy heilige vrees.

Ek is oortuig dat sonder die vrees van God, kan ons nie blywende verlossing van sonde beleef nie. In talle kerke het die vrees van God egter ‘n taboe onderwerp geword. Wanneer was die laaste keer wat jy ‘n preek gehoor het oor die vrees van God?

Een rede hiervoor is dat die samelewing se permissiwiteit God se kerk ingeneem het. In die afgelope jare het die term “genade” ‘n dekmantel vir sonde geword. Soos die Psalmis skryf, “Daar is geen vrees van God voor sy oë nie” (Psalm 36:2). Trouens, besoedelde bedienaars vermy sekere gedeeltes oor die vrees van God. Hulle preek gewoonlik net oor die volgende verse: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timóteüs 1:7). “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees uit” (1 Johannes 4:18). “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie” (Romeine 8:15).

Dit is alles wonderlike gedeeltes – dit verwys egter na vrees vir mense of Satan, nie vir God nie. Dieselfde woord vir “vrees” in hierdie verse word ook gebruik in hierdie vers van Hebreërs: “Daarom kan ons met vrymoedigheid sê: Die Here is my Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Hebreërs 13:6).

Ek glo God moet ‘n sekere werk in ons doen voor ons enige verbondsbelofte kan opeis. Wat is hierdie “voorafgaande werk” waarvan al die ander afhang? Jeremia vertel vir ons: “...en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie” (Jeremia 32:40). God se voorafgaande werk van die verbond is om sy vrees in ons harte te plaas.

Jeremia praat van die voorwaardes van God se Nuwe Verbond, nie die Oue nie. En God vertel ons hier hoe hierdie eerste werk van die verbond uitgevoer sal word: “Ek sal my vrees in hulle harte plaas.” Hy laat ons weet dat ons nie self ‘n heilige vrees kan opwerk nie. Ons kan dit nie verkry deurdat mense hande op ons lê of ons vlees manipuleer nie. Die enigste manier wat sy heilige werk in ons gedoen kan word, is as God se Gees dit doen.

God vertel vir ons in wese, “Ek gaan ‘n wonderlike ding in jou doen. Ek sal my eie Gees na jou stuur en Hy sal in jou bly en jou ‘n nuwe hart gee. Hy sal jou bemagtig om alle werke van die vlees dood te maak. En Hy sal jou lei in totale vryheid van sonde se mag. Ten slotte, sal Hy veroorsaak dat jy my welbehae sal wil doen en sal doen.

“Maar daar is een werk wat my Gees in jou moet doen voor enige van hierdie ander. Hy sal in jou ‘n heilige vrees vir sonde gee. Dan sal jy nie van my gebooie afwyk nie. Tensy jy my vrees in jou het, sal jou sonde jou altyd van My af weglei.”

Dit is heel eenvoudig, die Heilige Gees verander die manier waarop ons na ons sonde kyk. Hy weet dat solank ons ons sonde ligtelik opneem, sal ons nooit vrygemaak word nie. Daarom wys Hy vir ons hoe diep sonde Hom bedroef en God se toorn laat opvlam. Hoe doen die Heilige Gees dit? Hy gebruik die woord van God wat van sonde oortuig – die deurdringende pyle van heilige waarheid.

As jy siek en sat is vir jou sonde en jy honger daarna om in geregtigheid te wandel, wees dan voorbereid: God gaan die “evangeliese pyle” van oortuiging van sonde in jou hart inskiet. Hierdie pyle sal elke verborge gebied in jou hart deursoek en elke begeerte openbaar. En wanneer dit hulle teiken tref, sal jy hulle vlamme van waarheid diep in jou gewete voel brand.

Baie vleesgedrewe Christene probeer die skuld, wat God se oortuigende pyle veroorsaak, afskud. Hulle maak heeltyd aanspraak op die vers, “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie...” (Romeine 8:1). Maar hulle laat na om die laaste deel van die vers te lees: “...vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” As jy in sonde bly, wandel jy in die vlees – en jy het geen aanspraak op God se belofte van “geen veroordeling” nie.

Die skuld wat ons voel onder die Heilige Gees oortuiging van sonde is eintlik ‘n werk van God se genade. Dit is bedoel om die misleiding van sonde in ons te ontbloot. Daarom moet ons God se Gees vra om gedurig ons gewetens met die skuld, vrees en veroordeling van sonde op ons laai – totdat die uitermatige sondigheid heeltemal ontbloot word.

Baie Christene is nie bewus van die verskriklike gevaar waarin hulle verkeer wanneer hulle in sonde bly nie. Slegs die Heilige Gees se vlammende pyle van waarheid kan hulle siele opwek om die goddelike vrees te hê wat hulle nodig het om sonde af te skud. Laat my ‘n paar van die vlammende pyle van realiteit wat die Here gebruik het om my siel deur te dring met jou deel.

1. God beskou die verborge begeertes en sonde binne-in Christene meer boos, gevaarlik en hatig teenoor Hom as die mees veragtelike, bose, openlike sondes wat die ongereddes pleeg.

Die meeste gelowiges dink hulle verborge sondes is nie ernstig genoeg nie, omdat hulle dit nie uitvoer nie. Maar God sien die hart – en die sondes wat Hy in ons sien, weeg swaarder as dié van goddelose sondaars. Laat my verduidelik.

Probeer dink aan die mees veragtelike daad wat ooit deur ‘n bose, ongeredde man of vrou gepleeg is. My gedagtes gaan dadelik na ‘n artikel in ‘n New Yorkse koerant van verlede jaar. ‘n Man het getrou met ‘n vrou wat nog altyd begeer het om ‘n baba te hê. Hy het dadelik toegelaat dat sy verwagtend raak en toe die vrou uiteindelik die baba gehad het, het sy die eerste paar weke deurgebring om ‘n band met die kind te vorm. Maar skielik, van nêrens af, het die man die baba by sy vrou geneem en dit doodgemaak. Waarom? Dit was ‘n daad van wraak. Klaarblyklik was hy kwaad vir die vrou omdat sy nie sy pa se begrafnis bygewoon het voor hulle getrou het nie. Hy het geredeneer, “Sy het my nie vertroos toe ek dit nodig gehad het nie. Daarom gaan ek haar laat ly.” Dit moet een van die wreedste, boosste, verskriklikste dade ooit wees.

Die mensdom het meer moorde, volksmoorde en vertonerige dade van sonde gesien as enige vorige geslag. Hier is egter God se perspektief hieroor: niks vergelyk met die klouende wellus in ons harte nie. Ons bose gewoontes, haat en boesemsondes is meer veragteliks in sy oë as enigiets wat die mensdom nog ooit mee oortree het.

Ons sien ‘n voorbeeld van God se perspektief in Openbaring. Hy sê vir die gemeente van Laodiceá, “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie” (Openbaring 3:15). Hy sê in wese, “Jy is nie wat jy sê jy is nie. Jy vertel vir jouself, ‘Ek het niks nodig nie.’ Maar Ek sê jy word louwarm. Alle ander sien jou as opreg en voorspoedig. Maar Ek sien jou hart – en Ek weet dat die ywer wat jy eens vir My gehad het, opgedroog het.”

Spreuke vertel vir ons, “Daaruit (die hart) is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Net so, “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy” (Spreuke 23:7). Hierdie verse is skerp pyle van die Heilige Gees. Hulle dring deur ons harte en sê vir ons, “Jy kan nie van God se lig wegkruip nie. Alles wat jy in die geheim in jou siel wegsteek, sal aan die lig gebring word. Dit maak nie saak of jy dit doen of nie. God sal nie jou geheime wellus verskoon nie.”

2. Hoe langer jy in sonde bly, hoe heer word is jy in gevaar om jou hart te verhard.

“Sorg daarvoor, broerders, dat daar nie miskien in een van  julle’n bose en ongelowige hart is, deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12-13).

Miskien het jy eens gebewe as jy God se woord gehoor het. Jy het gesmelt wanneer jy ook al ‘n vurige preek gehoor het wat net vir jou bedoel was. Jy het ‘n oor gehad om die Gees se stem te hoor. Maar vir ‘n rukkie nou, het jy geflankeer met ‘n boesemsonde – gespeel daarmee, dit in jou gedagtes laat draai. En nou, omdat sonde sy misleiding in jou gewerk het, kan jy onaangeraak deur enige preek sit, maak nie saak hoe geseënd dit is nie.

As jy goddelike vrees gehad het, sou dit vinnig aan jou geopenbaar het dat jou hart stadig besig was om te verhard. Jy sou besef dat elke dag wat jy voortgaan om toe te gee aan jou sonde, jy nader daaraan kom om jou gewete toe te skroei. Maar in plaas daarvan, word jou sonde dag vir dag vir jou minder voor die hand liggend. Gou sal jy heeltemal blind word met ‘n valse vrede. En uiteindelik sal jou sonde die grense, wat jy daarvoor gestel het, oorskry en wild vloei na allerhande bose daad.

Ek het eerstehands die gruwels gesien van ‘n man van God wat toegelaat het dat sy hart hard word. Hy was ‘n bedienaarsvriend van my wat die herder was van ‘n groot kerk. God het hierdie man magtiglik geseën en sy preke was gevul met Heilige Gees vuur en krag. Maar die bedienaar het ‘n geheime seksuele begeerte weggesteek. Met verloop van tyd het hy homself daaraan begin oorgee – en uiteindelik was hy op heter daad betrap met owerspel.

God was genadig met my vriend. Goddelike ouderlinge en kerkleiers het die pastoor gedissiplineer en met verloop van tyd was hy in die bediening herstel. Wanneer die wellus in sy hart opgekom het, was die Heilige Gees getrou om daaroor met hom te deel. Maar hierdie man het nooit sy sonde ernstig opgeneem nie. Hy het nooit sy hart daarop ingestel om die Gees se stem te hoor nie.

Ek was die aand daar toe hy weer ontbloot is. Vyf vroue het vorentoe gekom en bely dat hulle buite-egtelike verhoudings met hom gehad het. Sommige het gesê dat hulle selfs seksuele omgang met hom gehad het net oomblikke voor hy op die preekstoel geklim het.

‘n Vriend van my het later vir hierdie pastoor gevra, “Hoe kon jou gewete jou toelaat om dit te doen? Hoe kon jy ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n vrou hê en dan voorgee om uit God se heilige woord te preek?” Die pastoor het gelag toe hy antwoord, “Jy moet ‘n goeie akteur wees.”

Dit is ‘n harde hart. Niks het hierdie man aangeraak nie. Hy het so verhard geword, dat hy aan owerspel kon oorgee en daarna sy Bybel oopmaak en die evangelie preek sonder ‘n sweempie skuld.

3. As jy in sonde bly, sal jy God se roede beleef.

Die Psalmis skryf die volgende oor een van God se belangrikste verbondsbeloftes: “As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. Maar my goedertierenheid sal Ek van Hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie” (Psalm 89:31-35).

Ons juig as ons hierdie wonderlike Nuwe Verbond woord lees. God belowe om nooit sy goedertierenheid van ons te verwyder nie, maak nie saak hoe sleg ons mag misluk nie. Baie gelowiges gaan egter ligtelik oor hierdie ernstige waarskuwing in hierdie vers: As ons God se wet verlaat en weier om sy gebooie te gehoorsaam, sal Hy ons oortreding met sy roede besoek.

Daar is eenvoudig geen manier om sy woord sagter te maak nie. God sê vir ons eenvoudig, “As jy in sonde bly, gaan Ek ernstig teen jou optree. Ek sal jou verskoon en vergewe. Maar ek gaan wraak uitoefen op jou sonde. En jy sal my slae op jou rug voel.”

Die Bybel sê vir ons dat die Here diegene wat Hy liefhet, tugtig. Ons sien hierdie waarheid duidelik geïllustreer in Dawid se lewe. Kyk hoe die Here met hierdie man gedeel het, ‘n getroue dienaar wat God se guns geniet het. Op een stadium in sy lewe, het Dawid verskriklik gesondig – dit probeer regverdig en dit vir maande lank verberg. Uiteindelik het God gesê, “Genoeg” – en hy het ‘n profeet gestuur om Dawid se sonde te openbaar. Natan het ‘n analogie gebruik om elke verskoning wat Dawid gehad het, uitmekaar te trek, totdat die koning erken het, “Ek het gesondig – ek is skuldig.”

Maar om bloot sonde te erken, is nie genoeg nie. God het Dawid nie net geopenbaar nie – Hy het ook sy goddelike roede oor sy dienaar se rug gelê. Natuurlik weet ons die Here gebruik altyd sy roede in liefde. Maar Dawid se lewe wys duidelik dat God se roede van tugtiging geen ligte ding is nie. Die letsels wat dit veroorsaak is pynlik en seer. En dikwels val die roede nie net op ons nie, maar ook op ons geliefdes en diegene naby aan ons.

Beskou die direkte gevolge van Dawid se sonde op diegene om hom: Die buite-egtelike kind wat hy by Bátseba verwek het, het gesterf. Duisende Israelitiese soldate het gesterf in die oorlog. Hy het skande oor sy land gebring en Israel belaglik in die oë van sy vyande gemaak. En as dit nie genoeg foltering was nie, het Dawid eindelose persoonlike pyn gely weens sy sonde: Hy het die troon van Israel verloor aan sy rebelse seun, Absalom. Hy was gejag deur Absalom se leër soos ‘n wilde dier. Hy moes in die wildernis in vlug, weg van die seun wat hy so liefgehad het. En hy het onbeheersbaar gehuil toe Absalom dood is.

Dawid het geweet al hierdie dinge kon vermy gewees het. Elke pynlike gebeurtenis was ‘n folterende herinnering aan die gevolge van sy sonde. Hy het sy oneindige pyn in die Psalm verwoord en geskryf dat sy siel in aanhoudende foltering was, dat hy terneergedruk en verward was en dat sy bed ‘n bed van trane was. Hy het in sy smart uitgeroep, “God, waarom het U my verlaat?” en hy het vreesagtig gehuil, “Heilige Gees, moet my nie verlaat nie.”

God se roede van oortuiging van sonde het Dawid tot op die rand van sy sinne geneem. En soos jy volgende sal sien, het dit hom ook op die rand van die graf geneem.

4. As jy in sonde bly, sal jou vrede en krag voortdurend gedreineer word.

Dawid het geskryf, “My krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit” (Psalm 31:10). Soos ‘n gat in die tenk van ‘n kar, sal jou sonde jou stadig dreineer van al jou bronne. Jou vrede, blydskap en krag sal letterlik wegdrup totdat dit heeltemal weg is.

Dawid het bely, “Daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie” (Psalm 38:4). Hy het in wese gesê, “Al my krag is weg weens my sonde. My liggaam het swak geword as gevolg van dit wat ek gedoen het. My ongeregtigheid laat my eenvoudig nie toe om te rus nie.”

Dawid het God se deurdringende pyle beleef. Hy het geskryf, “Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal” (Psalm 38:3). Hierdie geliefde dienaar was die vrees van God geleer. En deel van sy pynlike les was dat hy die vrede van die Here verloor het. Nou het hy uitgeroep, “Hy het my krag op die weg swak gemaak” (Psalm 102:24).

Ek ken Christene wat lewens van uiterse verwarring gely het, omdat hulle aan sonde oorgegee het. Hierdie leë siele is altyd terneergedruk, swak en sukkel gedurig, maar hulle kom nêrens nie. Ek ken ook bedienaars wat nie kan stil sit nie weens hulle sonde. Hulle is heeltyd besig, aan die werk en tree nooit in God se rus in nie.

Dit maak nie saak wie jy is nie – as jy ‘n geheime sonde herberg, sal jy voortdurende stoornisse in jou lewe, jou huis, jou familie en jou werk beleef. Alles wat jy aanraak sal buite orde wees. Jy sal toenemend rusteloos en verward wees en rondgegooi word deur eindelose bekommernisse en vrese. En al jou vrede en krag sal uit jou gedreineer word.

5. As jy in sonde bly, sal jy jou bruikbaarheid vir God se koninkryk verloor.

Ek het manne gesien wat magtiglik deur die Gees gebruik was wat later deur God op die rak geplaas is. Die Here het eenvoudig vir hulle gesê, “Ek is jammer, seun. Ek het jou lief, Ek vergewe jou en my barmhartigheid sal vir jou deurkom. Maar Ek kan jou nie gebruik nie.”

Vir my is dit een van die verskriklikste dinge denkbaar. Tog het dit met Koning Saul gebeur. Die Bybel sê vir ons, “Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie” (1 Samuel 13:13-14).

Watter verskriklike woorde. God het vir die koning gesê, “Saul, jy kon voortdurend my seën in jou lewe gehad het. Ek was op die punt om jou koninkryk vir ewig in Israel te vestig. Ek het groot planne vir jou gehad, planne om jou magtig te gebruik. Maar jy wou nie met jou sonde afreken nie. In plaas daarvan, het jy bitterder en meer hardnekkig geword. So, nou is Ek klaar met jou.” Onmiddellik het God se Gees die koning verlaat – op daardie oomblik, was Saul nie meer bruikbaar in die koninkryk nie. Van toe af vorentoe, was alles wat Saul gedoen het in die vlees.

In die laaste paar jaar, het ons God se Gees bedroef gesien waai op die bedienings van vleeslike pastore, evangeliste en TV predikers. God het oornag sy seën van hulle af weggeneem en hulle werk laat kwyn voor die wêreld se oë. En huidiglik is God op die punt om ander in die kerk te vertel dat hulle nie langer ‘n plek van bruikbaarheid in sy koninkryk het nie. Ek dink aan professore in Christen kolleges wat dit geniet om studente te beroof van enige geloof wat hulle mag hê. Hierdie leermeesters se gees het gekwyn, hol, leeg en vrugteloos geword. Nou is hulle enigste doel om die hel te ontsnap.

Dit is waar dit alles eindig wanneer jy in sonde bly: jy word heeltemal onvrugbaar en vrugteloos, met geen bruikbaarheid meer in God se koninkryk nie.

Deel die Here met jou sonde op hierdie oomblik? Het Hy sy pyle van oortuiging van sonde in jou hart ingeskiet en jou laat skuldig voel oor jou sonde? Moenie vrees nie – dit is die gawe van God. Hy plant sy goddelike krag in jou en leer jou “Net deur my heilige vrees, sal jy jou sonde verlaat.”

Wanneer jy oortuig is van die uitermatige sondigheid van jou sonde, sal jy gereed wees vir die vertroosting van die Heilige Gees. Handelinge sê vir ons, “En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaria het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder” (Handelinge 9:31). Toe die eerste-eeuse Christene in die vrees van God gewandel het, het hulle die vertroosting van die Heilige Gees ontvang.

So, wat presies beteken dit om in die vrees van die Here te wandel? Dit beteken om jouself te herinner aan sy waarskuwings. En dit beteken om die Gees toe te laat om oortuiging van sonde in jou hart te bring, jou sondes in die oopte te bring en hulle van jou af weg te werp. Deur dit te doen, lê Hy die fondasie om elke verbondsbelofte van God aan jou te vervul.

Dan, wanneer die vrees van God ten volle van jou besit geneem het, sal jy die gevaar en gevolge van sonde vrees. En jy sal elke dag in hierdie heilige vrees wandel. Ten slotte sal jy sien dat God die hele tyd barmhartiglik in jou gewerk het – en jou verlos het van die heerskappy en slawerny van sonde.